Vraag: Jesus Christus het gesê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Johannes 13:34). Vervang hierdie nuwe gebod die Tien Gebooie?

Antwoord: 
Dit is jammer dat selfs baie mense wat hulself Christene noem, glo dat Jesus se “nuwe gebod” die gebooie vervang wat Hy regdeur Sy bediening onderhou en onderrig het. Indien ons egter Jesus se leringe bestudeer, sal ons die waarheid van die saak verstaan.

Jesus sê in Sy “Bergpredikasie”: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie” (Mattheus 5:17-18).

Wat het Jesus bedoel toe Hy gesê het dat Hy gekom het om die Wet te “vervul”? Beteken “vervul” “wegdoen”? Nee! Jesus se nuwe gebod het die Wet vervolmaak, daaraan ’n geestelike uitbreiding verleen wat dit nie van tevore gehad het nie. Let daarop dat Jesus in die daaropvolgende paar verse uitbrei op die geestelike bedoeling van God se gebooie. Moord is ’n sonde, maar haat is die gees van moord en is ook ’n sonde. Egbreek is ’n sonde, maar eweneens is wellus – die hunkering om egbreuk te pleeg (Mattheus 5:21-28). Ons kan dus sien dat Jesus nie weggedoen het met die Tien Gebooie nie; Hy het hulle ’n integrale deel van Christendom gemaak. Soos Hy inderdaad vir ons sê: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheus 19:17).

Toe Jesus die gebod gegee het om “mekaar lief te hê”, het Hy ’n nuwe gebod gegee? Baie mense is verbaas om tot die besef te kom dat die gebod wat sê “jy moet jou naaste liefhê soos jouself”, uit die Ou Testament kom (Levitikus 19:18).

Wat was dus nuut omtrent Jesus se gebod om mekaar lief te hê? Let daarop dat nadat Jesus vir Sy dissipels gesê het om mekaar lief te hê, Hy ’n nuwe dimensie daarby gevoeg het – hulle moes mekaar liefhê “soos Ek julle liefgehad het” (Johannes 13:34).

Wat het Jesus se liefde anders gemaak? Die bron van Jesus se liefde was die Heilige Gees (Romeine 5:5), wat Christus beloof het aan die dissipels gegee sou word na Sy dood en opstanding (Johannes 14:16-17). Daardie selfde aand het Jesus Sy dissipels beveel om “in my liefde [te] bly” (Johannes 15:10). God se goddelike liefde sou gou daarna in hulle wees om hulle te help om Christus se voorbeeld te volg. Tot tyd en wyl Christus nie die gawe van die Heilige Gees beskikbaar gestel het nie, kon die dissipels mekaar slegs met menslike liefde liefhê. Deur die Heilige Gees, kan Christene mekaar met God se eie liefde liefhê. “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35).

Regdeur Sy lewe op aarde, het Jesus Christus getoon hoe God se liefde eintlik werk. Selfs ten tye van Sy dood, het Christus algehele liefde vir Sy vyande getoon deur te bid. “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Lukas 23:34). Oomblikke voordat Hy Sy “nuwe gebod” gespreek het – tydens Sy laaste Pasgamaal voor Sy kruisiging – het Christus die voetewas-seremonie ingestel, wat Christene herinner om lewens van onderdanigheid, diens en liefde te lei. Jesus het altyddeur ’n lewe van gehoorsaamheid aan die geestelike bedoeling en doel van God se Wette gelei. Christus se liefde, gehoorsaamheid en geloof jeens Sy Vader, het die eerste vier van die Tien Gebooie vervat. Sy liefde, diens en spontane besorgdheid vir andere, het die laaste ses van die Tien Gebooie vervat.

Indien u meer te wete wil kom oor wat die bedoeling van die Tien Gebooie in die lewe van hedendaagse Christene is, vra asseblief vir u gratis eksemplaar van ons boekie, Die Tien Gebooie.