’n Enorme gevaar wat die voortbestaan van die Westerse samelewing bedreig, is besig om sy kop uit te steek. Dit sal binnekort ’n indrukwekkender en kragtiger uitwerking hê op ons nasies as enige groot aardbewing in die geskiedenis van die mensdom. In eenvoudige terme, is hierdie snelgroeiende gevaar ’n bykans algehele gebrek aan wat die Bybel “die vrees van God” noem.

“Waarom dan opgewonde raak oor hierdie outydse godsdiensidee?” mag u dalk vra. Die antwoord is dat wanneer die mensdom afdwaal van die diep respek vir die konsep – en die gesag – van die Skeppergod, loop dit ’n ernstige gevaar om in anargie te verval en ’n totale verbrokkeling van die sedes van ’n beskaafde samelewing te veroorsaak. Dit loop ook in gevaar om die gramskap van ’n werklike God wat wel bestaan, op die hals te haal, iets wat ons binnekort sal besef wanneer Hy op selfs kragtiger wyse as vantevore in wêreldgebeure gaan ingryp!

In Amerika, Kanada, Brittanje, Australië en Suid-Afrika, het ons reeds amper daardie punt bereik! Dink vir ’n oomblik aan die meer as 40 miljoen ongebore babas wat doodgemaak is in die 30 jaar vandat die Verenigde State se Hooggeregshof aborsie gewettig het. Dit oortref by verre selfs die 6 miljoen Jode wat onder Adolph Hitler se Nazi’s in Duitsland om die lewe gebring is. Wanneer u dit werklik vanuit ons Skepper se oogpunt beskou, is gewettigde aborsies een van die grootste “slagtings” in die mens se geskiedenis.

Wat deesdae aan die gebeur is in Amerika en ander lande van Britse afkoms, is in wese dieselfde as wat in antieke Israel gebeur het nadat hulle hul van God af weggedraai het. Die boek Rigters openbaar ’n vloedgolf van onbeheerste geweld, talle moorde, seksuele gruwels en algemene verwarring en sluit af deur te sê: “In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë” (Rigters 21:25).

Met ander woorde, wanneer die mens begin om sy eie “standaarde van geregtigheid” uit te dink en begin doen “wat reg [is] in sy oë” – dan is groot verwarring, wetteloosheid en chaos uiteindelik die gevolg. U Bybel sê: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spreuke 14:12; 16:25). Mense het verskeie idees wat reg “blyk” te wees. Jesus het egter gesê: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4).

Al die belydende Christenkerke en leraars weet dat dit Jesus se fundamentele leerstelling is om volgens elke woord van God te leef. Waarom volg hulle dan nie hierdie duidelike leerstelling nie? Waarom is dít wat hulle verkondig, lynreg in teenstelling met die geïnspireerde opdrag van Christus aangaande homoseksualiteit, aborsie en ’n rits ander kwessies? Waarom volhard hulle daarin om hulself “Christene” te noem en weerspreek tog regstreeks dosyne duidelike leringe van die werklike Stigter van die Christendom?

Waarom?
In alle eerlikheid doen hulle dit omdat God vir die meeste van hulle “onwerklik” is. Vir baie mense, insluitende party hoogs geleerdes by Universiteite en kweekskole van die wêreld, is Hy ’n onwerklike of vae intellektuele begrip. Om dit eenvoudig te stel, hulle het nie wat die Bybel “die vrees van God” noem nie.

Die geïnspireerde boek Spreuke sê: “Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug” (Spreuke 1:7). Verder: “Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand” (Spreuke 9:10). Ware kennis, wysheid en begrip vloei alles uit ’n diep bewustheid en ’n ontsag en diep respek vir die Skepper van die hemel en die aarde – die Heer en Lewegewer. Sonder hierdie diep respek vir die ware God, strompel die mensdom bloot rond in die duisternis van verwarring, vleeslike begeertes en die intellektuele ydelheid van baie mense wat daarvan hou om met verskillende idees te eksperimenteer wat hul eie intellek prikkel!

Die mensdom het dit bitterlik nodig om tot ’n diepe bewuswording en waardering te kom vir die grote God wat lewe aan almal gee en wat nou die opkoms en ondergang van nasies bepaal asook in breë trekke die beloop van die mensdom se sake. Ons het egter ons rug gekeer op daardie ware God, dus het Hy Sy rug op ons gekeer!

Slegs ’n paar jaar gelede, het ’n Gallup meningsopname bevind dat daar ’n groot mate van “geloofsverdraagsaamheid” onder die meeste Amerikaners bestaan. Baie hiervan is te wyte aan die feit dat mense nie werklik seker is wat om te glo te midde van die geloofsverwarring rondom hulle nie. ’n Artikel in die U.S. News and World Report van 6 Mei 2002 lui: “Gallup sê dat die hoë vlak van godsdiensverdraagsaamheid deels ‘nie net ’n onkundigheid van ander gelowe weerspieël nie maar ook onkundigheid van elkeen se eie geloof’. In sekere opnames, sê hy, ‘is daar Christene wat sê: “Ja, Christus is die enigste weg” en ook: “Ja, daar is baie paaie na God”. Dit is nie dat Amerikaners nie in enigiets glo nie, hulle glo eerder in alles’”.

Wanneer mense “alles” glo, lei dit tot verwarring en onsekerheid en doen hulle wat reg is in “hul eie oë”. Die apostel Paulus was geïnspireer om ons byna 2,000 jaar gelede te waarsku: “Want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Timotheus 4:3-4). Hou in gedagte dat Paulus Timotheus pas beveel het: “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (verse 1-2). 
Tog, in plaas daarvan om die woord te verkondig, is baie hedendaagse beleide Christenleraars aan die rondkyk om te sien watter kant toe die wind waai en preek dan wat “polities korrek” is!

Het u geweet dat, wanneer ’n mens die trappe van die gebou bestyg wat die Amerikaanse Hooggeregshof huisves (naby die bokant van die gebou) daar ’n ry van die wêreld se wetgewers is? Elkeen van hulle is na die figuur in die middel gerig, wat op sy beurt met ’n vol vooraansig vorentoe kyk. Hulle kyk na Moses wat die Tien Gebooie vashou! Het u geweet dat, soos mens die Hooggeregshof binnegaan, die Tien Gebooie op die onderste gedeeltes van die twee groot eikehoutdeure gegraveer is? Het u geweet dat, wanneer ’n mens binne-in die hof sit, die Tien Gebooie op die muur reg bokant die regter uitgebeeld word? Het u geweet dat James Madison (die vierde president van die VSA wat bekend was as die “Vader van die Konstitusie”) gesê het: “Ons het al ons politiese instansies gebaseer op die mensdom se vermoë om homself te regeer en op die vermoë van ’n ieder en ’n elk van ons om onsself te kan regeer, te beheer en onsself te onderhou in ooreenstemming met die Tien Gebooie van God”.

Hoe ver het ons nie al gekom nie! Hoe ver het die Amerikaners, Kanadese, Britte en Suid-Afrikaners nie al gedaal van die diep respek wat ons in die verlede getoon het vir die grote God wat ons lewe gee nie! Ons “vrees vir God” is bykans weg!

’n Bietjie meer as 70 jaar gelede het Calvin Coolidge, toe president van die VSA, gesê: ’n Fontein sal ophou vloei as die bron opdroog; ’n boom sal wegkwyn as sy wortels vernietig word. In die breë gesien, is die Verklaring van Onafhanklikheid ’n groot geestelike dokument. Dit is ’n verklaring van geestelike en nie fisiese idees nie. Gelykheid, vryheid, onafhanklikheid en menseregte – is nie fisiese elemente waaraan ons kan vat nie, maar ideale, waarvan die oorsprong en wortels in geloofsoortuigings is. Hulle is deel van die onsigbare wêreld. As die geloof van die Amerikaanse volk nie in hierdie geloofsoortuigings volhard nie, sal die beginsels van die Verklaring van Onafhanklikheid vergaan. Ons kan nie voortgaan om die resultate te geniet as ons die oorsaak nalaat en opgee nie” (klem ons eie).

Dit is uiters belangrik dat elkeen van u intekenare ten volle besef dat ons hele span skrywers en redigeerders hier by Tomorrow’s World beslis in ’n ware God glo. Ons glo vas in en het aan onsself die goddelike inspirasie van die Bybel bewys. U moet weet dat ons dikwels alleen sal staan wanneer ons sekere belangrike waarhede van die Bybel, van God se leefwyse en van God se massiewe ingryping in die mens se sake wat sal plaasvind, aan u oordra, indien ons nasies hulle nie opreg bekeer nie. Ons hoop en bid dat elkeen van u ons artikels noukeurig en met ’n oop gemoed sal lees en dat u aan uself die bestaan van ’n ware Skeppergod én die feit dat die Skrif geïnspireer is, sal bewys. Daarbenewens hoop ons dat u die fisiese en geestelike energie aan die dag sal lê om “na te slaan” wat die Bybel werklik sê en dat God u die moed sal gee om op Sy Waarheid te reageer.

Indien u ooit persoonlike hulp, persoonlike raadgewing of ’n besoek by u huis of kantoor verlang, skryf of skakel asseblief en laat ons weet. Ons het verteenwoordigers naby die meeste groot stede regoor die wêreld. Een laaste nota: As daar een enkele letterkundige stuk is wat die beste opsom hoe ons in hierdie Werk anders is en wat u te doen staan, is dit ons insiggewende boekie, Hervestig die Christenskap van die Apostels. Indien u dit nog nie reeds gedoen het nie, sorg dat u vandag nog skakel of skryf vir u gratis kopie.