Ons het nou ’n keerpunt in mensesake bereik! Namate traumatiese wêreldgebeure begin momentum kry en hul uitwerking op mekaar meer intens raak, moet en SAL ons SKEPPER ingryp!

Jesus Christus het Sy volgelinge opdrag gegee om te bid: “laat U koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheus 6:10). Met die gruwelik hoë misdaadsyfer, geweld, seksuele immoraliteit en algemene agteruitgang van ons samelewing, moet dit voor die hand liggend wees dat die Koninkryk van God nog nie hier is nie!

Van die begin tot aan die einde van die Bybel sê God se Woord vir ons dat die letterlike REGERING van God op hierdie aarde gevestig sal word aan die einde van hierdie era! Ons word beveel om voor te berei om deel te wees van daardie regering, naamlik die Koninkryk van God, onder leiding van Christus.

Tog blyk miljoene belydende Christene totaal onbewus te wees van daardie grootse waarheid. Hulle is geleer om “net te glo” in die persoon van Jesus Christus. Hulle is geleer om “’n goeie lewe te lei” en dat hulle eendag op ’n manier “hemel toe sal gaan” wanneer hulle te sterwe kom.

Talle mense glo dat die Bybelse stellings aangaande die letterlike wederkoms van Jesus Christus na hierdie aarde hoofsaaklik beperk is tot die geheimsinnige boek Openbaring of tot sekere vae Ou Testamentiese skrifgedeeltes. En soos “goeie algemene Christene”, verkies hulle om die Psalms, die Evangelies en Nuwe Testamentiese Sendbriewe te lees vir “inspirasie,” sonder om hulle te veel te steur oor wat die res van die Bybel eintlik sê of selfs oor wat daardie Bybelboeke eintlik beteken! Hierdie mense besef glad nie dat die boodskap van Christus se tweede koms en dié van die Koninkryk van God byna regdeur die ganse Bybel voorkom nie. Dit is tog ons hoop. Dit is een van die belangrikste aspekte van ons lotsbestemming!

Let daarop hoe Jesus die apostel Petrus en ander dissipels aanmoedig. Petrus het aan Jesus uitgeroep: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal daar dan vir ons wees? En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel” (Mattheus 19:27-28).

Jesus het duidelik van ’n letterlike regering gepraat wat hier op aarde ingestel sal word! Dit is waarom Hy ons vertel het om te bid: “Laat U koninkryk KOM … op aarde”.

Naby die einde van Sy fisiese lewe, vra die dissipels vir Jesus: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” (Mattheus 24:3). Jesus gee aan hulle verskeie “tekens” om voor op die uitkyk te wees wat sou aandui dat Sy tweede koms naby is. Maar ten spyte van traumatiese wêreldgebeure sal miljoene mense dit steeds nie besef nie, want Jesus het ook verduidelik: “En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (Mattheus 24:37-39).

Christus se wederkoms herhaaldelik beskryf

Die apostel Paulus beskryf Christus se tweede koms só: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thessalonicense 4:16-17).

Dit is belangrik om daarop te let dat, hoewel die ware heiliges die neerdalende Christus “tegemoet in die lug” sal gaan -- dit is die lug van hierdie aarde se atmosfeer -- God NIE aan Sy heiliges ewige lewe “in die hemel” beloof nie. Ons sien eerder in Handelinge 1:11 dat Christus “net so kom” na die Olyfberg vanwaar Hy opgeneem is. Trouens, God se Woord is baie spesifiek hieroor. Die profeet Sagaria is geïnspireer om te skryf: “En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog.”

“En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê …” (Sagaria 14:3-4). Christus sal dus letterlik Sy voete weereens op die groot heuwel net oos van Jerusalem sit! Wat dan?

“En die Here sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die Here een wees, en sy Naam een” (vers 9).

Christus die Koning sal hierdie aarde vanuit Jerusalem regeer. En “alle nasies” sal na Jerusalem opkom gedurende Jesus se aardse regering en leer om God se bevole feeste te onderhou, insluitend die Loofhuttefees! Jesus sal natuurlik die fisiese nasies op hierdie aarde regeer.

Maar WAAROM moet Christus na die planeet Aarde terugkeer? Kom ons nie maar goed genoeg oor die weg nie? Is die meeste mense nie maar redelik vooruitstrewend, gesond en gelukkig nie? Gesien uit die oogpunt van ’n alwetende, liefdevolle God, is daar ’n werklike BEHOEFTE waarom Jesus Christus na hierdie aarde moet terugkeer en REGEER as Koning van konings?

Natuurlik is daar!

Kom ons ondersoek nou sewe van die sleutelredes waarom God die lewende Jesus Christus weer na hierdie aarde sal stuur; hierdie keer in algehele MAG en luisterryke HEERLIKHEID, om die mensdom te RED van hul eie vernietiging en om alle mense te LEER wat die regte lewenswyse is.

Rede 1: Die mens se vermoë tot WÊRELD-UITWISSING

Sedert die 1950’s het die wêreld al daarvan bewus geword dat die mensdom hulself binnekort sou kon uitwis. Die Amerikaanse President Dwight Eisenhower stel dit só: “Die wetenskap blyk nou gereed te wees om ons as laaste geskenk die mag te gee om alle menslike lewe van hierdie planeet uit te wis.”

Daardie tyd het’n paar jaar later aangebreek. En tans het die wetenskap verskeie metodes ontwikkel om alle menselewe te vernietig. Dit sluit atoom en waterstofwapens, chemiese en biologiese wapens en sekerlik ander soort wapens in wat in ontwikkeling is selfs terwyl ek hier skryf.

’n Onlangse skokkende ontwikkeling was die onthulling dat Kommunistiese (Rooi) China belangrike tegnologiese geheime van Amerika gesteel het. Die San Diego Union-Tribune doen op 6 Maart 1999 verslag: “Volgens administrasie beamptes het China danksy gesteelde kerngeheime van ’n Amerikaanse regeringslaboratorium, ’n sprong gemaak in die ontwikkeling van kernwapens: die fisiese verkleining van hul bomme.”

Daarbenewens weet ons dat Rusland byna uitmekaarval en sluwe nasies soos Irak, Iran, Libië en Noord-Korea kern, chemiese en biologiese wapens “skelm” by Sowjet wapenhandelaars kan koop.

Met definitiewe verwysing na ons tyd, kort voor Sy tweede koms, profeteer Jesus Christus: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheus 24:21-22).

Dit sou feitlik onmoontlik vir die mensdom gewees het om hulself te vernietig vóór die afgelope paar dekades. Deesdae is dit nie net moontlik nie, maar, soos Christus aandui, ’n sekerheid, TENSY God kragtig in mensesake ingryp. Ter wille van diegene wat werklik aan God oorgegee het en gelei word deur Sy Heilige Gees, SAL God ingryp -- “ter wille van die uitverkorenes”. Dit is ’n SLEUTEL rede waarom Christus MOET terugkeer na hierdie aarde!

Rede 2: Ongekende DROOGTE en HONGERSNOOD

Weereens sprekend van die tyd net voor Sy tweede koms, sê Jesus: “Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal HONGERSNODE wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke” (Mattheus 24:7).

Verskriklike hongersnode het in onlangse jare dwarsoor Afrika en Asië voorgekom. Groot dele van Texas en ander dele van Amerika het onlangs ernstige droogtes ervaar wat herinner het aan die “stofkom” jare. Werklike hongersnood en menslike verhongering is egter nog nooit in Amerika, Suid-Afrika of ander ontwikkelde lande ondervind nie. Volgens Jesus Christus gaan dit alles VERANDER!

Baie van ons lesers verstaan dat Amerika en ander Britse afstammelinge, insluitende Suid-Afrikaners, inderwaarheid van die afstammelinge van die sogenaamde “verlore tien stamme” van Israel is. Talle Ou Testamentiese profesieë praat direk met ons mense aan die eindtyd! Ander profesieë is TWEELEDIG. Dit beteken dat hulle ’n kleiner, vroeëre vervulling het deur gebeure wat antieke Israel beïnvloed het, maar dat hul bewoording duidelik toon dat hierdie selfde strawwe moderne Israel (Amerika, Suid-Afrika en ander Britse nasies) sal beïnvloed aan die EINDE van hierdie tyd.

Die boek Amos bevat so ’n TWEELEDIGE profesie. In Amos 3 rig God die profesie duidelik aan al 12 stamme van Israel -- NIE net aan “Juda” of die Joodse volk nie. God sê: “Hoor hierdie woord wat die HERE oor julle gespreek het, o kinders van Israel, oor die hele geslag wat Ek uit Egipteland laat optrek het, naamlik: Julle alleen het Ek geken uit al die geslagte van die aarde; dáárom sal Ek by julle besoeking doen oor al julle ongeregtighede” (Amos 3:1-2).

Later in dieselfde profesie verklaar God profeties aan ons mense vandag: “Alhoewel Ék julle reinheid van tande gegee het in al julle stede en broodsgebrek in al julle woonplekke -- nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE. Alhoewel Ék die reën van julle teruggehou het toe dit nog drie maande voor die oestyd was en op die een stad laat reën maar op die ander nie laat reën het nie, die een stuk land reën gekry het, maar die ander waarop geen reën geval het nie, verdor het;”

“En twee, drie stede na een stad geslinger het om water te drink sonder om die dors te les -- nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE. Ek het julle met brandkoring en met heuningdou swaar getref, baie van julle tuine en julle wingerde en julle vyebome en julle olyfbome het die sprinkaan verslind -- nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE” (Amos 4:6-9).

’n Tyd van afwisselende droogte, vloede en HONGERSNOOD word duidelik geprofeteer wat ons nasies sal beïnvloed -- tensy ons BEKEER en ons na die ware God wend soos nog NOOIT tevore nie! Soos ons sal sien, gaan hierdie plae ’n VERSKRIKLIKE nadraai hê en die lewens van honderde miljoene mense wêreldwyd verwoes.

Ek moedig enige van u aan, wat nog nie die noodsaaklike “sleutel” tot ons profetiese identiteit verstaan nie om gerus aan ons te skryf om u GRATIS eksemplaar van ons boekie getiteld Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook vir Suid-Afrika? te versoek. Hierdie boekie verduidelik wie ons in Bybelprofesie is en watter toekoms op ons nasies wag. U het hierdie boekie werklik nodig om die profesieë te VERSTAAN wat direkte betrekking het op Amerika, Suid-Afrika en die ander nasies wat van Britse afkoms is, in die nabye toekoms.

Rede 3: Skrikwekkende SIEKTE-EPIDEMIES

Let weer op Mattheus 24:7: “Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en PESSIEKTES …”. Dus net ná die afwisselende vloede en droogtes wat hongersnood en MASSA VERHONGERING gaan veroorsaak, volg SIEKTE-EPIDEMIES van ongekende afmetings!

In ons moderne, wetenskaplike era? Hoe kan dit wees?

Die antwoord is eenvoudig. Wanneer daar besoedelde water en besoedelde voedsel is, soos inherent in die profesieë aangaande wêreldwye droogte en hongersnood voorkom, volg daar byna altyd siekte-epidemies. Nadat Orkaan Andrew Florida in 1992 getref het, moes baie slagoffers tot $30 (nou sowat R300) per gallon (sowat 3¾ liter) vir skoon water betaal! Selfs al het ’n mens genoeg geld, sal jy in baie van die derdewêreldse lande dalk nie eens soveel skoon water kry nie. In elk geval sal die komende strawwe VEEL ERGER wees, omdat daar dan tesame met hierdie ander toestande, die verskrikking van weerstand-biedende siekte-epidemies sal wees! ’n Skimp na hierdie verskrikking is berig in die Kanadese Nuusblad The Ottawa Citizen op 17 Augustus 1998:

“’n Stille epidemie dreig in die gange van hospitale in Ontario. Die bedreiging is ’n unieke mutasie van ’n bakterie waarvan die voorkoms in vier jaar met 2000 persent ontplof het. Dit veroorsaak jaarliks honderde mense se dood. En elke 15 minute bied dit meer weerstand teen die sterkste antibiotikas aan die geneeskunde bekend … hoe meer pasiënte met vancomycin, die sogenaamde middel as “laaste uitweg” behandel word, hoe vinniger bied die bakterie weerstand daarteen.”

Ter beskrywing van die straf wat binnekort hedendaagse Amerika, Brittanje, Suid-Afrika en ander Israelitiese nasies sal tref, inspireer God Esegiël om te skryf: “En jy, mensekind, neem vir jou ’n skerp swaard; as skeermes moet jy dit vir jou neem, en laat dit gaan oor jou hoof en oor jou baard; daarna moet jy vir jou ’n weegskaal neem en die hare verdeel: ’n derde deel moet jy binne-in die stad met vuur verbrand as die dae van die beleëring verby is; dan moet jy ’n derde deel neem en met die swaard stukkend kap rondom die stad, en ’n derde deel moet jy in die wind verstrooi; en Ek sal ’n swaard agter hulle uittrek” (Esegiël 5:1-2).

God verduidelik in vers 12 presies wat dit behels: “’n Derde deel van jou sal aan die pes sterwe en deur hongersnood in jou omkom; en ’n derde deel sal deur die swaard rondom jou val; en ’n derde deel sal Ek na al die windstreke verstrooi, en Ek sal ’n swaard agter hulle uittrek.”

Kan ons begin om onsself in te dink hoeveel tiene MILJOENE mans en vroue hier ter sprake is, vir wie God NIE werklik is nie, wie owerspel pleeg, leuens vertel, steel, bedrieg, begeer, haat en God se Naam ydelik gebruik sonder om twee keer te dink? Baie van hierdie mense gaan na “Christen” kerke, en dink graag dat hulle “goeie” mense is. Die meeste van hierdie mense sal NIE verander alvorens God hulle nie verootmoedig nie. Hulle sal NIE die teregwysing uit die Woord van God aanvaar nie. Soos die apostel Paulus geskryf het: “Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie” (Romeine 3:15-18).

Hierdie EINDTYDSE plae sal natuurlik die hele wêreld tref, nie slegs vir Israel nie. Want nadat hy die “vier perderuiters” van vals profete, oorloë, hongersnode en uiteindelik verskriklike siekte-epidemies beskryf het, skryf Johannes: “En aan hulle is mag gegee oor die VIERDE deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde” (Openbaring 6:8). Die meeste geleerdes erken dat Johannes nie net oor ’n kwart van die aarde se land- of see-oppervlak gepraat het nie, maar van ’n kwart van die GANSE BEVOLKING van die aarde tydens die eindtyd. Met die bevolking van die aarde tans op rondom 6 BILJOEN mense, verwys hierdie profesie na die komende vernietiging van rondom een en ’n half BILJOEN mense!

Rede 4: Massiewe aardbewings, orkane en weerskommelinge

U het moontlik opgemerk dat die weer rondom die wêreld die afgelope paar jaar wild en deurmekaar was. Baie rekords is gebreek. Die “ergste” hiérvan of daárvan word gereeld in die nuus aangemeld.

Dit sou maklik wees om dit as “toevallig” af te maak INDIEN u nie die Bybelse profesieë wat dui op hierdie einste goed verstaan het nie. Indien u egter verstaan, sal u besef dat dít wat ons tot dusver ondervind het, net ’n klein voorsmakie is van wat nog kom. Ter beskrywing van Christus se tweede koms en die manjifieke Tempel wat dan gebou sal word, sê God: “Want so sê die HERE van die leërskare: ’n Rukkie nog, ’n kort tydjie, dan sal Ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond LAAT BEWE. Ek sal ook al die nasies laat BEWE, sodat die skatte van al die nasies sal toevloei; en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul, sê die HERE van die leërskare” (Haggai 2:6-7). ALLE nasies sal inderdaad “geskud” word deur die Almagtige God in die ERGSTE aardbewings denkbaar. Want God sê dat “AL die berge en eilande ... uit hulle plekke versit” sal word (Openbaring 6:14).

Tot dusver het die ergste aardbewings, orkane, vulkaniese uitbarstings en tornado’s die minder bevolkte areas van die aarde as geheel getref. Maar die tyd kom binnekort waar dit die groot metropole in die groot stede van die aarde sal tref.

Selfs die krag van ons nuutste waterstofbom is nietig in vergelyking met die verwoestende vermoë van AARDBEWINGS. Dit sou die gesamentlike krag van VYF-EN-TWINTIG-DUISEND atoombomme gelyk aan dié van Hirosjima verg om dieselfde energie vry te stel wat net EEN van die groot skokke van die aardbewing wat Mexiko-stad ’n paar jaar gelede getref het!

Weens REBELLIE teen God en Sy fisiese en geestelike WETTE, sal die mensdom letterlik tot hul sinne GESKUD moet word. Maar in Sy genade gaan God hierdie dae van vreeslike straf KORTKNIP, sodat Christus as Koning van konings kan kom om die mensdom te leer hoe om volgens God se fisiese en geestelike wette te leef voordat die mens meer ontaard as wat tans die geval is!

Eendag, moontlik binne die volgende 15 jaar of minder, wanneer u stad, u huis, u klein “wêreldjie” skielik deur ’n kragtige ORKAAN, vulkaniese UITBARSTING, of AARDBEWING geskud word, sal u die ware BEHOEFTE vir Jesus Christus se tweede koms om die mensdom van die gevolge van SONDE teen sy Skepper te RED, begin besef!

Rede 5: Toenemende hartseer en TERREUR

Die selfmoordsyfer onder Amerikaanse jongmense neem steeds toe. Regoor byna die ganse wêreld raak mense se lewens ONGELUKKIGER, ten spyte van ons hedendaagse tegnologie.

Skrywer Allen Drury, wenner van die Pulizer Prys, het die volgende woorde net voor sy dood op ouderdom 80 geskryf: “Ons leef in die Republiek van Voel-Goed, waarin die skuim van Amerika uitstyg. Die bekommerde stemme van die eerlikes, die ordentlikes, die goedhartiges en die gebalanseerdes gee uiting aan hul bekommerde onvergenoegdheid. Nog harder druis die koor van die skuim om hul stemme te verdoof. Al dieper en dieper na benede sink Amerika terwyl die skuim toenemend veld wen.” Is dit nie ook maar op Suid-Afrika van toepassing nie?

Toenemend meer boeke soos die onlangse werk van Robert Bork, The Death of Outrage maak hul verskyning. Die skrywers van hierdie boeke spreek, nes Drury, ’n gevoel van verlies en hopeloosheid uit in die aangesig van ons toenemende immoraliteit, toenemende selfsug en die verwerping van byna alle goeie en ordentlike waardes van die verlede.

In groot dele van ons westerse samelewing, is jeugselfmoord ’n kragtige herinnering aan die uiterste leegheid en doelloosheid wat deur so baie mense ervaar word: “‘Ierland het die snelgroeiendste koers van jeugselfmoord in die wêreld en amper een uit elke vier selfmoorde is van diegene tussen 15 en 24 jaar oud’ het die Katolieke archdiocese van Dublin gesê in ’n verklaring by ’n onlangse konferensie oor dié onderwerp” (San Diego Union-Tribune, 14 Maart 1999).

In Amerika is bykans 1 uit elke 150 mense in die gevangenis, ’n syfer waarby geen ander demokrasie naastenby kom nie. Talle van die nuwe gevangenes is dwelmmisdadigers. Die FBI het onlangs verslag gedoen dat arrestasies van mense wat dwelmmiddels gebruik, die hoogste nóg is. Dwelmmisbruik het merkbaar toegeneem onder die jeug, veral dié van sterk dwelms soos heroine en methamfetamiene. Probeer ons jongmense die werklikheid, wat hulle as leeg en ongelukkig beskou ONTSNAP deur hulle aan ’n wêreld van dwelms en alkohol te vergryp?

In ons verwarde, doen-jou-eie-ding “waardestelsel” is mense nie meer seker wat reg en wat verkeerd is nie. So word ons stede toenemend meer onveilig. Meer en meer hoërskoolmeisies raak swanger. Duisende klein mensewesentjies word elke jaar in die baarmoeder vermoor, tog is ons ’n “kerkgaande, Christen” volk. Is ons nie eerder ’n geveinsde nasie nie?

Die apostel Jakobus is geïnspireer om te skryf: “Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ’n oortreder van die wet geword. Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word” (Jakobus 2:10-12).

Let daarop dat die “wet” waarvan Jakobus skryf, duidelik die Tien Gebooie is. Hy maak die stelling dat Christene deur daardie wet “geoordeel” sal word (vers 12). Daarbenewens word die Tien Gebooie spesifiek die “wet van vryheid” genoem.

Indien dit gehoorsaam word, sal die Tien Gebooie die mensdom bevry van oorlog, misdaad, egskeiding, drankmisbruik, dwelms, VIGS en die meeste geestelike en emosionele spanning en skuld wat so baie mense teister.

Maar ’n volk of nasie sonder egte waardes -- en veral ongehoorsaam aan die “wet van vryheid”, die Tien Gebooie -- sal uiteindelik ’n volk van ongelukkige, verwarde mense word wat dikwels selfmoordneigings toon, met GEEN DOELWITTE, geen ware DOEL in die lewe nie, wat ’n diepliggende leemte in hul dag-tot-dag bestaan ervaar. Omdat God “tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy KASTY elke seun wat Hy aanneem” sal die Almagtige God binnekort ingryp en ons mense STRAF sodat hulle uit hul rebelse en ongelukkige lewenswyses GESKUD kan word!

Rede 6: Die mens se “laaste hoop vir vrede” het MISLUK!

Die Verenigde Nasie Konferensie het in die lente van 1945 in San Fransisco vergader om ’n internasionale politieke entiteit te stig om VREDE te bewaar. Mans en vroue van baie rasse en kleure van vier-en-vyftig lande was daar -- verteenwoordigend van die meerderheid mense op aarde.

Met die opening van die Konferensie, het Generaal Jan Smuts van Suid-Afrika verklaar: “Indien San Fransisco MISLUK, sien ek niks behalwe ERGE RAMPSPOED vir die mensdom voorlê nie.”

“Dit is nie oordrewe om te sê dat die werk wat ons hier begin, die WÊRELD SE LAASTE KANS mag wees nie” sê Anthony Eden.

Onthou u dit?

Ja, dít was die woorde van die erkende LEIERS van die hedendaagse menslike samelewing wat ons in 1945 gehoor en gelees het! Maar om selfs vroeër in die verlede in te gaan, onthou dat selfs die Volkebond wat na die Eerste Wêreldoorlog gevorm is, basies dieselfde tipe organisasie was, saamgestel vir basies dieselfde doel. Ook dit was “die mensdom se laaste hoop op vrede” genoem!

Die hele wêreld weet dat sedert die Tweede Wêreldoorlog begin het, die Volkebond totaal MISLUK het!

Waarom?

Die ware ANTWOORD word in die Woord van God bevat. Jakobus onthul ’n deel daarvan: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring” (Jakobus 4:1-3).

Die menslike natuur is basies haatlik, afgunstig, kompeterend en SELFSUGTIG. Totdat die MENSLIKE NATUUR verander word, sal ons oorlog hê!

“Waar staan die Veiligheidsraad oor Kosovo?” vra Herbert S. Okun, ’n voormalige Amerikaanse ambassadeur en adviseur tot die Verenigde Nasies oor internasionale dwelm-aangeleenthede. “Of Ethiopië? Of selfs Irak?”

Die Verenigde Nasies en Veiligheidsraad sal NIE die bloedige konflikte regoor hierdie wêreld stopsit nie! Dit is noodsaaklik om te besef dat die mens nie sy probleme sonder die ingryping van die Grote God wat vir ons lewe gee kan of SAL oplos nie. Een van die groot hedendaagse militêre leiers het hierdie punt baie duidelik besef. In ’n geskiedkundige toespraak aan die gesamentlike Kongreshuise, maak Generaal Douglas MacArthur van die Amerikaanse Weermag dié stelling:

“Die probleem is basies teologies en behels ’n geestelike herlewing en verbetering van die menslike karakter, wat met ons bykans matelose vooruitgang in wetenskap, kuns, literatuur en alle materiële en kultuurontwikkelings van die afgelope twee duisend jaar sal saamval. Dit moet uit die gees wees dat ons die vlees red” (The World’s Great Speeches, bl. 596, Dover Uitgewers, 1958).

Rede 7: Jesus het BELOOF om terug te keer

Hoewel duisende “moderne” predikante, priesters en godsdiensleraars anders glo, is die geïnspireerde Woord van God baie duidelik oor die feit dat die Lewende Jesus Christus na hierdie aarde SAL terugkeer as Koning van konings. Trouens, ons lees presies dít in Openbaring 11:15! Dit alles kom neer daarop of u werklik GLO wat die Bybel herhaaldelik duidelik sê.

Die profeet Sagaria is geïnspireer om te skryf: “En die HERE sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg ….” (Sagaria 14:3-4). En vers 9 vervolg: “En die HERE sal Koning wees oor die hele AARDE; in dié dag sal die HERE een wees, en sy Naam een.”

Christus sal dus op hierdie AARDE oor die nasies regeer na Sy wederkoms -- NIE in die hemel nie. Jesus Self maak dit duidelik in Mattheus 25:31-34: “En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van My Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.”

Omdat “al die NASIES” voor Christus gebring sal word vir die oordeel met Sy tweede koms, speel dit duidelik hier op aarde af, want geen van die rebelse nasies of individue sal in die hemel toegelaat word nie!

Wat word van diegene wat oorwin -- diegene wat hulle in hierdie lewe ten volle oorgee daaraan om Christus Sy gehoorsame lewe in hulle te laat leef deur die Heilige Gees? “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Openbaring 2:26-27). Die getroue heiliges word HEERSKAPPY oor die wêreldse nasies op hierdie aarde gegee. Want aan die begin van die Millennium sal hulle met ’n “YSTERSTAF” regeer moet word, totdat hulle in staat is om God se lewenswyse, gegrond op Sy Tien Gebooie, geleer te word. Jesus Christus sal Koning van konings wees. Onder Hom sal die twaalf apostels oor die twaalf nasies van Israel aangestel word, moontlik bygestaan deur herrese heiliges soos Daniël en Paulus wat moontlik oor die heiden nasies, diegene wie hul tydens hul menslike leeftye gedien het, regeer.

Onder leiding van hierdie uitstaande leiers in die Regering van God op aarde, sal daardie getroue heiliges wees wat werklik “oorwin” het en hulself OORGEGEE het om God se wil te doen en Sy gebooie te onderhou deur die Gees van Christus in hulle. God se Woord vertel ons: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat DIE GEBOOIE van God en die geloof in Jesus BEWAAR” (Openbaring 14:12).

’n Noodsaaklike deel van die “GOEIE NUUS”

Die geloof in ’n letterlike duisendjaar heerskappy van Christus op aarde saam met die herrese heiliges is eintlik deel van die OORSPRONKLIKE EVANGELIE, die boodskap wat verkondig is deur die oorspronklike kerk van die apostels en wat vir baie geslagte behoue gebly het onder God se getroue mense! Dit is egter geleidelik deur die belydende Christendom vertrap deur die redenasies en verbeeldings van verskeie biskoppe en monnike gedurende die Donker Eeue. Selfs die hoogs-gerespekteerde wêreldlike geskiedkundige, Edward Gibbon het dit in sy omvangryke navorsing van daardie tydvak ontdek. In sy mylpaalwerk The Decline and Fall of the Roman Empire, skryf hy:

“Die antieke en gewilde leerstelling van die Millennium (duisend jaar), was nou verbonde aan die tweede koms van Christus. Soos wat die skeppingswerk in ses dae voltooi is, is die tydsduur van die huidige skepping, volgens ’n tradisie wat aan Elia toegeskryf word, bestem om sesduisend jaar te wees. Volgens dieselfde vergelyking word die afleiding gemaak dat hierdie lang periode van werksaamheid en wedywering, wat nou byna verstreke is, opgevolg sal word deur ’n vreugdevolle duisendjarige Sabbat; en dat Christus, tesame met Sy triomfantlike groep heiliges en uitverkorenes wat die dood vrygespring, of op wonderbaarlike wyse opgewek is, op aarde sal regeer totdat die tyd vir die laaste en algemene opstanding aanbreek” (The Decline and Fall of the Roman Empire, Gibbon, vol. 1, bl. 403).

Binne die leeftye van baie van ons, SAL hiérdie deel van die “Onse Vader” verhoor word: “Laat U koninkryk kom, laat U wil geskied, soos in die hemel net so ook op die AARDE” (Mattheus 6:10).

Jesus beloof om gou terug te keer: “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Openbaring 22:12). Mag God gee dat ons “werke” Hom sal welgeval sodat ons “loon” waarlik vervullend mag wees, want Jesus Christus kom BINNEKORT. Ons het sewe noodsaaklike redes gesien waarom Christus MOET TERUGKEER om die mensdom te red -- en laaste, maar nie die minste nie omdat Hy BELOOF het om dit te doen. Mag God gee dat daardie dag gou aanbreek!