Die 24ste Oktober 2015 is gekenmerk deur die 70ste herdenking van die stigting van die Verenigde Nasies, ’n internasionale liggaam wat strewe “om komende geslagte van die plaag van die oorlog te red” en om “geloof in fundamentele menseregte te bevestig” volgens die voorskrifte van hulle handves.

Die organisasie wat deesdae uit 193 lidlande bestaan, het 70 jaar gelede met net 51 lidlande begin. Ten spyte van 70 jaar se groei in die VN se sigbaarheid en invloed rondom die aardbol, word planeet Aarde vandag nog steeds geteister deur oorlog, menseslagting, verkragting, hongersnood en die ontworteling van die swakkes en kwesbares.

Sal die mensdom dus ooit wêreldwye vrede bereik? Sal ons wêreld die lesse van die VN se eerste 70 jaar leer? Kan ek en u individueel slaag, selfs waar die VN misluk het?

Regdeur ’n groot deel van 2015 het die Verenigde Nasies belangrike geskiedkundige mylpale herdenk ter voorbereiding vir sy “VN70” verjaardagvieringe. Gedurende dieselfde tyd het miljoene mense nogtans voortgegaan om onder geweld te ly terwyl die VN se leiers erken dat die organisasie se kapasiteit deur toenemende komplekse en ernstige uitdagings regoor die wêreld verbygesteek word.

Tydens ’n onlangse forum in Oslo, het die Sekretaris-Generaal, Ban Ki-moon, ’n ontstellende waarskuwing uitgereik dat “die kapasiteit van die Verenigde Nasies en sy vennote om in humanitêre behoeftes te voorsien, onder ‘ongekende druk verkeer”. Sal die Verenigde Nasies en sy lidlande – so onvolmaak soos wat menslike regerings maar is – in staat wees om hierdie “ongekende” uitdagings om vrede en fundamentele regte, nou of in die afsienbare toekoms, te vestig?

Die ontnugterende antwoord is “Nee”. Alhoewel die VN soos so baie ander instellings probeer om goed te doen, weet ons dat sonder God se Wet, ons die vervulling van Jesaja se profesie sal sien: “Die weg van vrede ken hulle nie, en daar is geen reg in hulle spore nie” (Jesaja 59:8). U Bybel voorspel verder dat in die jare wat voorlê, al die agentskappe en al die nasies oorweldig sal word deur toenemende geweld wat tot die “Groot Verdrukking” sal lei – die ergste tyd van oorlog en lyding wat die wêreld nog ooit beleef het (Matthéüs 24:21; 2 Timóteus 3:1)!

Die VN se onmoontlike taak

Tussen 1945 en 2000, het na raming soveel as 51 miljoen mense in ongeveer 250 oorloë regoor die wêreld gesterf! Dit sluit nie die talle ander miljoene mense in wat verkrag, beseer, vervolg, ontwortel en tot slawe gemaak is nie. In Afghanistan en Pakistan alleen, het sedert 2001 ’n geskatte 149,000 mense gesterf en 162,000 mense is ernstig beseer in plaaslike oorlogvoering. Sedert 2003 het meer as 134,000 burgerlikes deur die oorlog in Irak gesterf – nog voor die aanvalle in 2014-15 deur die Islamitiese staat se troepe – wat volgens die VN se beraming sal veroorsaak dat daar meer as drie miljoen mense, vlugtelinge en ontworteldes sou word voor die einde van 2015.

Regdeur die hele 20ste eeu het ten minste 108 miljoen mense in oorloë gesterf en geskiedkundiges het bereken dat in die laaste 3,400 jaar van die menslike beskawing, die mensdom slegs vir 268 jaar lank relatiewe vrede gehad het – net vir 8% van die aangetekende geskiedenis.

Die VN het tans sowat 120,000 vredesmag lede in 16 lande op 4 kontinente ontplooi. Waar is die vrede, sekuriteit en veiligheid dan in Sirië? Waar is die vrede in die Oekraïne? Waar is die “fundamentele menseregte” in Noord-Korea, groot dele van Afrika en die Midde-Ooste? Waar is die versekering van vrede en veiligheid, selfs in dele van Europa, Australië en die Verenigde State waar misdaad, kindermishandeling, verkragting, moord, afpersing en geweld hoogty vier?

Ware vredesmagte, God se manier!

Alhoewel ons kan besef dat baie mense in die VN werklik probeer om te help, het die VN misluk en sal dit misluk om vrede na die wêreld te bring. In sy 70 jaar, het dit nie sy doelwitte bereik nie en kan nie sy doelwitte bereik nie. Huidige gebeure en Bybelse profesie toon dat die mensdom op pad is na groter oorlog en konflik in die jare wat voorlê (vgl. Matthéüs 24:3-21; Openbaring 6).

Gelukkig weet Bybelstudente egter dat dit nie meer lank sal wees voor vrede en voorspoed, oorvloed en wettigheid, veiligheid en menswaardigheid gevestig sal word nie! Dit is ’n belofte wat op God se Woord gebaseer is! Dit sal plaasvind. Terwyl die VN nie sy doelwitte in hierdie tydperk kan bereik nie, is daar hoop vir ’n beter wêreld wat kom!

Is u geroep om deel van hierdie grootse doelstelling te wees? Die VN se storie is ’n boeiende een, maar sy mislukkings en suksesse is eenvoudig verswakte menslike voorbeelde wat op ’n groter waarheid dui – dat wêreldvrede slegs kan kom wanneer God dit na die aarde toe bring deur die Wederkoms van Sy Seun, Jesus Christus!

Na die VN se 70 jaar is die hartseer en bloedige feite: Die organisasie was nie in staat om “komende geslagte van die plaag van oorlog” te red nie. Die VN was nie in staat om vrede oor die hele aarde te vestig nie. Wanneer inwoners van die platteland en woestyne, van Asië tot Latyns-Amerika en die stede van Kaboel, Mogadisjoe, Bagdad, Ciudad Juarez en Abidjan – selfs ook die stede van Detroit, Chicago, Londen, Parys, Mexico Stad en Pretoria – in vrees rondloop, is dit duidelik dat die mensdom nie die pad van vrede gevind het nie. Dit is pynlik duidelik dat die VN nie sy doelwitte of sy verwagtings bereik het nie!

Die wêreld benodig eerder Christus se kragtige en volmaakte heerskappy, maar die wêreld benodig ook leiers wat onder Christus sal heers en wat geleer het om God se opdrag in Deuteronómium 16:19 te vervul om nie die reg te verdraai nie, nie partydig te wees nie en geen omkoopgeskenk aan te neem nie. Die wêreld benodig leiers wat onder Christus sal regeer, wat “’n regverdige [is], ’n heerser in die vrees van God” (2 Samuel 23:3). God vereis regverdige leiers want Hy is regverdig en omdat Jesus Christus, wanneer Hy weer kom, regverdig sal regeer (vgl. Jesaja 11:3-4)!

Ware Christene word vandag geroep om die goeie nuus van Christus se Wederkoms en die komende Koninkryk van God te verkondig (Markus 16:15) en word nou opgelei om die leiers in die Millennium – in die Wêreld van Môre – te word. Die wêreld het Christus se Wederkoms nodig en die wêreld het ook dié toekomstige leiers nodig wat vandag leer om God te verheerlik in alles wat hulle doen (Romeine 15:6; 1 Korinthiërs 6:20), wat nou leer om ander te dien (Galásiërs 5:13) en om nou volgens God se Wet te leef (1 Johannes 5:2-3), om nederigheid, liefde, geloof en al die vrugte van die Gees nou te beoefen (Galásiërs 5:22-23), om nou vredeliewend te wees (Matthéüs 5:9, Jakobus 3:17), om nou reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God? (Miga 6:8).

Vandag se Christene word geroep vir ’n grootse en ontsagwekkende doel – om ’n doel te vervul wat eenvoudig buite die vermoë van die VN of enige menslike verteenwoordiging is. Ware Christene word vandag geroep om voor te berei vir hulle bestemming om onder Jesus Christus te regeer (Jesaja 30:21; Lukas 22:26-27; Openbaring 5:10; 20:4-5) in die Koninkryk van God, op hierdie aarde. Op ’n dag, nie te lank van nou af nie, sal die teruggekeerde Christus en Sy opgestane heiliges slaag waar die VN misluk het. Mag God daardie dag bespoedig!