Het u al ooit nagedink oor watter verbeterings u sal aanbring indien u die wêreld regeer? Dit is die taak wat Prospect Magazine, ’n periodieke algemene Britse tydskrif, met elke uitgawe vir hulleself  ten doel stel. In ’n kolom getiteld: “As ek die wêreld regeer?” word skrywers uitgenooi om hulle menings daaroor uit te spreek en dit is dikwels stimulerende leesstof.

In die Augustus 2013-uitgawe, voorsien Jonathan Sacks, die nou afgetrede Hoof-Rabbi van die Verenigde Hebreeuse Gemeentes van die Statebond, ’n prikkelende artikel getiteld “Bring Back the Sabbath – It Holds Society Together”.

Hy het begin deur beskeie te sê: “Indien ek die wêreld regeer sou ek onmiddellik bedank. Dit is moeilik genoeg, individueel en gesamentlik, om onsself te regeer, wat nog van ander. Indien ek egter ’n uur gegun word voordat ek bedank, sou ek een instelling, wat die mag het om die wêreld te verander, bekragtig. Dit staan bekend as die Sabbat”.

Hoe kan onderhouding van die Sabbat die wêreld verander? Is die Sabbat ’n dag wat Brittanje en die hele wêreld werklik behoort te onderhou? Die volgende antwoorde mag u verras.

Verander die gemeenskap

Rabbi Sacks bied verskeie redes vir die onderhouding van die Sabbat elke week. Hy wys daarop dat die Sabbat “aan ’n kultuur die idee van beperkings voorstel”. Dit is goed om ’n dag opsy te sit om te rus van ons werk en om die alte menslike geneigdheid om te produseer, te verbruik en ons hulpbronne uit te put, te beperk. Dit stel ook ’n dag vas waarop waardes nie bepaal word deur geld of iets soortgelyks nie, want dit is nie ’n dag vir koop en verkoop of vir gereelde besigheid nie. Dit is ’n dag om te konsentreer op verhoudings, wat Sacks glo, bepaal word deur “verwantskap, samehorigheid en wedersydse verantwoordelikheid”. Laastens vernuwe dit maatskaplike kapitaal. “Dit bind mense saam in gemeenskappe op wyses wat nie gestruktureer word deur transaksies van rykdom of mag nie”. Sacks meld dat die Sabbat aanvanklik selfs gedien het as ’n kalmerende mag op slawe. Dit was ’n dag waarop selfs slawe, as deel van die gesin, in antieke Israel moes rus (Exodus 20:10).

Bring mense bymekaar

Dit is vandag nodig dat ons bevry word van baie ander vorms van “slawerny” –  van rekenaars, elektroniese speletjies, televisie, sake-verwante oproepe en van al die druk van ons moderne verbruikersamelewing. Stel u ’n dag voor sonder die gebruiklike tekste, tweets en e-posse. ’n Dag sonder inkopies! Stel u ’n dag voor wat gewy word aan familie, die gemeenskap, studie en gesamentlike betuigings van dankbaarheid.

Soos Sacks opgemerk het, ons leef in ’n tyd van individualisme waarin die meeste van ons besig is met ons persoonlike plesier en materialisme; die resultaat is die ineenstorting van die samelewing. Hy sluit af: “’n Eenmaal-per-week Sabbatsrus wat publiek is – nie privaat nie – sou vernuwend wees vir die maatskaplike struktuur, die huisgesinne en gemeenskappe wat deesdae ons liberale demokratiese vryheid versterk”.

Rabbi Sacks maak’n onomstootlike stelling dat die Britse samelewing en die wêreld oor die algemeen baie beter af sou wees indien die Sabbat onderhou sou word. By nadere ondersoek van die Skrif word heelwat grondliggende redes en doeleindes onthul vir die behoud van die sewende-dag Sabbat elke week.

Die sewende-dag Sabbat vereer God

God het die sewende-dag Sabbat heel aan die begin van die menslike geskiedenis ingestel. In die skeppingsverhaal wat ons in Genesis 2:3 vind, leer ons: “En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.

Die Sabbat word hier beskryf as heilige tyd, iets om elke week opsygesit te word om die God te vereer wat dit ingestel het. Afgesien van enige voordeel wat die Sabbat ongetwyfeld vir die gemeenskap mag inhou, behoort ons op die sewende dag te rus, omdat God self die voorbeeld gestel het deur te rus op daardie dag. Deur op die sewende-dag Sabbat te rus, sou God as die middelpunt van alle menslike lewe en aktiwiteite heilig.

Ons raak bewus daarvan dat God die heelal geskape het en in beweging gebring het met al sy wonderlike wette, asook die planeet Aarde met alle lewe daarop, wanneer ons die sewende-dag Sabbat eer. Hoeveel mense glo dit egter vandag, of weet van sulke dinge? ’n Wêreld wat van God vergeet het behoort dringend herinner te word aan die ware God en die onderhouding van die sewende-dag Sabbat sal ’n groot rol speel om daardie doel te bereik.

Genesis 2 maak dit duidelik dat God oorspronklik bedoel het dat die sewende-dag Sabbat deur almal onderhou moes word, nie slegs deur die twaalf stamme van Israel nie en beslis nie slegs deur Juda nie. Dit word beklemtoon deur Jesus se eie woorde in Markus 2:27: “Die sabbat is gemaak vir die mens” (Grieks anthropos, “mensdom”). Trouens, Jesus Christus is “Here ook van die Sabbat”, wat beteken dat alle volgelinge van Jesus Christus die Sabbat behoort te onderhou (vers 28).

Vandag weet baie mense wat bely dat hulle Christus volg dat hulle die Sabbat behoort te onderhou, maar hulle probeer dit op Sondag doen! Volgens die Bybel is Sondag, die eerste dag van die week, nie die Sabbat nie! Daardie naam word uitsonderlik gehou vir die sewende dag van die week, wat elke Vrydag teen sononder begin. Dit is die dag waarop God gerus het en dit is die dag waarop die eerste Christene van die begin van Jesus Christus se bediening af gerus het. Uit die geskiedenis weet ons dat dit nie Christus was wat Sondag-onderhouding ingestel het nie; hierdie verandering is in die vierde eeu n.C. formeel gekodifiseer deur die Roomse kerk.

Wat was die gevolg van hierdie verandering, van menslike voorkeur wat voorrang geniet bo God se wil vir ons dag van rus? Sonder God se gesag daaragter, is dit dan enigsins werklik ’n verrassing dat Sondag-onderhouding grootliks ’n bleek namaaksel van gehoorsaamheid aan God se vierde gebod is (Exodus 20:8)? Soos Sacks dit van sy eie nasie uitwys, is hulle dag van rus “gedereguleer en geprivatiseer. Heilige Dae het vakansiedae geword, heilige tyd het vrye tyd geword en rus het ontspanning geword. Die aanname was dat almal daarby sou baat, want ons kon almal self besluit hoe om die dag deur te bring. Dit was en is steeds, misleiding”.

Die toekoms afwag

Die apostel Paulus het ons geleer dat rus, of “’n sabbatsrus” (Hebreërs 4:9, Grieks sabbatismos) baie belangrik vir Christene behoort te wees, want dit dui op die komende duisendjarige rus, wanneer Jesus Christus sal terugkeer om oor die hele wêreld te regeer. Die onderhouding van die sewende-dag Sabbat in die gepaardgaande stemming en soos God beveel het, herinner Christene aan hierdie ongelooflike toekoms.

Jesus Christus het belowe dat Hy na die planeet Aarde sal terugkeer in die oomblik wanneer die aarde in die grootste gevaar verkeer, om sodoende die vernietiging van alle lewe te voorkom (Mattheüs 24:21-22). Hy sal ’n regering oprig en ’n duisend jaar saam met die opgewekte heiliges regeer (Openbaring 20:4) vanuit Sy hoofkantoor in Jerusalem (Sagaria 14:8-9). Dit sal ’n ewige koninkryk word wat vir altyd sal duur.

Kan u uself die dag indink wanneer Brittanje en die hele wêreld die Sabbat heelhartig sal onderhou, op die regte dag en om die regte redes? Volgens Bybelprofesie, sal daardie dag kom. Wanneer Christus en die verheerlikte heiliges oor die wêreld regeer, sal almal met vreugde al God se Sabbatte onderhou!

Onderhouding van God se sewende-dag Sabbatdag elke week, sal ’n ingrypende herindeling van ons gebruik van tyd moontlik maak. Dit vereis dat ons anders dink en ons prioriteite herrangskik in harmonie met die manier waarop God dink. Fisies gee die Sabbatsrus lewenskrag aan die liggaam, terwyl dit terselfdertyd ook die gees verfris. Voorwaar, wat ’n verskil kan ’n dag maak!