Ek het in ’n algemene Protestante kerk grootgeword. Op een stadium was ek die klasleier van my Sondagskoolklas. My goeie maats, ’n groot groep ouens uit my buurt wat almal min of meer ewe oud was, het ook verskeie algemene kerke bygewoon en het sekerlik geweet wat onderrig is. Tog, soos ek terugdink na daardie jare, besef ek nou dat nie een van ons ooit geleer is wat die ware doelwit is van ’n ware Christen nie. Ons het wel baie liedere en deelnemende leesstof in ons kerk gehad. Ons is geleer van “Liewe Jesus in die krip”. Ons is geleer dat “Christus gesterf en opgevaar het na die hemel toe” en dat “Hy vir ons sondes betaal het”. Ons is egter nooit werklik geleer wat sonde is nie. Ons is nooit werklik vermaan om ons vurig te bekeer daarvan om God se wette te oortree en ons lewens ten volle oor te gee aan die God van die skepping deur Jesus Christus nie.

Die meeste van ons het kerk toe gegaan omdat dit “die ding was om te doen”. Ons het gehoor dat ons “hemel toe gaan” wanneer ons sterf. Ons het ook baie gehoor van die sosiale byeenkomste en aktiwiteite van die kerk en die nodigheid om oor die algemeen “goeie mense” te wees – hoewel vir geen spesifieke rede anders as die hoop om hemel toe te gaan en niks in besonder te doen wanneer ons daar aankom nie. Daar was nooit, ooit enige melding gemaak van enige opwindende uitdaging of verantwoordelikheid wat ware Christene sou hê in die hiernamaals nie. Daar was nooit enige spesifieke preke oor die lewende Jesus Christus se terugkoms na die aarde as Koning van konings en wat dit sou behels nie.

Klink dit bekend?
In teenstelling sal u vind dat, wanneer u die Nuwe Testament noukeurig bestudeer, in die bladsye daarvan die kragtige, besielende boodskap is wat Jesus Christus en die Apostels voortdurend verkondig het. Daardie boodskap behels ’n opwindende “werk” wat op alle ware Christene wag met die Wederkoms van Christus. Is dit die boodskap wat duidelik en kragtig in u kerk verkondig word?

Die boodskap wat Jesus Christus van die hemel gebring het, behels Sy dood aan die kruis en Sy Messiasskap. Dit behels egter ook soveel meer! Jesus is deur God die Vader gestuur om ’n boodskap te bring oor God se plan om Sy regering op die aarde te vestig – onder Jesus Christus as Koning van konings – wat absolute vrede, vooruitgang en stralende vreugde vir die ganse mensdom sal meebring. In Sy Koninkryk sal daar nie meer biljoene mense wees wat in smerigheid, verhongering, siekte en dikwels vrees lewe van menslike despote wat wreed oor hulle regeer nie.

Sou u die vreugde op die gesigte van hierdie biljoene onderdrukte mense oral oor die aarde wil sien?

God sou!
Dit is waarom die ware God beplan om Sy Seun na hierdie aarde te stuur – as verowerende Koning – om die gemors uit te sorteer wat die mensdom van die samelewing en regering hier op aarde gemaak het. Hy sal die siekes genees, die terneergedruktes vertroos en aan alle mense ’n lewensdoel en vreugde gee wat meer is as wat enige van hulle ooit ervaar het!

Die Goeie Nuus – die “Evangelie” van Jesus Christus – was hoofsaaklik oor hierdie groot doel wat ons Skepper in gedagte het en wat Hy beslis beplan om te laat plaasvind. Jesus het daarvan gepraat. Die Apostels het daaroor gepreek en geskryf. Die profete het voortdurend hierdie groot doel as die uiteindelike Plan van die grote God wat ons lewe gee, verkondig! Soos God se geïnspireerde woord ons vertel: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Tog word hierdie Goeie Nuus egter selde bespreek of gepreek in algemene “kerkedom”. Dit is byna soos ’n “verskuilde” boodskap waarvoor baie groot kerklike organisasies skaam is.

Die boodskap wat God gestuur het

Wanneer u die Bybel lees, is dit duidelik dat die hoofstrekking van God se boodskap aan die mensdom nie net die “kosbare bloed van Jesus Christus” is nie. Dit gaan nie net oor Jesus wat aan ’n kruis gehang het nie. Beide hierdie maak ’n noodsaaklike deel uit van God se boodskap. God se hoofboodskap – van voor tot agter in die Bybel – gaan egter oor hoe nodig dit is vir die mens om sy Skepper te gehoorsaam en voor te berei om onder Christus te dien, in die komende Koninkryk van God wat binnekort op hierdie aarde gevestig gaan word. Gehoorsame, bekeerde Christene, gevul met die Heilige Gees, sal dan vir alle ewigheid saam met God en Christus dien as volle lede van die Godfamilie.

Let hierop! Die ware Jesus van u Bybel het gekom en die boodskap van die Koninkryk van God verkondig (Markus 1:14). Dit was nie ’n “donserige” evangelie oor ’n warm gevoel in jou hart of om net die Persoon van Christus te “aanvaar” nie. Dit was eerder oor die Regering van God wat binnekort kom wat ware vrede, voorspoed, gesondheid en geluk na hierdie siek en verwarde wêreld sal bring. Jesus vertel Sy dissipels: “En Ek beskik vir julle ’n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Lukas 22:29-30). Die meeste hedendaagse leraars laat hierdie en ander soortgelyke, noodsaaklike skrifdele dwarsdeur die Bybel óf heeltemal na óf hulle probeer dit “weg vergeestelik”. Jesus het egter duidelik gepraat van ’n letterlike koninkryk of regering wat hier op aarde gevestig gaan word met Sy Wederkoms. Let op wat die apostel Johannes skryf toe hy geïnspireer is om Jesus se Wederkoms na die aarde te beskryf: “En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here” (Openbaring 19:15-16). Let daarop dat die terugkerende Jesus Christus oor die volke van hierdie wêreld gaan regeer – nie oor mense in die hemel nie!

Lees ook die geïnspireerde “Lied van die Heiliges” wat in Openbaring 5:9-10 aangeteken is: “Toe sing hulle ’n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers”. Die ware heiliges van God gaan dus beslis saam met Christus op die aarde regeer. Daar is nêrens ’n enkele vers in u Bybel wat beloof dat dit die beloning van die heiliges is om “hemel toe te gaan” nie!

Waarom versuim die algemene kerke om hierdie kragtige boodskap oor die Koninkryk van God wat binnekort aarde toe kom te verkondig? Waarom dring hulle daarop aan om oor die Persoon van Jesus te praat en tog die kragtige boodskap wat Hy van die Vader gebring het oor ’n komende wêreldregering, byna heeltemal na te laat?

Waarom?

Die apostel Paulus vertel ons baie duidelik dat dit die doelwit van die ware Christen is om deel te wees van daardie letterlike regering wat op hierdie aarde gevestig gaan word. “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korintiërs 6:2-3). In hierdie skrifgedeelte vertel Paulus ware Christene duidelik dat ons moet voorberei om hierdie ganse aarde te “oordeel” of te regeer. Soos die apostel Johannes ons vertel: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6).

Wat ’n opwindende toekoms! Wat ’n ontsagwekkende doelwit om na te streef! Watter wonderlike rede om God te dien, ons sondes te oorwin en om ons lewens ten volle oor te gee, om Christus toe te laat om in ons te woon en in ons die einste karakter van God te bou (verw. Galasiërs 2:20). Dan, en slegs dan, sal ons geskik wees om saam met Christus te regeer in Sy komende Koninkryk.

Hoe Christenskap die spoor byster geraak het

Eenvoudig gestel, was die hoop van die vroeë Christene nie om “hemel toe te sweef” nie. Dit was die hoop om hul lewens ten volle aan God oor te gee – om ware oorwinnaars te wees – sodat hulle met die opstanding by Christus kon aansluit om hierdie aarde te regeer en vrede en vreugde na ons planeet te bring! Soos Jesus se geliefde vriend, die apostel Johannes, geïnspireer was om te skryf: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Openbaring 2:26-27). Ware Christene moet dus nie bloot net in die Persoon van Christus “glo” nie. Hulle moet hulle ten volle oorgee – ten einde Christus toe te laat om Sy gehoorsame lewe in hulle te leef deur die Heilige Gees. Die apostel Paulus verduidelik ware Christenskap soos volg aan ons: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20).

Tog het Satan die duiwel daarin geslaag om die vroeë Rooms-Katolieke “kerkvaders” te mislei. Satan het hul gedagtes weggelei van die Evangelie van die Koninkryk na kerkpolitiek en mag. Die vroeë Katolieke leiers het begin toegee aan die heidense gebruike en idees om hulle, ten einde meer heidense aanhangers vir hul Katolieke geloof oor te wen. Hulle het ook begin onderrig dat die Katolieke Kerk self die beloofde Koninkryk van God was. So was dit dan dat miljoene opregte maar misleide mense gevoel het dat hul hoof Christendoel was om mag en invloed binne die kerk self te soek. Dit word verduidelik in The Story of the Christian Church, deur Jesse Lyman Hurlbut wat skryf: “Die kerk en die staat het egter een geword toe Christenskap aangeneem is as die godsdiens van die ryk. Uit hierdie onnatuurlike eenheid kom daar twee booshede te voorskyn; die een in die oostelike en die ander in die westelike provinsies. Die kerk word in die ooste oorheers deur die staat totdat die kerk alle energie en opheffende lewe verloor het. In die weste, soos ons sal sien, het die kerk haarself geleidelik wederregtelik mag oor die staat toegeëien en die gevolg was nie Christendom nie, maar ’n min of meer korrupte hiërargie wat die volke van Europa beheer en die kerk grootliks ’n politieke masjien gemaak het” (bl. 80).

Die kerk ’n “politieke masjien”? Hurlbut, Edward Gibbon en baie ander vooraanstaande geskiedkundiges stem saam dat, gedurende die tyd van Konstantyn en vir honderde jare daarna, die grootste deel van die belydende Christenkerk ’n politieke masjien geword het. Toe die Protestantse “hervormers” gekom het, het hulle meestal die Katolieke rituele stelsel vervang met die aanbidding van die Persoon van Jesus Christus. Omdat hulle egter hul hele lewens lank in Katolisisme opgevoed is, kon hulle nie raaksien dat die ware Christendom van Jesus en die Apostels soveel meer behels het as die blote verering van Jesus nie. Dit behels ’n hele leefwyse wat ware Christene sal voorberei om “konings en priesters” te wees (Openbaring 5:10) wat op hierdie aarde onder Jesus Christus gaan regeer. Dit behels heelhartige gehoorsaamheid, deur Christus wat in ons leef, aan al tien van die Tien Gebooie – die einste wette wat van die ware heiliges van God verwag sal word om te onderrig en toe te pas in die komende Koninkryk van God!

Dit is tog sekerlik beter om die Persoon van Christus te aanbid eerder as die een of ander afgod, maar dit is nie genoeg nie! Jesus Self roep uit: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). In die Bergpredikasie verkondig Jesus: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mattheus 7:21-23).

Maar is dit nie “wetties” nie?
Indien dit “wetties” is om die Tien Gebooie te gehoorsaam soos Jesus en die Apostels deurlopend onderrig het, laat dit so wees! Wat die misleide leraars wat hulle daarop beroep dat dit “wetties” is, egter glad nie verstaan nie, is dat hierdie gehoorsame leefwyse – deur Christus wat in ons leef – die einste grondslag is van die karakter wat God in ons wil bou, ten einde ons voor te berei om die soort konings en priesters te wees wat Hy in Sy komende Koninkryk wil hê. Dit is waarom, byvoorbeeld, koning Dawid van antieke Israel, opgewek en in beheer van die Twaalf Apostels geplaas sal word. Koning Dawid was nooit betrokke in die sentimentele aanbidding van Jesus nie. Oral – “behalwe in die saak van Uria, die Hettiet” (1 Konings 15:5) – het Dawid God gehoorsaam en Sy wette onderhou, nie net getrou nie, maar ook entoesiasties. Soos Dawid uitroep: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig. Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing” (Psalm 119:97-99).

Die werklikheid van Christus se komende wêreldregering

In ’n betreklik kort aantal jare sal Dawid weereens, onder Christus, koning wees oor die ganse Israel gedurende die komende Millennium. U Bybel onthul dat ’n letterlike regering op hierdie aarde gevestig sal word, met Jesus Christus wat vanuit Jerusalem regeer as Koning oor baie ander ondergeskikte konings. Die Bybel onthul dat die mense van Juda en die sogenaamde “Verlore Tien Stamme” onder koning Dawid se heerskappy herenig sal word: “En sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land. En Ek sal hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel; en een Koning sal vir hulle almal koning wees; en hulle sal nie meer twee nasies wees nie en verder nie meer in twee koninkryke verdeeld wees nie. En hulle sal hul nie meer verontreinig met hulle drekgode en hulle verfoeisels en met al hulle oortredinge nie; en Ek sal hulle verlos uit al hulle woonplekke waarin hulle gesondig het, en sal hulle reinig. So sal hulle dan vir my ’n volk wees, en Ek vir hulle ’n God wees. En my kneg Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel. En hulle sal woon in die land wat Ek aan my kneg Jakob gegee het, waar julle vaders in gewoon het; ja, húlle sal daarin woon, hulle kinders en hulle kindskinders tot in ewigheid; en my kneg Dawid sal hulle vors wees vir ewig” (Esegiël 37:21-25).

Die Twaalf Apostels sal onder koning Dawid dien, elkeen in beheer van een van die individuele volke van Israel. Soos Jesus hulle vertel: “En dit is julle wat altyddeur by My gebly het in my versoekinge. En Ek beskik vir julle ’n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Lukas 22:28-30).

Tesame met koning Dawid sal hulle hul onderdane onderrig en hulle lei in God se wet. “En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen” (Esegiël 36:26-27). God sal hulle werk seën en aan die hele wêreld “reën op sy tyd” stuur. Dan, met Christus in beheer, sal selfs die verwoeste dele van Israel weer welig en pragtig wees. “En die verwoeste land sal bewerk word, in plaas dat dit ’n wildernis is voor die oë van almal wat verbygaan. En hulle sal sê: Hierdie land wat verwoes was, het geword soos die tuin van Eden; en die stede wat in puin gelê het en verwoes en afgebreek was, is versterk en bewoon” (verse 34-35).

Jesaja skryf soos volg oor hierdie tyd wat binnekort kom: “Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:3-4). Dit sal ’n tyd van algehele vrede en voorspoed wees! Jesaja skryf van Christus se komende heerskappy: “Maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel ... Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek. En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Isai, wat daar staan as ’n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees” (Jesaja 11:4, 9-10).

Jesaja beskryf die seëninge en prag van die komende Millenniale regering van Jesus Christus en Sy heiliges: “Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ’n narsing; dit sal lustig bloei en juig, ja, met gejuig en gejubel; die heerlikheid van die Líbanon is aan hom gegee, die sieraad van Karmel en Saron; hulle dáár sal sien die heerlikheid van die HERE ... Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis” (Jesaja 35:1-2, 5-6).

Dit geld nie net vir die “Jode”, soos sommige mense verkeerdelik onderrig nie. Dit geld vir al die volke van die aarde! Let op Miga se geïnspireerde profesie: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom. En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek” (Miga 4:1-4).

Die “verskuilde boodskap” nou onthul

Algemene “kerkedom” het hierdie kragtige boodskap verduister oor Jesus Christus wat in krag en heerlikheid terugkeer om oor die volke te heers. Die nuus van hierdie opwindende uitdaging om Christus by te staan in heerskappy oor hierdie aarde is van die meeste belydende Christene weerhou. Hulle is bloot in die duister gelaat. Hulle word so bietjie vertel van Jesus se dood aan die kruis. Hulle word vertel dat nadat hulle Christus “aangeneem” of “hul harte aan Hom gegee het”, hulle op die een of ander vae wyse “hemel toe sal gaan” met bykans niks om daar te doen nie! Is dit een rede waarom kerkbywoning in die meeste “algemene” kerklike organisasies in onlangse jare drasties afgeneem het?

Jesus gee die gelykenis van die ponde (of mina’s, soos die Griekse woord letterlik vertaal word) omdat hulle “gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn” (Lukas 19:11-26). Sy luisteraars het duidelik verwag dat ’n letterlike regering op hierdie aarde opgestel gaan word! Het Jesus hulle vertel dat hierdie gedagte verkeerd was? Nee! Jesus verduidelik eerder dat Hy (“die edelman”) hemel toe sou gaan en dan na die aarde sal terugkeer om te sien hoeveel Sy volgelinge oorwin het en wat hulle met hul talente en vaardighede gedoen het.

Wat sê Jesus aan die eerste dienskneg wat sy mina tienvoudig vermeerder het? Het Hy gesê: “Nou kan jy hemel toe gaan om te rus”?

Nee! Jesus sê: “Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (vers 17). Sy beloning is nie “om hemel toe te gaan nie”, maar wél die geleentheid om hier op aarde oor tien stede te regeer! In die opstanding uit die dode wat binnekort sal plaasvind, sal diegene wat waarlik oorgegee het om volgens “elke woord van God” te leef (Lukas 4:4), grootliks beloon word. Let weereens op God se belofte: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6).

Sal u persoonlik Christus se boodskap oor die komende Koninkryk van God glo? Sal u oorgee aan die ware Christus van die Bybel om Hom toe te laat om Sy gehoorsame lewe in u te leef (verg. Galasiërs 2:20)? Onthou Jesus se reguit uitdaging: “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:15).