Een van die mees verbasende gebeure van die afgelope 50 jaar is die dramatiese verskuiwing weg van Judeo-Christen sedes, wat die fondament van die Westerse beskawing gelewer het. Die ouer geslag wonder hoekom dit gebeur en waarheen dit sal lei; die jonger mense blyk onbewus van dié besorgdheid te wees. Wat vandag nie herken word nie, is dat verskeie profesieë voor ons oë vervul word! Terwyl sommige analiste besef hoekom dit gebeur, het die meeste geen idee waarheen hierdie veranderinge sal lei nie - tog openbaar die Bybel wat voorlê!

God het hierdie ongelooflike gebeure - en die daaropvolgende gevolge - lank gelede reeds voorspel. Moses het ons voorvaders gewaarsku dat “julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom” (Deuteronomium 31:29). In die afgelope dekades het Amerika - hoewel hulle volgens hul muntstukke beweer dat hulle op God vertrou - die plasing van die Tien Gebooie in openbare plekke wetlik verbied. Die Westerse media het toenemend vyandiggesind teenoor Judeo-Christen waardes geraak. Openbare skole dring aan op waarde-neutraliteit. Godsdiensleiers raak toenemend geneig tot dubbelsinnigheid en inskiklikheid in noodsaaklike areas van leerstellings en sedes. Die gevolg is ’n skerp styging in egskeiding, saamwonery, seksuele promiskuïteit, perversie, tienerswangerskappe, aborsies, kindermishandeling, dwelmmisbruik, verkragting, bedrog, winkeldiefstal, geldverduistering, bankrotskap, onbeleefdheid en gewelddadige misdaad - dieselfde dinge wat God voorspel het sal gebeur met volke wat nalaat om Sy wette te onderhou (sien Hosea 4:1-3; Maleagi 2; 2 Timotheus 3:1-9).

Die intellektuele elite van Amerika en Wes-Europa - akademici, skrywers, filmmakers, televisie vervaardigers, liberale politici en teoloë - is voorstaanders van hierdie “doen-jou-eie-ding moraliteit”. William Bennett, voormalige Amerikaanse Onderwysminister, rig die aanklag dat “hulle oor die afgelope twee dekades ’n volslae aanval op gesonde verstand en die algemene waardes van die Amerikaanse volk geloods het ... ons blyk dus die geleidelike neerlegging van die tradisionele onderstutte van die Amerikaanse kultuur gade te slaan” (The Devaluing of America, Bennett, 1992, bl. 13, 26). Tog profeteer God “jou leiers is verleiers, en die weg wat jou pad moes wees, het hulle tot ’n dwaalweg gemaak” (Jesaja 3:12; 9:16; Jeremia 23:13). Opvoeder Vincent Ruggerio maak die eerlike stelling: “gewilde kultuur is deur onsin besmet - onsin oor waarheid en realiteit, onsin oor die self, onsin oor gedagtes en gevoelens. Hierdie vals sieninge het ’n vernietigende invloed op mense se lewens” wat lei tot die ineenstorting van die gesin, selfgenietinge en die ondermyning van die strewe na uitnemendheid (Warning: Nonsense is destroying America, bl. vi). Tog het God voorsien: “My volk is dwaas; My ken hulle nie; dwase kinders is hulle, en hulle is onverstandig” (Jeremia 4:22). Selfs teoloë is geaffekteer. Bennett merk op dat in ’n tyd wanneer mense sterk morele leiding nodig het, “die kerkgenootskap hulself onttrek het” deur sonde en die belang van die huwelik nietig te maak terwyl hulle promiskuïteit, maklike egskeiding en homoseksualiteit goedkeur” (Bennett, bl. 222-223). Tog profeteer God: “die wat die wet handhaaf, het My nie geken nie ... die profete sal wind word ... wat in my Naam vals profeteer” (Jeremia 2:8; 5:13; 23:25).

Die Bybel onthul dat misleide leiers “sleg goed noem en goed sleg” sal noem (Jesaja 5:20). Vandag se liberaliste voer aan dat homoseksualiteit en adolessente seksuele aktiwiteite normaal is en dat tradisionele huwelike, onderdrukkend en eng is. Voormalige regter en waarnemende minister van justisie, Robert Bork skryf dat baie mense nou wil hê dat die “afwykende genormaliseer moet word” en die normale afwykend gemaak moet word (Slouching toward Gomorrah, bl. 3-4). God waarsku dat ons samelewing soos Sodom en Gomorra sal word - siek van kop tot tone (Jesaja 1:2-10). Moderne vermaak is so deurspek met seks, geweld en anargie dat normale verhoudings, respek vir die gereg en die waarde van menselewens verdwyn - veral onder die jeug. Skrywer Jim Nelson Black teken joernalis Barbara Walters se gevolgtrekking aan dat baie jongmense vandag “geen sin vir dissipline het nie. Geen doelwitte. Hulle gee net om vir hulself ... hulle word ’n geslag van ongedissiplineerde barbare” (When Nations Die, bl. 19; sien Jesaja 3:4-5, 12).

Teoloog Carl Henry beskryf die herverskyning van ’n “heidense mentaliteit” in die Westerse kultuur wat glo dat “daar geen vaste waarheid is nie, geen uiteindelike goedheid, geen finale betekenis of doel en dat die lewende God ’n primitiewe illusie is ... dit bepleit verborgenheidsgodsdiens, okkulte magte en kragte, gemeenskap met die natuur en eksotiese godsdienste”(The Twilight of a Great Civilisation, bl. ix). God profeteer van Sy rebelse volke dat hulle “onegte kinders verwek” (Hosea 5:7) en hulle wend tot waardelose gode (Jeremia 2:11). Black teken aan: “soos Duitsland, Frankryk, Groot Brittanje, Kanada en Australië voor ons, het Amerika uiteindelik die post-Christen era ingegaan” en dat, deur die Christenwaardes wat die Westerse beskawing onderhou het te verwerp, ons die “ideale wat die Weste bo antieke heidendom uitgelig het” verwerp (Black, bl. 11, 178). Die lig wat God die Israelitiese volke ten doel gehad het om aan die wêreld te bied, is besig om uit te gaan (Deuteronomium 4:1-10), maar waarom moet ons daarvoor omgee?

Vir Amerika en ander Westerse volke, insluitend Suid-Afrika, is die skrif aan die muur. Baie geleerdes sien die ontnugterende parallelle tussen die verval van antieke samelewings; toe hulle tot ’n val gekom het en die verval van die Westerse kultuur vandag. In antieke Egipte, Karthage, Griekeland en Rome “het die verval van die samelewing elke keer met ’n tydperk van duidelike morele verval begin” (Black, bl. 186-188). Black waarsku dat “elkeen van die simptome van verval [wetteloosheid, degenererende kuns en musiek, oorbesteding, korrupsie, godsdiensverval, verval in opvoeding en tradisionele waardes, materialisme, aborsie, moord, selfgesentreerdheid, immoraliteit, egskeiding en seksuele perversie] ... is vandag in hierdie volk teenwoordig ... om sulke lesse te ignoreer kan rampspoedig wees” (bl. 4). Joernalis Morris Berman waarsku “namate die een-en-twintigste eeu aanbreek, is Amerikaanse kultuur in ’n gemors ... die stelsel verloor sy ankers en dryf, soos Rome van ouds, na ’n disfunksionele situasie” (The Twilight of American Culture, bl. 1-2). Bork waarsku dat ons “baan afwaarts voortduur ... ons is oppad na ’n kulturele ramp” (Bork bl. 2, 11). Peter Hitchens kla oor Brittanje, “’n groot nasie ... is op die rand van uitwissing en ... ons het baie min tyd om dit te red” (The Abolition of Britain, bl. ix). Black haal Bennett se aanvoering aan dat, gesien in die lig van die kruheid en vulgariteit van ons tyd “daar net te veel tekens van onbeskawing is; dit is ’n samelewing wat verrot het” (Black, bl. 7). Tog profeteer God dat ons volke “hul weg verdraai het, die HERE hulle God vergeet het” en “wilde lote van ’n vreemde wingerdstok” geword het (Jeremia 3:21; 2:21).

Wat lê dus voor? Bybelprofesie onthul dat God ons volke sal straf vir ons sondes. God waarsku: “Maar as julle nie na My luister [nie] ... Ek sal julle trotse mag verbreek ... Ek sal ’n swaard oor julle bring ... Ek [sal] pes onder julle in stuur ... Ek self sal die land verwoes ... Ek sal julle onder die volke verstrooi ... Ek [sal] haar oor ...gee in die hand van haar minnaars ... Ek sal jou oorgee in die hand van hulle wat jy haat” (Levitikus 26:14-34; Esegiël 23:9, 22-35). Esegiël onthul dat een derde van ons bevolkings aan pessiektes en hongersnood sal sterf, een derde deur die swaard en een derde in die wind verstrooi sal word - bedoelende nasionale gevangenskap (Esegiël 5:12; 4:13). Ons straf sal ’n les vir die hele wêreld wees (Esegiël 5:14-17; Deuteronomium 29:24-29). Hierdie tydperk van nasionale tugtiging is die “tyd van benoudheid vir Jakob” en sal “aan die einde van die dae” plaasvind (Jeremia 30:7, 24). Ons volke sal herstel word, maar eers as ware bekering plaasgevind het. Om meer te wete te kom oor hierdie ernstige onderwerp, versoek gerus ons gratis boekies, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? en, Wie beheer die weer?