Dit is verstommend om te besef hoe noukeurig mense is wanneer hulle byvoorbeeld 'n huis koop, in teenstelling met die besluit oor watter kerk om by aan te sluit. Die huis sal moontlik net vir 'n paar jaar aan hul behoeftes voldoen, maar om betrokke te wees by die ware godsdiens van God, sal bepaal hoe hulle die ewigheid gaan deurbring.

So, waar het u aan u godsdiens gekom? Hoe het dit gekom dat u glo wat u glo? Het u u godsdiensbeginsels uit die Bybel gekry, of by familie en vriende?

Om die waarheid te sê, die meeste mense kry nie hul godsdiens uit die Bybel nie. Dit mag pynlik wees om dit te erken, maar in die meeste gevalle kan dit egter maklik bewys word. Gereelde lesers van Die Wêreld van Môre weet dat—anders as baie bedienings in die “hoofstroom” van godsdiens—ons alles wat ons u vertel, vers vir vers uit u eie Bybel bewys. Die meeste mense bestudeer egter nie werklik die Bybel nie en glo nie dat dit sê wat dit bedoel en bedoel wat dit sê nie, met die gevolg dat hulle nie verstaan nie.

Dit is vir die meeste mense baie moeilik om te erken dat hulle verkeerd was. Die menslike trots wil dit net nie doen nie. Tog is dit, volgens die geïnspireerde Woord van God, die beginpunt van ware Christelikheid. Toe Jesus Christus Sy bediening begin het, het Hy aan Sy toehoorders gesê, “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mattheus 4:17). Ook sê die evangelie volgens Markus vir ons: “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15). Jesus sê later: “Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom” (Lukas 13:5).

Om “berou tot bekering te hê” beteken om te verander. Net soos mense egter nie wil erken dat hulle verkeerd was nie, wil hulle beslis ook nie verander nie! Net soos Sir Winston Churchill gesê het, “Mense struikel per geleentheid oor die waarheid, maar die meeste staan op en haas hulle voort asof niks gebeur het nie.”

As u ewige lewe egter daarvan afhang, sal u baie wys wees om te oorweeg of u nie die verkeerde godsdiens beoefen het nie—dalk die einste godsdiens waarin u ouers u in opregtheid opgevoed het!

Sê ek dat Christendom die “verkeerde godsdiens” is? Natuurlik nie! Ek wil u egter daarvan bewus maak dat daar 'n valse Christendom en 'n ware Christendom bestaan. Baie mense besef dit nie, maar die Bybel maak dit baie duidelik dat 'n valse vorm van Christelikheid tot en met die Wederkoms van Christus sal oorheers. Die geliefde apostel Johannes beskryf hierdie einste tyd waarin ons leef: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9). Satan die Duiwel het 'n vals Christelikheid aan hierdie misleide wêreld afgesmeer!

Die hoogs gerespekteerde hedendaagse filosoof, Soren Kierkegaard, skryf in sy Attack Upon Christendom: “Die Christendom van die Nuwe Testament bestaan eenvoudig nie. Miljoene mense het God deur die eeue heen bietjie vir bietjie uit die Christendom gekul en daarin geslaag om dit presies die teenoorgestelde te maak wat dit in die Nuwe Testament is.”

Dit is dus nodig dat ons elkeen bewys wat ons glo, deur die Bybel werklik te bestudeer. Ons moet indrink wat die Bybel self sê in plaas daarvan dat ons ons vooraf gevormde idees in die Bybel in lees.

Dink vir 'n oomblik. Waarom is die belydende Christendom in honderde wedywerende kerkverbande en sektes verdeel? Waarom het kerke wat hulself “Christen” noem, so baie verskillende leerstellings en praktyke? Is dit moontlik dat God die oorsprong van verwarring is, of is daar dalk 'n ander verduideliking?

Slaan ag op Christus se waarskuwing

Dink na oor die waarskuwing wat Christus self gee: “Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Mattheus 24:5). Jesus sê nie hier dat slegs 'n paar in Sy naam sal kom nie, meer eerder dat “baie” sal kom! Hulle kom as “Christen” predikers wat Jesus as die Christus verkondig—tog word baie mislei! Met ander woorde, daar sou grootskaalse misleiding wees, gebaseer op valse leerstellings deur die baie wat sê dat hulle “in Jesus” se naam kom.

Om die waarheid te sê, is dit maklik vir godsdiensleraars om die Seun van God se naam te gebruik as mantel vir hul persoonlike leerstellings, of dit nou enige verband met die ware Jesus se lewe en leringe het al dan nie! Dit is waarom die apostel Paulus vir ons sê: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1Thessalonicense 5:21). Dit is elkeen van ons se verantwoordelikheid om “seker te maak” van die leerstellings wat ons geleer word—wat ook al die bron. Moenie agterlosige aannames maak nie! Maak seker dat u weet wat die Bybel werklik sê!

Paulus maan ons verder: “Want as iemand kom en 'n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle 'n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of 'n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Korinthiërs 11:4). Met ander woorde, Paulus was bevrees dat van die Kerklidmate van sy tyd die prooi sou word van “vals” leraars en dat hulle 'n vals evangelie aangaande 'n vals Christus sou aanvaar!

Wat van u? Is dit moontlik dat u met 'n “ander Jesus” opgeskeep sit? Is dit moontlik dat u mislei is om in 'n valse voorstelling van Christus te glo—tesame met 'n vals boodskap wat bloot na bewering van die ware Jesus af kom? Hoe kan u weet wat die waarheid is en wat nie?

Ons moet die Bybel ywerig bestudeer sodat ons ware begrip kan kry. Ons moet bereid wees om met 'n oop gemoed te besluit of ons die oorlewering van mense eerder as die gebooie van God gevolg het (Mattheus 15:3).

Wanneer ons die Bybel bestudeer, moet ons leer om die Bybel homself te laat interpreteer. Met ander woorde, as iets nie duidelik is nie, moet ons toelaat dat die eenvoudige, duidelike verse ons help om daardie verse te verstaan wat nie so duidelik is nie. Ons moet ook bereid wees om die Bybelboeke regdeur te bestudeer soos enige ander boek. Baie mense spring eenvoudig rond en lees net 'n paar sentimentele verse vir bemoediging. Hoewel dit soms nuttig kan wees, bied dit nie ware insig in die hele plan en doel van God, wat Hy in die Bybel—Sy “instruksieboek” vir alle mense openbaar nie.

U kan begin deur die Evangelie volgens Mattheus, die eerste boek van die Nuwe Testament, te bestudeer. Lees stadig regdeur Mattheus terwyl u die verse merk wat u glo belangrik is. Doen dan die volgende dag hersiening van wat u bestudeer het, en lees en merk dan nog 'n paar hoofstukke terwyl u nadink oor wat u gelees het. Op hierdie wyse sal u vertroud raak met wat die Bybel werklik sê—nie wat misleide leraars u moontlik kan vertel dit sê nie!

Bid vir insig en begrip

Vra God vir begrip tydens vurige persoonlike gebed. Wees bereid om die ware Christelikheid van Christus na te volg, ongeag alles. Onthou altyd die apostel Paulus se belangrike stelling: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20).

Sal Christus, deur die beloofde Heilige Gees, dieselfde soort lewe in u leef as wat Hy meer as 1 900 jaar gelede in die vlees geleef het? Hebreërs 13:8 sê vir ons: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” Het Christus die Tien Gebooie onderhou toe Hy in die vlees was? Johannes 15:10 herhaal Christus se woorde: “Ek [het] die gebooie van my Vader bewaar.”

As u hulp nodig het om die Bybel te bestudeer, skryf gerus of skakel onverwyld om in te skryf op Die Wêreld van Môre-Bybelstudiekursus, of bestel dit aanlyn by ons webwerf, www.wvm.co.za. Hierdie deeglike kursus van 24 lesse sal u nie net deur 'n klomp sentiment lei nie. Dit sal u eerder werklik help om ons Skepper se groot plan vir die mensdom te verstaan. Dit sal u help om uit u eie Bybel te bewys wat u moet doen om u rol in God se plan te vervul. Die adres en kontakbesonderhede van ons plaaslike streekkantoor is op bladsy 2 van hierdie tydskrif. U inskrywing en al die lesse is gratis—soos al ons literatuur!

Mag God u help om werklik Sy geïnspireerde Woord te bestudeer en dít wat u glo, uit die Bybel te bewys namate ons die einde van hierdie tydvak nader. Dan sal u op 'n vaste fondament wees, en u sal God—en die herrese Jesus Christus aan Sy regterhand—werklik leer ken op 'n wyse wat u nog nooit voorheen ervaar het nie .