Baie mense voel aan dat ’n groot verandering in Europa aan die gang is – die legendariese landstreek waar die Griekse en Romeinse beskawings asook die Hervorming hulle oorsprong gehad het. Westerse waardes het in Europa versprei en die moderne wêreld verander. Alhoewel oorlog vir eeue lank ’n herhalende tema in Europa was, het min mense verwag dat die vonk wat in Augustus 1914 die vasteland aan die brand gesteek het, twee wêreldoorloë tot gevolg sou hê wat die kontinent sou verwoes en miljoene mense regoor die wêreld gedood en verwond het.

Vandag is die vasteland die setel van die Europese Unie en is ’n moderne poging om twissieke nasies te verenig onder ’n regering wat grense ignoreer. Die groot “Europese Eksperiment” is egter in die moeilikheid en die dikwels strydlustige nasies op die vasteland dryf weereens uitmekaar. Europa is besig om te verbrokkel, ou vyandighede steek weer kop uit en sommige Europese leiers oorweeg dit om ’n nuwe rigting in te slaan. Min mense verstaan die ware betekenis van wat besig is om in Europa te gebeur en waarheen hierdie ontwikkelings gaan lei. Gebeure in Europa is nogtans besig om nader te beweeg aan die vervulling van antieke Bybelprofesieë wat ’n belangrike keerpunt beskryf wat nét voor die Wederkoms van Jesus Christus sal plaasvind. Daardie keerpunt sal die wêreld skok en verbaas – selfs meer as die gebeure in 1914!

’n Kwynende droom en herhaling van die geskiedenis

Om die huidige probleme in Europa te verstaan, is dit nodig dat ons na die verlede kyk. Die Romeine het Europa deur middel van wapengeweld verenig en het vir eeue lank vrede en voorspoed na groot dele van die vasteland gebring. Die basis van daardie eenheid was die verering van die keiser, die samesmelting van politiek en godsdiens, die bedreiging van binnelandse burgeroorlog en die verdediging teen buitelandse vyande. Keiser Augustus het “die idee van ’n goddelik bekragtigde ryk met ’n goddelik bekragtigde keiser as die middelpunt” daarvan bevorder (The Dream of Rome, Johnson, bl. 98). Alhoewel Rooms-Katolieke pouse die keiser se heidense titel van Pontifex Maximus (“Opperpriester”) vir hulleself toegeëien het, het Europa vandag geen eenvormige godsdienstige gebruike regoor die vasteland wat ’n politieke leier ondersteun nie. “Godsdienstige gom”, wat tans die volke kan saambind, ontbreek. Die moderne poging om Europa te verenig op grond van ’n gemeenskaplike ekonomiese beleid en geldeenheid (die euro) asook die doel om nog ’n oorlog in Europa te voorkom, blyk onvoldoende te wees.

Terwyl Duitsland grootliks deur die algemene ekonomiese beleid bevoordeel is, het dit lande in Suidelike Europa verarm en verdeeldheid en wrewelrigheid onder Europese nasies veroorsaak. Die uitnodiging aan buitelandse geleentheidswerkers om arbeidstekorte in Europa aan te vul, het ’n toestroming van immigrante veroorsaak wat dreig om die nasionale kulture van Europese lande te oorweldig en het gelei tot ’n anti-immigrant-krisis en burgerlike onrus. Sommige mense het teruggedink aan die volke wat die antieke Romeinse Ryk oorval en tot sy uiteindelike val gelei het. Vandag het die bedreiging van terroriste-aktiwiteite wat deur radikale, uitgeworpe Moslem-immigrante aangehits word, vrees oor die hele Europa veroorsaak. Dit het herinnerings van Islamitiese leërs wat Europa verskeie kere binnegeval het, teruggebring. Sommige mense vrees dat die geskiedenis hom sal herhaal.

Die huidige bedreiging van sosiale ontwrigting en ekonomiese onrus het die Europeërs en hulle leiers van stryk gebring. Die Britte se stem om die Europese Unie te verlaat, sowel as dreigemente deur onlangse Amerikaanse administrasies om hulle van Europa te distansieer en na Asië te wend asook om Europa (veral Duitsland) te dwing om self vir hulle verdediging te betaal, oefen druk uit op Europese leiers om hulle toekoms te heroorweeg – onafhanklik van lankbestaande Britse en Amerikaanse bondgenootskappe. As gevolg hiervan het die president van die Europese Kommissie, Jean-Claude Juncker, ’n beroep gedoen op die nasies van Europa om hulle militêre hulpbronne te kombineer en ’n “Europese leër” op die been te bring (The Times, 9 Maart 2015) ten einde die grense en waardes van Europa teen buitelandse aanvallers te verdedig. Ander bronne berig dat “Duitsland daarna streef om ’n EU-weermag op die been te bring” en “beoog om stelling in te neem as die militêre leier van ’n koalisie van EU-lande wat nie langer bevele van NAVO sal aanvaar nie” (RTUKNews, 27 September 2016). Daar is ook kommer dat Amerikaanse besluite om die militêre beskermingsambreel oor Europa te verwyder, “die slapende reus van Duitse mag kan wakker maak” (The Washington Post, 10 November 2016). Soos een waarnemer opmerk, “regdeur Europa sien ons toenemende spanning binne asook tussen die nasies”. Terselfdertyd ervaar Europa ’n reeks ongekende probleme.

Die Duitse sosioloog, Ulrich Beck, lewer verreikende kommentaar met betrekking tot die moontlike gevolge van spanning wat besig is om op die vasteland op te laai. Hy wys daarop dat ons vandag “voortdurend in afwagting van onheil” is op plaaslike, nasionale en globale vlak, wat die wyse waarop mense en nasies dink en funksioneer, beïnvloed (German Europe, bl. 8). Hierdie verwagting van moontlike rampe kan geskiedkundige magte loslaat wat “die politieke landskap in beroering mag bring” asook die “wettige opheffing van die bestaande orde van dinge ten einde die gemeenskaplike voordeel te verdedig” (bll. 26-27). Hy gaan voort, “opruiende toesprake met betrekking tot die naderende ineenstorting van Europa kan maklik tot die ontstaan van ’n politieke monster lei”, aangesien hierdie “dreigende onheil geleenthede skep ... wat deur ’n man of selfs ook ’n vrou met die vermoë, om mag uit te oefen”, aangegryp kan word (bll. 45-46). Professor Beck wys ook daarop dat “die afwagting van onheil mense daartoe kan dryf om môre dinge te doen wat gister absoluut ondenkbaar was” (bl. 82). Albei hierdie ontleders is van mening dat Europa ’n belangrike keerpunt nader.

Hoe hou huidige gebeure met Bybelse profesie verband?

Profesieë neem gestalte aan

Die Bybel word vandag deur baie mense slegs beskou as ’n versameling van mites en stories wat nie meer van toepassing op ons moderne wêreld is nie. Die Bybel bevat egter bykans 2,000 spesifieke profesieë wat vervul is en tans besig is om vervul te word. Die Skrif verklaar dat net God die toekoms akkuraat kan voorspel en dit ten uitvoer kan bring (Jesaja 46:5, 8-11) en dat God die verloop van die geskiedenis lei (Job 12:23; Daniël 2:21; 4:17). Ongeveer 600 v.C. het die profeet Daniël opgeteken dat daar nét voor die Wederkoms van Jesus Christus, ’n moondheid in Europa sal verrys wat verbind kan word met die antieke Romeinse Ryk (Daniël 2:31-44). Daniël beskryf ’n beeld met bene van yster (die Romeinse Ryk) en voete van yster en klei wat deur ’n klip (die Koninkryk van God) getref sal word. In Daniël 7:23 word na hierdie eindtydse Europese moondheid verwys as ’n “dier” met ystertande en tien horings. In Daniël 11:40-45 word na hierdie Europese moondheid verwys as “die koning van die Noorde” wat tot militêre optrede uitgetart sal word deur ’n “koning van die Suide”, (’n Arabies-Moslem gestalte) en in die Midde-Ooste sal inbeweeg. Die Bybel verbind hierdie koning van die Noorde met Assirië – moderne Duitsland (sien Jesaja 10:5-11; vra ook ons gratis artikel, “Herrysende Duitsland: ’n Vierde Reich? aan.

In Openbaring 17:3-5 het hierdie selfde “dier” sewe koppe en tien horings en word gery deur ’n prominente godsdienstige organisasie wat beskryf word as die “moeder van hoere”. Die tien horings is tien konings (of leiers) wat hulle soewereiniteit vir ’n kort tydjie aan ’n politieke leier in Europa sal oorgee. Dit sal uitloop op ’n supermoondheid wat weereens politieke, militêre en godsdienstige mag sal kombineer net soos Rome van ouds. Hierdie supermoondheid sal egter oorwin en vernietig word met die Wederkoms van Jesus Christus (Openbaring 17:12-14). Die dramatiese opkoms en val van die laaste herlewing van die Romeinse Ryk in Europa sal ’n belangrike keerpunt in die geskiedenis wees en sal elke nasie in die wêreld raak.

Vir meer besonderhede bestel gerus ons gratis boekie, Die Dier van Openbaring: Mite, beeldspraak of werklikheid?