Vraag: Ek het so pas uitgevind dat die weeklikse Sabbat met sononder op Vrydag begin en eindig met sononder op Saterdag soos die Bybel dit voorskryf. Wat moet ek doen om dit te “heilig” soos ons beveel word in Eksodus 20:8?

Antwoord: 
Sommige mense dink verkeerdelik aan die Sabbat as ’n tyd wanneer God ons verdruk deur ons te verbied om te doen wat ons graag wil doen. In werklikheid is dit egter ’n tyd wat Hy vir die mensdom geskep het om ons ’n onderbreking te gee van die week se spanning en om ons aandag te vestig op die Een wat daardie dag gemaak en dit eenkant gesit het vir Sy heilige doel. “En Hy sê vir hulle: Die Sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die Sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook van die Sabbat” (Markus 2:27-28).

Waarom onderhou ons die Sabbat? Dit is een van die Tien Gebooie wat God aan ons gegee het, wat Christus Self onderhou het en wat Hy Sy volgelinge geleer het om te onderhou (Mattheüs 19:17). Ons lees: “Gedenk die Sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die Sabbatdag geseën en dit geheilig” (Eksodus 20:8-11).

Elke Sabbat wend ons ons af van ons gewone arbeid en ligsinnige aktiwiteite soos om na sport te kyk of om na vermaak op die televisie of die Internet te kyk wat ons aandag aftrek van God en Sy plan vir ons. Dit stel vir ons tyd beskikbaar om die Bybel te lees, te bid en na te dink oor die dinge van God. Op die Sabbat fokus ons daarop om te leer aangaande God en om Hom te aanbid. Diegene wat binne ’n redelike afstand van ’n groep ware Christen gelowiges woon behoort byeen te kom vir erediens en kameraadskap. “En laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag [van Christus se Wederkoms] sien nader kom” (Hebreërs 10:24-25).

Christus verduidelik dat ons goed moet doen op die Sabbat (Mattheüs 12:12). ’n Persoon wat ’n lewe red wat in gevaar is, verbreek nie die Sabbat nie; Christus het die siekes op die Sabbat genees, waarvoor die Fariseërs saamgesweer het om Hom te vernietig (verse 13-14). Christene moet egter hulle gewetens ondersoek om seker te maak dat hulle nie Christus se opdrag misbruik nie. Dit is paslik vir ’n Christen om ’n lewe op die Sabbat te red, maar dit is nie paslik om geld op die Sabbat te verdien deur normale besigheid te bedryf onder die voorwendsel dat mense daardeur “gehelp” word nie.

Wanneer ons God se ware Sabbat na regte onderhou, seën Hy ons ryklik. “As jy jou voet terughou van die Sabbat – om nie jou sake op My heilige dag te doen nie, en as jy die Sabbat ’n verlustiging noem en die heilige dag van die Here hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die Here, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob” (Jesaja 58:13-14).

God se weeklikse en jaarlikse Sabbatte is ’n tyd van vreugde sowel as van fisiese en geestelike verfrissing wat met ander mede-gelowiges gedeel behoort te word. “Hieraan wil ek dink en my siel uitstort in my: hoe ek gewoond was om voort te trek met die skare, hulle gelei het na die huis van God, met die stem van jubel en lof – ’n feesvierende menigte!” (Psalm 42:5).

Om meer te wete te kom oor die betekenis van die Sabbat en hoe om dit te onderhou, vra asseblief ons gratis boekies, Watter Dag is die Christelike Sabbat?, en Die Heilige Dae – God se Meesterplan, aan. Skryf aan die streekkantoor naaste aan u (soos aangegee op bladsy 2 van hierdie tydskrif) of verkry dit van ons webtuiste www.wvm.co.za