“Armagéddon” is nie net ’n woord om te vrees wat deur politici gebruik word nie. Hoe sal dit u en u geliefdes beïnvloed? U behoort te weet!

Is “Armagéddon” ’n stowwerige ou term in u Bybel – duisende jare oud en irrelevant??nie van toepassing vir ons tyd nie? Is dit dalk ’n ontnugterende realiteit wat ontelbare miljoene mense wat vandag leef – met inbegrip van u en u geliefdes – sal raak? Dis is nodig dat u weet wat die antwoord is!

Op die stadium dat generaal George MacArthur van die V.S. in April 1951 sy bekende afskeidstoespraak aan die Amerikaanse kongres gelewer het, was die Amerikaanse president Joe Biden, net agt jaar oud. Donald Trump, Joe Biden se voorganger in die presidensie, was slegs vier jaar oud. Die waarskuwing wat MacArthur gerig het, het tog ’n onuitwisbare indruk gelaat wat vir baie mense vandag nog na die waarheid klink, hoewel dit vir ander mense na antieke geskiedenis lyk.

Wat het MacArthur gesê wat sy luisteraars so geraak het? Na sy leeftyd van militêre diensplig het hy die invloed van oorlog gesien, maar ook die uiteindelike nutteloosheid en katastrofiese gevolge daarvan, wat hom gelei het om die byeenkoms van wetgewers te waarsku: “Militêre alliansies, balans van mag, Volkebonde, het almal op hulle beurt misluk wat een uitweg gelaat het, naamlik die smeltkroes van oorlog. Die uiterste verwoesting van oorlog verhinder nou hierdie alternatief. Ons het ons laaste kans gehad. Indien ons nie een of ander groter en regverdiger stelsel sal uitdink nie, is Armagéddon voor die deur”.

Op 6 en 9 Augustus 1945 – ses jaar voordat MacArthur daardie woorde gespreek het – het die V.S. atoombomme neergelaat op die stede van Japan, Hirosjima en Nagasaki, wat gelei het tot byna 200,000 sterfgevalle en die totale verwoesting van daardie stede. Baie mense sê nogtans dat hierdie sterftes van onskuldige burgerlikes die lewens gered het van nog miljoene meer mense wat in ’n Geallieerde inval in Japan sou omgekom het. Daardie twee atoombomme het byna 80 jaar gelede ’n einde aan die Tweede Wêreldoorlog gebring.

Deesdae se jonger generasies mag dalk min weet van daardie geskiedenis – die lyding, die trauma en die verlies van miljoene lewens. Wanneer hulle deesdae die woord “Armagéddon” hoor, dink baie van hulle eerder aan die gewilde fliek Armagéddon, wat die storie vertel van ’n Texas-grootte asteroïde wat afpeil na die planeet Aarde en dreig om ’n wêreldwye katastrofe te veroorsaak. Die film, wat in 1998 vrygestel is, het meer as $500 miljoen by die loket verdien en vind vandag steeds weerklank in populêre kultuur.

Is daardie Armagéddon-scenario egter ’n werklike moontlikheid? Lees hierdie berig by Astronomy.com, wat net een asteroïde beskryf wat oor Siberië ontplof het: “Op 15 Februarie 2013 het ’n klein asteroïde, ongeveer 20 meter in deursnee, op die suidelike Oeral van Rusland, teen ongeveer 19 km per sekonde afgepyl en toe oor Chelyabinsk Oblast ontplof … en energie vrygestel gelykstaande aan ongeveer 500 kiloton TNT, sowat 20 of 30 keer die energie wat vrygestel is in die Hirosjima-atoomontploffing” (“Why the asteroid threat should be taken seriously,” Astronomy.com, opdateer Januarie 30 2024). Die Skrywer David J. Eicher gaan voort om die gevare te beskryf wat ons vandag in die gesig staar:

“Die risiko van asteroïdes wat die aarde tref en wydverspreide skade, dood en katastrofe veroorsaak, is ’n werklikheid en is elke dag van ons lewens teenwoordig. Dit is egter tot ’n mate ’n teen-intuïtiewe bedreiging, wat vir sommige mense moeilik is om ernstig op te neem. Die risiko op enige gegewe oomblik bestaan amper nie, maar gegewe genoeg tyd, sal ’n katastrofiese gebeurtenis weer gebeur. Is dit nodig dat ons bekommerd hoef te wees oor ’n asteroïde wat die aarde tref tydens ons volgende uitstappie na middagete? Waarskynlik nie. Eendag sal daar egter ’n groot genoeg asteroïde wat vir die Aarde bestem is in die prentjie kom en sal afgryse en chaos vir die mensdom veroorsaak. Dit wil sê tensy ons iets daaraan doen”.

Is dit ’n realiteit? Selfs u Bybel beskryf ’n tyd van kosmiese versteurings wat aan die kom is: “... en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit” (Openbaring 6:13-14).

Al ons hedendaagse praatjies oor ’n “Armagéddon” se oorsprong word in u Bybel gevind in die verslag oor ’n rampspoedige stryd tussen goed en kwaad aan die einde van hierdie era. Waar sal u dan wees wanneer daardie geveg plaasvind? Wat sal die uitkoms van daardie stryd wees? Die woord Armagéddon word tans gebruik om ’n tyd van verskriklike vernietiging voor te stel. Sal die ware Armagéddon dan die uiteindelike vernietiging van planeet Aarde veroorsaak of sal Goddelike ingryping diegene red wat voorbereid is?

 

Har [Berg] Megiddo

Soos generaal MacArthur gewaarsku het, sal ’n Armagéddon ons voorland wees. Ons ken die gewilde media-opvattings van “Armágéddon”. Wat vertel u Bybel ons egter oor daardie werklike tyd en plek? “En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon” (Openbaring 16:16). Die oorspronklike Hebreeus is Har Maggadon of die berg Megiddo. Die leërs van die wêreld sal in die noorde van Israel by Megiddo bymekaarkom voordat hulle suid na Jerusalem optrek.

Megiddo is ongeveer 55 myl noord van Jerusalem geleë, “soos die kraai vlieg”. Gedurende antieke tye het dit die hoof handelsroete tussen Egipte en Damaskus bewaak. Dit kyk ook uit oor die grootste vlakte in Israel, die Jisreël-vallei of die Vlakte van Esdraelon. Die Skrif voorspel dat die konings van die ooste die Eufraatrivier vanaf die weste sal oorsteek. Hulle sal leërs van ander supermoondhede by Megíddo ontmoet.

Die boek Openbaring beskryf hierdie saamtrek as die sesde van die sewe laaste plae. Hulle kom bymekaar by die plek wat in Hebreeus Armagéddon genoem word en beweeg dan suidwaarts na Jerusalem om daar teen Christus te veg. Let op: “Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ’n strafgerig te hou” (Joël 3:1-2).

Die vallei van Jósafat is geleë tussen die Olyfberg en die stad Jerusalem. Dit staan ook bekend as die Kidronvallei, wat ’n hele ent suidwaarts strek. Ja, “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” (Openbaring 16:14) sal by Jerusalem plaasvind. Jósafat beteken “Die Ewige het geoordeel” en God sal die nasies oordeel in hierdie klimaktiese en belangrikste stryd.

Ja, u Bybel openbaar die volgorde van gebeure wat lei tot Armagéddon. Die Messías, Jesus van Násaret, het groot profetiese tekens geopenbaar wat lei tot die groot hoogtepunt en die einde van hierdie era. Hy het ook ’n nuwe era aangekondig wat kom – ’n tyd wat ons dikwels die “wêreld van môre” noem – die naam van hierdie tydskrif asook ons Engelse Tomorrow’s World TV-uitsendings. Jesus het die Evangelie van die Koninkryk van God verkondig – die goeie nuus van ’n toekomstige wêreldregering. Hy doen ’n ernstige beroep op sy volgelinge om hulle te bekeer en vir daardie regering voor te berei. Christus beantwoord Sy dissipels se vraag met betrekking tot die einde van hierdie huidige tydperk soos volg: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matthéüs 24:14).

Na watter tekens behoort ons op die uitkyk te wees? Watter is die volgorde van profetiese gebeure wat ons behoort te verwag? Bybelprofesie beskryf die tydperk van drie-en-’n half jaar wat tot die einde van die huidige era lei. Wat is die tekens wat die einde van hierdie hartseer samelewing van mislukte regerings van mense aandui? “EN die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Hoe sal die nasies van die wêreld op daardie aankondiging reageer? Die nasies sal aanvanklik eers die teruggekeerde Verlosser verwerp. “En die nasies was vertoornd” (Openbaring 11:18). Hulle sal die Goddelike, wêreldregerende Koninkryk teëstaan en selfs daarteen oorlog voer! Die eindtydse supermoondheid wat in die boek Openbaring, die “dier” genoem word – die laaste herlewing van die Romeinse Ryk, wat ondersteun word deur tien konings of koninkryke – sal ’n tevergeefse oorlog teen die komende Koning van die konings voer:

“En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier. Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (Openbaring 17:12-14).

 

Voorbereiding vir die Derde Wêreldoorlog?

Die boek Openbaring dui ’n reeks groot veldslae aan gedurende die Derde Wêreldoorlog. Let op die negende hoofstuk: Massiewe leërs oos van die Eufraatrivier ontplooi en met kragtige wapens word oor en weer geskiet wat ’n derde van die aarde se bevolking vernietig. Die apostel Johannes teken hierdie profetiese visioen soos volg aan: “En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan. Deur hierdie drie plae is ’n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het” (Openbaring 9:17-18).

Is militêre magte nou al besig om voor te berei vir die Derde Wêreldoorlog? Wêreld van Môre-intekenare is bewus van groot militêre verwikkelings. Op die voorblad van ons Engelse tydskrif, Tomorrow’s World gedateer April-May 2023, het hierdie vraag verskyn: “Has World War III Already Begun?” Die Hoofredakteur, Gerald Weston, het verskeie individue aangehaal wat beweer dat die Derde Wêreldoorlog inderdaad reeds begin het. Hy haal die Rooms-Katolieke pous, Francis, aan wat gesê het: “Vir my is die Derde Wêreldoorlog vandag verklaar. Dit is iets waaroor ons behoort te dink. Wat is besig om te gebeur met die mensdom dat ons drie wêreldoorloë in ’n eeu gehad het?” (“Sleepwalking into World War III”).

Mnr. Weston het sy artikel afgesluit met: “Ons beweeg van geleidelik na skielik. Is dit nie wat die profeet Jesaja vir ons rebelse wêreld opgeteken het nie? ‘Omdat julle hierdie woord verwerp en vertrou op verdrukking en slinksheid en daarop steun, daarom sal hierdie skuld vir julle wees soos ’n los stuk wat wil val, wat oorhang in ’n hoë muur, waarvan die instorting heeltemal onverwags kom’ (Jesaja 30:12-13)”.

Deesdae se nasies is besig om hulle vermoëns van kernkrag uit te brei. Dit is bevestig dat nege nasies regoor die wêreld oor kernwapens beskik. Dit is Rusland, die Verenigde State, Frankryk, China, die Verenigde Koninkryk, Israel, Indië, Pakistan en Noord-Korea. Dit is moontlik dat die gekombineerde krag van hierdie wapens alle menslike lewe op aarde herhaaldelik kan vernietig. Die patroon van die geskiedenis is dat wanneer die mensdom ’n nuwe wapen van vernietiging skep, dit gebruik word totdat dit al die moontlike skade aangerig het wat dit enigsins kan aanrig. Indien dit egter met kernwapens gebeur, sal die hele mensdom totale uitwissing beleef!

 

Sestig jaar van gevaar

Is wêreldleiers bekommerd oor die vele bedreigings en gevare wat ons in die gesig staar? In Oktober 2022 het die V.S. president Joe Biden, kommentaar gelewer op Rusland se dreigement om taktiese kernwapens te gebruik: “Ons het nie die vooruitsig van Armagéddon sedert Kennedy en die Kubaanse missielkrisis in die gesig gestaar nie”, het hy gesê. “Vladimir Poetin ... maak nie ’n grap wanneer hy praat oor die potensiële gebruik van taktiese en kernwapens of biologiese of chemiese wapens nie ... Ek dink nie daar is iets soos die vermoë om maklik ’n taktiese kernwapen te verloor en nie by Armagéddon te eindig nie”. (“Remarks by President Biden at Democratic Senatorial Campaign Committee Reception,” WhiteHouse.gov, 6 Oktober, 2022).

In Oktober 2022 was dit die sestigste herdenking van die Kubaanse missielkrisis – ’n tydperk toe die hele wêreld ’n potensiële Armagéddon in die gesig gestaar het. Op daardie herdenking het die Bulletin of the Atomic Scientists hierdie ontnugterende aankondiging gemaak: “Rusland se inval in die Oekraïne en sy bedreiging met betrekking tot kernwapens het die kernoorlog-genie wakker gemaak, met die woord ‘Armagéddon’, wat in algemene bespreking ingesluip het tydens die 60ste herdenking van die Kubaanse missielkrisis. Daardie 35-dae-krisis (16 Oktober - 20 November 1962) bly ’n beslissende oomblik in die Verenigde State se nasionale veiligheidsgeskiedenis en dit was die algemene publiek se eerste nabye en persoonlike kennismaking met die werklike moontlikheid van ’n kernoorlog” (26 Oktober 2022).

Indien u oud genoeg is om die Kubaanse missielkrisis in 1962 te onthou, onthou u waarskynlik hoe u die skrikwekkende werklikheid in die gesig moes staar van wat gelyk het na ’n ware Armagéddon. Op daardie tydstip was ek ’n jong man pas uit die kollege, nadat ek ook ’n kort tydjie in die V.S. weermag gedien het voordat God my na Sy Kerk geroep het. Die vrese wat ek in die gesig gestaar het, is deur miljoene ander mense gedeel. Indien u te jonk is en nie daardie tyd beleef het nie, mag u dalk u ouers of grootouers daaroor wil uitvra en hoor hoe hulle dit ervaar het.

 

Staar die werklikheid in die gesig

Geagte Lesers, ons moet die werklikheid in die oë kyk! Miljarde mense op aarde sál sterf wanneer oorlog, hongersnood en siektes regoor die planeet versprei. Ja, ons sal die uiterste gevaar van menslike uitwissing in die gesig staar. Die vierde seël van Openbaring beeld die vier perderuiters uit wat hulle kragte kombineer. Regoor die wêreld sal massiewe getalle mans, vroue en kinders sterf.

Die apostel Johannes, wat die boek Openbaring onder inspirasie van God geskryf het, het in ’n visioen die bekende vier perderuiters van die Apokalips gesien. Hulle simboliseer in volgorde valse christusse en valse godsdiens, oorlog en die verwoestende gevolge daarvan, die hongersnood wat normaalweg volg op die hakke van oorlog en die pes en siekte wat op hongersnood volg. Die apostel Johannes skryf: “En ek het gesien, en kyk, daar was ’n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde” (Openbaring 6:8).

Die vyfde seël, soos ons in Openbaring 6:9 lees, openbaar ’n marteling van Christene gedurende die tyd van verdrukking van ongeveer twee-en-’n-half jaar. Daarna lees ons van die sesde seël, wat die tyd van God se toorn en oordeel oor die nasies inlei. Daar word na die sesde seël verwys as die hemelse tekens.

“En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit” (Openbaring 6:12-14).

Hierdie hemelse tekens, soos dit genoem word, lei die dag van die Here in – die tyd van God se toorn en oordeel oor ’n ondankbare, opstandige wêreld. Jesus Christus, die Lam van God, sal toornig wees. Hy sal God se regverdige oordele voltrek. Die dag van die Here word “die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6:17).

 

’n Tyd van toorn en oordeel

Die dag van die Here sal God se oordele oor die nasies bring. Neem kennis: Daar is drie profetiese mylpale wat tot Christus se Wederkoms lei. Dit is die Groot Verdrukking, die hemelse tekens en die dag van die Here. Hierdie drie gebeurtenisse strek oor ’n tydperk van ongeveer drie-en-’n-half jaar.

Daar is meer as dertig profesieë in u Bybel wat na die dag van die Here verwys. Jesaja 34:8 en Jesaja 63:4 wys dat die dag van die Here in eindtyd profesie, die tyd wat die Wederkoms voorafgaan, ’n tydperk van een jaar is! U sal dalk daardie verwysings wil neerskryf.

Die Skrif beskryf die teruggekeerde Christus se groot hemelse leër wat na die aardse Armagéddon slagveld neerdaal:

“TOE het ek die hemel geopend gesien; en daar was ’n wit perd. en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ’n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ’n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met ’n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en Here van die Here” (Openbaring 19:11-16).

Geagte Lesers, watter kant sal u kies wanneer die dag van oordeel aanbreek? Sal u kies om aan die kant van die Koning te wees wat sal kom om die aarde te regeer en om blywende vrede te bring? Soos ons pas gesien het, sal getroue Christene Christus volg: “... en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore” (Openbaring 17:14)

Die massas van die mensdom sal mislei word en sal die “dier” van Openbaring en die valse profeet volg wat die dier se anti-Christus heerskappy ondersteun. U Bybel openbaar egter die bemoedigende waarheid dat ’n klein oorblyfsel van God se getrouste mense Sy beskerming sal ontvang in ’n plek op aarde wat Hy vir hulle voorberei het. Daar sal hulle teen die gruwels van die Groot Verdrukking en die dag van die Here gespaar word.

Ons lees dat “die vrou het na die woestyn gevlug waar sy ’n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank” (Openbaring 12:6). In die Skrif word die Kerk soms as ’n vrou uitgebeeld, soos ons ook lees in beskrywings van die Kerk wat die bruid van Christus word. Christene moet egter wakker en bedag wees om daardie Goddelike beskerming te ontvang vir daardie profetiese tekens wat vir die Kerk sal aandui dat dit tyd is om na daardie beloofde en geprofeteerde plek van veiligheid te vlug.

 

Waak en Bid

Ja, ons behoort almal op die uitkyk te wees vir profetiese tekens wat tot Armagéddon sal lei. Die konings van die aarde en hulle leërs sal in die noorde van Israel bymekaarkom om teen die Verlosser Jesus Christus, te veg by Sy Wederkoms. Weereens, maak seker dat u dit lees in Openbaring 19:19. Die Koning van die konings sal hierdie opstandige, onderdrukkende nasies oorwin. Hoe kan u persoonlik voorberei vir die uitdagende tye wat voorlê? Geagte Lesers, sal u Armagéddon vryspring?

Let op hierdie vermaning deur die Here Jesus Christus: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36).

Dalk het u nie gebid nie; dit is nou die tyd om op u knieë te gaan en na God uit te roep vir ’n verandering in u lewe. Die Skrif vertel aan ons hoe om nader aan God te kom. “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jesaja 55:6-7).

God beloof om u te seën en u te vergewe indien u Hom met u hele hart soek. Die oplossing vir die wêreld se probleme is geleë in die toekomstige verandering in die menslike natuur. Ná Armagéddon sal die nuwe wêreldregering, bestaande uit Christus en die heiliges, die weg na vrede onderrig. Ja, gedurende die Millennium sal daar ’n vernuwing van die menslike karakter en die menslike gees wees. Die Koninkryk van God sal vir ’n duisend jaar oor alle nasies heers en ook daarna. Bid dat daardie Koninkryk binnekort sal kom. Ons sien uit na die tyd ná Armagéddon wanneer hierdie profesie vervul sal word: “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sagaría 14:9).

Ja, die Vredevors sal terugkeer om die wêreld se nasies met liefde en geregtigheid te regeer, wat ’n wêreld van voorspoed en oorvloedige lewe vir alle volke waarborg. Geagte Lesers, u wil nie onder diegene wees wat teen die terugkerende Christus veg nie! Bly na aan u Verlosser, gehoorsaam Hom en laat Hy u lei. Wanneer u dit doen, sal u voorbereid wees vir die uitdagende tye wat net voor die deur lê en beskerm word teen die verskrikkings van Armagéddon!