Heeldag, elke dag, klets ons “innerlike stem” met ons in ’n monoloog in ons gedagtes. Hierdie “bespreking” kan positief óf negatief wees en dit beïnvloed ons lewens op baie wyses waaroor ons dalk nie eers altyd dink nie.

Sielkundiges noem dit “selfspraak”. Dit is iets wat ons almal doen en navorsing toon dat dit interessante gevolge kan hê – ten goede of ten kwade. Ons sê dalk vir onsself: “Jy kan dit doen!” Ons mag dalk vir onsself sê: “Jy het geen opsies nie, geen kans op sukses nie. Jy sal misluk”. Die aanname van nederlaag beperk die uitslag.

Atlete maak gebruik van selfspraak om hulle prestasie te verbeter, deur brein-oefeninge te gebruik om hulle gedagtes en liggame te “programmeer” om aksies, soos om ’n tennisbal af te slaan, om oor hekkies te spring of ’n mededingende duik uit te voer. Ek het met groot belangstelling dopgehou hoe ’n Olimpiese hoogspringer sy kop tydens ’n “selfgesprek” knik terwyl hy in sy verbeelding “sien” hoe hy suksesvol deur elke beweging gaan wat nodig is om die sprong behoorlik uit te voer om oor die dwarslat te seil.

Ek het ook al gesien hoe ’n professionele gholfspeler negatiewe selfgesprek voer en daarmee sy prestasie saboteer. Hy het homself “van stryk gebring” en toegelaat dat negatiewe “selfspraak” hom laat misluk.

Die tegniek van positiewe selfspraak is bekend daarvoor dat dit ’n atleet se prestasie verbeter of dit nou op die baan, veld, skihelling of duikplank is. Atlete gebruik hierdie tegniek om te “sien” hoe hulle hul fisiese aksies korrek en suksesvol uitvoer voor hulle pogings. Hulle sê vir hulself om hulle kop af te hou, arms reguit, vou en draai met die knieë teen mekaar en nog baie meer.

 

’n Persoon is wat hy/sy self dink

Daar is ’n Bybelse beginsel by hierdie tegniek betrokke wat ons gerus kan probeer volg. Dit gaan nie daaroor om groot dinge deur ons eie krag of poging of dalk deur een of ander denkwyse te bereik nie, maar om ’n behoorlike ingesteldheid te hê.

Ons ís wat ons dínk. Ons lees dat “soos hy in sy siel bereken, so is hy” (Spreuke 23:7). Professionele atlete beheer nie net hulle fisiese dieet nie – dit wat hulle eet nie – maar ook hulle geestelike dieet. Hulle oefen hulle denke sowel as hulle liggame. Hulle oefen hulle denke sowel as hulle spiere.

Net so moet diegene wat Jesus Christus volg, hulle denke beheer. Die apostel Paulus het die Christelike lewe vergelyk met dié van ’n atleet: “Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal. En elkeen wat aan ’n wedstryd deelneem, onthou hom in alles” (1 Korinthiërs 9:24-25).

Wat ons ons verstand voer en wat ons onsself toelaat om te dink, is lewensbelangrik. Ons geestelike dieet bestaan uit wat ons sien, lees en hoor en wat ons toelaat dat ons eie verbeelding ons voed deur selfspraak. Die televisieprogramme, die radioprogramme, die woorde van die musiek wat ons hoor en wat ons lees, is ons geestelike “voedsel”.

Paulus het ook ’n Christen se lewe vergelyk met dié van ’n soldaat in oorlogvoering en geskryf, “want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Korinthiërs 10:4-5). Dit verg geestelike inspanning en dissipline om ons gedagtes te beheer en die regte soort denke te beoefen.

Om ’n gesonde geestelike dieet te hê, behoort ons Paulus se raad te volg: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit” (Filippense 4:8).

Praat positief met uself. Weet nogtans ook dat u met God kan praat en Sy woorde is die positiefste van almal s’n. Indien u dit nog nie gedoen het nie, lees asseblief ons gratis studiegids Twaalf Sleutels tot Verhoorde Gebed. U sal dit aanlyn vind by wvm.co.za en u kan ook ’n gratis gedrukte eksemplaar aanlyn of by die streekkantoor naaste aan u bestel.