Een van die groot profetiese beloftes wat God aan Abraham gemaak het, was: “Jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem” (Genesis 22:17). Hierdie selfde belofte is aan Rebekka herhaal toe sy ingestem het om met Abraham se seun Isak te trou: “Mag jou nageslag die poort van sy vyande in besit neem” (Genesis 24:60). Die Hebreeuse woord wat as “poort” vertaal word, is shaar, wat ook ingang, stad of hawe kan beteken (Strong's Exhaustive Concordance, #8179). Hierdie antieke profesieë is in die afgelope twee eeue vervul toe Amerika en Brittanje beheer verkry het van die wêreld se belangrikste seepoorte. Dit het ook ander profesieë vervul, naamlik dat die nageslag van Abraham se kleinseuns, Manasse en Efraim, 'n groot nasie en 'n groot menigte van nasies sou word (Genesis 48:14-22). 

Hierdie unieke nasionale seëninge was aan Sy uitverkore volk (Deuteronomium 7:6) gegee met spesifieke voorwaar-des. God het duidelik die Israelitiese nasies – wat die geboorteregbeloftes sou ontvang het (Genesis 25:31-34; 1 Kronieke 5:1-2) – deur Moses gewaarsku dat ongehoorsaam-heid ernstige gevolge sou meebring: “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge 'n afsku het … Ek sal my aangesig teen julle rig, sodat julle voor jul vyande verslaan word; en julle haters sal oor julle heers … Ek sal julle trotse mag verbreek … Ek sal julle stede puinhope maak” (Levitikus 26:14-19, 31). God waarsku voorts: “Omdat jy die Here jou God nie met vreugde en vrolikheid ... gedien het nie … sal jy jou vyand wat die Here teen jou sal stuur, dien … hulle sal jou in benoudheid bring in al jou poorte in jou hele land wat die Here jou God jou gegee het … jou vyand [sal] jou in al jou poorte benoud ... maak” (Deuteronomium 28:47-55). Die Bybel openbaar dat die unieke seëninge wat God beloof het om aan Sy uitverkore volk te skenk, teruggetrek sou word as hulle Sy wette en opdragte verag. Hierdie profesieë neem nou gestalte aan!

Beërf die seëninge

Die geskiedenis toon hoe die belangrike seepoorte van die wêreld in die hande van die VSA en Brittanje beland het, en hoe hierdie poorte besig is om weggeneem te word. In 1774 het Brittanje besit geneem van Gibraltar, aan die suidelike punt van die Iberiese skiereiland, by die ingang na die Middellandse See. Brittanje het sedert die vroeë 1800's toesig gehad oor die Straat van Hormoes – die noodsaaklike toegang tot die Persiese Golf. In 1814 het Brittanje die Kaapkolonie gestig wat die roete om die punt van Suid-Afrika beheer. Die Britte het Singapoer in die 1820's gestig, wat die Straat van Malakka beheer. In die 1830's het Brittanje beheer verkry oor die Falkland Eilande wat die ingang vanaf die Atlantiese Oseaan tot die punt van Suid- Amerika bewaak. In 1839 het Brittanje die hawestad Aden in Jemen verkry en sodoende beheer oor toegang tot die Rooi See verkry. Hoewel die Franse die Suezkanaal in die 1850's gebou het, het Brittanje in die 1880's beheer daaroor verkry en dit tot die 1950's behou. 

Laastens kan die belangrik-heid van die Verenigde State se waardevolste seepoort, die Panamakanaal, nie oorbeklem-toon word nie. Dit is in 1914 onder die beheer van die Verenigde State, wat dit vir meer as 80 jaar behou het, geopen. 

Wêreldlike geskiedskrywers skryf hierdie gebiedsverkrygings toe aan die toenemende mag van Amerika en die Britse Ryk. Tog was dit nie per ongeluk of blote toeval dat Brittanje en die VSA gedurende die laaste 200 jaar beheer verkry het oor byna al die wêreld se belangrikste seepoorte nie. Die Bybel openbaar dat God Sy uitverkore volk beloon het met die geboorteregseëninge wat vir byna 2 520 jaar weerhou was. Dit was aan die antieke Israeliete vertel dat, as hulle aan God ongehoorsaam was, Hy hulle “sewevoudig” vir hul sondes sou tugtig (Levitikus 26:18). Die profetiese “dag vir 'n jaar” beginsel dui daarop dat dit 'n tugtiging bedoel wat 7 x 360 jaar – 2 520 jaar – sou duur (sien Esegiël 4:6; Daniël 4:25; Openbaring 12:14; 13:5). Die antieke nasie Israel het ongeveer in 720 v.C. weens hulle nasionale sondes in ballingskap gegaan. 'n Straf wat 2 520 jaar sou duur, bring ons by 1800 n.C. – die tyd toe hierdie gebiedsverkrygings 'n aanvang geneem het – wat die antieke beloftes wat aan Abraham se nasate gemaak is, vervul.

Verloor beheer

Die prentjie het egter sowat 50 jaar gelede begin verander. Die geskiedenis boekstaaf hoe Brittanje en Amerika beheer begin verloor het oor al die strategiese poorte wat God aan hulle gegee het. In die 1950's het Egipte die Suezkanaal genasionaliseer en die Britte verdryf. In die 1960's het Jemen die Britte uit die hawestad Aden verdryf. In die 1980's het Argentinië oorlog met Brittanje gevoer oor aansprake op die ryk oliereserwe van die Falkland Eilande. Brittanje ondervind sedert die 1960's gereelde druk om Gibraltar terug te plaas onder Spaanse beheer. In die 1970's het Brittanje uit Singapoer begin onttrek. China het in die daaropvolgende jare aansienlike ekonomiese steun toegesê aan nabygeleë Burma – 'n land met houthulpbronne, natuurlike gas en 'n strategiese ligging aan die Indiese Oseaan naby die Straat van Malakka – toegangspoort vir 80% van China se olie-invoere. In 1999 het Amerika beheer oor die Panamakanaal aan Panama oorgedra – en 'n groot Chinese korporasie het spoedig aan beide kante van die Kanaalgebied begin handel dryf. Die beheer van die wêreld se belangrikste seepoorte het in die laaste 50 jaar uit die hande van Brittanje en Amerika geglip – net soos Bybelprofesieë van ouds voorspel het!

Die VSA verloor nie net sy seepoorte aan buitelandse teenstanders nie. In 2005 het twee groot orkane die Amerikaanse Golfgebied getref. Dit het hawefasiliteite rondom New Orleans verwoes en wydverspreide skade aan fasiliteite vir gas- en olieproduksie in die omgewing aangerig. Die hawe van Suid-Louisiana strek sowat 80 kilometer vanaf New Orleans in die Mississippi Rivier op. Dit is die grootste hawe in die Verenigde State en die vyfde grootste hawe in die wêreld. Meer as 60% van Amerika se handel gaan deur hierdie hawe – met inbegrip van die grootste gros van die graan wat die land uitvoer. In die vroeë 1800's het Andrew Jackson die Britte die stryd aangesê oor beheer van New Orleans, omdat hy begryp het wat die strategiese belang van hierdie “seepoort” vir die toekoms van die Amerikaanse nasie ingehou het. Namate die hawefasiliteite rondom New Orleans na die orkane herstel word, is die VSA se militêre ingenieurs intussen bekommerd dat die Mississippi-rivier in die toekoms van koers kan verander. Dit sal die hawe van Suid-Louisiana nutteloos maak! 

Amerika en Brittanje vind ook dat hul grootste hawens vanuit 'n ander oord bedreig word. Amerikaners was in onlangse maande verras om te hoor dat hul regering die oordrag van beheer oor verskeie belangrike hawens aan 'n buitelandse maatskappy met sy hoofkantoor in 'n land wat bande met terroriste het, goedgekeur het. Hierdie transaksie is in die kiem gesmoor toe kwessies van nasionale veiligheid aan die lig gebring is. Sommige mense bly egter bekommerd dat buitelandse maatskappye voortgaan om verskeie van die VSA se vlootfasiliteite oorsee te bestuur. Die Britse regering het ook belangrike “toevertroude hawens” wat in regeringsbesit was, aan privaateienaars oorgedra, wat 'n wesenlike risiko vir die nasionale veiligheid van Brittanje kan inhou. 

Net soos in die Skrif voorspel is, het die Verenigde State en Brittanje wêreldmagte geword, namate hulle beheer oor die strategiese seepoorte van die wêreld verkry het. Die verlies aan beheer oor hierdie geopolities belangrike plekke die afgelope 50 jaar val saam met groeiende verwêreldliking en openlike verwerping van God se Wette deur groot dele van die bevolking in beide lande. God het Sy mense lank gelede gewaarsku teen die “beleëring ... in al jou poorte” as hulle ongehoorsaam is. Hierdie sombere profesieë neem nou gestalte aan!