Die God van die Bybel het lank gelede reeds gewaarsku dat menslike veronagsaming van die natuurlike wette wat die aarde se ekosisteme beheer, katastrofiese beskadiging op ’n wêreldwye skaal tot gevolg sal hê. Daardie antieke profesieë neem tans gestalte aan in wetenskaplike bevindings en nuusberigte! Ons behoort bewus te wees van wat in die oseane van die wêreld aangaan en wat lank gelede deur antieke Bybelse profesieë voorspel is – wat die toekoms inhou.

Sterftes in die oseane

Wetenskaplikes wat oor die laaste aantal dekades die toestand van die wêreld se oseane monitor, het ’n aantal onrusbarende neigings wat steeds vererger gedokumenteer. Koraalriwwe wat eilande omring, die kontinente van die wêreld omsoom en wat ’n tuiste bied vir ’n kwart van alle soutwater vissoorte, toon toenemende tekens vanwydverspreide beskadiging. Studies dui aan dat 20% van die wêreld se koraalriwwe reeds vernietig is, dat nog 25% op die punt staan om ineen te stort, en dat 70% vernietig kan wees teen 2050, indien die huidige tendens voortduur. Riwwe wat die ernstigste bedreig word, word gevind aan die kuslyne van nasies wat aan die Rooi See en die Indiese Oseaan grens en in die Australasiese omgewing van die wêreld. Faktore soos besoedelende stowwe, sediment van erosie, seewierbloeisels, oordrewe visvang, stygende watertemperature en die versuring van die oseane veroorsaak deur koolstofdioksied – wat alles verband hou met toename in kusbevolkings – vernietig koraalriwwe regoor die wêreld!

Seebioloë het ook onrusbarende data saamgestel oor die omvang van oordrewe visvang en die vernietigende gevolge daarvan op visbevolkings. Oordrewe visvang kom neer op die oes van meer vis uit die oseane as wat vervang kan word deur natuurlike aanwas. Dit word beskou as “die grootste enkele hedendaagse bedreiging vir mariene-ekosisteme” volgens die omgewingsorganisasie “Greenpeace”. Studies toon dat 70% van die wêreld se visvoorraad nou oorontgin word of afneem. Wetenskaplikes skat dat 90% van die voorraad groot voedselvisse uitgeput is en nie meer kommersieel beskikbaar is vir vissermanne nie. Baie visindustrieë – kabeljou-vangste in Newfoundland, tongvis in die Ierse See, ansjovis aan die kus van Peru en grootbekke in die Karibiese Eilande – het ineengestort of word ernstig bedreig as gevolg van ongereguleerde oordrewe visvang. Nie alleen gaan belangrike soorte vis verlore as ’n voedselbron nie, duisende werkgeleenthede verdwyn ook! Geïndustrialiseerde visvang metodes, wat groot getalle vis oes, het in onlangse dekades baie gebiede vir visvang uitgedun. Bekommerde bioloë het gewaarsku dat huidige praktyke nie kan voortgaan nie en tensy werklike veranderings gemaak word, ons “die ineenstorting van al die wêreld se visserye teen 2048” sal sien (Scientific America, 2 November 2006). Dit sal die hoofbron van diere-proteïne vir omtrent ’n miljard mense elimineer!

Nou vir ’n ander verslag – van ’n “krisis in die voedselketting in die wêreld se oseane” (Spiegel Online, 29 Julie 2010). Kanadese wetenskaplikes het bevind dat “die voorraad plantaardige plankton sedert 1950 met 40% afgeneem het” – op ’n wêreldwye skaal. Een mariene-wetenskaplike sê: “’n Afname van 40% in 60 jaar, wat so ernstig is dat dit amper ongelooflik is” (ibid.). Plantaardige plankton is klein mikroskopiese organismes wat die eerste skakel is in die see se voedselketting. Indien die oseane se totale produktiwiteit afneem, sal die aantal vis ook afneem! Dit lyk asof die oseane se stygende oppervlaktemperature ’n faktor is in die afsterwe van hierdie noodsaaklike organismes. Plantaardige plankton dra ook by tot ongeveer een helfte van al die suurstof wat deur plante vrygestel word en dit absorbeer atmosferiese koolstofdioksied wat hitte kan vasvang. Die afname in plantaardige plankton kan nie net lei tot ’n afname in die aantal vis wat die oseane kan produseer nie, dit mag wêreldwye temperature laatstyg (Nature, 29 Julie 2010).

Antieke profetiese waarskuwings

Presies wat het hierdie verontrustende veranderinge egter in die wêreld se oseane te doen met Bybelprofesieë? Lank gelede het die God van die Bybel ’n grondliggende begrip geopenbaar: Gehoorsaamheid aan Sy wette bring seëninge mee, maar ignorering of oortreding van daardie wette sal vloeke meebring (Levitikus 26; Deuteronomium 28). Mariene-ekosisteme werk volgens grondliggende beginsels wat verstaan en gerespekteer moet word om dit in ’n goeie toestand te hou. Die hedendaagse oorbenutting van seewaterbronne – tesame met die skadelike gevolge van mens-gegenereerde besoedelende stowwe (soos vroeër verlede jaar gesien is in die BP Deepwater Horizon oliestorting in die Golf van Mexiko) – werk mee om die natuurlike funksie van oseane se ekosisteme te ontwrig en te vernietig, met ernstige implikasies vir menslike bevolkings!

Die profeet Jesaja het die wêreldwye gevolge van hierdie menslike selfsugtigheid voorspel. “Die aarde treur ... die aarde is ontheilig onder sy bewoners; want hulle het diewette oortree ... Daarom verteer die vloek die aarde” (Jesaja 24:4-6). Die profeet Hosea praat van ’n soortgelyke situasie: “Daarom treur die land, en alles wat daarop woon, kwyn weg: die wilde diere van die veld en die voëls van die hemel, ja, ook die visse van die see kom om” (Hosea 4:1-3). Wat is die oorsaak? “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jý die kennis verwerp het ... omdat jy die wet van jou God vergeet het” (Hosea 4:6). Die apostel Johannes openbaar dat God die uitbuiting en vernietiging van Sy skepping nie ligtelik beskou nie. Met Jesus Christus se wederkoms na hierdie aarde sal een van die eerste dinge wat Hy sal doen, wees “om die verderwers van die aarde te verderf” (Openbaring 11:15-18).

Hoekom dring die Bybel egter aan op sulke streng strawwe vir die uitbuiting en besoedeling van die aarde en sy hulpbronne? Die Skrif openbaar dat God die mens heerskappy gegee het oor die aarde se lewende wesens, insluitend “die visse van die see” (Genesis 1:28). Die mens is aangesê om dit saam met die lewende wesens daarop, “te bewerk en te bewaak” soos wyse opsigters van God se skepping (Genesis 2:15). Deur die uitbuiting van die aarde en sy skepsele vir kommersiële gewin, en die planeet en sy ekosisteme te besoedel deur mens-gegenereerde besoedelende stowwe, is die mensdom eerder besig om die omgewing en die hulpbronne wat God geskep het om menslike lewe te onderhou, sistematies te vernietig – in direkte verontagsaming van ons Godgegewe verantwoordelikheid om die aarde te versorg.

Die alwyse God van die Bybel het die aarde en sy ekosisteme ontwerp om volgens natuurlike wette te funksioneer (Spreuke 3:19-20). Wanneer daardie wette geskend word, sal daar gevolge wees. Die Skrif openbaar dat God sal toelaat dat hierdie toenemende wêreldwye gevolge, aan mense belangrike lesse leer. God het Hosea geïnspireer om te waarsku: “Ek sal by hom besoeking doen oor sy weë en hom vergeld na sy dade” (Hosea 4:9). Jeremia het soortgelyke profetiese waarskuwings geboekstaaf: “Het jou verlating van die Here jou God in die tyd toe Hy jou op die pad gelei het, jou dit nie berokken nie? ... Jou eie boosheid sal jou tugtig, en jou afkerighede sal jou straf” (Jeremia 2:17-19).

Alhoewel God mense sal toelaat om die gevolge van hulle onbeteulde ontginning en besoedeling van die oseane te maai, het Hy ook ’n plan vir die herstel van die aarde en sy hulpbronne (Handelinge 3:19-21). Bybelseprofesieë onthul dat wanneer Jesus Christus na die aarde terugkeer om die Koninkryk van God te vestig, die woestyne van die wêreld sal “bloei soos ’n narsing” (Jesaja 35:1), die besoedelde waters van die oseane sal gesond word (Esegiël 47:8) en “die rykdom van die see gaan na jou toe” (Jesaja 60:5). Sommige van hierdie herstellende veranderings sal plaasvind deur God se bonatuurlike ingryping, terwyl ander sal volg wanneer mense in die Millennium sal leer om die aarde te bestuur volgens God se wette wat ontwerp is om die ekosisteme in staat te stel om lewe op hierdie planeet te ondersteun (Jesaja 2:2-4). Om meer te leer oor hoe die aarde herstel gaan word, bestel gerus ons gratis boekie: The World Ahead: What Will It Be Like?