Ons weet dat God goddelike genesing kan bewerkstellig, maar verstaan ons wat Hy doen wanneer Hy genees en waarom?

Indien u genesing nodig het, mag dit die heel belangrikste vraag wees wat u ooit sal vra!

Te midde van ’n krisis vra ons dikwels: “Waar is God?” Ons wonder: “Waarom laat Hy toe dat ek so ly?” of selfs: “Waarom het Hy toegelaat dat my geliefde sterf?” Sulke vrae kan deur ons gedagtes maal in spanningsvolle en wanhopige oomblikke wanneer ons voor siekte, pyn en selfs die moontlikheid van die dood te staan kom.

Heel moontlik vra ons die verkeerde vrae. In plaas daarvan om God te oordeel omdat Hy nie vinnig genoeg ingryp nie, behoort ons ’n ander vraag te vra. Indien ons God se genesing nou nodig het, behoort ons die fundamentele vraag te vra: Waarom genees God? Lees verder vir die antwoord!

Om genesing te verstaan, moet ons die “geheelbeeld” perspektief oor siekte en dood verstaan. Wat is God se siening van die mens se lewe? In die eerste plek, menslike lewe is baie kort! Vergelyk dit met God se lewe en die verskil in perspektief is enorm! Die profeet Jesaja het verduidelik: “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam” (Jesaja 57:15). God leef van ewigheid af in die verlede en Hy sal vir ewig in die toekoms leef. Vir ons verstand is dit moeilik om te begryp! Hy is verder besig om ons voor te berei om te deel in daardie nimmereindigende lewe saam met Hom, deur die opstanding uit die dood (Johannes 5:24). Ons het ’n wonderlike toekoms wat ons met ons huidige siening, skaars kan begin verstaan!

Van nou tot in ewigheid

Terwyl hy oor die kortstondigheid van die mens se lewe nagedink het, het koning Dawid opgemerk: “My dae is soos ’n skaduwee wat lank geword het, en ek, soos die plante verdor ek” (Psalm 102:12). Tog lei ons kort lewe tot ’n groot en wonderlik toekoms: “Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee” (Jeremia 29:11).

Somtyds laat God ’n man of vrou genadiglik sterf – selfs ’n regverdige persoon – om toekomstige tye van benoudheid gespaar te word. Dit is ook ’n belangrike perspektief om te begryp. “Die regverdige kom om, en daar is niemand wat dit ter harte neem nie; en die vromes word weggeruk sonder dat iemand daarop let; want die regverdige word weggeruk vanweë die boosheid” (Jesaja 57:1). Dít is God se siening.

Omdat Hy genadig is

Onse God is nietemin ’n barmhartige en medelydende Vader wat ons raamwerk ken, ons liggaamlike swakhede en ons broosheid (Psalm 103:14). Jesus Christus Self het gekom sodat ons “lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10). Hy het Sy lewe vir ons sondes gegee en ook nog Sy liggaam aangebied om gewond te word ter wille van ons siektes – vir ons genesing (1 Petrus 2:24). Ons lees dat toe Jesus die skare sien wat Hom gevolg het, het Hy “innig jammer vir hulle gevoel, en Hy het hulle siekes gesond gemaak” (Matthéüs 14:14).

Sommige mense glo om op te kyk na God vir genesing is vir minder opgevoede Christene en dat wonderbaarlike genesing slegs “vir ’n meer primitiewe era was”, minder gesofistikeerd as ons s’n (Healing, Francis McNutt, bll. 17, 20). Niks kan egter verder van die waarheid af wees nie! Goddelike genesing is vir God se getroue mense van alle eeue. Let op wat Dawid sê: “Welgeluksalig is hy wat ag gee op die arme; die Here sal hom red in die dag van onheil. Die Here sal hom bewaar en hom in die lewe hou .... Die Here sal hom ondersteun op die siekbed” (Psalm 41:2-4).

God genees omdat Hy ons liefhet en met genade na ons kyk, wanneer ons in geloof na Hom opkyk en aan Hom gehoorsaam is. Soos enige liefdevolle Vader, vind Hy groot vreugde daarin om vir Sy kinders geskenke te gee wat vir hulle goed is. God het egter ook ander redes vir genesing. Wat is dit?

Omdat ons in geloof en gehoorsaamheid vra

Wanneer ons genesing nodig het, doen ons wat voor die hand liggend is? Gaan ons na God en vra Hom daarvoor? Jesus Christus het aan Sy dissipels gesê om te “vra, te soek en te klop” vir die dinge wat hulle van hulle Vader nodig het. Hy verduidelik: “As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Matthéüs 7:11).

Die beginsel is: Dit is nodig dat ons vra! God wil hê dat ons ons na Hom wend, om ons versoeke aan Hom te rig en vir uitkoms te vra. Soos die skrywers James en Carol Garlow dit uitwys: “Ironies genoeg, dit is wanneer ons God se genesende krag die nodigste het, dat dit vir ons die moeilikste tyd is om daarvoor te vra” (God Still Heals, bl. 20).

Waarom is ons soms bang om te vra? Soms voel ons ver van God af, beskaamd oor ons sondes. Soms voel ons onwaardig om God se ontsagwekkende seëninge te ontvang. Ons moet net nie toelaat dat enigiets ons daarvan weerhou om nederig na God te gaan en vir genesing te vra nie. Indien u genesing nodig het, gaan na God en roep uit na Hom! Bekeer u van u sonde en vra Hom om u te vergewe. Vra Hom om u te help om Hom ten volle te gehoorsaam. Laat Hom weet dat u ernstig is oor u versoek. Moenie moed opgee nie! Leer uit die voorbeeld wat Christus gegee het van die weduwee wat volhard het (Lukas 18:1-7).

Die profeet Hoséa het die ongehoorsame volk van Efraim berispe omdat hulle ’n uiterlike vertoon van godsdienstigheid gemaak het, maar nie regtig uit die hart gebid het nie! “Ook roep hulle nie van harte na My nie, maar jammer op hulle bedde” (Hoséa 7:14). Indien ons desperaat antwoorde op ons gebede nodig het, wend ons regtig ’n opregte poging aan om nader aan God te kom?

Om God in geloof te vra beteken ook om Sy antwoord te aanvaar – wat dit ookal mag wees. Sommige mense neem aan dat wanneer God nie aan hulle versoeke voldoen nie, Hy nie hulle gebede beantwoord het nie. Die verslaggewer William Lobdell is die skrywer van Losing My Religion: How I Lost My Faith Reporting on Religion in America – And Found Unexpected Peace. Die boek beskryf sy reis van ongeloof na hoofstroom Christelikheid en dan weer terug na ateïsme. Tydens ’n onderhoud wat met mnr. Lobdell oor sy boek gevoer is, het hy gesê: “’n Groot keerpunt in my omgekeerde bekering was dat geen gesaghebbende studies toon dat gebed werk nie” (“Losing his religion, finding peace”, Charlotte Observer, 7 Maart 2009).

Werk gebed nie? Uit wie se oogpunt? Is gebed net oor wat ons wil hê – of gaan dit oor die soeke na God se wil eerder as ons eie? Hoewel die apostel Paulus God drie keer gesmeek het om hom van ’n “doring in die vlees” te genees, het God blykbaar “Nee!” geantwoord. Het Paulus gereageer deur “sy godsdiens te verloor?” Glad nie! Hy het in geloof aanvaar dat God se wil deurslaggewend is. “Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk” (2 Korinthiërs 12:10).

Dawid was ’n man van God wat vurig gebid en herhaaldelik vir God se verlossing gevra het. Hy roep uit na God, “Keer terug, Here, red my siel; verlos my om u goedertierenheid ontwil. Want in die dood word aan U nie gedink nie; wie sal U loof in die doderyk?” (Psalm 6:5-6). Wat het Dawid regtig gesê? Hy het aan God gesê: “Ek wil meer tyd hê om volgens U lewenswyse te leef. Ek wil meer tyd hê om U werk te doen. Ek wil meer tyd hê om my lewe aan U wil te onderwerp!” Wanneer ons God vir genesing en verlossing vra, is dít waarna ons werklik soek? Of vra ons Hom net om ons pyn weg te neem?

Die apostel Jakobus het die rol van God se dienaars in ons genesing verduidelik. Wanneer ons goddelike genesing nodig het, beveel die Skrif ons om Sy ouderlinge in te roep en te vra om gesalf te word. “Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word” (Jakobus 5:14-15). Daar is geen “toorkrag” in die leraar self en ook nie in die olie wat hy met die salwing gebruik nie. Dit is God wat die genesing verrig of die leraar fisies sy hande op die siek individu lê en of hy die apostel Paulus se voorbeeld volg deur ’n gesalfde lappie te stuur (Handelinge 19:11-12). Indien u God se genesing verlang, moenie huiwer om God se ware leraars vir berading en salwing te nader nie.

Om Homself aan ’n ongelowige generasie te openbaar

Gedurende die afgelope dekades het baie mense in ons Westerse nasies belangstelling in God verloor en sommiges het Hom eenvoudig uit die oog verloor. ’n Onlangse Associated Press artikel beskryf hierdie ontstellende tendens: “Tussen 2007 en 2014, toe Pew twee groot opnames van die V.S. se godsdienstige lewe gemaak het, het Amerikaners wat hulleself as ateïste, agnostici of van geen spesifieke geloof beskryf, van 16% tot byna 23% toegeneem. Gedurende dieselfde tydperk het Christene van sowat 78% tot net minder as 71% van die bevolking gedaal. Protestante maak nou 46,5% uit van wat eens ’n oorwegend Protestantse land was” (Zoll, Rachel, “Study: More Americans Say They Have No Religion”, Herald & Review, 16 Mei 2015). Die navorsers sê dat die bevindings “aandui dat aansienlike veranderings’ onder godsdienstig ongeaffilieerdes nie net ’n verandering is hoe mense hulleself beskryf nie”, maar dat hulle ongeloof tot toenemende pogings gelei het om “godsdiens uit die openbare lewe te hou”.

God het in antieke tye tog ook wonderwerke soos goddelike genesing verrig om te openbaar wie Hy is! Terwyl God Israel uit slawerny in Egipte bevry het, moes Hy Homself – asook Sy krag – weer aan ’n ongelowige en skeptiese volk bekendstel. Benewens die openbaarmaking van Sy Sabbat, Sy Heilige Dae en Sy Gebooie, het God Homself deur wonderbaarlike dade van genesing geopenbaar.

Nadat Moses en die Israeliete by Mara aangekom het, het hulle die water bitter en ondrinkbaar gevind. God het egter daardie water genees en aan die mense gesê: “As jy getrou na die stem van die Here jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die Here wat jou gesond maak” (Exodus 15:26).

U het moontlik ’n belangrike keerpunt in u lewe beleef nadat God u dramaties genees of u in ’n verskriklike ongeluk beskerm het. ’n Gebeurtenis soos hierdie is dikwels die beginpunt van baie mense se roeping. Daar is niks soos bonatuurlike genesing om ons te laat besef dat God in ons lewe betrokke is nie. Dit trek ons aandag!

Wees dankbaar indien God u in die verlede genees het. Dank God daarvoor en dink na oor waarom God u genees het. Hy mag u moontlik uit ’n ongelowige generasie roep na ’n hegter en gehoorsamer verhouding met Hom (Johannes 6:44).

Om Sy Werk te beklemtoon

Terwyl Jesus Christus op hierdie aarde was, het Hy verstommende wonderwerke verrig. Een rede waarom Hy Sy dramatiese genesings gedoen het, was om Sy sending te identifiseer en die aandag op Sy Werk vir die verkondiging van die Evangelie te vestig. Let op Christus se reaksie nadat Johannes se dissipels Hom gevra het of hy die Messias was: “En in dieselfde uur het Hy baie mense genees van siektes en kwale en bose geeste, en aan baie blindes die gesig geskenk. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig” (Lukas 7:21-22).

Bybelprofesie dui aan dat valse leraars misleidende wonderwerke in die eindtyd sal verrig (Matthéüs 24:24). Die Skrif profeteer die verskyning van ’n “ongeregtige” wat sataniese “wonders van die leuen” sal verrig (2 Thessalonicense 2:9) en diegene sal mislei wat nie regtig “die liefde tot die waarheid nie aangeneem het” nie (vers 10). Hierdie bose figuur sal in staat wees om “groot tekens [te verrig], sodat hy selfs vuur van die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense” (Openbaring 13:13).

Christus het nogtans Sy dissipels meegedeel dat hulle in staat gestel sou word om ware wonderwerke van God te verrig, soos ook dié van genesing van die siekes (Markus 16:18). Hierdie wonderwerke is in die konteks van die verkondiging van die Evangelie en die voorbereiding van die weg vir die Wederkoms van Jesus Christus na die aarde. “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom ... En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word” (Markus 16:15-18).

Hoe sal u in staat wees om tussen “wonders van die leuen” en die wonderwerke van God se getroue dienaars te onderskei? God se outentieke wonderwerke beklemtoon die Werk van die verkondiging van die ware Evangelie. Dit bevestig die waarheid van die Bybel en vertoon die vrugte – die seën – van gehoorsaamheid aan God se Wet. Soos Jesaja geskryf het: “Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ’n volk wat geen dageraad het nie” (Jesaja 8:20). Moenie u laat mislei deur “wonderwerke” wat probeer om die eenvoudige waarheid te ontken wat Jesus Christus ons geleer het en soos dit in die Bybel opgeteken is nie!

Om Sy kinders te toets

Kan genesing ’n toets wees? Indien u daaroor nadink, kan groot seëninge soms onverwagse toetse wees. In die geval van goddelike genesing, mag ons beproewing en toets dalk nie eindig wanneer ons genees is nie. Nadat God ons gesond gemaak het, behoort ons onsself af te vra: Het ons lewe verander? Indien ons beloftes aan God gemaak het toe ons swaar gekry het, het ons daardie beloftes gestand gedoen en blywende verandering in ons lewe gebring? Of het ons nadat God ons van ons pyn verlos het dadelik weer na ons ou handelswyses en gesindhede teruggekeer?

U het dit moontlik al self gesien. Iemand is dramaties van ’n ernstige siekte genees en na ’n paar maande of jare van gesondheid draai die persoon van God se lewenswyse of selfs van God af weg. Wat is die les? Fisiese genesing waarborg nie geestelike groei nie. Geestelike groei en verdieping van geloof is uiteindelik tog God se doel vir almal wat Hy geroep het.

Terwyl Jesus deur Samaria en Galilea gegaan het, het Hy ’n dorpie binnegegaan waar tien melaatses gewoon het. Soos wat Hy nadergekom het, het hulle om genade uitgeroep. Hulle het vir verlossing van hulle gevreesde siekte gevra. In reaksie hierop het Jesus geantwoord: “Gaan vertoon julle aan die priesters. En onderwyl hulle weggaan, het hulle rein geword. En een van hulle, toe hy sien dat hy gesond was, het omgedraai en God met ’n groot stem verheerlik” (Lukas 17:14-15).

Stel u voor! Nadat hulle deur hierdie verskriklike en ongeneeslike siekte beproef was, is al tien skielik en wonderbaarlik bevry. Hulle lewens het skielik en dramaties ten goede verander! Net een van die tien melaatses het homself verwerdig om terug te draai en God vir sy genesing te bedank. Wat van ons? Hoe vinnig vergeet ons van ons angs en onrus en die beloftes wat ons aan God gemaak het sodra ons van die beproewing bevry is? Hoe belangrik is dit tog nie om dankbaarheid en eer aan God te betoon, saam met hernude toewyding en gehoorsaamheid, wanneer Hy ons Sy seëninge skenk nie – goddelike genesing hierby ingesluit.

So, waarom genees God? Om Homself te openbaar, om Sy werk bekend te maak en om Sy mense te toets. Hy genees omdat Sy seuns en dogters Hom in geloof en gehoorsaamheid vra en Hy genees uit Sy genade en onbeperkte goedertierenheid.

Het u goddelike genesing nodig? Indien wel, maak seker dat u nie vir God blameer nie. In stede hiervan, kyk met dankbaarheid na Hom vir Sy hele plan, met die wete dat Hy Sy wil in u lewe kan en wil uitvoer wanneer u met geloof en in gehoorsaamheid na Hom opkyk.