Misleide mense weet nie dat hulle mislei is nie. Is dit werklik moontlik dat miljarde mense mislei kan wees oor die ware Jesus Christus? U behoort te weet en uself te beskerm teen misleiding!

Miljoene opregte belydende Christene besef eenvoudig nie hulle glo en beoefen idees en tradisies wat in totale teenstelling is met wat Jesus Christus verkondig en uitgeleef het nie!


Die meeste van u wat hier lees wil werklik graag die God van die skepping aanbid. U wil Jesus Christus op die manier wat Hy sê, eer en dien. U mag egter ernstig mislei wees deur mense wat u verkeerdelik geleer het hoe om God te soek en te dien.

Die Bybel self, as u die Bybel sal toelaat om die Bybel te interpreteer, maak dit baie duidelik. Is u persoonlik bereid om die Bybel toe te laat om u oor die toestand van hierdie wêreld in te lig, selfs van die godsdienstige toestand van baie mense wat daarop aanspraak maak om Jesus Christus te volg? God het die apostel Paulus geïnspireer om ons te waarsku teen Satan die duiwel – die “slang” wat vir Eva verlei het en heel aan die begin die mensdom van God weggelei het: “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Korinthiërs 11:3-4).

Vandag is daar allerhande soorte benaderings tot beweerde “Christelikheid”, wat wissel van “New Age”-denke, tot Rooms-Katolisisme, tot hiper-emosionele “charismatiese” groepe. Hoewel almal die term “Jesus” in hulle aanbidding mag gebruik, het hulle dikwels heeltemal verskillende sienings van waarvoor Jesus regtig staan en wat Hy ons geleer het. In ’n sekere sin is elkeen besig met die aanbidding van ’n “ander” Jesus Christus. Elkeen verkondig ’n “ander evangelie”. Elkeen sal dikwels eerder menslike tradisies en idees volg as die duidelike opdragte van die Almagtige God in Sy geïnspireerde Woord.

Jesus het van hierdie situasie gepraat toe Hy die Fariseërs bestraf het oor hulle beklemtoning van menslike tradisie in teenstelling met die Wet van God. Terwyl Hy beskryf het hoe hulle tradisie hulle daarvan weerhou om hulle vader en moeder te eer soos God beveel het, sê Jesus: “So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering. Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Mattheüs 15:6-9).

Die meeste van hierdie Fariseërs was vermoedelik opreg. Hulle het gedink hulle aanbid die God van die Ou Testament, wat eintlik reg voor hulle gestaan het as Jesus Christus, die “Woord” wat nou in die menslike vlees gekom het! Hulle het Hom egter “tevergeefs aanbid” omdat hulle die tradisies en “gebooie van mense” nagevolg het. Ja, volgens Jesus Christus Self, is dit moontlik om Hom tevergeefs te aanbid! 

Opregtheid is nie genoeg nie!

Sommige mense sal beswaar maak: “Maar sal al die ‘opregte’ Christene nie dieselfde geleentheid hê tot die ewige lewe nie?” Wat het die Christus van u Bybel werklik gesê? “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in U Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mattheüs 7:21-23).

Let daarop dat sommige mense wat Jesus hulle “Here” noem, nie toegang tot die Koninkryk van God verleen sal word nie, want moontlik is hulle mislei of bedrieg en beoefen hulle “wetteloosheid”! Baie mense word mislei deur slegs te fokus op die Persoon van Jesus Christus en nie op die begrip van wat Hy werklik verkondig het nie, in plaas van om aan die Wette van God gehoorsaam te wees soos Hy voortdurend alle Christene beveel het om te doen!

Glo my, my vriende, ek verstaan! Ek het in ’n “hoofstroom” Protestantse kerk grootgeword en ek was die president van my Sondagskoolklas. Ek het gereeld op ’n Sondag aanbid, het Kersfees en Paasfees en ook die “familie byeenkomste” wat verband hou met baie van hierdie praktyke gevier.

Ek het egter jare later tot die besef gekom dat die Bybel duidelik bedoel wat hy sê wanneer daar gepraat word van die “duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9). Ek het gevind dat die apostel Paulus die Korintiërs waarsku: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Korinthiërs 4:3-4).

Deur diepe nabetragting en ure van gebed en studie het ek tot die besef gekom – volgens honderde duidelike gedeeltes in die Bybel – dat ek mislei is!

Beteken hierdie Skrifgedeelte dat “almal behalwe u” in die “hele wêreld” mislei is? Het Satan met sy listigheid ontelbare miljoene mense mislei, maar op een of ander manier u en u gesin van hierdie massiewe misleiding uitgesluit?

Dink asseblief hieroor na! 
Dit is beduidend dat talle geleerdes erken dat die hoofstroom “Christendom” vandag heeltemal wegbeweeg het van die vernaamste leerstellings van Jesus Christus en die vroeë Apostels en ’n heeltemal andersoortige lewenswyse gevestig het wat hulle nog steeds “Christelik” noem. Beroemde geleerdes en leidende Christelike geskiedskrywers erken die groot verandering wat plaasgevind het. Let op na hierdie treffende aanhaling uit The Decline and Fall of the Roman Empire, wat lank reeds erken word as die keerpunt in die geskiedenis van daardie tydperk. Edward Gibbon skryf: “Die eerste vyftien biskoppe van Jerusalem was almal besnede Jode en die gemeente waaroor hulle gesag gevoer het, het die wette van Moses verenig met die leer van Christus” (vol. 1, bl. 389). Dit is werklik ’n merkwaardige stelling! Dit dui duidelik daarop dat baie generasies verbygegaan het waartydens die Apostels en ander Christelike leiers, gelei deur die lewende Jesus Christus, (Mattheüs 28:20) voortgegaan het om God se Wet te gehoorsaam en dit beklemtoon het as ’n lewenswyse.

Gibbon gaan voort: “Dit was vanselfsprekend dat die oorspronklike tradisie van ’n kerk wat slegs veertig dae ná Christus se dood gestig is en vir omtrent net soveel jare onder die onmiddellike beheer van Sy Apostel was, aanvaar moes word as die standaard van ortodoksie. Die afgeleë kerke het hulle dikwels beroep op die gesag van hulle eerbiedwaardige Ouer en het haar ellende verlig deur ’n mildelike bydrae van aalmoese” (Gibbon, bl. 389). Gibbon toon weereens dat die Jerusalem Kerk van God vir ’n hele aantal geslagte die “ouer” was en gerespekteer was as die “standaard” van die ortodoksie in die vroeë Christenskap.

Dit was nie na Rome nie, maar Jerusalem waarna die vroeë Christene opgesien het vir leierskap!

Indien ons eerlik is, behoort ons onsself af te vra aan wie die gesag verleen was om die leerstellings van Christus en die oorspronklike Apostels, wie deur God se Gees gelei is om aan die ware Christene hierdie lewenswyse te leer, te verander?

Hoe die Waarheid laat vaar is

Gibbon merk op: “Die Joodse bekeerlinge, of die Nasareners, soos hulle later genoem is, wat die fondament van die kerk gelê het, is spoedig deur die toenemende skare wat uit al die verskillende godsdienste van politeïsme onder die vaandel van Christus saamgevoeg is, oorweldig” (ibid.). Gibbon verduidelik dat terwyl die politeïstiese heidene die “naam” van die Christelikheid oorgeneem het, is dit op een of ander manier verander en heeltemal afgerokkel van die fondament wat Christus en die oorspronklike Apostels gelê het!

In Jesse Lyman Hurlbut se wyd gepubliseerde en hoogs gerespekteerde handleiding oor kerkgeskiedenis, sê hy vir ons: “Vir vyftig jaar na Paulus se lewe hang ’n gordyn waardeur ons tevergeefs probeer kyk oor die kerk; en wanneer dit ongeveer 120 n.C. uiteindelik gelig word met die geskrifte van die vroegste kerkvaders, vind ons ’n kerk wat in baie opsigte heeltemal verskil van dié in die dae van St. Petrus en St. Paulus” (Story of the Christian Church, bl. 41).

’n Ander kerk

Die belydende Christelike kerk, onder leiding van die vroeëre “Katolieke Vaders”, het gedurende die Middeleeue baie afgewyk, aangesien dit die vernaamste leerstellings van Jesus en die oorspronklike Apostels heeltemal versaak het. Dit het die duidelike klem op gehoorsaamheid aan die Tien Gebooie as ’n lewenswyse versaak. Daarna het die Protestantse hervormers gekom en dalk onwetend, dieselfde benadering van onverskilligheid teenoor die gesag van die Tien Gebooie in ons Christelike lewe gevolg. Die geskiedenis toon dat ’n groot mate van anti-Semitisme ontstaan het en dat die werklike Wette wat deur die hand van God gegee is, as “Joods” beskou is en dus vir Christene “onnodig” was om na te volg.

Met bogenoemde perspektief in gedagte, let noukeurig op een van die vernaamste gedeeltes in die hele Bybel, die “Bergpredikasie”, waar Jesus sê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele” (Mattheüs 5:17-19). Volgens Jesus Christus moet ’n persoon wanneer hy in God se oë as groot beskou wil word, selfs die “minste” van die gebooie gehoorsaam!

Dit is duidelik dat Jesus hier praat van die Tien Gebooie, want regdeur die res van hierdie gedeelte bespreek Jesus die groot geestelike Wet van God, die Tien Gebooie. Hy verwys na moord wat deur die sesde gebod verbied word. Hy bespreek dan “haat” wat dikwels tot moord lei. In verse 27-28 verwys Jesus regstreeks na die sewende gebod: “Jy mag nie egbreek nie.” In verse 28-32 beskryf Hy hoe Christene dit moet vermy om selfs die gees van die Wet te verbreek deur iemand te begeer.

Wanneer ons toelaat dat die “Bybel die Bybel interpreteer”, is dit duidelik dat Jesus Christus besig is om die Tien Gebooie selfs nog meer bindend vir die Nuwe-Testamentiese Christene te maak as wat dit in die verlede was. Christene behoort hulle lewens heeltemal aan Christus te onderwerp sodat Hy in ons kan lewe deur die krag van die Heilige Gees (Galasiërs 2:20). Nadat ’n jong man Jesus gevra het: “Goeie meester, watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê?” het Jesus hom geantwoord: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheüs 19:16-17). Jesus het daarna voortgegaan om sommige van die Tien Gebooie op te noem! 

God se geestelike Wet

In teenstelling met die teologiese argumente en ingewikkelde redenering van so baie Bybelkommentators, het Jesus nie van die “seremoniële” of “rituele” wette van Moses gepraat nie. Hy het van Sy ware volgelinge se gehoorsaamheid aan die groot geestelike Wet van God, die Tien Gebooie gepraat. Dit was die Wet en die enigste Wet, wat God met Sy eie stem vanaf die top van die berg Sinai gespreek het. “Met hierdie woorde het die Here julle hele vergadering op die berg, uit die vuur, die wolk en die wolkedonkerheid met ’n groot stem toegespreek, en niks meer nie; en Hy het dit op twee kliptafels geskrywe en dit aan my gegee” (Deuteronomium 5:22).

God het selfs beveel dat daardie kliptafels binne-in die Verbondsark geplaas moes word, die ware verteenwoordiging van Sy verheerlikte troon in die hemel, die “Allerheiligste”. Geen ander Wet of opdrag is in hierdie heilige konteks geplaas nie! Die Tien Gebooie is nie bloot ’n “sedelike” Wet, soos baie misleide geleerdes ons leer nie. Dit is die direkte, “handgeskrewe” geestelike Wet van die groot Skepper van die hemel en aarde!

Die mensdom se blindheid!

Waarom dring so baie belydende Christenleraars en -skrywers dan daarop aan dat daar op die een of ander manier daarmee “weggedoen” is of nie meer nodig is nie? Indien ’n mens die tipiese kommentare of teologiese verhandelinge lees, kom jy gou agter dat die meeste belydende Christen-geleerdes probeer om die Tien Gebooie met die seremoniële wette van antieke Israel, of moontlik selfs met die burgerlike wette van daardie nasie, gelyk te stel.

Hoe blind is hierdie “geleerdes” nie! Die Tien Gebooie is ’n heeltemal aparte geestelike Wet wat gegee is deur die hand van God. Daar word na die ander wette van antieke Israel oor die algemeen verwys as insettinge, verordeninge of wette. Hierdie addisionele wette, wat aan die fisiese volk van antieke Israel gegee is, was nooit in die ark geplaas nie. Hulle is nog nooit op dieselfde vlak as die Tien Gebooie beskou nie. Jesus het duidelik nie na hierdie insettinge en verordeninge verwys toe Hy aan die ywerige jong man gesê het: “... as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” nie, maar wel na die Tien Gebooie.

Baie van u mag dalk wonder: “Leer al die kerke ons dan nie om die Tien Gebooie te gehoorsaam nie”? Dit is egter nog ’n valse aanname!

Die waarheid van hierdie saak is dat die oorgrote meerderheid van kerke en belydende Christelike predikante ons leer dat dit nie nodig is om die Tien Gebooie as ’n norm vir Christelike gedrag na te kom nie, alhoewel dit ’n goeie “sedelike riglyn” kan wees. Indien u hieroor twyfel, vra gerus u leraar. Die betreklik min kerke wat regtig daarop aanspraak maak dat hulle die Tien Gebooie leer en navolg, het ’n uiters moeilike taak om te verduidelik hoe hulle dit kan doen, terwyl hulle die eerste, tweede, sewende en tiende gebooie “afwater” en die vierde heeltemal afskaf.

In teenstelling hiermee, indien u in staat sou wees om by die aanbidding en gebruike van Christus Self en die oorspronklike Christen Kerk “in te loer”, sou u ’n groep toegewyde mense vind wat regtig probeer het om Jesus se opdrag uit te voer: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). In plaas daarvan om die “Dag van die Son” te hou, het Jesus en Sy volgelinge die ware Sabbat, wat God vir die ganse mensdom gegee het, onderhou. Hierdie dag verwys na God as die Skepper en stel Hom apart van al die “gode” soos die mense hulle deur die eeue heen verbeel het daar is. Jesus en Sy volgelinge het gedurende daardie tyd en vandag steeds die Bybelse Heilige Dae, wat dui op die groot Plan van God, onderhou. Daardie dae is voortdurend onderhou, nie net deur Christus nie, maar ook deur al die Apostels. Ons vind verwysings hierna in Jesus se onderhouding van die Huttefees (Johannes 7:1-14) en in Sy onderhouding van die Pasga (Markus 14:14). Onthou dat die Heilige Gees self op een van God se Heilige Dae, die dag van Pinkster, op die vroeë Christene uitgestort is (Handelinge 2). Die Christelike Kerk en die apostel Paulus self het Pinkster ook gereeld onderhou (Handelinge 20:16; 1 Korinthiërs 16:8).

Die “toets”gebod

God se geïnspireerde Woord openbaar dat Jesus die “lig” van die wêreld is: “In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense” (Johannes 1:4). Daar word herhaaldelik aan ons gesê om Christus se voorbeeld te volg (1 Petrus 2:21). Teen die einde van die Nuwe-Testamentiese era skryf Sy dissipel, die geliefde apostel Johannes, dat “... elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Johannes 2:5-6).

Die bogenoemde gedeelte vertel aan ons ’n volgeling van Christus “behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het”. Wat was dan Christus se voorbeeld? Wat was dit van die basiese lewenswyse wat Jesus Christus ons geleer het en wat ons spesiale aandag behoort aan te gryp?

Jesus het duidelik volgens al Tien God se  Gebooie geleef – dit sluit gereelde onderhouding van die sewende-dag Sabbat in. Jesus Christus en al die oorspronklike Apostels het altyd die Sabbat gehou en nooit die mense geleer dat daarmee weggedoen is nie! Soos George Price Fisher, professor in kerklike geskiedenis aan die Yale Universiteit skryf: “Die Joodse Christene het in die begin die sinagoges bygewoon. Hulle het voortgegaan om die feeste te onderhou soos bepaal is deur die Wet en geleidelik het die feeste aansluiting gevind by die Christelike idees en feite. Hulle het die Sabbat op Saterdag onderhou” (History of the Christian Church, bl. 40).

Jesus het gesê: “Die Sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat” (Markus 2:27-28). Die Bybel openbaar duidelik dat die Sabbat heilig gemaak is lank voordat daar ’n Jood was om dit te onderhou! Die Skepper het die Sabbat geheilig as ’n dag van rus en aanbidding vir die hele mensdom. Dit is onmiddellik na die skepping van die mens geskep: “So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak” (Genesis 2:1-3).

Let daarop dat God “die sewende dag” geseën en geheilig het, nie sommer enige dag van die sewe dae nie! Vandag se “hoofstroom” kerke erken dit, selfs terwyl hulle Sondag “vier”. Soos die prominente Rooms-Katolieke kerkvors, James Cardinal Gibbon skryf: “U kan die Bybel deurlees van Genesis tot Openbaring en u sal nie ’n enkele sin vind wat die heiliging van Sondag magtig nie. Die Skrif dwing die godsdienstige onderhouding van Saterdag af, ’n dag wat ons nooit heilig nie” (in Faith of our Fathers, 1876).

Baie opregte Christene vergeet dat God die onderhouding van die ware Sabbat ’n spesiale uitkennings-“teken” gemaak het tussen Hom en Sy volk. Enige kerk of enige nasie wat, wetend of onwetend, hierdie uitkennings-“teken” verwerp sal sy begrip van wie die ware God is verloor en die gesag, die mag en die werklikheid van die ewige God wat die hemel en die aarde geskape het en nog onderhou, nie raaksien nie!

God het aan ons geestelike voorvaders, die kinders van Israel gesê: “Julle moet sekerlik my sabbatte onderhou, want dit is ’n teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek die Here is wat julle heilig” (Exodus 31:13). Terwyl politeïstiese heidene regoor die wêreld die waarneming van die eerbiedwaardige “Dag van die Son” – Sondag – onderhou het, het God aan Sy volk gesê om die sewende dag te onderhou as ’n herdenking van die skepping. Dit het ’n “teken” tussen God en sy volk geword. Dit identifiseer die ware God as Skepper. Dit identifiseer diegene wat hierdie “teken” onderhou as Sy volk, ’n volk wat afgesonder is van die wêreld.

God se Woord sê aan ons dat selfs die heidense nasies geseën sal word indien hulle God se heilige Sabbat onderhou. “En die uitlanders wat hulle by die Here aangesluit het, om Hom te dien en om die Naam van die Here lief te hê deur sy knegte te wees – elkeen wat die sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie, en hulle wat vashou aan my verbond, hulle sal Ek bring na my heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed; hulle brandoffers en hulle slagoffers sal welgevallig wees op my altaar; want my huis sal ’n huis van gebed genoem word vir al die volke” (Jesaja 56:6-7). Jesaja was geïnspireer om aan ons te sê dat gedurende die komende duisendjarige Vrederyk van Christus op aarde, almal God se Sabbat sal onderhou: “En elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die Here” (Jesaja 66:23).

Ongelukkig word die Sabbat gewoonlik in ons moderne, verheidense samelewing beskou as moeilik om te onderhou. Dit het ’n toets vir ’n mens se gewilligheid, om homself werklik te onderwerp om volgens elke woord van God te leef, geword. Dit is dus slegs ’n paar miljoen Jode en Christelike Sabbatsonderhouers wat enigsins ’n poging aanwend om die Bybelse Sabbat in ons moderne samelewing te onderhou. Jesus, die “lig van die wêreld”, het egter aan ons die voorbeeld gegee om die Sabbat te onderhou, net soos al Sy Apostels en volgelinge vir baie dekades na Sy dood. Wie het dus aan ander mense die reg gegee om hierdie Goddelike opdrag te verander?

Elke woord van God

Dit is duidelik dat die vroeë Christene hulle lewens op die groot geestelike Wet van God, die Tien Gebooie, gebaseer het. Hulle het probeer “leef van elke Woord van God”. Hulle het nie net sentimenteel oor Jesus Christus as persoon gepraat nie; hulle het ook Sy boodskap eerbiedig. Wanneer hulle “die Here Jesus Christus”, gesê het, het hulle erken dat die woord “Here”, “baas” beteken, die Een aan wie die mens gehoorsaam behoort te wees! Jesus herinner hulle in baie gedeeltes aan hierdie belangrike verhouding, onder andere Lukas 6:46: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?”

In die Bergpredikasie het Jesus God se Wet beklemtoon en uitgebrei: “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe omrede van hoerery, maak dat sy egbreuk pleeg, en elkeen wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk” (Mattheüs 5:32). Vandag egter, skei miljoene belydende Christene vir omtrent enige rede! Miljoene kerkgangers lieg, bedrieg en pleeg egbreuk op ’n gereelde basis en vorm ’n integrale deel van ons moderne samelewing met sy genotsugtigheid, geweld en wellus en aanvaar ook bykans elke perverse vorm van gedrag wat bekend is aan die mens!

Die ware Christenskap van Christus is egter ’n lewenswyse! Dit bestaan uit ’n persoon se totale oorgawe aan God, uit aanvaarding van die Jesus Christus van die Bybel as Verlosser en Meester, die onderwerping van die self aan Hom, om Sy lewe in ons te leef deur die krag van die Heilige Gees. God se Woord sê aan ons: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). Jesus sal dus vandag in ons dieselfde soort gehoorsame lewe leef as wat Hy 2,000 jaar gelede in die menslike vlees geleef het.

Die apostel Paulus skryf: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20). Die ware Christus van die Bybel sal binne-in ons lewe indien ons onsself werklik aan Hom oorgee en Hom aanvaar as Verlosser en Here. Dit is dan nie die fisiese persoon wat God se gebooie in eie krag gehoorsaam nie; dit is die lewende Jesus Christus in ons! Soos Paulus skryf: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Filippense 4:13).

Heel moontlik sal die Christus van die Bybel binne hierdie geslag terugkeer as Koning (Openbaring 11:15). Sy ware heiliges word as volg beskryf: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar” (Openbaring 14:12).

Deur werklik gehoorsaam te wees aan God se Wette in hierdie huidige misleide wêreld, sal hierdie “oorwinnaars” by Christus kan aansluit om oor die nasies hier op aarde te regeer (Openbaring 5:10). Ook: “Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:3-4).

Die sluier van geestelike blindheid sal uiteindelik weggestroop word van alle volke en nasies: “En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is. Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here Here sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want die Here het dit gespreek” (Jesaja 25:7-8).

Dít is die Christenskap wat die ware Jesus Christus sal verkondig en op hierdie aarde sal toepas wanneer Hy weer kom as Koning van die konings. Sal u dus nou hierdie Jesus Christus, die Jesus Christus van u Bybel, begin soek en gehoorsaam? Mag God aan u die begrip en die moed gee om juis net dit te doen!