Is u ’n “tuisbly Christen”? Miskien is u een van die miljoene mense wat, nadat u die verdeeldheid en verwarring onder so ’n groot deel van die belydende Christendom gesien het, eerder by die huis bly om God op u eie manier te aanbid. Die wêreld se kerke is byna almal besig om ’n heeltemal ander boodskap te verkondig, wat op talle belangrike maniere reëlreg indruis teen die ware boodskap van die Verlosser, Jesus Christus.

Waar kom die idee van “kerk” dan eintlik vandaan? Let op wat die apostel Paulus skryf: “... en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:24-25).

Ons sien sekerlik dat “die Dag” nader kom – die einde van hierdie huidige tydperk is nie meer ver nie – baie van u wat hierdie “Persoonlike boodskap” lees, behoort dit selfs te sien aanbreek! Hoe kan ons mekaar egter aanmoedig indien ons nie almal saam is op die dag van aanbidding nie? Indien die televisie of die Internet ons enigste verbinding met God en Sy mense is, hoe kan ons mekaar vermaan?

Verstaan asseblief. Televisie en die Internet is wonderlike middele om die ware Evangelie van die toekomstige Koninkryk van God met mense te deel. Daardeur kan ons ongekende miljoene mense bereik wat andersins nie die Waarheid sou kon hoor nie. Jesus Christus het Self Sy volgelinge beveel: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom” (Markus 16:15).

Vir die meeste mense wat die Evangelie hoor, sal dit nogtans net as ’n “getuienis” dien. Wanneer die geprofeteerde eindtydse gebeure hulle oorval, sal hulle nie in staat wees om te sê: “Niemand het my gewaarsku nie”. Van die miljoene mense wat die boodskap hoor, sal egter net ’n paar reageer. Wat sê Christus vir ons? “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen” (Mattheüs 28:19-20).

Wanneer God mense roep, roep Hy hulle om volgens Sy lewensweg te leef. Daardie lewensweg, gevul met die Heilige Gees, is ’n manier om ons uiterste bes te doen om Sy opdragte te gehoorsaam. Een van daardie opdragte, soos hierbo gestel, is dat Christene saam behoort te vergader. Lees my artikel “Watter kerk behoort u by te woon?” elders in hierdie uitgawe en oorweeg die vraag.

Moontlik is u senuagtig om ander mense te ontmoet wat glo soos wat u glo. Miskien het u al in die verlede slegte ervarings gehad. Ek verstaan. Ek dring nogtans by u aan om “uit u dop te kruip” en daarna te streef om God in elke opsig te gehoorsaam – met inbegrip van hierdie basiese manier. God wil tog hê dat Sy mense saam vergader.

Een manier waarop hierdie Werk daarna streef om uit te reik na diegene wat deur God geroep word, is deur wat ons noem die “Tomorrow’s World Presentations”. ’n Tomorrow’s World Presentation bestaan gewoonlik uit twee ingeseënde leraars van Jesus Christus wat elkeen ’n kort en kragtige boodskap gee oor die eindtydse profesieë of oor die Christelike lewe. Daar is geen koste verbonde daaraan om dit by te woon nie en geen donasies word gevra nie. Baie mense kom na so ’n aanbieding en bevind hulle vir die eerste keer in hulle lewens tussen eensgesinde Christene waar hulle ook kan vrae vra. Sommige van die mense vertel aan ons dat hulle in een middag meer geleer het as wat hulle in dekades by hulle vorige kerke geleer het!

 

Is God besig om te faal?

Ja, daar is baie kerke waar mense eredienste week na week en jaar na jaar kan bywoon en feitlik niks leer oor die Waarheid nie. Hulle leer dalk ’n paar roetine-gebede en ’n paar sentimentele stories oor ’n “Liewe Jesus”. Hulle word egter nie geleer van God se krag of oor wat God nou in hierdie tyd, besig is om te doen nie. Het u uself al ooit afgevra: “Indien God Almagtig is en indien Hy probeer om almal in hierdie tydperk te red, waarom faal Hy dan?” ’n Almagtige God behoort tog sekerlik nie te faal in iets wat so belangrik is nie! Diegene van u wat gereelde lesers van hierdie tydskrif is verstaan die antwoord: God roep slegs ’n paar uitverkorenes in hierdie huidige tydperk. Die rede is dat Hy besig is om ’n klein groepie ware Christene op te lei om onder Jesus Christus te regeer in die komende Millennium – ’n tydperk wanneer die hele wêreld die Waarheid van God geleer sal word.

Indien God u verstand open om hierdie Waarheid te verstaan, dan is daar geen manier waarop u tevrede kan wees om enige kerk by te woon wat waarskynlik ook nog op die verkeerde dag byeenkom nie. Selfs al sou hulle op die Sabbat byeenkom, sal die tipiese wêreldse kerk u allerhande onbybelse dinge vertel. Hulle sal ook moontlik meer aandag gee aan die verwarde geskrifte van ’n profetes of van ’n self aangestelde “apostel” of “profeet” in plaas van die duidelike woorde van die Skrif self. Indien bogenoemde u omstandighede beskryf, dring het ek by u aan: “Kom en kyk wie ons is en wat ons doen!” Kom na ’n Tomorrow’s World Presentation naby u. Ons hou hierdie aanbiedings orals in die Verenigde State, Kanada en regoor die wêreld, regdeur die jaar. Vir ’n volledige lys kan u ons aanlyn besoek by TomorrowsWorld.org waar ons die skedule te alle tye op datum hou.

God is besig om Christene in hierdie tydperk op te lei om leiers te word in die wêreld wat kom! Die “eerstelinge” in hierdie tydperk sal in die Gesin van God in gebore word met Christus se Wederkoms, om Hom te help in Sy liefdevolle heerskappy in die toekomstige Koninkryk van God. Christus sal die allerhoogste leier wees, die Leier van leiers en vandag se ware Christene sal onder Sy leiding leiers wees.

Ja, leierskap is ’n onderwerp wat noodsaaklik is vir vandag se Christene. Dit is een rede waarom ek bly is om in hierdie uitgawe ’n artikel met u te kan deel oor Winston S. Churchill, die Britse Premier onder wie se leiding Brittanje gered was tydens die donkerste dae van die Tweede Wêreldoorlog. Lees mnr. John Meakin se artikel elders in hierdie uitgawe. Veral in ons tyd, wanneer ware leiers maar dun gesaai is, kan ons baie leer uit Churchill se voorbeeld. Die heel belangrikste is dat ons kan sien dat Churchill, wat geensins ’n volmaakte man was nie, geweier het om tou op te gooi ten spyte van teenspoed. Hy het “volhard tot die einde toe” – soos Christene ook beveel word om te doen (Mattheüs 24:13).

 

Hoop vir die onbekeerdes?

Wat dan van diegene – soos Churchill self – wat ten spyte van ’n produktiewe lewe, nie volgens God se lewenswyse geleef het nie? Is hulle veroordeel tot in ewigheid in die helse vuur? Lees mnr. Richard Ames se artikel elders in hierdie uitgawe. Ja, daar is hoop vir u onbekeerde familie en vir die miljoene mense wat geleef en gesterf het sonder om ooit die naam van Jesus Christus of Sy ware leringe te hoor!

My vriende, u is egter anders. God het aan u ’n getuienis gegee deur hierdie tydskrif, deur die Tomorrow’s World-beeldsending en deur ons teenwoordigheid op die Internet by TomorrowsWorld.org en wvm.co.za. Indien God u roep om een van Sy eerstelinge te wees, is dit nou u geleentheid vir verlossing. Moenie dit deur u vingers laat glip nie! Indien u begin om die Bybel se sewendedag Sabbat te verstaan, die jaarlikse Heilige Dae en die 7,000-jaar “Plan” waardeur God die mensdom voorberei vir ’n wonderlike eindbestemming, kontak dan die streekkantoor (gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif) die naaste aan u en vra vir ’n ministeriële besoek. Indien daar ’n Tomorrow’s World Presentation naby u is, moet asseblief nie huiwer om te bel of aanlyn u gratis uitnodiging dadelik aan te vra nie!

God mag u dalk roep om een van Sy leiers in die wêreld van môre te wees. Hy maak egter daarop staat dat u sal reageer. Sal u u deel doen? Ek bid dat u sal.