Sestig jaar gelede was die wêreld se aandag op ’n enkele kanaal in die Midde-Ooste gefokus. Wat daar gebeur het, gaan tot vandag toe voort om die wêreld te raak.

Die Suezkanaal in Egipte is in 1869 deur die Franse voltooi. Dit het die Middellandse See met die Skelfsee verbind en was só ontwerp om die lang seereis te vervang wat skepe onder om Afrika sou moes neem. Die bekende waterweg was deur die Frans-gebaseerde Suezkanaal Maatskappy bedryf en in stand gehou, met Brittanje as die beherende aandeelhouer. Die kanaal was van groot strategiese belang vir almal wat dit gebruik het.

Brittanje het die kanaal as ’n “imperialistiese reddingsboei” vir haar wydgestrekte ryk gesien en het vanaf 1882 ’n groot aantal troepe daar gestasioneer om die kanaal te beskerm. Die kanaal het al hoe belangriker geword as gevolg van die Midde-Ooste se olie – teen 1955 is ongeveer twee-derdes van Europa se olie deur die kanaal verskeep. In 1956 het ’n groot eienaarskapkrisis egter plaasgevind nadat Egipte beheer van die kanaal oorgeneem het en alle Britse troepe die land verlaat het.

In die 60ste herdenkingsjaar van die Suezkrisis, word ons vlugtig daaraan herinner waarom dit plaasgevind het en wat die geweldige impak daarvan in daaropvolgende jare gewees het. Uit ’n geestelike perspektief, waar is God in sulke geopolitieke gebeure?

Wie help vir wie?

In 1952 het Gamal Abdel Nasser die regering in Egipte oorgeneem. Hy wou alle Britse troepe van Egiptiese grond verwyder, dus was ’n ooreenkoms in Julie 1954 onderteken dat al die Britse troepe teen 1956 uit die gebied sou wees. Nasser het Amerika teen die Sowjet-Unie probeer afspeel om voortgesette militêre en finansiële ondersteuning te verseker. Amerika was ontevrede met Nasser se radikale politiek en het geweier om te help om die Aswan High Dam-projek te finansier. Nasser was woedend en het opgetree deur die Suezkanaal Maatskappy op 26 Julie 1956 te nasionaliseer.

Dit het gelei tot groot vrees oor die ongekontroleerde vloei van internasionale skeepsvaart, veral dié van die Midde-Ooste se olie na Europa. Israel was verhinder om die kanaal te gebruik en dit wou voorkom asof Brittanje se skakeling met haar Britse Ryk nasies ook bedreig was. Nasser was die voorste kampvegter vir Pan-Arabiese nasionalisme. Dit het ’n groot bedreiging vir Israel ingehou, terwyl sy aktiewe teenkanting teen kolonialisme bykomende redes aan Brittanje, Frankryk en Israel verskaf het om hom uit die kussings te lig en weer beheer van die kanaal oor te neem. Met die voortsetting van hulle plan, het hulle nogtans Amerika se raad geïgnoreer asook nagelaat om die V.S. se regering in te lig en hulle lelik met die wêreld se opinie misgis.

Brittanje, Frankryk en Israel se geheime beplande inval het op 29 Oktober begin, met Israel wat Sinai ingeneem het. ’n Bietjie meer as ’n week later is die oorlog egter gestaak as gevolg van swaar Amerikaanse politieke en ekonomiese druk en internasionale diplomasie deur die Verenigde Nasies. Frankryk en Brittanje was dus verhinder om hulle doelwitte te bereik. Nasser het seëvierend uit die stryd getree, beheer oor die Suezkanaal herwin asook oor alle gebiede wat hulle in die oorlog verloor het. Frankryk en Brittanje was verneder, terwyl Israel in een opsig gebaat het deur beter voorbereid te wees vir hulle volgende oorlog teen Egipte elf jaar later.

Waarom het Amerika versuim om sommige van sy mees gewaardeerde bondgenote te ondersteun?

Die oorlog oor die Suez het in die skadu van die 40-jaarlange Koue Oorlog tussen Amerika en die Sowjet-Unie geval. Die jaar 1956 was ’n uitdagende jaar waarin eers Pole en daarna Hongarye vir Rusland oor sy onderdrukkende bewind uitgedaag het. Alhoewel die Poolse situasie tydelik gestabiliseer is, het die Hongaarse opstand tot wrede en bloedige onderdrukking gelei wat, uiters deurslaggewend, op dieselfde tyd as die Suezkrisis plaasgevind het.

Amerika was bevrees dat die Franse, Britse en Israelse ingryping in Egipte die Arabiese en Moslems se sienswyses sou aanstoot gee en die Midde-Ooste destabiliseer. Arabiese nasies sou dalk in die rigting van Rusland gedryf word en so die deur vir groter Sowjet-invloed in die streek inisieer. Rusland het terselfdertyd met vuurpyl-aanvalle teen Brittanje, Frankryk en Israel gedreig, met Khrushchev wat openlik gedreig het om tot oorlog toe te tree ter verdediging van Egipte. Dit het aanleiding gegee tot opregte vrese dat die konflik tot die Derde Wêreldoorlog kon lei.

Eisenhower was toevallig betrokke by ’n herverkiesing op 6 November en dit was dus nodig dat hy sensitief sou wees vir die V.S. se binnelandse mening. Selfs al was Brittanje en Frankryk belangrike NAVO-bondgenote, het Amerika die onmiddellike beëindiging van vyandigheid as ’n vereiste vir die toekoms gesien. Daar was nie veel wat gedoen kon word om Hongarye te help nie. Die kanaal was vir vyf maande gesluit tot Maart 1957 en daarna weer vir alle verkeer heropen.

Die nagevolge van hierdie gebeure was betekenisvol vir baie nasies.

Die Suezkrisis het die einde van Brittanje se rol as ’n wêreldmag aangekondig. Die verbrokkeling van Brittanje se kwynende Ryk was bespoedig. Die Eerste Minister, Anthony Eden, was verpletter; sy gesondheid het agteruitgegaan en hy het uit sy amp bedank. Brittanje kon slegs oorleef deur die ekonomiese ingryping en goedkeuring van Amerika. Hulle nuwe tegemoetkomende “spesiale verhouding” was spoedig onder die McMillan Premierskap hervat.

Wes-Duitsland was woedend vir die V.S. se versuim om in Hongarye teen Rusland in te gryp terwyl Wes-Duitsland terselfdertyd in Egipte saam met Rusland teen haar Westerse bondgenote gewerk het. Die NAVO alliansie was daardeur verswak en verdeel. Frankryk het verraai gevoel deur haar onbetroubare bondgenote en het haarself in toenemende mate van NAVO gedistansieer om haar eie kernvermoë te ontwikkel. Die ervaring het waarskynlik ’n invloed op die aanneming van die Verdrag van Rome in 1957 gehad, wat bedoel was om groter Europese selfstandigheid aan te moedig. Arabiese nasies was aangemoedig om teen die “groot nasies” se afknouery op te staan; namate vooruitstrewende nasies na vore gekom het om onder die gesag van hulle koloniale meesters te ontsnap. Amerika het invloed in die Midde-Ooste verloor, terwyl die Sowjet-Unie hierby baat gevind het.

Met verloop van tyd het die belangrikheid van die Suezkanaal ietwat afgeneem, alhoewel dit ’n beslissende twispunt bly. Die grootste moderne olietenkers is te groot om die kanaal te gebruik; daarom verkies sommige die roete rondom Afrika. Brittanje was uiteindelik met Noordsee-olie geseën. Nasser het in die geskiedenis verdwyn en sy droom om ’n Pan-Arabiese leier te word is nooit verwesenlik nie. Amerika het die Koue Oorlog gewen en daarna die wêreld se enigste supermoondheid geword.

Die bes beraamde planne ...

Dít alles illustreer ’n eenvoudig, oorkoepelende geestelike punt. Ten spyte van al die dinamiese, steeds veranderende verhoudings tussen nasies op internasionale gebied – met al hulle militêre, ekonomiese, ideologiese en diplomatieke gekompliseerdhede en gekonkelry – is dit God wat oppermagtig bly. Hy is die een wat nasies verhef en ander tot ’n val bring om Sy doel te bereik en Bybelse profesie te vervul.

Die eertydse magtige koning Nebukadnésar van Babel het op die harde manier geleer “dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil” (Daniël 4:25). God is almagtig en Sy wil en doel sal seëvier: “Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:9-10).

In vandag se chaotiese en vinnig veranderende wêreld waarin God toenemend op die kantlyn geskuif, geïgnoreer en Sy wil verwaarloos word, sal dit wys wees om hierdie belangrike, allesomvattende les te onthou.

Hou aan om die Wêreld van Môre-tydskrif te lees namate ons voortgaan om aan u ’n dieper begrip van die vordering van wêreldgebeure te gee soos dit deur die prisma van Bybelse profesie gesien word – God se onaantasbare wil en doel. “... soos Ek dit gespreek het, sal Ek dit ook laat kom; Ek het dit voorberei, Ek sal dit ook doen” (Jesaja 46:11).