“En ek het gesien, en kyk, daar was ’n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde” Openbaring 6:8.

Een van die heel indrukwekkendste eienskappe van ontwikkelde samelewings oor die afgelope 75 jaar, was die merkwaardige vooruitgang wat in menslike gesondheid deur die mediese wetenskap tot stand gebring is. Dit is veral waar op die gebied van mikrobiologie; ons het die algehele uitwissing van sommige aansteeklike siektes soos pokke gesien en die gedeeltelike uitwissing van ander siektes soos witseerkeel, cholera en polio. Hierdie is siektes wat voorheen wydverspreide ellende, lyding en dood gesaai het.

Die skaal van hierdie oorwinnings behoort nie verklein te word nie; byvoorbeeld, dit word bereken dat sowat 300 miljoen mense in die 20ste eeu alleen aan pokke gesterf het. Teen 1979 word die wêreld nogtans vry van die siekte verklaar nadat doelgerigte pogings om dit uit te roei, suksesvol was. Geen nuwe gevalle is sedert daardie tyd opgeteken nie.

Oorwin die kieme

Vooruitgang in wetenskap en tegnologie het ons in staat gestel om die gevaarlike mikrobes wat siektes veroorsaak te verstaan. Hulle geheime is ontmasker. ’n Indrukwekkende arsenaal van anti-mikrobiese verdediging soos entstowwe, anti-virale en anti-bakteriese middels (antibiotika), is suksesvol ontplooi. Dit het tot groot sukses gelei in die voortgesette oorlog teen aansteeklike siektes.

Ten spyte van die vooruitgang het die mikro-organismes – bakterieë, virusse, fungi en parasiete – nogtans maniere gevind om terug te veg. Hulle het egter toenemend bewys dat hulle meesters is om ons aanvalle te ontduik; hulle het ontdek hoe om ons anti-mikrobiese arsenaal te uitoorlê deur weerstand daarteen op te bou; hulle het selfs meer kragtige toksienes ontwikkel. Trouens hoe meer bakterieë aangeval word, hoe meer aktief raak hulle deur hulle genetiese struktuur te muteer en te verander.

Vandag noem ons hierdie mikro-organismes superkieme! Hulle veroorsaak ’n nagmerrie van aansteeklike siektes wat ons in ’n toenemende mate oorweldig en kondig ’n potensiële wêreldwye krisis op ons voorstoep aan!

Hierdie kragtige kieme is ons onsigbare vyande wat skynbaar oral versprei – hulle skuil in hospitale en gesondheidsorg fasiliteite en koloniseer ons gemeenskappe; in skole, in sport fasiliteite, in tronke, in ons plaasdiere en selfs op ons troeteldiere en in ons kos. Hierdie kieme het doodmaak masjiene geword want ons het in toenemende mate weinig oor om hulle mee te beveg. Die kieme is besig om te wen en die wetenskap kan eenvoudig nie byhou nie.

Waarheen lei dit dus alles? Behoort ons bekommerd te wees oor superkieme en die bedreiging wat hulle vir ons gesamentlike welstand inhou? Wat hou die toekoms in met betrekking tot aansteeklike siektes en werp die Bybel enige lig op die onderwerp?

Die ontstaan van superkieme

Aanvanklik het die wetenskaplike gemeenskap ’n gerusstellende gevoel ervaar met die vooruitsig dat aansteeklike siektes permanent oorwin kan word. As gevolg van die uitwerking van die nuwe anti-mikrobiese stowwe, het infeksiesyfers gedaal en dit het voorgekom of skouspelagtige vordering gemaak is. Dit het verwagtings geskep om te dink dat wydverspreide siektes van die verlede dalk nooit weer herhaal sal word nie. Die Swart Dood het byvoorbeeld, 30-60% van Europa se bevolking in die 14de eeu laat sterf (moontlik 100 miljoen mense) en die 1918 Groot Griep-pandemie het aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog meer as 50 miljoen mense regoor die wêreld laat sterf.

Die nuwe anti-mikrobiese middels het egter bewys dat dit nie vir baie lank kragtig was nie; in 1928 is die eerste “wondermiddel” ontdek, ’n swam wat penisillien genoem is. Ideaal in die doodmaak van bakterieë soos Staphylococcus en Streptococcus en daardie bakterieë wat witseerkeel, longontsteking en brein-en-rugmurgvlies-ontsteking veroorsaak, is penisillien algemeen gebruik van ongeveer 1943 af. Byna onmiddellik met die toenemende wydverspreide gebruik, het weerstand teen die middel begin ontwikkel.

’n Nuwe familie van penisillien-tipe middels is vinnig ontwikkel, met inbegrip van ’n middel wat in 1960 methicillin genoem is. Binne een jaar het ’n stam van Staphylococcus wat teen methicillin bestand is verskyn en as MRSA bekend geraak. Vandag het ons afstammelinge van MRSA wat teen feitlik alle antibiotika bestand is. Hulle het talle ander eienskappe ontwikkel wat hulle ware moordenaar-kieme maak wat hospitale en gemeenskappe regoor die wêreld teister.

In haar boek, Superbug: The Fatal Menace of MRSA (Free Press, 2010), lê die bekroonde wetenskap-joernalis Maryn McKenna, noukeurig en in volledige besonderhede, die innerlike werking van MRSA uit. Sy wys daarop dat hierdie supergogga “’n groot verskeidenheid van mikrobiologiese wapens ontwikkel het wat virulensiese faktore genoem word – meer as sewentig sel-vernietigende ensiemes en gifstowwe, baie meer as wat enige ander bakterie kan produseer” (bl. 5). Sy merk ook op: “Dit het duidelik geword dat algemene gebruik van antibiotika nie net geneesmiddel-weerstandige infeksies veroorsaak nie; dit het ook veroorsaak dat mense wat geen simptome van infeksie het nie, stille draers van geneesmiddel-weerstandige stamme kan word” (bl. 42, klem ons s’n).

Vandag is daar weerstandige stamme wat ’n uitwerking op die meeste siektes het, met inbegrip van tuberkulose, wat jaarliks 2 miljoen mense se dood veroorsaak, hoofsaaklik in ontwikkelende lande. Daar word vermoed dat ’n derde van die wêreld se bevolking met TB besmet is en ongeveer 20% van hulle behels geneesmiddel-weerstandige superkieme. Ander voorbeelde van weerstandige bakterieë  is daardie wat salmonella en E-Coli infeksies, tetanus, kinkhoes en cholera veroorsaak.

Wat die kenners sê

Hoe ernstig is hierdie verwikkelinge dus? ’n World Health Organization (WHO) se feiteblad oor weerstand teen antibiotika (Antibiotic Resistance, Oktober 2015) berig: “In net die Europese Unie (EU) alleen word beraam dat geneesmiddel-weerstandige kieme na raming elke jaar 25,000 sterftes veroorsaak en meer as 1.5 miljard Amerikaanse dollar aan mediese sorg uitgawes en produksie verliese meebring”.

Dieselfde WHO feiteblad som die waarlik ontnugterende werklikhede op wat nou die wêreldwye gesondheid raak, met inbegrip van: “Weerstand teen antibiotika is vandag een van die grootste bedreigings vir wêreldwye gesondheid. Dit kan enigiemand, van enige ouderdom, in enige land raak. ’n Groeiende lys van infeksies – soos longontsteking, tuberkulose, bloedvergiftiging en gonorree – raak moeiliker en soms onmoontlik om te behandel namate antibiotika minder effektief raak. Die wêreld behoort dringend die manier te verander waarop ons antibiotika voorskryf en gebruik. Selfs indien nuwe medisyne ontwikkel word, sal weerstand teen antibiotika ’n groot bedreiging bly indien daar nie ’n gedragsverandering plaasvind nie. Sonder dringende optrede is ons op pad na ’n na-antibiotiese era waar gewone infeksies en geringe beserings weereens die dood tot gevolg kan hê” (klem ons s’n).

Dr. Tom Frieden, Direkteur van die VSA Centers for Disease Control and Prevention (CDC) skryf: “Weerstand teen antibiotika is ’n wêreldwye probleem. Nuwe vorms van weerstand teen antibiotika kan internasionale grense oorsteek en met gemak tussen kontinente versprei. Baie vorms van weerstandigheid versprei teen merkwaardige spoed. Leiers in Wêreldgesondheid het antibiotika-weerstandige mikro-organismes beskryf as ’n ‘nagmerrie bakterie’ wat ’n ‘katastrofiese bedreiging inhou’ vir mense in elke land van die wêreld” (Antibotic Resistance Threats in the USA, 2013, bl. 11).

Die CDC skat konserwatief dat in die VSA, meer as 2 miljoen mense elke jaar siek word van antibiotika-weerstandige infeksies, wat minstens 23,000 sterftes tot gevolg het (ibid., bl. 6). Daarbenewens benodig byna 250,000 mense jaarliks  hospitaalsorg vir Clostridium difficile infeksies en ten minste 14,000 mense sterf as gevolg daarvan. Baie van hierdie infeksies kon voorkom gewees het (ibid., bl. 11).

Nadat Professor Dame Sally Davies, Hoof Mediese Beampte vir Engeland, ’n aantal van hierdie idees herhaal het, skryf sy: “Ons is besig om die stryd teen aansteeklike siektes te verloor. Bakterieë veg terug en is besig om weerstand teen die moderne medisyne op te bou. Kortliks, die middels werk nie!” (The Drugs Don’t Work – A Global Threat, Penguin, 2013, bl. viii).

Ongeveer 1,2 miljoen hospitaalpasiënte regoor die wêreld ly aan bakteriese infeksies en 90,000 van hulle sterf. Daar word geskat dat 70% van bakterieë nou weerstandig is teen een of meer antibiotiese middels (Superbugs, John DiConsiglio, Raintree, 2012, bl. 6).

Het u die belangrikheid en dringendheid van hierdie woorde begryp? Ons nader ’n “na-antibiotiese era” ... Doodgemaak deur “gewone infeksies en geringe beserings” ... “Dit is nodig dat die wêreld dringend verander” ... “Enigeen kan enige plek geraak word” ... “nagmerrie bakterie” ... “katastrofiese bedreiging” ... “Die geneesmiddels werk nie”. Alles dui daarop dat ons diep in die moeilikheid is. Ons beleef ’n krisis en ons tyd is besig om uit te loop en so ook die vermoë om onsself te verdedig. Margaret Chan, direkteur generaal van die World Health Organization, het aan afgevaardigdes in haar toespraak op 11 Oktober 2015 tydens die Wêreld Gesondheidberaad in Berlyn, Duitsland gesê: “Anti-mikrobiese weerstandigheid het ’n groot gesondheids- en mediese krisis geword. Indien die huidige tendense voortduur, sal hierdie die einde van moderne medisyne beteken soos ons dit ken”.

Siekte-epidemies wat nog kom

Sal ons die stryd teen aansteeklike siektes verloor, of sal die mensdom nog maniere vind om beslissend teen superkieme op te tree? Ons kan sekerlik hoop dat mediese navorsing deurbrake sal maak. Dit mag egter ook wees dat die wetenskap deur gebeure oorval sal word. Superkieme is besig om onverbiddelik sterker te word en word oral gevind. Op een of ander tyd kan hulle uitbreek en ons groeiende wêreldbevolking met verwoestende pandemies tref – wat ons eenvoudig nie in staat sal wees om in toom te hou nie. Dit is trouens al vir eeue lank in die bladsye van u Bybel geprofeteer. Daar sal ’n tyd kom wanneer geen mediese ingryping in staat sal wees om die aanval van siektes en dood waardeur die mensdom geteister sal word te stop nie.

Jesus beskryf verskeie tekens wat Sy Wederkoms na die planeet Aarde sal inlui. Dit sal oorloë, hongersnood en siekte-epidemies insluit (pessiektes, Matthéüs 24:7). Matthéüs voeg by dat dit (slegs) die “begin van die smarte” is (vers 8). Inderdaad, hierdie drie tekens het regdeur die grootste deel van die menslike geskiedenis plaasgevind. Die weergawe dui daarop dat dit faktore is wat met verloop van tyd sal vererger namate ons Christus se Wederkoms nader.

Die weergawe in Openbaring 6 is selfs duideliker. Johannes se visioen wat deur Christus Self geïnspireer is, het hom in die toekoms in geprojekteer na die “dag van die Here” (Openbaring 1:10). In die konteks van dié boek, verwys dit na ’n ongekende reeks gebeure wat die einde van die mensdom se heerskappy oor die planeet Aarde aankondig asook die grootskaalse ingryping van God in wêreldsake. Dit is ’n tyd van veelbewoë teëspoed dat, tensy Christus ingryp, alle lewe op die aarde uitgewis sou word (Matthéüs 24:21-22).

Die eerste vier seëls wat in Openbaring 6 uitgebeeld word, word algemeen Die Vier Ruiters van die Apokalips genoem. Die figuur wat op die wit perd sit, het ’n boog (die simbool van verowering) en ’n kroon. Hy ry voort en is op verowering ingestel. Die ruiter van die rooi perd bring oorlog. Die ruiter van die swart perd bring hongersnood. Die ruiter van die vaal perd bring die dood (Grieks thanatos) en die graf. In die Ou Testament is deber die Hebreeuse term vir pes, dit is in die Septuagint deur die Griekse woord thanatos vertaal, wat dood beteken.

Wat belangrik is, is dat hierdie vier perde saamry en soos hulle voortgaan, maak hulle dood met die swaard, met hongersnood en met pes (pessiektes) en deur wilde diere. Hierdie vier plae verwoes “die vierde deel van die aarde”. Hierdie frase dra die ysingwekkende konnotasie dat een uit elke vier mense in daardie tyd op die planeet Aarde sal sterf, net voor Christus se ingryping. Indien wel, sal die verlies van lewe werklik “nie geskat kan word nie” en ongekend in die hele menslike geskiedenis wees. Wat interessant is, is dat die Skrif nie aan ons vertel wat die presiese grootte van die “wilde diere” is wat so baie mense sal doodmaak nie. Superkieme herinner ons daaraan dat die kleinste mikro-organisme net so dodelik kan wees soos die grootste roofdier!

Daar is egter goeie nuus!

Vir ons moderne geslag, wat grootgemaak is om te glo dat siektes oorwin is en voortaan oorwin sal word, mag die weergawe in die Bybel nouliks geloofwaardig voorkom. Dit is nogtans dikwels wanneer die beskaafde samelewing ernstig ontwrig word dat die ruiters van oorlog, hongersnood en siekte saamry. Van tyd tot tyd kan een perd of ’n ander een die voortou neem; oorlog kan na alles, tot hongersnood en siektes lei, maar hongersnood en siektes kan ook oorloë bespoedig. Indien superkieme deel van bogenoemde word (en waarom nie?), sal die gekombineerde effek selfs groter wees.

Baie van u wat hierdie woorde lees, sal sonder twyfel nog leef om van hierdie aardskokkende gebeure te getuig. Op God se eie gesag, die Bybel, sal die dag kom wanneer die dun en delikate “lagie van die beskawing” wat ons geniet, voor ons oë sal verkrummel en sal disintegreer. Heelwaarskynlik het dit alreeds in verskeie lande gebeur! Oorlog, hongersnood en pessiektes sal amok maak wanneer die vier ruiters hulle noodlottige rit oor die planeet Aarde begin.

Gelukkig is die goeie nuus dat die lyding wat hulle veroorsaak tot ’n einde sal kom wanneer Christus ingryp om die wêreld te red en God se Koninkryk oor die hele aarde te vestig. Gedurende daardie tyd sal Hy ’n tydperk van ongekende vrede en geluk inlei, wanneer oorloë, hongersnood, pessiektes – dit sluit superkieme in – sal ophou om ’n probleem te wees.