Ondervinding is nie die beste leermeester nie Daar is sekerlik waarde in ondervinding, maar met behoorlike instruksie kan ons ons kinders waardevolle lesse leer sonder om hulle oor te laat aan ’n pynlike lewe .

Daar is ’n algemene beskouing dat ondervinding die beste leermeester is. Daar is beslis waarde in ondervinding. Vanaf die oomblik van ons geboorte, vestig die dinge wat rondom ons leefwêreld en met ons gebeur, ons bewussyn met die werklikheid. Ondervinding word ons leermeester en dit is ’n baie kragtige leermeester. Saam met ons omgewing en ons genetiese samestelling vorm ons ervarings, die lens waardeur ons ons wêreld sien. Indien ons egter slegs deur ondervinding kan leer, is ons bestem om ’n pynlike lewe te lei.

Ons sien dat dit ook in die Skrif weerspieël word. Josua het die kinders van Israel in Sigem bymekaargemaak kort voordat hy gesterf het en hy het hulle leiers herinner aan dit wat hulle ondervind het toe God hulle uit slawerny uit Egipte gelei het. Hy het gesê: “Toe Ek julle vaders uit Egipte uitgelei het, het julle by die see gekom; maar die Egiptenaars het julle vaders agternagejaag met strydwaens en perderuiters na die Skelfsee toe; maar hulle het die Here aangeroep, en Hy het ’n duisternis gestel tussen julle en die Egiptenaars en die see oor hulle laat kom, sodat dit hulle oordek het, en julle eie oë het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het. Daarna het julle baie dae in die woestyn gebly” (Josua 24:6-7).

Die getrouheid van Josua se geslag kan ten minste gedééltelik toegeskryf word aan wat hulle gesien en gehoor het nadat hulle uit Egipte vertrek het. Hulle het God se hand daarin gesien toe Hy die trots van Egipte deur middel van plae verbreek het. Hulle het op droë grond deur die Rooi See gestap terwyl God die waters regs en links van hulle opgedam het. Hulle het gesien hoe water uit ’n rots spuit, terwyl God hulle dors in ’n droë land geles het. Die gevolg van hulle ouers se ervaring het egter ook gelei tot weerstand teen God se instruksies asook rebellie teen Hom en het selfs ongebreidelde afgodery ingesluit. Die gevolge van daardie optrede vir hulle ouers was dat hulle in die woestyn moes sterf – sonder om ooit ’n voet te sit in die land wat God aan hulle wou gee.

Wat het God vir die Israeliete begeer? Wou Hy hê dat hulle die bitter vrugte van hulle ervarings moes pluk? Hier is wat Hy aan Moses gesê het: “Ag, as hulle maar so ’n hart gehad het om My te vrees en al my gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan” (Deuteronómium 5:29).

Was dit God se doel dat hulle moes leer deur elke moontlike fout te maak? Glad nie. Hy het voortgegaan: “Sorg dan dat julle doen soos die Here julle God julle beveel het; julle mag nie regs of links afwyk nie” (Deuteronómium 5:32).

Terug na die begin

God het aan die eerste mens, Adam, die vermoë gegee om uit Sy ondervindings te leer. God het egter ook van Adam verwag om volgens instruksies te leer. “Toe het die Here God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. En die Here God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Génesis 2:15-17).

’n Mens kan ook uit onderving leer wanneer ons ongehoorsaam is aan God se opdrag, soos ons sien toe Satan vir Eva versoek en mislei het deur te sê: “Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken” (Génesis 3:4-5). Wat was haar aanvanklike reaksie? “Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ’n lus was vir die oë, ja, ’n boom wat ’n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet” (Génesis 3:6).

Volgens hulle ondervinding was die vrugte goed, al het God hulle beveel om dit nié te eet nie. Volgens hulle ervaring tot dusver was God nie betroubaar nie. Nadat die volle gevolge van hulle besluit geopenbaar is, het Adam en Eva onherroeplik geleer dat God se instruksies wél akkuraat is.

Is ondervinding dus die beste leermeester? Nee. Behoort ervaring deel te wees van hoe ons en ons kinders leer? Ja – ons behoort te leer uit ons ondervinding asook ander mense se ondervinding. Wat ook uiters belangrik is, is hoe ons geleer word. Aan die begin van die boek Spreuke, lees ons die volgende:

“DIE spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, om wysheid en tug te ken, om woorde van insig te verstaan, om aan te neem tug wat verstandig maak, geregtigheid en reg en regverdigheid; om aan die eenvoudiges skranderheid te gee, aan die jongeling kennis en oorleg; laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder, en die verstandige sal verstandige gedagtes verkry, om ’n spreuk en beeldspraak te verstaan, die woorde van die wyse manne en hulle raaisels. DIE vrees van die Here is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug” (Spreuke 1:1-7).

In die Bybel vind ons ’n volhoubare tema: Kennis, wysheid en begrip kom deur onderrig. Die grondslag van akkurate kennis is ’n vrees vir God en eerbied vir Sy openbaring. Wanneer ons wys is, sal ons die dinge wat ons ervaar binne die raamwerk van God se instruksies beskou.

Instruksie asook ondervinding

Hoe is dit van toepassing wat betref ons opdrag om ons kinders te onderrig en op te voed?

Nadat God die kinders van Israel uit Egipte gebring het, het Hy hulle beveel om die gebeure te herdenk wat hulle so pas aanskou en beleef het. Hy het ondervinding met instruksies gepaard laat gaan – in hierdie geval was dit instruksies wat hulle veronderstel was om aan hulle kinders te gee. Hy het gesê: “En jy moet jou seun op dié dag vertel en sê: Dit geskied ter wille van wat die Here aan my gedoen het toe ek uit Egipte uitgetrek het. En dit moet vir jou as ’n teken wees op jou hand en ’n gedenkteken tussen jou oë, sodat die wet van die Here in jou mond mag wees; want deur ’n sterke hand het die Here jou uit Egipte uitgelei” (Exodus 13:8-9).

Die kinders van Israel is geleer wat die betekenis is van wat hulle en hulle voorvaders beleef het. Dit is ’n voorbeeld wat ons behoort te volg. Ouers, maak tyd om met u kinders te praat oor wat hulle elke dag beleef het. Beklemtoon die goeie dinge en verduidelik waarom die slegte dinge verkeerd is. Boonop help dit om ons kinders vroegtydig te onderrig en hulle te help om pynlike ervarings te vermy wat hulle lewenslank skade kan berokken.

In die boek Deuteronómium lees ons dat God die Israeliete beveel het om hulle kinders van Sy weë te leer:

“Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die Here onse God so dikwels as ons Hom aanroep? En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou? Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak” (Deuteronómium 4:7-9).

Vanaf Adam se tyd dring die mens daarop aan om te leer deur die toets-en-tref-metode deur ondervinding in afwesigheid van God se opdrag. U en ek behoort te leer dat ons méér as net ondervinding nodig het. Ons het God se instruksies nodig om ’n suksesvolle lewe te lei. Ons kan op dieselfde manier met ons kinders werk en goddelike onderrig by hulle ondervinding byvoeg.

Ondervinding is nié die beste leermeester nie, maar wanneer dit deur God se Woord versterk word, kan dit baie effektief wees.