Wil u iets van u lewe maak? Wil u ’n sukses wees? Sukses in die lewe gebeur nie per ongeluk nie. Sukses is die resultaat van beproefde beginsels. Hier is ’n voorbeeld: “Die vrees van die Here is die beginsel [beginpunt] van die kennis; sotte verag wysheid en tug” (Spreuke 1:7). Met ander woorde, alle kennis begin met die stewige fondament van ’n vrees van God. Fondamente is ’n belangrike deel van ’n suksesvolle lewe.

Wanneer u ’n paar oomblikke stilstaan en kyk na die fondament van ’n nuwe huis wat gebou word, sal u sien dat die slote gegrawe word en daarna gevul word met beton om die huis te ondersteun. Daar sal moontlik ’n betonblad bo-op hierdie slote gegooi word, waarop die huis kan rus. Elke huis moet ’n fondament hê. Die hoogste wolkekrabbers gebruik dieselfde tipe komponente vir ’n sterk, stewige fondament. Indien u onder die grond kon sien, sou u baie eenderse patrone sien. Nogtans eindig ’n gebou se konstruksie nie met die fondament nie. Sterk “pilare” is nodig om ’n raamwerk vir die gebou te vorm en dit te ondersteun terwyl dit gebou word tot sy uiteindelike hoogte.

Van die grond af boontoe het geboue ’n eindelose verskeidenheid van vorms, groottes en ontwerpe. Dit is ’n stewige fondament om God se heerskappy oor ons lewe te erken. As individue wat regeer word deur God se wet van liefde, verskil ons egter nogtans op baie maniere van mekaar ten opsigte van persoonlikheid en sterk punte. Ons moet dit in ag neem wanneer ons ons lewens op die stewige fondament van God se Woord bou.

Hoe kan ons dus op ’n manier wat mooi, aantreklik, eerbaar en deugsaam is, “vorm” wat ons is, namate ons van kinderjare na volwassenheid groei? Hoe kan ons word wat God wil hê ons moet wees? Wat is die “pilare” wat ons in ons fondament kan anker om sterk en suksesvolle lewens te bou?

Goddelike karakter

Hierdie pilaar is van kardinale belang vir ’n suksesvolle lewe en kan van kleintyd af gebou word. Onthou wat ons in Spreuke lees: “Die seun laat hom alreeds aan sy handelinge ken, of sy handelwyse suiwer en of dit reg is” (Spreuke 20:11).

Integriteit, betroubaarheid en suiwerheid is van veel groter waarde as om “cool”, “hot”, “popular” en “bad” te wees. Indien u karakter sterk en opreg is, sal dit u ondersteun in alles wat u doen. Dit sal aan u respek, trou en eer besorg – van God en van mense. Die verhaal van Josef en Potifar se vrou is ’n goeie voorbeeld van die karakter wat die kern van hierdie jong man was – dit was ’n fundamentele deel van sy persoonlikheid (Genesis 39:1-23). Toe sy probeer het om hom te verlei, het hy gesê: “Hy is in hierdie huis nie groter as ek nie en het my niks onthou nie behalwe u, omdat u sy vrou is; hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?” (Genesis 39:9).

Indien ons God se heilige en regverdige karakter ontwikkel, deur te weet wat reg is en dit uit gewoonte doen, sal ons voorbereid wees op ’n paar van die moeilikste situasies wat die lewe oor ons kan bring.

Akademiese kennis

Hou u van kennis? Is u nuuskierig oor die wêreld rondom ons? Die begeerte om te soek vir begrip, om te leer en te “weet” is ’n God-gegewe menslike eienskap. Salomo skryf: “Dit is die eer van God om ’n saak te verberg, maar die eer van konings om ’n saak na te speur” (Spreuke 25:2). Met ander woorde, om ’n poging aan te wend om te leer is ’n eerbare en Godgegewe begeerte binne-in die mens. “... laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder, en die verstandige sal verstandige gedagtes verkry” (Spreuke 1:5).

Ons wêreld is toegegooi met kennis. Dit is maklik om oorweldig en afgestomp te raak. Ons kan ook in die strik val om na vinnige antwoorde te soek in plaas daarvan om deeglike begrip daarvan te hê. Indien ons akademiese opleiding vir ons ’n saak van erns is wanneer ons jonk is, ons ’n liefde vir leer ontwikkel en kennis met entoesiasme verkry, sal ons nog ’n pilaar van sterkte bou wat sal bydra tot ons sukses in die lewe. Nie almal blink uit as studente nie, maar ons kan almal baat vind by die verkryging van meer kennis.

Musiek

Vir sommige jong mense kan musiek nog ’n pilaar van sukses voorsien. Sommige mense speel in ’n skoolorkes, ander sing in ’n koor of leer om ’n instrument te bespeel op hulle eie. Ons oefen ons brein op ’n spesifieke manier deur te leer sing op ’n toonhoogte of om ’n wysie nootvas te speel. Deur middel van musiekopleiding leer ons ook ywer en geduld aan, sowel as spanwerk en samewerking. Ons ervaar die skoonheid en krag van klank en harmonie. Koning Dawid was lief vir musiek. Ons lees: “En Dawid en die hele Israel het voor die aangesig van God met alle mag gespeel, sowel met liedere as met siters en harpe en tamboeryne en simbale en trompette” (1 Kronieke 13:8). Om musiek te maak kan ’n emosionele, vreugdevolle ervaring wees. Dit kan ook nog ’n pilaar verskaf wat aan ons krag en vertroosting regdeur ons lewens kan gee.

Atletiek

Om te leer om ’n sport te beoefen is ’n goeie manier om nog ’n pilaar in ons lewe te bou. Deur aan een of meer sportsoorte deel te neem, ontwikkel ons ons liggaam fisies. Paulus herinner Timotheüs: “... liggaamlike oefening is tot weinig nut” (1 Timotheüs 4:8). Hy gebruik die voorbeeld van oefening om ons in ons fisiese lewe te help, om ons die belangrikheid daarvan te leer om na die ewige lewe te strewe. Fisies gesproke fokus party sportsoorte meer op ratsheid en ander weer op krag of stamina. Spansport leer ons lesse van samewerking, terwyl individuele sport persoonlike fokus vereis. Indien jy leer om basketbal of bofbal te speel, aan baan-items deelneem of swem, gholf of tennis speel, ontwikkel ons sekere atletiese vermoëns en ervarings wat nog ’n voordelige pilaar in die lewe kan wees. Die lesse van dissipline, volharding en heelhartigheid wat in sport vereis word, is lewenslange lesse. Sommige sportsoorte kan ook nog tot lank in die volwasse lewe geniet word.

Reis

Indien u die geleentheid het om te reis en ander state en lande te besoek, is u besig om nog ’n pilaar te bou! Om die lewe in plekke buite ons eie tuisdorp te sien, verbreed ons perspektiewe en help ons om anders te dink. Ons ontwikkel empatie met ander mense en die manier waarop hulle lewe. Ons erken die waarde en mooiheid in ander kulture en gewoontes, selfs al verskil dit van ons eie.

Die waarde van pilare

Net soos huise en geboue in voorkoms en vorm verskil, is ons almal verskillend in persoonlikheid. Dit is ’n goeie ding! Ons persoonlikheid word egter versterk en ondersteun deur pilare wat ons in ons jeug bou. Ek het net ’n paar hier opgenoem, maar daar is baie, baie ander. U het moontlik die vermoë om goed te skryf, of om skaak te speel. Miskien behoort u aan ’n dramaklub of is u bekend vir u vermoë om rekenaars te herstel. Wanneer ons ontwikkel op die gebied van krag en ervaring, bou dit ons selfvertroue. Ons deel ook gemeenskaplike begrip met ander persone wat daardie selfde pilare het. Deur verskeie pilare te hê, is ons ook nie afhanklik van net een area vir ons identiteit nie. Bou pilare om sukses te bou!