Namate die einde van hierdie era nader, is dit absoluut noodsaaklik dat u en u geliefdes in pas is met die God van die Skepping. Hy is die enigste Een wat u waarlik kan beskerm en lei deur die traumatiese jare wat voorlê. U vriende, familie en andere mag behulpsaam wees en u sterkte toewens – maar slegs die Almagtige, God die Skepper wat die Bybel geïnspireer het, kan u teen die groot slagting wat voorlê, beskerm. Daarom is dit absoluut noodsaaklik dat u die volle Waarheid omtrent die weg van God leer.

Die meeste van u wat nou hier lees, wil waarlik die God van die skepping aanbid. U wil Jesus Christus eer en Hom dien op die manier wat Hy verlang. U mag egter ernstig deur ander mense mislei gewees het, mense wat u nie reg geleer het hoe om na God te soek en Hom te dien nie. Het u die intellektuele en geestelike eerlikheid – asook die moed – om dit objektief te oorweeg?

Miljoene opregte belydende Christene besef eenvoudig nie dat hulle idees en tradisies aanhang en beoefen wat in algehele teenstelling is met wat Jesus Christus onderrig en beoefen het nie. Onwetend, sonder enige twyfel, is die meeste van u wat nou hier lees ook onder hierdie indruk.

Wanneer u die Bybel toelaat om homself te vertolk, kom hierdie standpunt baie duidelik na vore. Is u persoonlik gewillig dat die Bybel u meedeel oor die toestand van hierdie wêreld en selfs die godsdiensgesteldheid van baie van diegene wat daarop aanspraak maak dat hulle Jesus Christus volg? God inspireer die apostel Paulus om ons te waarsku teen Satan, die duiwel – die “slang” wat Eva aan die begin mislei en die mensdom van God weggelei het: “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Korintiërs 11:3-4).

Vandag is daar allerlei benaderings tot sogenaamde “Christenskap”, wat wissel van die “New Age” denkwyse tot Rooms-Katolieke, tot hiper-emosionele “charismatiese” groepe. Hoewel almal die term “Jesus” in hul aanbidding gebruik, het hulle dikwels ’n heeltemal verskillende begrip van waarvoor Jesus eintlik gestaan en wat Hy onderrig het. Op ’n manier aanbid elke persoon ’n “ander” Jesus. Elkeen verkondig ’n “ander evangelie”. Elkeen sal dikwels menslike tradisies en idees navolg eerder as die duidelike leerstellings van die Almagtige God in Sy geïnspireerde Woord.

Jesus verwys na hierdie situasie toe Hy die Fariseërs vermaan vir hul beklemtoning van menslike tradisies in teenstelling met die Wet van God. Ter beskrywing van hoe hul tradisies veroorsaak dat hulle nie hul vader en moeder eer nie, sê Jesus: “So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering. Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Mattheus 15:6-9).

Die meeste van die Fariseërs het vroom voorgekom. Hulle het gedink dat hulle die God van die Ou Testament aanbid – wat eintlik toe in die menslike vlees reg voor hulle as Jesus Christus, die “Woord”, gestaan het. Hulle het Hom egter “tevergeefs” aanbid, omdat hulle “leringe” en “gebooie van mense” navolg. Daarom is dit dus moontlik, volgens Jesus Christus Self, om Hom tevergeefs te aanbid.

Opregtheid is NIE genoeg nie

Sommige mense sal beswaar maak: “Maar gaan alle ‘opregte’ Christene nie dieselfde geleentheid op die ewige lewe hê nie?” Wat sê die Christus van u Bybel in werklikheid?: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mattheus 7:21-23).

Let daarop dat sommige mense wat Jesus hul “Here” noem, nie toegang tot die Koninkryk van God verleen sal word nie, omdat hulle – weens misleiding of verleiding – “wetteloosheid” beoefen! Baie mense is mislei om net op die Persoon van Jesus Christus te fokus en nie op die begrip van wat Hy eintlik onderrig het nie, naamlik op gehoorsaamheid aan die wette van God, soos Hy gereeld alle Christene gebied het om te doen!

Glo my, vriende, ek verstaan! Ek het in ’n toonaangewende Protestantse kerk grootgeword en was leier van my Sondagskoolklas. Ek het gereeld op Sondag kerk toe gegaan, Kersfees en Paasfees gevier en die “familiebande” geniet wat met elk van hierdie praktyke gepaard gaan.

Jare later het ek egter begin verstaan dat die Bybel duidelik bedoel wat dit sê oor die “duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei [mislei]” (Openbaring 12:9). Ek het gelees dat die apostel Paulus die Korintiërs waarsku: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Korintiërs 4:3-4).

Na diepe nabetragting en ure van gebed en Bybelstudie, het ek begin verstaan – uit die honderde duidelike Skrifgedeeltes in die Bybel – dat ek mislei is!

Dui hierdie teksverse aan dat wanneer die “hele wêreld” mislei is, dit “almal behalwe u” beteken? Het Satan op slinkse wyse tallose miljoene mense mislei – maar op ’n manier u en u familie uit hierdie grootskaalse misleiding uitgesluit?
Dink asseblief na hieroor!

Dit is opmerklik dat talle kenners erken dat die algemene “Christendom” vandag heeltemal afgedwaal het van die fundamentele leringe van Jesus Christus en die vroeë Apostels – en ’n heeltemal verskillende lewenswyse daargestel het wat hulle steeds “Christelik” noem. Bekende geleerdes en leidende Christengeskiedkundiges erken die diepliggende verandering wat plaasgevind het. Let op die volgende treffende vertaalde aanhaling uit The Decline and Fall of the Roman Empire – wat lank reeds erken word as ’n gesaghebbende werk oor hierdie tydperk. Edward Gibbon skryf: “Die eerste vyftien biskoppe van Jerusalem was almal besnede Jode en die gemeentes waaroor hulle aangestel is, het die wette van Moses met die leerstellings van Christus vereenselwig” (volume 1, bl. 389). Dit is waarlik ’n merkwaardige stelling! Dit is ’n duidelike bewys oor baie geslagte heen dat die Apostels en ander Christenleiers – deur die lewende Jesus Christus (Mattheus 28:20) – gelei is om voort te gaan om die wette van God te onderhou en dit as ’n lewenswyse te beklemtoon.

Gibbon gaan voort: “Vir ’n kerk wat 40 dae na Christus se dood gevestig is en daarna vir ongeveer 40 jaar onder die toesig van God se apostel was, is dit net ’n natuurlike uitvloeisel dat die oorspronklike tradisies van die Kerk as die standaard beskou is. Die afgeleë gemeentes het hul dikwels op die gesag van hul eerbiedwaardige Moederkerk beroep en het haar laste verlig deur bydraes te maak met aalmoese” (Gibbon, bl. 389). Weereens toon Gibbon dat die Kerk van God in Jerusalem tydens die vroeë Christendom vir ’n paar geslagte die Moederkerk was en na opgesien is vir die “standaard” van die kerkleer.

Die vroeë Christene het nie na Rome nie, maar na Jerusalem opgesien vir die leierskap!

Indien ons eerlik is, moet ons onsself afvra aan wie die gesag gegee is om die leringe van Christus en die oorspronklike Apostels te verander wat deur God se Gees gelei is om ware Christene in hierdie lewenswyse te onderrig?

HOE die afvalligheid begin het

Gibbon merk op: “Die Joodse bekeerlinge, of Nasareners, soos hulle later genoem is en wat die fondamente van die Kerk gelê het, was spoedig oorweldig deur die toenemende menigtes van die verskeie godsdienste wat veelgodery beoefen het en wat ook nou onder die vaandel van Christus opgetree het” (ibid.) Gibbon verduidelik dat namate hierdie politeïstiese heidene die naam “Christendom” oorgeneem het, dit op ’n manier verander en heeltemal verwyder is van die grondslag wat Christus en die oorspronklike Apostels gelê het!

In sy wyd gepubliseerde en hoogs gerespekteerde handleiding oor kerkgeskiedenis, sê Jesse Lyman Hurlbut: “Vir vyftig jaar na Paulus se lewe is daar ’n sluier oor die Kerk getrek waardeur ons tevergeefs strewe om insig te bekom; en uit die geskrifte van die vroegste kerkvaders in ±120 n.C. toe die Kerk uiteindelik weer “verskyn”, vind ons ’n kerk wat in menige aspekte hemelsbreed verskil van die Kerk in die dae van Petrus en Paulus” (Story of the Christian Church, bl. 41).

Die belydende Christenkerk – onder leiding van die vroeë “Katolieke Vaders” gedurende die Middeleeue het baie verskil, omdat dit die basiese leringe van Jesus en die oorspronklike Apostels heeltemal versaak het. Dit versaak die duidelike klem vir gehoorsaamheid aan die Tien Gebooie as lewenswyse. Toe verskyn die Protestante hervormers op die toneel en volg, moontlik onwetend, dieselfde benadering van versaking van die gesag van die Tien Gebooie in ons Christenlewens. Geskiedenis toon dat grootskaalse anti-semitisme voorgekom het en dat dieselfde wette wat deur God se hand gegee is, as “Joods” beskou en “onnodig” is vir Christene om na te volg.

Met hierdie perspektief in gedagte, let noukeurig op een van die basiese Skrifgedeeltes van die hele Bybel in die “Bergpredikasie”. Jesus sê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele” (Mattheus 5:17-19). Selfs die “minste” van die gebooie moet – volgens Jesus Christus – gehoorsaam word vir iemand om as groot in God se oë beskou te word.

Dit is duidelik dat Jesus hier van die Tien Gebooie praat, want in die res van hierdie Skrifgedeeltes bespreek Jesus die groot geestelike Wet van God, die Tien Gebooie. Hy verwys na moord – wat in die sesde gebod verbied word. Dan bespreek Hy “haat” wat dikwels tot moord lei. In verse 27-28 verwys Jesus regstreeks na die sewende gebod: “Jy mag nie egbreek nie”. In verse 28-32 beskryf Hy hoe Christene moet vermy om selfs die gees van die wet te verbreek deur met wellus na iemand te kyk.

Indien ons die Bybel toelaat om homself te vertolk, is dit duidelik dat Jesus Christus die Tien Gebooie selfs meer bindend maak op die Nuwe-Testamentiese Christene as wat dit in die verlede was. Christene moet hul lewens ten volle aan Christus oorgee, sodat Hy in ons kan leef deur die krag van die Heilige Gees (Galasiërs 2:20). Toe ’n jongman Jesus vra: “Watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê?” antwoord Jesus: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheus 19:16-17). Daarna noem Jesus sommige van die Tien Gebooie!

In teenstelling met die teologiese argumente en verdraaide redenasies van so baie Bybelkommentators, verwys Jesus nie na die “seremoniële” of “rituele” wette van Moses nie! Hy sê dat Sy ware volgelinge die groot geestelike Wet van God, die Tien Gebooie, moet gehoorsaam. Dit was die Wet – die enigste Wet – wat God in Sy eie stem van die berg Sinaï af gegee het: “Met hierdie woorde het die HERE julle hele vergadering op die berg, uit die vuur, die wolk en die wolkedonkerheid met ’n groot stem toegespreek, en niks meer nie; en Hy het dit op twee kliptafels geskrywe en dit aan my gegee” (Deuteronomium 5:22).

God het selfs opdrag gegee dat hierdie kliptafels in die verbondsark geplaas moes word, in die “Allerheiligste” wat Sy verheerlikte troon in die hemel verteenwoordig. Geen ander wet of onderwysing is in so ’n heilige lig beskou nie! Die Tien Gebooie is nie blote “sedewette”, soos sommige misleide kenners verkondig nie. Dit is die regstreekse, “handgeskrewe”, geestelike Wet van die groot Skepper van die hemel en die aarde! Waarom dring so baie belydende Christenleraars en skrywers daarop aan dat dit op ’n manier mee “weggedoen” is en nie meer nodig is nie?

Die oorspronklike Christenskap van Christus

Indien u ’n kykie sou kry op die aanbidding en doen en late van Christus self en die oorspronklike Christenkerk, sou u ’n groep toegewyde mense vind wat werklik probeer het om Jesus se onderwysing na te volg: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). Pleks daarvan om die “Dag van die Son” te onderhou sou Jesus en Sy volgelinge die ware Sabbat onderhou wat God vir die hele mensdom gegee het, want hierdie dag dui op God as die Skepper en onderskei Hom op hierdie wyse van al die “gode” wat mense oor die eeue vorendag mee gekom het. Jesus en Sy volgelinge het die Bybelse Heilige Dae wat op God se groot Plan dui onderhou en doen dit steeds. Hierdie dae is deurlopend onderhou, nie net deur Christus nie, maar ook deur al die Apostels. Ons vind verwysings hierna in Jesus se onderhouding van die Loofhuttefees (Johannes 7:1-14) en Sy onderhouding van die Pasga (Markus 14:14). Onthou dat die Heilige Gees aan die vroeë Christene gegee is op een van God se Heilige Dae, naamlik Pinkster (Handelinge 2), ’n dag wat die Christenkerk en die apostel Paulus self gereeld onderhou het (Handelinge 20:16; 1 Korintiërs 16:8).

Dit is duidelik dat die vroeë Christene almal hul lewens gebaseer het op die groot geestelike Wet van God, naamlik – die Tien Gebooie. Hulle het probeer om “van elke woord van God” te leef. Hulle het nie net sentimenteel oor Jesus Christus as Persoon gepraat nie; hulle het ook Sy boodskap eerbiedig. Wanneer hulle van “die Here Jesus Christus” gepraat het, erken hulle dat die woord “Here” “Baas” beteken – die Een wat jy moet gehoorsaam! Jesus herinner hulle aan hierdie noodsaaklike verhouding in baie Skrifgedeeltes, insluitend Lukas 6:46: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?”

Ter uitbreiding van God se wet in die Bergpredikasie, sê Jesus: “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe omrede van hoerery, maak dat sy egbreuk pleeg, en elkeen wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk” (Mattheus 5:32). Vandag skei miljoene belydende Christen paartjies egter om bykans enige rede! Miljoene kerkgangers vertel gereeld leuens, is skelm, pleeg egbreuk en is hedonisme, geweld, wellus en die aanvaarding van bykans elke perverse vorm van gedrag bekend aan die mens ’n integrale deel van ons moderne samelewing!

Die apostel Paulus is geïnspireer om ons te waarsku: “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Korintiërs 6:9-10).

Die ware Christenskap van Christus is ’n lewenswyse! Dit bestaan uit ’n mens se volle oorgawe aan God, om die Jesus Christus van die Bybel as Verlosser en Meester te aanvaar – en om jouself oor te gee aan Hom om Sy lewe in ons te leef deur die krag van die Heilige Gees. God se Woord sê immers: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). So sal Jesus vandag in ons dieselfde soort gehoorsame lewe leef wat Hy bykans 2,000 jaar gelede in die menslike vlees geleef het.

Die apostel Paulus sê dan ook: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20). Die ware Christus van die Bybel sal in ons leef, mits ons ons oorgee en Hom aanvaar as beide Verlosser en Heer. Dan is dit nie die fisiese persoon wat God se gebooie deur sy eie krag onderhou nie; dit is die lewende Jesus Christus in ons! Daarom sê Paulus: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Filippense 4:13).

Die Wederkoms van die Christus van die Bybel as Koning sal moontlik nog in hierdie geslag plaasvind (Openbaring 11:15). Sy ware Heiliges word so beskryf: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar” (Openbaring 14:12).

Omdat hulle waarlik gehoorsaam was aan God se wette, sal hierdie “oorwinnaars” by Christus aansluit in heerskappy oor die nasies hier op aarde (Openbaring 5:10). Daarom lees ons in God se Woord: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:2-4).

In hierdie regering van God op aarde, wat binnekort gevestig sal word, sal daar geen geredekawel en argumente wees of ons God se ewige, geestelike Wet, die Tien Gebooie, moet gehoorsaam al dan nie. Die Tien Gebooie sal die basis van die ganse kultuur en lewenswyse vorm. Daar sal geen oorlog meer wees nie. Die samelewing sal van pornografie, perversie en onwettige dwelms wegskram. Armoede en siekte sal bykans verdwyn. Daar sal bykans geen egskeiding wees nie, want amper almal sal ware ontsag vir God hê en Hom in alle fasette van hul lewens eer. Daar sal ’n uitwaartse, stralende geluk en voortdurende innerlike vrede wees, verhewe bo enigiets wat mense ooit ervaar het.

Die sluier van geestelike blindheid sal uiteindelik van alle mense en alle volke weggestroop word: “En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is. Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want die HERE het dit gespreek” (Jesaja 25:7-8).

Dít, is die Christenskap wat die ware Jesus Christus die mense sal leer en in die praktyk op die aarde sal toepas wanneer Hy as Koning van konings terugkeer. Sal u nou begin om hierdie Jesus Christus te soek en te gehoorsaam – die Jesus Christus van u Bybel?

U het nou die geleentheid om uself voor te berei om ’n “pionier” te wees – ’n onderwyser en leier onder Christus in Sy eerskomende Koninkryk. U moet uself egter waarlik oorgee om Hom Sy heilige en gehoorsame lewe deur die Heilige Gees in u te laat leef. U moet waarlik Sy Woord bestudeer en daarop “voed” met hernude bewustheid van wat dit alles behels. U moet voortdurend tot God bid en vra vir geestelike krag en leiding wat u sal nodig hê. Dan moet u “toeneem in genade en kennis” en die Vader en Jesus Christus toelaat om hul goddelike natuur in u te plaas, sodat u vir ewig saam met hulle kan leef en regeer.

Mag God gee dat u die begrip en moed ontvang om presies dit te doen.