Wanneer ons aan die telefoon en sy uitvinder dink, dink ons waarskynlik aan Alexander Graham Bell.

Op 10 Maart 1876, op die ouderdom van 29, het Bell met sy medewerker Watson wat in ’n ander kamer was gepraat en die beroemde woorde oor die nuwe toestel geuiter wat die wêreld sou verander: “Mnr. Watson – Kom hier – Ek wil u sien”.

Die proses van navorsing en eksperimentering wat Bell ’n aantal jare vroeër begin het, het uiteindelik ’n wonderlike uitvinding tot gevolg gehad. Woorde wat in elektriese impulse verander is kan deur ’n draad gestuur word en weer in woorde teruggedraai word om aan die ander kant gehoor te word. So is die toestel wat die telefoon genoem word gebore. Dit het gelyk asof vernuftigheid en vindingrykheid in Bell se DNA was!

In 1878 het sy vader Melville, in Kanada met die kommersialisering van die uitvinding begin en in 1880 is die Bell Telefoon Maatskappy van Kanada gestig. Teen 1886, slegs ses jaar later, het meer as 150,000 mense in die V.S. telefone besit.

Verskillende lewenswyses in verskillende lande

Alexander Graham Bell wie in 1847 in Edinburgh Skotland gebore is sou uiteindelik op verskillende tye in die Verenigde Koninkryk, die Verenigde State en Kanada woon. Al drie lande eien hom met trots as hulle eie toe.

Indien Bell ’n curriculum vitae moes voorsien, sou dit heelwat titels moes insluit. Hy was verseker ’n uitvinder en ’n wetenskaplike wat bydraes gelewer het in velde so ver verwyderd van kommunikasie soos skeerbootontwerp en lugvaartkunde. Hy was ook ’n opvoeder wat bekend was vir sy werk met dowes en wat sy eie navorsing oor spraak en gehoor gedoen het. In werklikheid was hy daarvoor bekend dat hy met trots na homself as ’n “onderwyser vir dowes” verwys het. In 1877 is hy oplaas met een van sy dowe studente, Mabel Hubbard, getroud. Hulle het saam vier kinders gehad, hoewel twee van hulle as jong kinders gesterf het.

Bell se gesinsagtergrond het ’n groot bydraende faktor in sy vindingryke genialiteit gespeel en het sy persoonlike en professionele lewe gevorm. Bell is geweldig deur sy moeder se doofheid beïnvloed beïnvloed en sy vader se werk as spraakterapeut asook sy belangstelling in spraakonderwys. Hy en sy vader het ’n stel simbole ontwikkel en verbeter om gesproke klanke uit te beeld – ’n stelsel wat hulle “Sigbare Spraak” genoem het en wat hulle gevoel het gebruik kon word om dowes te leer om duidelik te praat. Sodanige werk het gehelp om die weg te baan vir sy toekomstige werk aan die telefoon.

Die Kanadese verbinding

Gedurende sy vroeë jare in Kanada het hy saam met sy ouers op ’n plaas naby Brantford, Ontario gewoon, met ’n uitsig oor die Grand River. Hy het sy somers afwisselend tussen Boston en Brantford deurgebring. Dit was gedurende daardie tyd, in die vroeë 1870’s, dat Bell met sy aanvanklike werk aan die harmoniese telegraaf begin het. Hy het die taal van die Mohawk-nasie aangeleer en dit op skrif gestel met behulp van sy Sigbare Spraakstelsel.

Alexander Graham Bell was ’n ongelooflike harde werker wat dikwels tot laat in die nag gewerk het. Teen die muur van die laboratorium waar hy moeisaam gewerk het, was ’n foto van ’n uil wat as ’n grap aan hom gegee is om sy geneigdheid te weerspieël om tot laat in die nag te werk.

Om besig te wees beteken nie noodwendig om produktief te wees nie. Tog het Bell se passie vir ontdekking en uitvinding, gepaardgaande met sy fokus en vasberadenheid, getoon dat hy meer as net besig was – hy was ’n produktiewe individu wat drome in werklikhede verander het.

Soos enige ander uitvinder het hy ook mislukkings en misstappe gehad. Dit het hom egter nie daarvan weerhou om vorentoe te beur nie. Soos hy een keer opgemerk het: “Wanneer een deur sluit, open ’n ander; maar ons kyk dikwels so lank en met spyt na die geslote deur, dat ons nie dié raaksien wat vir ons oopgaan nie”. Ten opsigte van volharding het Bell opgemerk: “In wetenskaplike navorsing is daar geen onsuksesvolle eksperimente nie; elke eksperiment bevat ’n les. Indien ons nie die verwagte resultate verkry nie en net daar ophou, is dit die man wat onsuksesvol is, nie die eksperiment nie”.

Alexander Graham Bell se lewe was egter met meer as uitvinding en ontdekking gevul. Hy het gedurende die laaste 35 jaar van sy lewe baie tyd saam met sy vrou Mabel en hulle twee dogters op ’n landgoed deurgebring naby die oewers van Baddeck Baai wat hulle gekoop het. Hulle twee dogters is getroud en het nege kleinkinders aan hulle gegee. Die Bell huishouding was hierna dikwels nogal bedrywig. “Ek is so lief vir klein kindertjies”, het hy eenkeer gesê, “en ek hou van niks meer as om naby hulle te wees nie”.

Die liefde wat hy en sy vrou gedeel het was duidelik bewys in hulle laaste woorde aan mekaar voor sy dood. Mabel het langs sy bed aan hom gefluister: “Moet my nie verlaat nie”. Hy het “Nee” in gebaretaal geantwoord, sy bewussyn verloor en gesterf.

’n Bybelse werksetiek

Die lewe van Alexander Graham Bell dien as ’n voorbeeld van werksetiek wat duidelik en uitdruklik in God se Woord geleer word. Ons kan in sy voorbeeld ’n weerspieëling van koning Salomo se vermaning aan almal van ons sien: “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie” (Prediker 9:10).

Hierdie “onderwyser vir die dowes” het sekerlik hierdie woorde uit die Skrif vervul, nie net in sy soeke na geleenthede vir persoonlike groei en insig nie, maar ook in die soeke om die lewens van ander mense te bevoordeel.

Bell se lewe illustreer ook ’n ander beginsel van harde werk: “Die siel van die luiaard begeer, en daar is niks nie, maar die siel van die vlytiges word versadig” (Spreuke 13:4). Dít is verseker dat die uitvinder van die telefoon alles behalwe lui was. Dit het ook gelyk asof hy met verwondering oor die wêreld rondom hom vervul was, wat gelei het tot ’n lewe wat ryk was in baie opsigte. Hy het een keer opgemerk: “God het ons paaie met wonders besaai en ons sal sekerlik nie deur die lewe gaan met ons oë gesluit nie”.

Ten tye van die nuus van sy dood in 1922 het die hele telefoonstelsel in Kanada en die Verenigde State vir ’n oomblik van stilte opgehou werk ter herinnering aan sy lewe en bydrae tot die samelewing.

Ons leef in ’n era waar tegnologie teen ’n vinnige tempo ontwikkel. Sedert Bell se aanvanklike uitvinding het die mensdom ’n skynbaar eindelose verskeidenheid van vorms en metodes van kommunikasie ontwikkel. ’n Mens wonder wat Bell vandag sou dink van Bell Kanada – een van vele groot telekommunikasie en media-maatskappye wat sy naam dra.

Bell het gehoop dat langafstand telefoondrade uiteindelik telefone tussen verskillende en verafgeleë stede sou verbind. Teen 1907 was meer as ses miljoen telefone in gebruik. In 1915 is die eerste kus-tot-kus oproep tussen Bell en sy vriend en voormalige assistent, Thomas Watson gemaak. Die oproep was van die stad New York na San Francisco en Bell het die gesprek met dieselfde woorde begin as wat hy jare tevore op 10 Maart 1876 aan mnr. Watson gesê het: “Mnr. Watson – Kom hier – Ek wil u sien”.

Laat ons die volharding, versiendheid, fokus en merkwaardige werksetiek van die man uit drie lande waardeer: Die uitvinder Alexander Graham Bell. Danksy sy pogings en toewyding het kommunikasie vir mense regoor die wêreld verbeter. Hy was werklik ’n man wat “met al sy mag” gewerk het!