Vraag: In Génesis 9 lyk dit met die eerste oogopslag of Gam ’n betreurenswaardige daad teenoor sy vader Noag gepleeg het, maar dat Kanaän die vervloeking as gevolg van daardie daad ontvang het. Waarom sou God ’n seun vervloek vir sy pa se optrede, as dit werklik is wat beskryf word? Watter soort daad kon so laakbaar wees as om so ’n vervloeking te regverdig? Hierdie gedeelte van die Skrif maak nie vir my sin nie. Wat is werklik aan die gang in Genesis 9?

Antwoord: Kom ons begin deur die weergawe van Génesis 9:22-24 in die Ou Afrikaanse Vertaling in aanmerking te neem: “En Gam, die vader van Kanaän, het sy vader se naaktheid gesien en dit aan sy twee broers daarbuite te kenne gegee. Toe neem Sem en Jafet die bo-kleed en hou dit op hulle skouers terwyl hulle agteruitloop, en hulle het die naaktheid van hulle vader bedek: hulle gesig was agtertoe gedraai, sodat hulle die naaktheid van hulle vader nie gesien het nie. Toe Noag van sy wyn wakker word en merk wat sy jonger seun hom aangedoen het”.

Hierdie gedeelte beklemtoon twee keer die rol van Kanaän, wat as Gam se seun geïdentifiseer word. In die frase “sy jonger seun” verwys die “sy” nie na Noag nie, maar na Gam. Hoe kan ons seker wees? Gam was nie die “jonger” seun (Strong se H6996, impliseer “jongste” volgens Bybelse Hebreeus) van Noag nie; Jafet was wel (Génesis 5:32). Kanaän was inderdaad die jongste seun van Gam (Génesis 10:6).

Ons moet daarop let dat Genesis 9 glad nie die enigste Skrifgedeelte is wat sodanige verwarring ten opsigte van voornaamwoorde veroorsaak nie. In Exodus 34 vind ons: “En hy [Moses] was daar by die Here veertig dae en veertig nagte; hy het geen brood geëet en geen water gedrink nie. En Hy het op die tafels die woorde van die verbond, die tien woorde, geskrywe” (vers 28). Ons weet dat God elders in die Skrif, nie Moses nie, die Tien Gebooie op die kliptafels geskryf het (Exodus 31:18; Deuteronómium 9:10). Dus, terwyl ’n mens ongeërgd lees klink dit asof Moses die “hy” is wat die Tien Gebooie op die kliptafels geskryf het, maar ons weet dat die voornaamwoord “Hy” in werklikheid dui op God as die skrywer [Die vertalers het dus korrek “Hy” met ’n hoofletter geskryf, terwyl die oorspronklike Hebreeus nie hoofletters het nie].

Wat het Kanaän dan gedoen om so ’n vloek te verdien?

Ons weet uit die Skrif dat dit nie ’n ooreengekome daad was nie; die oortreding het plaasgevind terwyl Noag bedwelmd was. Noag was nie bewus van wat Kanaän gedoen het nie, totdat hy wakker geword het uit sy dronkenskap. Ons weet dat dit ’n oortreding was wat te doen gehad het met Noag se naaktheid.

Dwarsdeur die Ou Testament vind ons variasies van die frase “skaamte ontbloot” [naaktheid]. In die konteks van die Skrif, impliseer dit om iemand se naaktheid te ontbloot, ’n skending van seksuele fatsoenlikheid is.

Presies wat was die skending? Hier gee die Bybel ons net ’n paar leidrade. Dit was ’n seksuele sonde en was iets wat Kanaän aan sy oupa Noag gedoen het sonder toestemming. Om ’n moderne Afrikaanse uitdrukking op die daad van toepassing te maak, kan mens sê dit was ’n daad van homoseksuele verkragting. Vir sommige mense mag die idee van ’n homoseksuele daad wel toestemming tussen die deelnemers impliseer, sodat die minder-gebruiklike term “man-tot-man verkragting” dalk ’n meer akkurate beskrywing van Kanaän se afskuwelike seksuele aanranding teenoor sy oupa was. Selfs “verkragting” mag nie ’n raadsame woordkeuse wees nie, aangesien die Skrif nie die presiese aard van die gruwelike daad van Kanaän duidelik maak nie.

Wat is die gevolg van daardie vloek? Vir baie eeue was Noag se vervloeking van Kanaän – wat dikwels verkeerdelik die “vloek van Gam” genoem word – gebruik om die mishandeling van mense wat geïdentifiseer word as afstammelinge van Gam, te regverdig. Vir huidige Christene egter, verhinder geen antieke vloek – asook geen huidige ekonomiese of maatskaplike status hulle om deur Christus (Galásiërs 3:28), God se volle seën te ontvang nie. In ons moderne tyd word die praktyk van slawerny wyd as ’n gruwel erken, maar vandag se Christen word as “Christus se slaaf” beskryf (1 Korinthiërs 7:22) en as ’n dienskneg van Christus – wat Homself beskryf dat Hy in die vorm van ’n dienskneg gekom het (Filippense 2:7). Ten spyte van eeue se misbruik van die Génesis 9 verhaal, is geen mens geskape om inherent die dienskneg van ’n ander mens te wees nie, maar as Christene word ons almal geroep, nie vervloek nie, om dienaars van ons medemens en van ons Verlosser, Jesus Christus, te wees.