Baie mense het al hulle lewens in vreemde plekke gewaag op soek na rykdom. Het u egter geweet dat God aan u die grootste skat ooit beloof het? U kan dit in die bladsye van u eie Bybel vind!

Die geestelike skatte in u Bybel is baie meer werd as enige iets fisies. Is u op soek na daardie skatte?

Rolprente, boeke en televisieprogramme prikkel die verbeelding wanneer stories oor die soektog na skatte vertel word. Seerowers van ouds het ’n fortuin in goud, silwer en juwele versamel. Sommige van hierdie rykdom is tot vandag toe nog steeds weggesteek. Daar is egter skatte wat veel meer waardevol is as enigiets wat in ’n verborge skatkis of ’n gesonke seerowerskip gevind kan word. Daardie skatte word in die Bybel gevind. Dit word die beloftes van God genoem en die waarde daarvan is onskatbaar!

Meer as 50 jaar gelede het die skrywer David MacDonald ’n artikel getiteld “Oak Island’s Mysterious Money Pit”, geskryf (Reader’s Digest, Januarie 1965). Dit vertel die verhaal van hoe die 16-jarige Daniël McGinnis in 1795 op Oak Island, suid van Halifax, Nova Scotia, gaan jag het. Hy het ’n 12vt [4m] terreininsinking gevind, met ’n hysblok wat oor ’n boom hang. Die volgende dag het hy saam met twee vriende teruggekeer om te begin grawe. Op die diepte van ongeveer 10 vt. [±3 m], het hulle ’n houtplank gevind. Op 20vt [±7 m] het hulle ’n tweede plank gevind en by 30vt [10m] ’n derde plank ontdek. Die seuns het opgehou grawe en teruggekeer na hulle plase, maar nege jaar later het hulle na die terrein teruggegaan en weer in alle erns begin grawe.

Hierdie keer het hulle ’n staalstaaf in die grond gesink en ongeveer 95vt [±35m] laer af iets getref wat hulle gedink het ’n skatkis is. Hulle kon egter nie die skat bereik nie; met hulle terugkeer na die terrein die volgende dag was die skag met water gevul. Dit het gelyk asof wie ook al die skat begrawe het, vernuftige ingenieurtegnieke gebruik het om vloedtonnels bokant die skat te bou, om dit teen ontdekking te beveilig. Een skatting dui daarop dat dit 200 mense so lank as twee jaar kon neem om die ingewikkelde tonnelstelsel te bou.

McGinnis en sy vriende het gesterf sonder om ooit die skat te bereik. Sedertdien het ander skattejagters miljoene dollars aan die “geldput”, vermors maar net drie skakels van ’n goue ketting en ’n deel van ’n ou perkament is gevind. Tog spekuleer skattejagters dat ongelooflike rykdom van seerowers daar begrawe mag lê – moontlik die buit van Kaptein Kidd of dié van die berugte Blackbeard of van die seerower Henry Morgan. Sommige mense dink dat die noukeurig uitgewerkte put die Inka skatte bevat wat deur Spaanse ontdekkingsreisigers gesteel is of dat dit dalk die Franse kroonjuwele bevat wat eens aan Louis XVI en Marie Antoinette behoort het.

Vir meer as 200 jaar het fortuinsoekers hulle rykdom verkwis en hulle lewens afgesloof op soek na die skat van Oak Island. Een skattejagter het na bewering opgemerk: “Ek het genoeg gesien om te weet dat daar ’n skat daar onder is – nogtans genoeg om te weet dat niemand dit ooit sal kry nie”.

Die belofte van ’n ware skat

Daar is een skattejag wat altyd oneindige rykdom sal oplewer – indien u bereid is om uself aan die soektog te wy. Daardie skattejag begin in u eie Bybel, waar ons wonderlike skatte van die waarheid en kosbare beloftes van God vind.

Indien u soos die meeste Engelssprekende [en Afrikaanssprekende] mense is, besit u waarskynlik ten minste een Bybel. ’n Opname in opdrag van die Amerikaanse Bybelgenootskap het in 2015 bevind dat 88% van alle Amerikaners ten minste een Bybel besit en 79% van hulle beskou die Bybel as gewyd of heilig. Sowat 36% van die respondente het gesê dat hulle die Bybel ten minste een keer per week lees. Baie mense – met inbegrip van baie Wêreld van Môre-intekenaars, lees die Bybel natuurlik daagliks. Net soos Jesus ons aanmoedig om te bid: “... gee ons vandag ons daaglikse brood” (Matthéüs 6:11), behoort ons onsself elke dag uit God se Woord te voed.

Indien u na ’n Bybel op soek is of probeer besluit watter een van u Bybels om te gebruik, beveel ons gewoonlik by die Wêreld van Môre die Ou 1933 Afrikaanse Vertaling of die Engelse New King James Version as die mees akkurate vertalings aan. Natuurlik kan ander vertalings ook nuttig wees indien u deeglik in u studie van die Bybel wil delf.

Om net ’n Bybel te besit is nie genoeg nie. Selfs al besit die meeste Amerikaners een of meer Bybels, is hulle kennis van die Skrif ongelukkig gebrekkig. ’n Opname deur die Pew Research Center in 2010 het getoon dat slegs 45% van Amerikaners die name van die vier Evangelies ken terwyl meer as ’n kwart van die respondente geglo het dat die “Goue Reël” een van die Tien Gebooie is, maar dat die opdrag: “... hou die Sabbat heilig” nie deel daarvan was nie.

Amerikaners is nie die enigste mense wat kontak met God se Woord verloor het nie. Die Bybelgenootskap het in opdrag ’n verslag in die Verenigde Koninkryk vrygestel wat openbaar dat byna ’n derde van die Britte nie weet waar hulle Jesus se geboorteverhaal kan lees nie en 59% van hulle het nie besef dat die verhale van Dawid en Goliat asook Jona en die groot vis, uit die Bybel kom nie. Volgens die verslag word daar aan ’n verstommende 54% van die kinders in die Verenigde Koninkryk nooit Bybelverhale deur volwassenes gelees nie en 46% van hulle ouers dink die komplot uit die gewilde “Harry Potter”-stories kom uit die Bybel. “Twee-derdes [van Britse kinders] het nog nooit met die skeppingsverhaal kennis gemaak nie en ’n driekwart van hulle het nog nooit van Daniël in die leeukuil gehoor nie terwyl meer as nege uit elke tien kinders nie van koning Salomo geweet het nie” (“The Bible-ignorant youngsters who can’t tell Noah from Adam: Third of Children didn’t know Nativity story came from Holy Book”, DailyMail.co.uk, 6 Februarie 2014).

Soos so baie Amerikaners en Britte, is dit nodig dat ons as Suid-Afrikaners terugkeer na die geloof van die Bybel! Dit is nodig dat ons die Bybel lees asook bestudeer. Deur dit te doen sal ons oë vir die groot waarhede van God geopen word.

Een van daardie groot waarhede is dat God beloof het om aan ons die ewige lewe te gee. In die boek Matthéüs het ’n jong man vir Jesus gevra wat hy behoort te doen om die ewige lewe te verkry. Jesus het geantwoord: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie. Hy vra Hom: Watter? En Jesus sê – dit: Jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie; eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matthéüs 19:17-19).

Jesus het aan die jongman gesê om die Tien Gebooie te gehoorsaam! Hy het vyf van die Tien Gebooie opgenoem en ingeval iemand sou dink dat Hy toestemming gee om die ander Wette wat nie opgenoem is nie te verbreek, sluit Hy af met ’n aanhaling uit die boek Levitikus: “... maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Levitikus 19:18).

Hier het Jesus getoon dat die Tien Gebooie nie net in ons fisiese lewens noodsaaklik is nie, maar ook wanneer ons die ewige lewe van God ontvang. Ons behoort daarvan kennis te neem dat die Tien Gebooie ons nie net verbied nie; die vyfde Gebod wat ons aansê om ons ouers te eer, word selfs “... die eerste gebod met ’n belofte” genoem (Efésiërs 6:2). God sê aan ons dat diegene wat die vyfde Gebod gehoorsaam, seëninge sal ontvang!

Ongelukkig het die jong man in Matthéüs 19 “bedroef weggegaan” (vers 22) en verkies om nie Christus se woorde te gehoorsaam nie. Hy was te geheg aan sy “baie besittings” en het nie besef dat hy nie die Tien Gebooie ten volle gehoorsaam het nie of ook nie Jesus Christus wat daardie Gebooie aan hom gegee het nie.

God se beloofde Koninkryk

Skattejagters mag ’n leeftyd spandeer in die soeke na rykdom. Baie misluk. Selfs al het hulle daarin geslaag, wat het hulle daardeur bereik? Sal hulle soos die ryk jong man van Matthéüs 19 word, wat sy rykdom meer as sy God geag het? Jesus se volgelinge soek in teenstelling hiermee, ’n ewige skat – die Koninkryk van God. Christene behoort God met nog groter ywer te soek as wat skattejagters na goud en juwele soek. Jesus sê: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33). Diegene wat fisiese, aardse skatte soek, faal dikwels in hulle soektog. Wanneer ons egter na God se Koninkryk en Sy geregtigheid soek, sal ons die grootste skat van almal vind – God beloof ook om ons te voorsien met dít wat ons nodig het.

Wanneer u werklik na God se wil op soek is, sal Hy u gebede verhoor. “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ’n klip sal gee; en as hy ’n vis vra, aan hom ’n slang sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Matthéüs 7:7-11).

Ons moet natuurlik ook ons deel doen. Dit is nodig dat ons “soek” en “klop”. Is u op soek na ’n werk? Ja, bid vir ’n werk, maar God sal van u verwag om oor potensiële werkgewers navorsing te doen en ’n paar telefoonoproepe te maak. Soek God se geregtigheid en doen wat reg is deur die Gees van God.

Die Bybel vergelyk God se Koninkryk met ’n waardevolle pêrel. “Verder is die koninkryk van die hemele soos ’n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit” (Matthéüs 13:45-46). Die kosbare pêrel verteenwoordig geestelike rykdom en ewige lewe. Die mensdom is steeds besig om die harde les te leer dat geen hoeveelheid materiële rykdom blywende geluk sal verskaf nie. Ons sien dit in die lesse wat koning Salomo geleer het. Hy het alles gehad, maar regdeur die boek Prediker vind ons herhaaldelik die tema: “... alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs!” (Prediker 1:2). Salomo was die rykste mens op aarde, maar sy rykdom het nie aan hom tevredenheid gebring nie. Wat was sy gevolgtrekking nadat hy geluk op so baie maniere gesoek het? “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense” (Prediker 12:13).

Soos Christus ons onderrig en soos Salomo geleer het, is ware rykdom beskikbaar selfs vir diegene wat finansieel swakker daaraan toe mag wees. Is u een van daardie mense wat eer en aandag wy aan diegene met ’n gesonde bankbalans, terwyl u daardie mense wat finansiële probleme het verwaarloos? Verontagsaam u diegene wat deur God geëer word? Die apostel Jakobus herinner ons: “Luister, my geliefde broeders – het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie?” (Jakobus 2:5).

God het nie Sy Koninkryk aan diegene beloof wat groot finansiële rykdom het nie, maar eerder aan dié wat Hom liefhet. Alhoewel hulle in die oë van die wêreld arm mag wees, het diegene wat ryk in geloof is ware rykdom – die ware skat. Hulle soek na God se weg in hulle lewens. God se lewenswyse is ’n skat, soos ons in die boek Spreuke lees. “My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand; ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die Here verstaan en die kennis van God vind (want die Here gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand”) (Spreuke 2:1-6).

Diegene wat die skat van goddelike wysheid ontvang, ontvang wonderlike beloftes wat hulle lewens kan verander en hulle ewigheid. Soos die apostel Petrus skryf: “Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here! Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is” (2 Petrus 1:2-4).

God se belofte aan u en u kinders

Wil u die goddelike natuur in u lewe hê? Christene wat God se Heilige Gees ontvang het, het ’n mate van daardie goddelike natuur ontvang. Dit is een van die kosbaarste beloftes van die Bybel. Op Pinksterdag het die apostel Petrus voor duisende mense verkondig: “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes; en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep” (Handelinge 2:38-39).

Soos Petrus sê: God se belofte is gegee “aan julle en julle kinders, en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.” Indien God u roep, dan is dit nodig dat u op Sy roeping reageer. Bekeer u, bereken die koste van die verbintenis (Lukas 14:28), gaan na God in gebed en vra vir Sy leiding. Moontlik voel u gereed om gedoop te word. Indien u berading oor die doop wil ontvang, skakel net die streekkantoor wat die naaste aan u geleë is. Sien bladsy 2 van hierdie tydskrif en ’n ware leraar van Jesus Christus sal met u, op ’n tyd en plek wat vir u geleë is, in verbinding tree om u raad te gee en u te help om vir die doop voor te berei.

Sonder God se Gees kan ons nie Sy Koninkryk beërf nie. Soos die apostel Paulus skryf, daardie Gees is die gees “van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Timótheüs 1:7). Deur God se Gees kan u menslike natuur verander word en u kan werklik begin om God te volg en Hom gehoorsaam te wees. Soos Paulus skryf: “[E]n die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is” (Romeine 5:5). Deur God se Heilige Gees kan u u selfsugtige menslike natuur met God se liefdevolle natuur vervang.

Christene ontvang die gawe van God se Heilige Gees, volgens Sy belofte, na bekering en aanvaarding van Christus se gestorte bloed vir die vergifnis van sondes. Hierdie gawe sluit God se wonderlike belofte van verlossing deur die lewende Jesus Christus in. “Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe. Want nouliks sal iemand vir ’n regverdige sterwe – vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe – maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn. Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is” (Romeine 5:6-10). Ja, God se ontsagwekkende belofte is dat Hy ons deur die lewende Jesus Christus sal red!

Soos ons gesien het is die Bybel ’n skatkis van goddelike beloftes. Een van die kosbaarste beloftes wat dikwels oor die hoof gesien word, word in die boek Filippense gevind. Indien u gemoedsrus wil hê, sal u op hierdie belofte wil reageer. “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:6-7).

Soos Salomo ontdek het, kan al die rykdom en skatte van die wêreld nie vir u gemoedsrus koop nie. God kan egter aan u Sy vrede gee, wat “alle verstand te bowe gaan”. Hoe kan u hierdie belofte opeis? Deur vurige gebed. Wanneer u die Bybel lees, sal u talle beloftes vind wat God aan u gemaak het. Vertel aan Hom, op u knieë, in gebed, wat en hoeveel u nodig het – dit wat Hy belowe het. Bid met vrymoedigheid. Onthou die Skrifgedeelte: “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:16).

Christene kan met vertroue bid, met die wete dat hulle ’n groot Hoëpriester het wat namens hulle intree. God is liefde en Hy is die grootste gewer (Jakobus 1:17). Hy wil selfs vir ons die aarde as erfenis gee (Matthéüs 5:5). God beplan om uiteindelik vir ons selfs ’n groter geskenk te gee: “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees en hy sal vir My ’n seun wees” (Openbaring 21:7).

God se beloftes is vir u. Deursoek u Bybel daagliks en namate u nader aan God getrek word, dank Hom vir die vele groot en kosbare skatte – met inbegrip van God se Waarheid – wat Hy wil hê u nou en in die Wêreld van Môre sal besit.