VRAAG: Gee die Bybel enige riglyne met betrekking tot spesifieke aanbidding of aktiwiteite wat Christene behoort te verrig om Kersfees te vier?

ANTWOORD: Baie mense is verbaas om te verneem dat daar geen Bybelse opdrag of voorbeeld vir Christene is om die geboortedag van Jesus Christus te herdenk nie.

Die Skrif maak nie eenkeer melding van ’n verjaardagviering vir Jesus Christus of deur Hom nie. Sommige mense aanvaar verkeerdelik dat Matthéüs 2:1-2 die eerste geleentheid is waar Kersgeskenke gegee word, maar dit is in werklikheid die “wyse manne” wat hulde gebring het aan die “Koning van die Jode” – wat toe alreeds ’n jong kindjie was – nie verjaardaggeskenke wat aan ’n pasgebore baba gegee is nie (vers. 11).

Dit is insiggewend om daarop te let dat die enigste “verjaardagpartytjies” wat ons in die Skrif vind verband hou met onaangename gebeure. In Matthéüs 14, byvoorbeeld, was Koning Herodus se “verjaardaggeskenk” Johannes die Doper se afgekapte kop. Selfs so laat as 245 n.C. het die bekende geleerde Origen “die idee om Christus se geboortedag te vier, as sonde verwerp” (Encyclopaedia Britannica, 11de uitgawe.).

Die Skrif gee egter wel ’n paar wenke aan ons wat betref Christus se geboortedatum, deur aan ons te sê dat Hy gebore is toe “daar ... herders in dieselfde landstreek [was], wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het” (Lukas 2:8). Gedurende die koue winters van Judea het herders binnenshuis geslaap. Ons lees ook dat terwyl Sagaria in die tempel diens verrig het in die afdeling van Abía, het ’n engel aan hom verskyn en aangekondig dat hy ’n seun – Johannes die Doper (Lukas 1:5-25, 57-58) – sou hê. Die afdeling van Abía was die agtste om elke jaar diens te doen en deur die datums vorentoe te bereken, vind ons dat Johannes die Doper na aan die Pasga, in die lente gebore is en Jesus ses maande later (Lukas 1:24-26), wat beteken dat sy geboorte in September of Oktober was – nie op 25 Desember nie!

Aangesien die Skrif nie die viering van Jesus Christus se geboortedag ingestel het nie en dit duidelik maak dat Hy nie op 25 Desember gebore kon wees nie, hoe het die gewoonte van ’n 25 Desember “Kersfees” ontstaan? In Rome was 25 Desember die datum van die Saturnalieë; dit was ook ’n “heilige dag” vir aanbidders van Mithras en Sol Invictus. Soos wat heidense “bekeerlinge” die oorspronklike leerstellings van die Christendom verander het om by hulle ou gewoontes aan te pas, het hulle voortgegaan om 25 Desember as ’n vakansiedag te vier deur net eenvoudig die voorwerp van aanbidding te verander.

Is dit dan enigsins verkeerd om die wêreld se gewoonte om verjaardae te vier te “verchristelik” en dit op ons Verlosser van toepassing te maak? Die Skrif verduidelik dat ons nie die ware God kan aanbid deur ons van Sy weë te distansieer ten gunste van gewoontes wat gebruik word in die aanbidding van valse gode nie (Deuteronómium 12:30-32). Let op: “Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, en skrik nie vir die tekens van die hemel, omdat die heidene daarvoor skrik nie. Want die insettinge van die volke is nietigheid; want ’n boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van ’n ambagsman met die byl. Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hamers, dat dit nie waggel nie” (Jeremia 10:2-4). God se mense behoort nie heidense gewoontes aan te leer, soos die gewoonte is – wat in hierdie verse beskryf word – om ’n boom te versier as deel van ’n viering nie. Herinner daardie gebruik u aan een besondere vakansiedag wat baie geliefd in die wêreld is?

Jesus Christus het Sy volgelinge gevra: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). In ’n wêreld wat behep raak met “Kersfees”-vieringe mag dit aanloklik wees om aan ’n “onskuldige” viering soos dit mag voorkom, deel te neem en dit kan sosiaal ongemaklik wees om te weier. As Christene moet ons egter weier. In plaas daarvan behoort ons Jesus se voorbeeld te volg deur die werklike Heilige Dae te onderhou wat God aan Sy mense gegee het en wat Sy plan van verlossing vir die mensdom uitbeeld. Vir meer inligting oor hierdie Heilige Dae, skryf gerus vir ’n gratis eksemplaar van ons boekie, Die Heilige Dae: God se meesterplan.