Vraag: Wat het die apostel Johannes bedoel toe hy gewaarsku het dat “daar nou ook baie antichriste [bestaan]”? Wat is ’n antichris?

Antwoord: 
Ten einde die term “antichris” te verstaan – wat slegs in 1 en 2 Johannes voorkom – is dit nuttig om die teksverse te ondersoek wat die term gebruik. Die frase “baie antichriste” verskyn in 1 Johannes 2:18: “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is.”

Die woord antichris in hierdie vers beteken “teen Christus” of “in plaas van Christus” of verwys na 'n vals Christus wat die ware Christus “teenstaan” (Vine's Expository Dictionary). Die apostel Johannes waarsku dat daar baie teenstanders van die ware Christus en Sy boodskap bestaan het. Party van hulle het God se ware Kerk geïnfiltreer. Johannes sê voorts: “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie” (vers 19). Johannes bevestig dit verder en gee meer besonderhede.

Let op wat Johannes in die volgende sendbrief skryf: “Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die verleier en die Antichris” (2 Johannes 7). Hier beskryf Johannes 'n antichris as 'n verleier. Gedurende die Apostels se bediening het 'n vermeerdering van vals leringe te voorskyn gekom. Een sodanige misleiding het behels die Gnostiese ontkenning dat Jesus Christus as die eniggebore Seun van God in die vlees gekom het. Die Gnostiese dwaalleer het tot die gevolgtrekking gekom dat dit net voorgekom het asof Christus die menslike vorm aangeneem het (New Testament Introduction, deur Donald Guthrie, bl. 870). Daarom was Gnostiese leermeesters onder die baie antichriste wat Christus se koms in die vlees as die Seun van God wat vlees geword het, verwerp het. Die gevolge van sodanige leerstellings verwater Christus se offer en gee 'n ontoereikende beskrywing van sonde – wat die genade verander in ongebondenheid (Judas 4). Johannes skryf sy brief om hierdie vals idees te bestry en om God se mense in die waarheid te versterk. Let daarop hoe Johannes geskryf het dat verleiers ontken het “dat Jesus Christus in die vlees gekom het.” Die terloopse leser kan dit verstaan in die sin van Christus se eerste koms in die vlees, maar daar is 'n bykomende betekenis.

Die Williams New Testament Translation werp lig op hierdie vers in Engels deur dit weer te gee as “continues to come [kom steeds]”. Met ander woorde, Jesus Christus het nie net in die vlees gekom om die volmaakte offer vir sonde te wees nie, maar Hy kom steeds in die vlees van Christene deur Sy lewe in ons te leef. Ons lees: “En hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly: aan die Gees wat Hy ons gegee het” (1 Johannes 3:24). Jesus Christus bly of woon in ons deur Sy Heilige Gees (Galasiërs 2:20). Hy sê: “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak” (Johannes 14:23).

In sterk teenstelling, die gees van die antichris sal “nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie” (1 Johannes 4:2-3). Hierdie leuenagtige gees ontken die werklikheid van Christus se eerste koms en die wonderlike waarheid dat Jesus Christus, deur die Heilige Gees, Sy lewe in ons kan leef – dieselfde lewe wat Hy geleef het toe Hy op aarde was – 'n lewe van gehoorsaamheid aan God se wet! 'n Antichris is dus iemand wat teen Christus is – teen Sy wet en teen Sy leefwyse. Hierdie gees van antichris of wetteloosheid wat vandag so algemeen voorkom, was reeds in die apostel Paulus se tyd 'n algemene verskynsel: “Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk” (2 Thessalonicense 2:7). Vir nog inligting, skryf en vra gerus vir ons gratis boekie, Wie of Wat is die antichris?