Kan ons redding “verdien” deur gehoorsaamheid aan God? Wat beteken God se genade vir Christene? Is dit ’n “vrypas” vir wanneer ons sondig, of is dit ’n kragtige middel om ons te help om die lewensweg wat Jesus Christus Sy volgelinge geleer het, uit te leef? Dit is noodsaaklik dat u weet! Sommige mense sê: “Glo net, en jy sal gered word”! Hulle idee is dat enigiets anders ’n valse “redding deur werke” is. Andere sê weer dat daar ’n stel regulasies is wat mens ’n beter plek in die hiernamaals kan laat “verdien”. Wat is die waarheid van die saak? Die antwoord mag u verras!


Is gehoorsaamheid aan God teenstrydig met die aanvaarding van Sy genade? Nadat ’n Christen God se genade ontvang het, vereis God nog iets meer?

God sê aan ons dat ons ons moet bekeer en gedoop word, maar is dit dan “redding deur werke”? Baie belydende Christene verstaan die rolle van genade en gehoorsaamheid in hul lewens heeltemal verkeerd. Hulle verstaan nie wat die Bybel werklik leer aangaande gehoorsaamheid aan Jesus Christus, en wat dit beteken om gered te word nie.

Op een of ander tydstip in u lewe, het iemand seker al aan u die vraag gestel: “Is u gered?” Hoe het u reageer? Ons weet dat almal wie reageer op God se roeping, wat hulle werklik bekeer en gedoop is, se sondes vergewe sal word, en dat hulle die gawe van die Heilige Gees sal ontvang – die geestelike krag wat hulle in staat sal stel om ’n nuwe lewe te lei. Wat beteken dit egter om werklik te reageer op God se roeping?

Op Pinksterdag in 31 n.C., in die eerste geïnspireerde preek van die Nuwe-Testamentiese Kerk, het die Apostel Petrus ’n paar duisend mense in Jerusalem toegespreek, waarna hulle oortuig geraak het van hulle aandeel in die dood van die Messias, Jesus Christus. Duisende het aan Petrus en die ander Apostels gevra: “Wat moet ons doen, broeders?” (Handelinge 2:37).

Hier was Petrus se geleentheid om aan hulle te sê dat hulle nie nodig het om enigiets meer te doen as om net te “glo” nie. Het hy dit aan hulle gesê? Nee! Wat het hy eintlik gesê? “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38).

Petrus het wonderlike nuus verkondig – dat hulle sondes vergewe kan word, en dat hulle die gawe van die Heilige Gees kan ontvang. Om dit te laat gebeur, het hy aangedring op twee dinge – dat hulle hul moet bekeer, en dat hulle gedoop moet word.

Indien u na Petrus geluister het, en berou gehad het oor u aandeel in Christus se dood en graag u lewe wou verander en vergifnis wou ontvang, wat sou u gedoen het? Sou u met Petrus gestry het: “Ek sal my nie bekeer nie! Ek sal my nie laat doop nie! Dit is werke, en ek hoef nie my saligheid te verdien nie!”? Indien u dit sou gedoen het, sou u gestry het teen baie van God se duidelike opdragte, insluitende hierdie basiese Nuwe-Testamentiese leerstellings.

Natuurlik kan niemand redding verdien nie. ’n Moedswillige ongehoorsaamheid aan God se opdragte is ’n seker teken dat u nie regtig berou het of waarlik tot bekering gekom het nie.

Hoe het die skare reageer op hierdie eerste Pinksterdag in die Nuwe-Testamentiese Kerk? Die Skrif deel met ons die wonderlike nuus. “Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie duisend siele toegebring. En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede” (Handelinge 2:41-42).

Op daardie dag het 3,000 nuwe Christene God se opdrag gehoorsaam – hulle het tot bekering gekom en is gedoop. Hulle het gedoen wat Jesus alle Christene aangesê het om te doen: “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15).

Wat is bekering?

Petrus se opdrag was duidelik en eenvoudig – nogtans stem baie mense vandag nie saam met sy duidelike verkondiging van God se Woord nie. Vandag vind ons baie mense wat emosioneel “gered” wil wees, maar wat die ernstige saak van bekering, wat doop moet voorafgaan, ignoreer.

Presies wat is bekering? Die Griekse woord wat vertaal is as “bekeer”, is metanoeo, wat beteken om “anders te dink”. Mens moet jou bekeer – anders dink – oor jou sonde. Wat is sonde dan? “Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid” (1 Johannes 3:4). Die Nuwe Afrikaanse Vertaling stel dit so: “... sonde is die oortreding van die wet van God”. Wanneer u een van die Tien Gebooie verbreek, het u gesondig. Soos die apostel Jakobus skryf: “Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ’n oortreder van die wet geword. Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word” (Jakobus 2:10-12).

Wanneer ons bekeer van sonde, het ons diep berou omdat ons God se wet oortree het. Ons het nie meer ’n vyandige gesindheid teenoor God en Sy wet van vryheid nie. Ons het nie meer langer ’n vleeslike gesindheid wat vyandig is teen die wet van God nie (verwys Romeine 8:7). Na bekering, wil ons in harmonie wees met God se wet van liefde – die Tien Gebooie. Bekering bring ’n intense verandering in ons denkwyse mee, ’n vaste voorneme om volgens elke woord van God te lewe. Jesus sê immers: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4).

Bekering is meer as ’n intellektuele bewustheid van sonde. Opregte bekering bring diepe berou oor ons sondes. Dink aan die vrou wat Jesus se voete met haar trane gewas het (sien Lukas 7:38). Dit is intense berou.

Ons behoort bewus te wees dat daar ’n wêreldse berou is wat nie opregte bekering is nie. Kyk hoe Paulus erkenning gee aan die Korintiërs se bekering: “Nou is ek bly, nie omdat julle bedroef was nie, maar omdat julle bedroef was tot bekering, want julle was bedroef volgens die wil van God, sodat julle deur ons in niks skade gely het nie. Want die droefheid volgens die wil van God werk ’n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood” (2 Korinthiërs 7:9-10).

Sommige misdadigers spreek wêreldse berou uit wanneer hul sê dat hulle jammer is oor hul misdade (of sondes), terwyl hulle eintlik diep binne hulself sê: “Ek is jammer dat ek gevang is”, of, “ek is jammer dat ek skuldig voel, of omdat ek moet boet vir my misdaad, maar, as ek ’n kans kry sal ek weer ’n ander misdaad pleeg”. Dit is nie net misdadigers wat hierdie wêreldse berou het nie. Baie mense wat verslaaf raak aan gewoontevormende en ongesonde gewoontes – seksuele sondes, dwelmmisbruik of alkoholmisbruik – mag ’n soort van berou voel en spyt wees oor die gevolge wat hul gedrag meebring. Hoewel, sonder ’n werklike verandering van hart, en sonder ’n verandering van gedrag, sal hul voortdurende sonde tot die dood lei! Die berou van die wêreld lei tot die dood!

Goddelike berou – ware bekering – bring ander, beter vrugte mee. Let op na die eienskappe daarvan, soos beskryf in die Bybel: “Want kyk, juis dit, dat julle bedroef geword het volgens die wil van God – wat ’n groot ywer het dit in julle gewerk, ja, verantwoording, verontwaardiging, vrees, verlange, ywer, bestraffing. In alles het julle bewys dat julle in die saak rein is” (2 Korinthiërs 7:11).

Anders dink en doen!

Diegene wat hul werklik bekeer het, dink anders en doen anders. Hulle is ernstig oor hul voorneme om hul lewens te verander! Sulke individue sal inderdaad dramatiese veranderings maak in reaksie op die genade wat hulle ontvang het. Onthou wat Johannes die Doper gesê het aan die Fariseërs en Sadduseërs wat gekom het om deur hom gedoop te word? “En Jerusalem en die hele Judéa en die hele omtrek van die Jordaan het uitgegaan na hom toe. En hulle is deur hom in die Jordaan gedoop met belydenis van hulle sondes. Maar toe hy baie van die Fariseërs en Sadduseërs na sy doop sien kom, sê hy vir hulle: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is? Dra dan vrugte wat by die bekering pas” (Mattheüs 3:5-8).

Indien ons voortgaan om sonde te bedryf sonder enige verandering in ons gesindheid of lewe, is daar geen opregte bekering nie. Psalm 51 is Dawid se skulderkentenis van sy sonde. Lees daardie Psalm en dit sal u help om dieper insig te verkry. Let daarop dat Dawid nie vra vir “geregtigheid” nie! Geregtigheid vir Dawid sou die doodstraf beteken. “... die loon van die sonde is die dood” vir ons almal (Romeine 6:23)! Dus, in sy berouvolle gesindheid het Dawid gevra vir genade. “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde” (Psalm 51:3-4).

Dawid het sy sonde erken! Hy het ernstig tot God gebid om hom te reinig. Het u al ooit op hierdie manier gebid? “Want ek ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou” (verse 5-6).

Hoe het Dawid teen God “alleen” gesondig? Dawid het owerspel gepleeg met Batseba. Hy het Batseba se man Uría, wat ’n soldaat was, na die voorste linies gestuur om doodgemaak te word. Dawid het sekerlik teen hulle “gesondig”. God het egter beveel: “Jy mag nie doodslaan nie. Jy mag nie egbreek nie” (Exodus 20:13-14). Dawid het gesondig teen die Wetgewer, en het onder God se doodstraf gekom.

Dawid se berou stel ’n voorbeeld vir ons almal. Ons moet almal daardie nederige en berouvolle gesindheid hê! “Die offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie” (Psalm 51:19).

’n Lisensie om te sondig?

Nadat ons tot by die punt van bekering gekom het, soos Dawid, en ons gehoorsaam Christus se opdrag om gedoop te word, word al ons sondes van die verlede vergewe en begin ons om soos ’n nuwe mens te wees. Hoe behoort ons dan te reageer op die onverdiende vergifnis en genade wat God aan ons geskenk het? Let daarop: “WAT sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?” (Romeine 6:1-2). Behoort ’n nuut-verwekte Christen, vir wie God vergewe en genade bewys het (onverdiende vergifnis en kwytskelding), voort te gaan om God se wet te oortree en aan God ongehoorsaam te wees? Paulus sê duidelik: “Nee, stellig nie!” Die Bybelse bewyse is oorweldigend. Ons kan nie voortgaan om opsetlik aan God ongehoorsaam te wees en die geskenk van verlossing ontvang nie! Paulus het te doen gehad met vals Christene wat probeer het om – soos baie mense vandag doen – genade te gebruik as ’n lisensie om te sondig!

Die apostel Judas veroordeel ook hierdie onbybelse benadering tot genade. “Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën” (Judas 4). Die Nuwe Afrikaanse Vertaling stel dit só: “... goddelose mense ... Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe ...”.

Hoeveel belydende Christene doen nie vandag net dit nie? Diegene wat God se genade verdraai, sê deur hul optrede: “Ons is vry om die Tien Gebooie te oortree; ons hoef nie God en Sy gebooie te gehoorsaam nie!” Dit is verkeerd! Daardie vorm van opstand is vleeslikheid, nie bekering nie! Bekeerde Christene besef dat die onderhouding van God se gebooie ’n betuiging van liefde is. Die eerste vier gebooie leer ons hoe om God lief te hê, die laaste ses gebooie leer ons hoe om ons naaste lief te hê. Soos die apostel Johannes skryf: “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3) – of “nie moeilik ... nie,” soos die NV dit stel.

Soos die apostel Paulus dus sterk beklemtoon, kan ons nie voortgaan om onder genade te lewe terwyl ons sonde bedryf nie. Geen waarlik bekeerde Christen sou graag sonde wil bedryf en terselfdertyd op genade aanspraak maak nie. Die ware Christen besef dat die “ou mens dood is” met die onderdompeling by die doop, soos Paulus verduidelik: “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ’n nuwe lewe kan wandel” (Romeine 6:3-4). Daardie “begrawe” word gesimboliseer deur die berouvolle sondaar se algehele onderdompeling in water.

Die Heilige Gees

Ons kan nie geestelik groei sonder God se Gees nie. God gee aan ’n berouvolle sondaar die geskenk van die Heilige Gees ná die doop.
God verwag van ons om aktiewe geloof te beoefen. Hy verwag dat ons Hom sal vertrou tot op die punt waar ons werklik sal doen wat Hy aan ons sê om te doen. Jesus waarsku sy volgelinge: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). Ons behoort te doen wat Hy gedoen het! Onthou, Jesus het self die voorbeeld gestel deur gedoop te word in gehoorsaamheid aan God se voorskrifte!

Let daarop dat hierdie geskenk van God se Gees gegee word deur die oplegging van hande deur God se ware dienaars. Die Apostels “het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 8:17). Die Heilige Gees is die geestelike krag van God wat ons verwek as Sy kinders en ons bemagtig om geestelik te groei.

Ons het die Heilige Gees nodig om die afwaartse trekkrag van die menslike natuur te oorkom. Paulus beskryf sy stryd met die menslike natuur: “Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here. So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die sonde!” (Romeine 7:25-26).

Let op Paulus se gesindheid van gehoorsaamheid. Sal God die Heilige Gees gee aan diegene wat ’n gesindheid van ongehoorsaamheid het? Nee, Hy sal nie! Soos Petrus dit duidelik stel: “En ons is sy getuies van hierdie dinge, en so ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is” (Handelinge 5:32). God sal nie die gawe van die Heilige Gees gee aan diegene met ’n gesindheid van ongehoorsaamheid nie.

Petrus en die Apostels het voortdurend ’n gesindheid van gehoorsaamheid aan God geopenbaar. Let op Petrus se vrymoedigheid toe hy met die Joodse Sanhedrin gepraat het. Hierdie raad het die Apostels beveel om nie in die naam van Jesus te preek nie. Wat was hulle reaksie? “En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Handelinge 5:29).

Een van die temas van die Bybel, van Genesis tot Openbaring, is dat gehoorsaamheid aan God seën bring terwyl ongehoorsaamheid aan God vloeke meebring. U kan God se genade ontvang – Sy wonderlike seëninge en Sy gawe van die ewige lewe – deur Jesus Christus, onse Here. Onthou egter dat God net sy vrye gawe van verlossing aan diegene sal skenk wat gewillig is om hul te bekeer, Hom te glo en te gehoorsaam. Soos Petrus skryf: “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?” (1 Petrus 4:17-18).

U Bybel openbaar God se ontsagwekkende plan van verlossing. Verlossing is ’n gratis geskenk, wat ons nooit kan verdien nie. Die meeste studente van die Bybel is vertroud met een van die fundamentele Skrifgedeeltes oor die onderwerp: “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie” (Efesiërs 2:8-9). Let daarop dat God se genade ’n geskenk is, maar geloof tot redding is ook ’n geskenk van God! Vers 10 word dikwels oor die hoof gesien deur diegene wat genade verander in ’n lisensie om te sondig: “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel” (Efesiërs 2:10). Ons reaksie op God se genade bring goeie werke mee, en ons wandel daarin; dit beteken, ons bring voortdurend goeie werke voort. Ons moet die vrug van ware Christelikheid in ons lewens dra.

Jesus Christus is ons lewende Verlosser. Ons sal gered word deur Sy lewe (Romeine 5:10)! Ek hoop dat u God se genade sal ontvang, gehoorsaam sal wees aan Sy wil en sal deelneem aan Sy wonderlike plan van verlossing!