Regoor die wêreld is museums ingerig om van die mensdom se grootste kunswerke te bewaar. By die Louvre in Frankryk kan ’n mens deur die sale stap en die talent van Leonardo da Vinci in die gesig van die Mona Lisa ontdek en die vaardigheid van Michelangelo in die gelaatstrekke van sy beroemde standbeeld van Dawid. In dieSmithsonian Institution’s Air and Space Museum in Washington, DC, kan ’n mens voorbeelde van die beste prestasies wat deur die mensdom in die ingenieurswese vermag is, sien.

Tog kan daar geen kunswerk, geen wonderliker vervaardigde toestel as die eenvoudige menslike hand wees nie. Dit mag baie maklik wees om die hand as vanselfsprekend te aanvaar, maar dit is ’n wonder van ontwerp en verteenwoordig die werk, talent en denke van ’n wonderbaarlike ontwerper.

Sir Isaac Newton – ’n geleerde, wiskundige en een van die grootste wetenskaplike denkers in die mensdom se geskiedenis – het inderdaad opgemerk: “In die afwesigheid van enige ander bewys, sou net die duim alleen my van God se bestaan oortuig”.

Omdat ons dit elke dag gebruik, dink ons dalk nie die hand is so merkwaardig nie. Ons het immers tog daarmee grootgeword. Dit is saam met ons en voldoen elke dag aan ons behoeftes. Ons gebruik dit om ons koffie te drink, om iemand op ons selfoon te skakel en om ons skoenveters vas te maak. Ons kan ons hande met iemand anders s’n vergelyk en besluit ons s’n is te klein of te groot, te fyn of te grof.

Die anatomiese feite en getalle alleen is egter genoeg om ons te laat nadink. ’n Normale menslike hand is saamgestel uit 29 beentjies, 29 gewriggies en meer as 100 ligamente, 35 spiere en ’n ontsaglike netwerk van senuwees en aartjies. Net die beheer van die duim alleen, vereis nege afsonderlike spiere en die gelyktydige poging van drie belangrike senuwees in die hand.

’n Ingewikkelde werktuig

Hierdie getalle op sigself is nie wat die hand so verstommend maak nie. Wat ons veral laat dink aan die vernuf van die hand se ontwerp, is wat ons in staat is om metdaardiebeentjies, gewriggies, ligamente, spiere en senuwees te doen.

Die vermoë van die menslike hand is verstommend in sy bekwaamheid om na willekeur ’n skynbaar oneindige hoeveelheid vorms en strukture reg te kry deur die gebruik van sy  behendige vingers. Ongeveer ’n kwart van die gedeelte van die brein wat toegewys is aan beweging, word gewy aan beheer van die bewegings van hierdie voortreflike toestel alleen. Die besondere kombinasie van krag, buigsaamheid, behendigheid en fyn ingestelde motoriese beheer wat vertoon word deur ons twee hande, is ongeëwenaard in die geskape wêreld.

Terwyl baie spiere saamwerk om ons hande te laat beweeg, is dit opmerklik dat – vir al die fantastiese bewegings wat ons vingers kan maak – die vingers self geen spiere het nie! Ons vingers word afsonderlik beweeg – met die fynste beheer en sensitiwiteit – deur senings wat deur hulle geryg is en aan spiere geheg is, wat tot in die voorarmstrek! Die senings in samewerking met die spiere van die hand word getrek soos die toue van ’n marionet in ’n ingewikkelde, gekoördineerde dans – om die groot verskeidenheid bewegings uit te voer waartoe ons hande in staat is.

Die hande is meer as net ’n manier om die wêreld rondom ons te manipuleer – hulle is kragtige sensoriese sintuie, wat ons gebruik deur ons gevoel van aanraking en om te leer van die wêreld rondom ons.

Die vingerpunt

Die menslike vingerpunt is byvoorbeeld ’n sensoriese (gevoels-) toestel met ’n ongelooflike vermoë vir ontdekking – met ’n sensitiwiteit wat die beste menslike ingenieurswese nou eers kan begin ewenaar op die gebied van robotika. Onlangse studies het getoon dat ons vingerafdrukke – unieke patrone op ons vingerpunte – baie meer behels as ’n metode om misdadigers mee te identifiseer. Hulle vermeerder grootliks die vinger se vermoë om sensasie te ervaar deur die hoeveelheid inligting wat na ons brein gestuur word wat betref die tipe oppervlaktes wat ons aanraak en verken. Selfs die vingernael – ’n skynbaar “dooie” weefselmassa – is ’n fyn ingestelde sintuiglike instrument en dra selfs die fynste drukkings en bewegings oor aan ’n netwerk senuwees in die naelvelletjie en naelbed. Dit stel die brein in staat om ’n akkurate beeld te skep van dit wat die vingernael aanraak.

Dit is dan geen verrassing dat die skepping van ’n mensgemaakte kunsmatige hand een van die mees ontsagwekkende ontwerpers-uitdagings vir robotika-ingenieurs is nie. Die menslike hand weerspieël ’n wonder van ontwerp en ingenieurswese. Neem in ag dat dieselfde hand waarmee ’n grofsmid sy hamer kan vashou om dit met kragtige dryfkrag te swaai, ook sag en sensitief genoeg is om die teenwoordigheid van ’n enkele menslike haar op ’n gladde oppervlak te voel en om dit op te tel. Die hand is in staat om ’n waterdigte bakkie te vorm om ’n slukkie water uit ’n bergstroom te skep, of om toe te vou in ’n stywe vuis wat as slaanding gebruik kan word. Dit is selfs behendig en sensitief genoeg om met toe oë skoenveters te knoop. Dit is ’n “veeldoelige werktuig”, buigsaam en geskep om ’n onbeperkte aantal take te verrig – iets wat geen menslike konstruksie nog ooit naastenby kon ewenaar in sy eenvoud en krag nie!

Die menslike hand is tot merkwaardige behendigheid van krag en uithouvermoë in staat. Dit dien as die bergklimmer se grootste enkele stuk gereedskap en is sterk genoeg om die liggaam se volle gewig vir ’n tydjie te dra deur die krag in die vingers alleen. Dit kan nogtans net so goed die liefde van ’n pasgebore baba se moeder en vader oordra deur middel van die sagste streling en aanraking.

Die vingers is sterk, duursaam en stewig en kan een van die mees bekwame en gedugte grepe van enige wese op aarde vorm. Tog het hulle die vermoê om rats en kunstig behendig te wees, in staat om ’n oënskynlik oneindige hoeveelheid formasies te vorm, tot so ’n mate dat volledige tale, soos gebaretaal opgebou kan word weens hulle buigsaamheid.

Die werk van God se denke

Hoewel dit so maklik is om dit as vanselfsprekend te aanvaar verteenwoordig die menslike hand ’n wonderbaarlike prestasie van die denke van ’n liefdevolle, besorgde God – ’n onaantasbare bewys van Sy kunstigheid en ingenieursvaardigheid, beskikbaar en heel letterlik, altyd byderhand.

Byna drie-duisend jaar voordat Newton hom verwonder het aan die goddelike ontwerp van die menslike duim, het koning Dawid van antieke Israel die soort sentimente verstaan. Moontlik het hy nagedink oor die vlak van ontwerp wat hy in sy eie menslike liggaam gesien het – hy kon moontlik selfs na sy eie merkwaardige hand gestaar het – toe hy opmerk: “Ek loof Uomdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed” (Psalm 139:14).

Inderdaad, wonderlik is Sy werke. Ons is werklik uiters wonderbaar gemaak!