Wat kan ons van Skotland se mislukte referendum leer? Wat hou die toekoms vir die Verenigde Koninkryk in?

Wat beteken Skotland se “Nee!” vir die Verenigde Koninkryk en Bybelse profesie?

Wat ’n ongelooflike bohaai het die Skotse referendum in September 2014 veroorsaak! Die eenvoudige vraag was: “Behoort Skotland ’n onafhanklike land te wees?” Trouens, die verskillende volke van die VK het nie vir ’n oomblik gedink dat die meerderheid Skotte “JA” sou stem nie ... tot ongeveer tien dae voor die referendum, toe een enkele meningspeiling van sowat 50% aangedui het dat dit dalk net mag gebeur!

Die gevolg was eenvoudig verbysterend en pandemonium het losgebreek! Stemme vanuit elke hoek van die VK en regoor die hele wêreld het opgeklink en verenig en ’n beroep op die Skotte gedoen om nie onafhanklik te word nie. Enige moontlike rede oor waarom so ’n stap teenproduktief en gevaarlik sou wees is geopper. Politici van alle partye het gemobiliseer. Die Eerste Minister, David Cameron, het ’n passievolle pleidooi gelewer dat die “familie van nasies” behoue moes bly. “Miljoene mense”, het hy gesê, “sou heeltemal ontroosbaar wees deur die ontbinding van die VK”.

Dit is immers geen oordrywing om te sê dat baie mense wat “NEE” gestem het gevoel het dat hulle nou ’n verlore saak het nie. Dit het gelyk of die momentum in die rigting van ’n “JA”-veldtog geswaai het wat toenemende emosionele waansin veroorsaak het by die naderende vooruitsig van onafhanklikheid. Hoe verkeerd was hulle en die meningspeilings egter toe nie!

’n Verrassende oorwinning

Alex Salmond, leier van die Skotse Nasionale Party (SNP), het met selfversekerdheid die oorwinning aangevoel en het aangekondig dat lojale en patriotiese Skotte uiteraard net “JA” sal stem. Elke ongemaklike en moeilike vraag wat aan hom gevra is, het hy eenvoudig afgemaak as te veel onrussaaiery; vir hom kon die toekoms van ’n onafhanklike Skotland net rooskleurig wees, maak nie saak hoeveel bewyse tot die teendeel opgestapel is nie. Die “NEE”-veldtog, die laaste tyd in die vorm van die voormalige VK premier, Gordon Brown (self ook ’n Skot), het emosioneel volgehou dat om deel van die Unie te bly verstandiger, veiliger en sekerder sou wees en daarom sou dit ’n meer patriotiese besluit wees vir hierdie en toekomstige geslagte.

In die privaatheid van stemlokale oor die hele land, het die Skotse kiesers, vry van die lelike en soms gewelddadige tonele van haat en openbare intimidasie, op ’n streep “NEE” gestem. Nadat die finale uitslag bekend geword het, het Skotland met ’n groot meerderheid van 10%, beslissend die idee van skeiding met die Unie verwerp. Die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje sou, na alles, behoue bly. Vir baie mense het dit gelyk na ’n tipe wonderwerk wat plaasgevind het. Die “JA”-veldtog was natuurlik ’n hartseer storie; Alex Salmond se lewenslange droom om die Unie te ontbind, het nou aan flarde gelê en hy het onmiddellik uit sy posisie as SNP-leier bedank.

Binne die Verenigde Koninkryk het die meerderheid mense ’n gesamentlike sug van verligting geslaak en die kommentaar van leiers regoor die wêreld het hulle genoeë teenoor die Skotte se besluit uitgespreek. Selfs Koningin Elizabeth II het haar goedkeuring te kenne gegee toe sy gesê het: “Nou, terwyl ons vorentoe beweeg, behoort ons te onthou dat, ten spyte van die verskillende menings wat uitgespreek is, ons oor die algemeen ’n blywende liefde vir Skotland het, wat een van die dinge is wat help om ons almal te verenig”.

Die rede om te verenig

Waarom was daar egter onder so baie Skotte ’n sterk teenkanting teen die Unie? Wat is die oorsprong van hulle nogal verrassende afkeer? Wat lê voor vir die Verenigde Koninkryk? Is die grondwetlike krisis nou verby? Kan almal nou ontspan en terugkeer na waarmee hulle besig was? Watter lesse kan, veral vanuit ’n Bybelse perspektief, geleer word in die lig van hierdie skouspelagtige “rakelingse uitslag” wat byna ’n einde gemaak het aan een van die suksesvolste samesmeltings van nasies in die hele geskiedenis?

Die antwoorde op al hierdie vrae wentel om een groter vraag: Waarvoor staan die UnieWat is die doel en rede vir die bestaan daarvan? Die antwoord is verrassend en grotendeels vergete met die verloop van tyd. Dit is egter belangrik en relevant vir die uitdagings waarmee ons vandag gekonfronteer word.

Die Dariën-ramp

Reeds in die laat 1600’s, het die Skotte gevoel dat hulle in die koloniale resies agtergebly het en hulle was gretig om in te haal. Vorige pogings om kolonies te stig het misluk, daarom het die Skotse entrepreneur en finansier, William Paterson, wat ook in 1694 ’n medestigter van die Bank van Engeland was, gehelp om die Company of Scotland te vorm, met die uitdruklike doel om ’n kolonie genaamd Caledonia op die Dariën Landengte (moderne Panama) in Sentraal-Amerika te vestig. Subskripsies van £400,000 is belowe, ’n ontsaglike bedrag vir daardie tyd (£40 miljoen in vandag se geldwaarde) en meer as vier keer die jaarlikse inkomste van die Skotse regering. Die projek was bestem om as ’n vroeë voorbeeld van finansiële waansin te dien.

Dinge het egter baie verkeerd geloop as gevolg van die verkeerde aanwending van bates, swak beplanning en uitvoering, siekte, slegte weer, onvoldoende voorrade, swak kommunikasie en teenkanting van die gevestigde en magtiger nasies soos Spanje, Holland en Engeland. In retrospek was die projek ondeurdag, die tydsberekening was swak en gedoem tot mislukking. Mense se moraal het in duie gestort, die kolonie is laat vaar en beleggers het alles verloor. Skotland was so te sê bankrot en blykbaar bestem om nooit ’n groot koloniale moondheid te wees nie.

Hulp het egter uit ’n verrassende oord gekom. Daar was vir ’n paar jaar lank sprake van ’n samesmelting tussen Skotland en Engeland. Die nasies het per slot van rekening baie in gemeen gehad; hulle het dieselfde taal gepraat, trou gesweer aan dieselfde heerser, in wese dieselfde godsdienstige oortuigings gehad, hulle wette het dieselfde doel gehad en hulle het op dieselfde eiland met dieselfde “vloeibare grense” gewoon. Deur te verenig met die veel groter en ryker Engeland, sou dit vir die kleiner en relatief swakker Skotland moontlik wees om nog haar brandende ambisies te verwesenlik.

Wat Engeland nou vir Skotland aangebied het was ’n Protestantse Unie as ’n skans teen ’n Katolieke Frankryk; die nuwe Verenigde Koninkryk sou Groot-Brittanje genoem word en in ruil vir die beëindiging van die Skotse Parlement, sou Skotland deel in die bestuur daarvan deur verteenwoordigers na die Westminister Parlement te stuur in die verafgeleë Londen. Die Kompanjie van Skotland sou beëindig word, die swakker Skotse pond sou laat vaar word vir die Sterling en in ruil sou Skotland toegang tot Engeland se uitgestrekte vrye handelsgebied, wat sy kolonies en plantasies insluit verkry. Belasting sou gelykvormig wees en aksynsbelasting op sekere Skotse handelsartikels sou wegval.

Verreweg die grootste Engelse aansporing vir die Uniewording is voorsien deur “die Ekwivalent”. Al die geld wat beleggers in die Dariën-skema verloor het, sou terugbetaal word, tesame met 5% jaarlikse rente. Dit sou die 3,000 aandeelhouers van die Company of Scotland bevoordeel, plus 1,500 ander aandeelhouers op militêre en burgerlike lyste. Die enkelbedrag was ’n bietjie minder as £400,000. Almal het met al hierdie reëlings saamgestem. Die Unie het dus op dié manier as ’n korttermyn finansiële transaksie tussen twee politieke elitegroepe begin. Kontant in die hand kom voor soewereiniteit en nasionalisme. Dit was eiewyse eerder as idealistiese politiek.

Dit is van deurslaggewende belang dat die geskiedenis toon dat die grootste deel van Skotland nie ten gunste van vereniging was volgens hierdie terme nie. Geen wonder nie dat toe al hierdie kontant wat bestem was vir die Skotse hoëlui, in Edinburgh aangekom het, ’n skare saamgedrom het om hulle te beledig en die konvooi met klippe te bestook. Dit was dalk simbolies van die tweeledige wyse waarop die Skotte die Unie sedertdien beskou het, “weersin as gevolg van die opoffering van hulle nasionale soewereiniteit, maar terselfdertyd bereid om die kontant en geleenthede wat dit bied aan te neem” (The Price of Scotland, Douglas Watt, 2007).

Die groot blywende les is dat die verlange na nasionale selfbeskikking altyd ’n gedugte oortuigingskrag sal wees en iets is wat met groot sorg hanteer word.

Groot-Brittanje wydsbeen oor die wêreld

Die Verdrag van die Unie het toe op 1 Mei 1707 wet geword. Op hierdie manier begin een van die vrugbaarste unies in die geskiedenis. Verbind aan ’n magtige en al hoe meer dominante Engeland, kon Skotland nou uiting gee aan sy rustelose, ondernemende gees om ’n ryk te bou. Namate die Britse Ryk ontwikkel het, het dit ’n duidelike Skotse geur aangeneem met die Skotse gawes van uitvinding, leierskap, bestuur, ondernemingsgees en finansies waarvan oral bewyse was. Al hierdie dinge het groot rykdom en voorspoed in die VK geskep.

Die idee en die sukses van om Brits te wees het aanleiding gegee tot die Scottish Enlightenment, die industriële revolusie en een van die grootste weldadige ryke wat die wêreld nog ooit gesien het, nou ’n vooruitstrewende Gemenebes van Nasies wat die Britse waardes van demokrasie, selfbeskikking en vryheid weerspieël. Bowenal behoort ons nie die belangrike geestelike dimensie te vergeet wat eie is daaraan om Brits te wees nie. Christelike ideale, waardes en beginsels is ook op groot skaal regoor die hele wêreld versprei.

Groot-Brittanje het gehelp om die magsbalans regoor Europa te handhaaf, deur die ambisies van die Spaanse, Franse, Duitse en Sowjet-planne vir uitbreiding terug te hou. Terug op eie bodem het dit die weg vir maatskaplike welsyn, groter maatskaplike gelykheid en ’n nasionale gesondheidsdiens gebaan. Tot ’n groot mate was dit Groot-Brittanje wat die moderne wêreld tot stand gebring het.

Na twee wêreldoorloë en die ineenstorting van die Britse Ryk, het die idee van om Brits te wees onherkenbaar verander. Die middelpunt van die ekonomiese en militêre mag het gemigreer na die Verenigde State. Immigrasie en veelvolkigheid het die aansig van Brittanje dramaties verander. Die opkoms van die Europese Unie (EU) het die manier waarop Brittanje regeer word fundamenteel verander en het baie van sy eie magte van selfbeskikking weggeneem; soveel só dat, net soos ’n groot deel van Skotland van die Verenigde Koninkryk wil afskei, so wil ’n groot deel van Engeland ook van die EU afskei.

Moontlik is die heel betekenisvolste dat Groot-Brittanje geleidelik weg beweeg het van God en die Bybelse waardes waarvoor Brittanje eens gestaan en oorgelewer het regoor die wêreld. Op baie maniere het Brittanje die pad byster geraak en toenemend die nasionale doel wat hy in die wêreld gehad het, uit die oog verloor. Dit het noodsaaklik geword om daardie doel weer te ontdek.

Redding van die Verenigde Koninkryk

Die verwerping van die idee van die Skotse skeiding is nie ter wille van besigheid soos gewoonlik nie. Die huidige taak is hoe om die Unie bymekaar en tevrede te hou, te midde van tye wat so drasties verander en die saamgestelde nasies wat op al hoe meer gelyke behandeling aandring.

Die verstommende vlakke van energie en politieke betrokkenheid wat aan albei kante tydens die referendum-veldtog ontketen is het slegs gedien om die Skotte se sterk behoefte aan grondwetlike verandering en groter nasionale selfbeskikking te bevestig. Indien daar egter ’n verandering in Skotland kom, moet dit ook in die naam van regverdigheid, in ander lande in die Unie kom. Daar is ’n wydverspreide gevoel dat die huidige Westminster-politieke stelsel nie doeltreffend tot voordeel van almal werk nie. Verdelings en frustrasies wat binne die Unie waarneembaar is, het genesing nodig en Westminster het nou ’n unieke geleentheid om ’n heeltemal verskillende Unie te skep, wat geskik sal wees vir die behoeftes van al sy streke. Grondwetlike hervorming is nou ’n belangrike onderwerp van bespreking. Die algemene verkiesing wat in Mei 2015 was, beklemtoon net die dringendheid om die vernaamste verreikende veranderings  te maak.

God se perspektief op die Verenigde Koninkryk

Soos jarelange lesers van hierdie tydskrif weet, verstaan ons uit die Skrif dat die grootste deel van vandag se Britse volke, die moderne afstammelinge van antieke Efraim is, aan wie God beloof het dat hy ’n groot menigte van nasies sou word (Genesis 48:14-19). Die vier nasies van die Unie en die ander nasies van Britse afkoms (bv. Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika) vervul hierdie profesie soos geen ander nie.

Inherent tot God se seën aan Efraim (en die res van antieke Israel) was die opdrag om God se lewenswyse te verteenwoordig waar hulle ook al gegaan het (sien Exodus 19:5-6). Hierin lê die grootste denkbare oorsprong van nasionale doel; om ’n voorbeeld te stel van ’n volk wat aan ’n lewe volgens God se standaarde en wette toegewy is. “Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is ’n wyse en verstandige volk. Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die Here onse God so dikwels as ons Hom aanroep? En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?” (Deuteronomium 4:6-8).

Baie van Brittanje se wetsversameling, opgebou oor eeue heen, is gebaseer op die Wette van God wat in die Bybel gevind word. Die nasie beweeg toenemend weg van hierdie stewige fondament. Die meeste van hulle het God se waarskuwing vergeet wat direk volg na die belangrike verklaring van die doelstelling: “Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak” (vers 9).

Die gevolge van minagting van God se Wette is duidelik: God onttrek die seëninge wat gekoppel is aan onderhouding van die Wette. Uiteindelik behoort ons nooit te vergeet dat dit God is wat nasies en bondgenootskappe opbou of tot niet maak, volgens Sy soewereine wil nie (Job 12:23; Exodus 19:5).

Dit is duidelik God se wil dat Groot-Brittanje hierdie keer ongeskonde sou oorleef. Dit was egter ’n uitdagende en ’n naelskraapse uitslag, ’n dramatiese wekroep. Baie ernstige uitdagings bestaan vir diegene wat hoop om meer samehorigheid en eenheid onder die nasies van die Verenigde Koninkryk te skep. Uit Bybelprofesie weet ons dat voor Jesus Christus se Wederkoms, die Verenigde Koninkryk nog meer agteruitgang as in sy voormalige glorie sal verduur. Sy burgers kan egter individueel, net soos ons almal, ag slaan op God se waarskuwing en nader aan Hom beweeg. Sal u?