Ek onthou nog my eerste werklike ervaring met suikerbekkies [hummingbirds]. My vrou het ’n suikerbekkie-voerder aan 'n paal agter ons huis gehang en na ’n paar dae het dit gelyk asof die lug van die klein voëltjies wemel. Een voëltjie het duidelik probeer om die ruimte te oorheers en die ander van die voerder af weg te jaag, maar die ander twee of drie het aanhou terugkeer vir meer en kort voor lank was daar omtrent ’n “suikerbekkie-oorlog” aan die gang!
Een middag het ek die geleentheid gehad om gedurende een van hierdie oordrewe sessies, stadig treetjie vir treetjie nader en nader in die rigting van die voerder te beweeg. My versigtige benadering het my daarin laat slaag om myself reg in die middel van die aktiwiteit te plaas. Dit was ’n ongelooflike ervaring. Die spoed en ratsheid van hierdie klein voëltjies – wat nie langer as 5 cm of so is nie – terwyl hulle zoem en gons rondom my kop, was ongelooflik om te aanskou. Die wyse waarop hulle met ’n baie vinnige spoed kan vlieg, in ’n breukdeel van ’n sekonde van rigting kan verander en selfs in die lug kon hang, het hulle soos akrobate van die lug laat voorkom.
Hierdie wonders van God se ontwerp mag dalk klein voëltjies wees, maar hulle is groot wonderwerke! Kom ons oorweeg vir ’n oomblik die unieke, goddelike ingenieurswese wat die Skepper tot stand gebring het om hierdie pragtige juweel van die voëlwêreld – die suikerbekkie – te skep.
Vlerke soos geen ander nie
Eerstens, hoe is die suikerbekkie in staat om sulke akrobatiese toertjies in die lug uit te voer? Hou een voëltjie vir ’n paar oomblikke dop. U sal sien dat hulle nie net in die lug kan hang nie, maar hulle kan in enige rigting beweeg – vorentoe, agtertoe, regs, links, op of af – sonder om hulle lyfies te draai. In ’n oogwink kan hulle van heeltemal bewegingloos in die lug hang, wegswiep tot teen 96 km per uur die lug in.
Die onmiddellike ontwerp-element wat vir hierdie merkwaardige vermoëns verantwoordelik is, is die suikerbekkie se unieke vlerke.
Die meeste voëls het vlerke wat by die skouer, elmboog en pols kan buig sodat die vlerk kan vou wanneer die voël dit oplig en dan uitsprei sodra die voël se vlerk teen die lug stoot. Ons sien hierdie klapbeweging by feitlik alle voëls in die lug, van die mossie tot die arend. Net nie by die suikerbekkie nie!
Die suikerbekkie se elmboog en pols buig nie en vorm daardeur ’n stywe werwel vir die vlerk. Die voëltjie se skouer is egter ongelooflik soepel en neem sy vlerk deur ’n unieke “syfer agt” beweging, vorentoe en agtertoe deur die lug, soos ’n swemmer sy kop bo water hou. Al kan die pols nie soos dié van ander voëls buig nie, is dit ontwerp om dramaties te kan roteer, sodat die vlerk byna 180° met elke beweging kan draai. Hierdie verskille in ontwerp lei tot ’n vlerk wat spesifiek ontwerp is om aan die suikerbekkie kragtige dryfkrag met elke enkele “swiep” van sy vlerke te gee – heen en weer, heen en weer – in teenstelling met die meeste voëls wat net stukrag met hulle afwaartse hale genereer.
Waarom suikerbekkies ’n hum-geluid maak!
Tog, die ongewone ontwerp van sy vlerkslae sou nie genoeg wees om die suikerbekkie sy merkwaardige vermoëns te gee indien hulle vlerke nie vinnig kon beweeg nie – hulle klap dit uiters vinnig. In werklikheid is dit gemeet en hulle vlerke klap 50-80 keer per sekonde! Ons noem hierdie voëls in Engels hummingbirds as gevolg van die kenmerkende “hum” geluid wat deur die driftige beweging van hulle klein vlerkies veroorsaak word.
Wanneer ’n voëltjie sy vlerke 20 keer in ’n breukdeel van ’n sekonde klap duur dit slegs ’n oogwink en hy moet ’n ondersteuningstelsel hê wat krag sowel as energie op hierdie merkwaardige wyse verskaf. Dit het byvoorbeeld ’n hoër proporsie van spierspasma wat aan vlieg gewy is in vergelyking met ander voëls en daardie spiere beskik oor die verhoogde vermoë om brandstof in energie om te skep vir beweging oor lang tydperke. Die ruby-throated hummingbirds migreer in der waarheid twee keer per jaar duisende kilometers tussen Kanada en Panama; ’n reis wat ’n ononderbroke afstand van 800 km oor die waters van die Golf van Mexiko insluit.
Die hoeveelheid energie wat benodig word om sulke prestasies te vermag is enorm. Daar word beraam dat indien die energiebehoeftes van die suikerbekkie opgeskaal sou word tot ’n wese so groot soos ’n mens sou daardie wese ongeveer 155,000 kalorieë per dag moes nodig hê te verbruik – die ekwivalent van meer as 600 hamburgers per dag!
Vir so ’n gulsige eetlus verkry die suikerbekkie byna al sy energiebehoeftes van een enkele bron: Die nektar van blomme. Hierdeur vertoon die suikerbekkie ’n aantal bykomende en uitsonderlike eienskappe in ontwerp wat die vindingrykheid van ons Skepper deur die ingenieurs-intelligensie van ’n klein voëltjie uitlig.
Vloeistof “greep”
Die tong van die suikerbekkie was byvoorbeeld vir lank ’n raaisel. Baie wetenskaplikes het vir jare lank gedink dat dit nektar deur eenvoudige “haarbuis werking” opsuig, baie soos ’n papierhanddoek wat passief vloeistof deur sy vesels opsuig. Noukeurige studies wat die afgelope jare gedoen is het aan die lig gebring dat dit ver van die waarheid is.
Daar is by nadere ondersoek gevind dat die suikerbekkie se tong ’n ontwerp vertoon wat in geen ander dier gesien word nie. In die teenwoordigheid van vloeistof word die vorm dinamies verander. Indien u al ooit probeer het om water te “gryp”, het u waarskynlik gevind dat dit ’n vergeefse poging is! Tog doen die suikerbekkie se tong presies dit, deur veelvuldige geboë strukture wat outomaties oopmaak wanneer die vloeistof binnegaan en dan aktief sluit om letterlik die versamelde vloeistof te gryp! Die voëltjie trek dan eenvoudig sy tong in sy bek en keel terug, saam met sy vrag suikerbelaaide nektar. Bioloë gaan voort om die verteringssiklus van die voëltjie te bestudeer, met die hoop om dit te verstaan. Dit wil voorkom of God deur hierdie klein kreatuurtjie nog baie het om vir ons te leer!
Ander geheime oor die suikerbekkie gaan voort om te ontvou namate wetenskaplikes hulle studies aan hierdie wonderlike klein voëltjie wy. In Junie 2016 het die Proceedings of the National Academy of Sciences byvoorbeeld ’n studie deur bioloë gepubliseer met die ontdekking dat suikerbekkies visuele inligting anders as ander diere verwerk. Aangesien hulle soos koeëls deur die dig beboste gebiede van die Amerikas vlieg help dit hulle om botsings te vermy.
Selfs in ’n diertjie so klein soos die nederige suikerbekkie is daar steeds nuwe inligting verkrygbaar en nuwe raaisels vir die mensdom om op te los! Elke ontdekking, elke verrassing en elke openbaring van een of ander nuwe struktuur of unieke element van ontwerp openbaar slegs nog ’n voorbeeld van ’n groot en briljante Skepper wat duidelik Sy skepping liefhet en ’n welbehae in Sy handewerk het!
Soos die patriarg Job sy vriende vermaan het: “Maar vra tog vir die diere, dat hulle jou leer; en die voëls van die hemel, dat hulle jou te kenne gee ... Wie weet nie deur al hierdie dinge dat die hand van die Here dit gemaak het nie?” (Job 12:7, 9).
Ja, die voëls van die lug kan ons leer dat “die hand van die Here dit gemaak het” – selfs daardie voëltjies wat so klein is dat dit in die hand van ’n kind kan pas.