Tallose miljoene mense in ons seksbehepte tyd soek elke moontlike vorm van seksuele bevrediging. Wat staan ’n Christen te doen?


Gewilde televisieprogramme soos “Desperate Housewives” en “Sex In the City” maak van seksuele immoraliteit vermaaklikheid. Ontrouheid word afgemaak as 'n grap en seksuele losbandigheid as die norm. Die eens algemene begrip van “verbode” vrugte – dat sekere aktiwiteite, hoe genotvol ook al in die kort termyn, egter immoreel is – word vandag deur miljoene mense as verouderd afgemaak. Selfs ou standaarde aangaande die huwelik verkrummel, namate miljoene mense in “oop” huwelike leef – terwyl andere streef om die betekenis van die huwelik self te herdefinieer.

Waar pas seks in die prentjie? Is dit “sondig” vir twee gewillige volwassenes om fisieke gemeenskap te deel?

Is daar objektiewe standaarde van sondigheid wat vandag nog van toepassing is? Wie is bekwaam om sondige gedrag en gesindhede te definieer? Is daar enige rede om in ons moderne tyd, na te volg wat die Bybel onderrig? Indien wel, wat gebeur met diegene wat die Bybelse standaarde verontagsaam?

Vanuit ’n historiese oogpunt, sien ons dat, wanneer mans en vroue egbreuk pleeg en ontrou is in hul huwelike, die gesinsband daaronder lei. Op die hoogtepunt van die Romeinse Ryk, is sterk klem gelê op die gesin, maar hierdie klem het later verskuif namate die Ryk agteruitgegaan het. Geleerdes het die agteruitgang in karakter en moraliteit wat bygedra het tot die Ryk se ondergang geboekstaaf. Geskiedskrywer, E. B. Castle, skryf dat benewens die probleem van die afwesigheid van sakemanne in hul gesinne, 'n ander probleem bygedra het tot die ondergang – “die gevolglike gemaklike houding teenoor die huweliksband, die toenemende gereeldheid van egskeiding en die groeiende vryheid en laksheid in vroue se moraliteit, wat alles bygedra het tot die verslapping van die ou gesinseenheid waarin die beste van Romeinse karakter sy oorsprong gehad het” (Ancient Education and Today, bl. 119).

Sal ons moderne samelewing die patroon van Rome se verval navolg? Die Romeinse filosoof, Senaca, wat in die eerste eeu n.C. geskryf het, maak die opmerking dat in sy dae “sommige edel dames nie die jare van hul lewens getel het volgens hul aantal konsuls nie, maar volgens dié van hul mans, noudat hulle hul huise verlaat om met ander te trou en dit nét ten einde wéér te kan skei... Egskeiding was net gevrees gedurende die tyd dat dit buitengewoon was; noudat geen staatskoerant daarsonder verskyn nie, leer vroue om te doen wat hulle so baie van hoor. Kan enigiemand skaam voel oor egbreuk, noudat dinge so 'n wending geneem het dat 'n vrou glad nie 'n gade hou tensy dit is om haar minnaar te prikkel nie? Reinheid impliseer slegs haatlikheid” (On Benefits, Boek III, xvi).

Mans word ook verlei deur die valse beloftes van owerspel. Met toenemende toegang tot geboortebeperking en die vrylike beskikbaarheid van aborsie op aanvraag, het seksuele aktiwiteite in die afgelope paar dekades toegeneem namate beide mans en vroue begin glo het dat hulle die gevolge van sulke aktiwiteite kan vermy. Selfs die massamedia dra by tot die kultuur van immoraliteit wat baie geruïneerde lewens meebring. Miljoene mense bly in gebreke om die eenvoudige Bybelse vermaning ernstig op te neem: “Jy mag nie egbreek nie” (Eksodus 20:14). Indien almal egter hierdie bevel – die sewende van die Tien Gebooie – sou handhaaf, sou lewens baie gelukkiger en die samelewing baie meer stabiel gewees het.

Net soos God die Skepper van die natuurwette is wat materie beheer, is Hy ook die Wetgewer wie se geestelike wette ons lewens regeer. Hy bepaal wat sonde is (1 Johannes 3:4). Ons sal met iemand die spot dryf wat probeer om die wet van swaartekrag te “ontken” en sy lewe waag deur van 'n hoë hoogte af te spring. Maar hoeveel mense in ons samelewing probeer die gevolge van die skending van God se geestelike wette ontken?

Ons hedendaagse Westerse wêreld verwerp die Tien Gebooie toenemend meer en verval steeds in immoraliteit. Hoe sleg is dit werklik? Die Barna Research Group het tien morele optredes onder Amerikaners ondersoek en hierdie ontstellende verslag uitgegee: “Van die tien morele optredes wat geëvalueer is, het 'n meerderheid Amerikaners geglo dat elk van drie aktiwiteite ‘moreel aanvaarbaar’ was. Dit sluit in dobbel (61 persent), saamwoon (60 persent) en seksuele fantasieë (59 persent). Bykans die helfte van die volwasse bevolking het gevoel dat twee ander gewoontes moreel aanvaarbaar is: Om 'n aborsie te hê (45 persent) en om 'n seksuele verhouding te hê met iemand van die teenoorgestelde geslag anders as hul huweliksmaat (42 persent). Bykans een-derde van die bevolking het goedkeuring gegee aan pornografie (38 persent), gekruide taal (36 persent), dronkenskap (35 persent) en homoseksuele omgang (30 persent). Die gebruik wat die minste ondersteuning geniet het, is die gebruik van nie-voorgeskrewe medikasie (17 persent),” (Morality Continues to Decay, 3 November 2003).

Wat sal gebeur met 'n samelewing met sulke waardes? Van begin tot einde, onthul die Bybel dat gehoorsaamheid aan God se wette seëninge meebring, terwyl ongehoorsaamheid vloeke en straf meebring. Dit is nie net 'n “Ou-Testamentiese” konsep nie. Let op: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai” (Galasiërs 6:7-8).

Ja, daar is oorsake en gevolge in die lewe. Wanneer ons doen wat reg is, geniet ons 'n goeie effek, maar wanneer ons die verkeerde ding doen, veroorsaak ons sonde 'n pynlike effek. Selfs al blyk sonde vir ’n tyd genotvol te wees, sal die nagevolge daarvan verwoestend wees.

Seks in die huwelik

Goddelike seks in die huwelik verbind man en vrou saam in liefde en gemeenskap. Die verhouding tussen man en vrou het ook 'n geestelike dimensie, soos die apostel Paulus verduidelik: “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Efesiërs 5:25-27).

Ja, 'n man moet sy vrou liefhê soos Christus Sy Kerk liefhet! Paulus gaan voort: “So behoort die mans hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente. Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene. Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees word. Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente. In alle geval moet elkeen van julle ook afsonderlik sy eie vrou liefhê net soos homself, en die vrou moet die man eerbiedig” (verse 28-33).

God slaan die huwelik hoog aan, maar wat sê Hy omtrent diegene wat die huweliksband skend? “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Hebreërs 13:4). Die Bybel is duidelik; God het seks gemaak om deur man en vrou binne die huwelik gedeel te word. Enige ander seksuele verhouding is sonde. Trouens, die Bybel beskryf spesifieke geslagsdade wat verbied word, insluitende seksuele perversie (sien Levitikus 18).

Net een hoofstuk nadat sodanige verbodsbepalinge uitgestip word, openbaar God die tweede groot gebod: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Levitikus 19:18). Jesus haal daardie gedeelte uit Levitikus weer in Mattheus 22:39 aan. Van die Tien Gebooie, wys die eerste vier ons hoe om God lief te hê en die laaste ses hoe om ons naaste lief te hê. Jesus sê: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheus 19:17). Is u gewillig om God te gehoorsaam en die Gebooie te onderhou?

Sommige state en nasies handel asof hulle beter weet as God! Steun vir “huwelike tussen mense van dieselfde geslag” word al hoe algemener en polariseer menings wêreldwyd. Op 18 November 2003 het die Massachusetts Geregtelike Hoërhof beslis dat paartjies van dieselfde geslag volgens die staat se Grondwet, nie die reg van siviele huwelike ontsê kan word nie. Die Amerikaanse staat Vermont erken “siviele verbintenisse” van paartjies van dieselfde geslag. The Washington Post (23 September 2003; bl. A20) berig uit Amsterdam dat in Nederland, “tot agt persent van alle huwelike hier, nou tussen mense van dieselfde geslag is”. 'n Kanadese nasionale opname wat tydens die somer van 2003 gemaak is, berig: “Tans steun net meer as die helfte van alle Kanadese (53 persent) sterk (28 persent) of in ’n mate (25 persent)” huwelike tussen mense van dieselfde geslag (Environics Research Group, persvrystelling, 7 Augustus 2003).

In die eerste eeu n.C. was die stad Korinte in Griekeland 'n middelpunt van wêreldhandel – en ook 'n middelpunt van heidendom, afgodery en seksuele immoraliteit. Tog het talle Korintiërs hulself bekeer van hul sondige leefwyse en Christene geword. Die apostel Paulus het hulle gewaarsku teen die versoekings van hulle tyd: “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Korintiërs 6:9-10).

Openbaar u enige sodanige gedrag? God sê dat niemand wat dit wel doen, die Koninkryk van God sal beërwe nie! Party van die Korintiërs het hulself bekeer van daardie sondes – en hulle is vergewe. Die apostel Paulus gaan voort: “En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God” (vers 11).

Misleidende leierskap

In die hedendaagse samelewing mislei talle mense wat voorgee dat hulle godsdiensleiers is, mense deur vir hulle te sê dat hulle nie sondig nie. Die Profeet Jeremia het sulke vals leierskap betreur en verskriklike gevolge voorsien. “Sou Ek hieroor geen besoeking doen nie? spreek die HERE. Of sou my siel hom nie wreek op 'n nasie soos hierdie een nie? ’n Ontsettende en afskuwelike ding het in die land gebeur: die profete profeteer vals, en aan hulle sy oefen die priesters mag uit, en my volk wil dit graag so hê. Maar wat sal julle doen aan die einde daarvan?” (Jeremia 5:29-31).

Mense mag mislei wees, maar hulle “wil dit graag so hê”. Volgens die Barna Research Group, word saamwoon (omskryf as saamleef met iemand van die teenoorgestelde geslag sonder om getroud te wees) goedgekeur deur baie mense wat hulself “Christene” noem. Barna berig: “Die grootste gapings tussen Protestante en Katolieke word gevind met betrekking tot saamwoon (as moreel aanvaarbaar beskou deur 50 persent van Protestante en 66 persent van Katolieke), seksuele fantasieë (51 persent en 63 onderskeidelik) en dobbel (52 persent en 70 persent onderskeidelik)” (Morality Continues to Decay, 3 November 2003).

Party mense wat versigtig is om fisiese owerspel te vermy, dink dat hulle sonde kan vermy deur hul owerspelige fantasieë in hul gedagtes te hou. Tog het Jesus Self onthul dat dit moontlik is om in die gedagte te sondig, selfs sonder onwettige fisiese gedrag. “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na 'n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (Mattheus 5:28).

Soos ons Saligmaker gewaarsku het: “Maar die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dit is dié wat die mens onrein maak. Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal” (Mattheus 15:18-19).

Hoeveel sondige seksuele fantasieë vat in u gedagte pos? Baie, as u televisie kyk! Selfs tieners is kwesbaar. “In die top 20 programme onder tieners, bevat meer as agt uit tien (83 persent) in ’n mate seksuele inhoud, waarvan bykans die helfte (49 persent) seksuele gedrag bevat en een uit vyf (20 persent), geslagsgemeenskap. Die top tienervertonings bevat gemiddeld 6,7 tonele per uur met seksuele inhoud” (Sex on TV 3; a Biennial Report of the Kaiser Family Foundation, 2003). Die verslag gaan voort: “Wanneer u tieners vra watter rol seks op TV in hul lewens speel, sal bykans drie uit vier sê dat dit die seksuele gedrag van kinders hul ouderdom beïnvloed en een uit vier erken dat dit hul eie gedrag beïnvloed” (ibid.).

Ja, die media beïnvloed wel ons houdings en gedrag. Ons moet egter waaksaam wees teen daardie versoekings wat ons na sonde lei. Pornografie is wêreldwyd 'n florerende besigheid en lei talle mense tot seksuele misdade, insluitend seksuele kindermishandeling. In 'n Kanadese studie van veroordeelde kindermolesteerders, sê 77 persent van diegene wat seuns gemolesteer het en 87 persent van dié wat meisies gemolesteer het, dat hulle gereelde gebruikers van harde, blatante pornografie was (Report on the Use of Pornography by Sexual Offenders, Report to the Federal Department of Justice, Ottawa, Kanada).

Hoewel die media vol seksuele beelde, boodskappe en versoekings is, moet 'n Christen nie ingee en hierdeur beïnvloed word nie. Jesus leer ons om te bid: “En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose” (Mattheus 6:13).

Indien u aan pornografie toegee – of enige ander seksuele onsedelikheid – behoort u u te bekeer! U moet ophou sondig! U moet daadwerklike aksie neem om u maklike toegang tot seksuele versoekings te verhoed! Die apostel Paulus gee hierdie dringende instruksie: “Vlug vir die hoerery. Enige sonde wat 'n mens doen, is buite die liggaam, maar wie hoerery bedryf, sondig teen sy eie liggaam” (1 Korintiërs 6:18). Sommige mense glo dat seksuele sonde 'n “oortreding sonder slagoffer” is, maar God sê dat seksuele sonde 'n sonde teen u eie liggaam is!

Paulus gaan voort: “Of weet julle nie dat julle liggaam 'n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (verse 19-20).

Sal u uself daartoe verbind, indien u dit nie reeds gedoen het nie, om God in u liggaam en gees te verheerlik? God se leefwyse deur Christus, is die oorvloedige lewe, soos Jesus in Johannes 10:10 sê. U kan daardie lewe van werklike geluk hê, mits u die ontsagwekkende en wonderlike geestelike wette van God navolg!

Die Hooglied van Salomo

Die Bybel sluit 'n hele boek in wat die romanse tussen 'n man en vrou uitbeeld. Daardie boek is die Hooglied van Salomo, ook bekend as die Lied van Liedere. Soos die Holman Bible Dictionary verklaar: “Die Lied self gee uiting aan 'n unieke Bybelse perspektief aangaande seksuele liefde... Soos Genesis 2:23-25, verheerlik die Lied God se gawe van liggaamlike liefde tussen man en vrou”(“Song of Solomon”).

Die Hooglied van Salomo is saamgestel as 'n drama. Sommige ontleders sien drie hoofkarakters in die boek. Salomo, verteenwoordigend van die wêreld, word gesien as die een wat die herderin verlei met sy wêreldse weelde, terwyl sy getrou bly aan haar onsigbare herder (Simbolies van die Heer). 'n Liefdevolle, intieme verhouding tussen man en vrou in die huwelik simboliseer die intieme verhouding tussen Christus en die Kerk.

Die Engelse New King James vertaling lei die Hooglied van Salomo in met díe opmerking: “Allegories, beeld dit Israel uit as God se verloofde bruid (Hosea 2:19, 20) en die Kerk as die bruid van Christus. Soos die menselewe sy grootste vervulling in die liefde tussen man en vrou vind, vind die geestelike lewe ook sy grootste vervulling in die liefde van God vir Sy volk en Christus vir Sy Kerk” (Thomas Nelson Publishers, 1988).

Ja, seks binne die huwelik dien as voorbeeld van die intieme verhouding wat God met Sy Kerk verlang. Die Bybel maak dit baie duidelik – God beskou seks as 'n wonderlike deel van Sy skepping en Hy het vir ons die beginsels gegee waarvolgens ons dit kan geniet, soos Hy dit wou hê.