Is daar ’n doel met die menslike lewe?


Die mees diepsinnige vraag wat u seker ooit kan stel aangaande die doel vir die bestaan van die mens is: Waarom is die mens hier op aarde? Vir duisende jare bespiegel filosowe daaroor en bied die verskillende gelowe verskeie en teenstellende antwoorde. Wees verseker dat afgesien van die antwoord wat u aanvaar, dit ingrypende gevolge inhou vir elke aspek van u lewe. Dit sal u mees fundamentele oortuigings en waardes bepaal. Dit sal ’n invloed uitoefen op die keuses wat u maak, die doelwitte wat u stel, hoe u u tyd en talente aanwend en op u omgang met mense – kortom, hoe u uself uitleef.

Vir sommige mense is die vraag oor die doel van die lewe ’n knaende en ingewikkelde dilemma – die probleme, traumas, booshede, onregverdighede en frustrasies van die lewe maak vir hulle geen sin nie en mag lei tot wanhoop en selfs selfmoord. Andere neem eenvoudig die bestaande geloofsoortuigings en lewensbeskouing van hulle ouderdomsgroep aan. Verbasend genoeg het die meeste mense, selfs die meeste filosowe, wetenskaplikes en teoloë geen ware begrip van die werklike doel van die lewe nie. Baie mense is so besig – vol roetine en onnuttighede – dat hulle selde tyd inruim om te besin oor die belangrikste vrae wat mens jou ooit self kan afvra, naamlik: Waarom bestaan ons? Wat is die ware doel van die menslike lewe?

Veelvuldige leë keuses

Enigeen wat hom dit ten doel stel om die ware doel van die lewe te ontdek, moet met ’n ongelooflike warboel van teenstellende idees worstel. Daar word vandag algemeen aanvaar dat die hoofdoel van die lewe eenvoudig net die vryheid is om enigiets na te jaag wat ’n mens gelukkig kan maak. Miljoene mense het die verleiding van persoonlike plesier gevolg om te eksperimenteer met dwelms, alle soorte ongeoorloofde seksuele aktiwiteite, gerieflike verbintenisse en egskeidings, buite-egtelike verhoudings, reise, partytjies en die verkryging van materiële dinge – slegs om te vind dat fisiese dinge en ervarings daarin faal om enige blywende satisfaksie te bied of om werklik betekenis aan die lewe te gee. Sommige van die rykste en bekendste mense in die wêreld het die leegste, eensaamste en mees frustrerende lewens gelei omdat hulle van goeie advies vergeet het – of nooit goeie advies gekry het wat vir hulle geluk kon bring nie.

Duisende jare gelede het een van die mees wyse manne wat ooit geleef het, wyse raad gegee aan elkeen wat wou luister. Salomo, ’n koning van Antieke Israel, weergee in die boek Prediker die resultate van sy soeke na die doel van die lewe en die ware bron van geluk.

Hy het alles probeer doen – die spreekwoordelike “wyn, vroue en partytjies” beproef deur vir hom 700 vroue en 300 byvroue te neem (1 Kon. 11: 1-11)! Hy het paleise gebou, groot rykdom vergader, terwyl sy beroemdheid tot in naburige koninkryke gestrek het. Tog het hy egter besef dat ons almal uiteindelik sterf en niks met ons saamneem nie. Dit het hom depressief gemaak en hom selfmoord laat oorweeg. Hy sê dat “alles tevergeefs is en ’n gejaag na wind ... daarom het ek my begewe om my hart aan wanhoop oor te gee” (Pred. 2:11, 17-20). Salomo het geleer dat om fisiese ervarings na te jaag en om besittings te vergader, nie werklike vervulling gee nie – dat daar ’n groter doel is vir die menslike bestaan. Hierdie belangrike les is egter grootliks verontagsaam! Baie mense glo steeds vandag dat die wenner “die een is wat met die meeste speelgoed sterf”.

Oor die eeue heen het gelowe en filosowe ’n ongelooflike verskeidenheid van idees gebied oor die uiteindelike doel van die lewe. “Belydende Christene” het algemeen aanvaar dat “goeie” of “geredde” mense hemel toe gaan, terwyl die Bybel dit duidelik stel: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het” (Joh. 3:13; sien ook Hand. 2:29-34; 13:36). Baie mense glo dat ons in die hemel op wolke sal sit en harpe bespeel, goue strate sal bewandel of net sal rondstaan en vir ewig die “saligmakende geesverskyning“ van God sal aanskou. Inheemse Amerikaners het die betreding van “gelukkige jagvelde” in die hemel afgewag. Boeddhiste streef na Nirvana – waarin die siel opgeneem word in die goddelike en een word met die Heelal, wat dan die siel se bestaan as ’n individuele entiteit beëindig. Hindoes glo dat die menselewe ’n reeks reïnkarnasies is. Vir Moslems word vertel dat, sou hulle as martelaars sterf, sal hulle in ’n paradys wakker word, omring van dosyne jong maagde. Die Wikings het geglo dat die siel van helde wat tydens oorlogvoering sterf, in Valhalla – ’n plek van ewige lewe – sou woon waar hulle verder kon baklei en feesvier.

Aangesien die meeste idees aangaande die doel van die lewe onbewysbaar is deur wetenskaplike metodes, bejeën baie mense dit vandag met skeptisisme. Sommige sekulêre en ewolusie-georiënteerde wetenskaplikes verval in die teenoorgestelde uiterste wat sê dat daar geen kenbare doel is vir die menslike lewe nie en dat die menslike liggaam niks meer is nie as ’n sak vol DNS wat uitsluitlik bedoel is vir die voortbestaan van die spesie. Vir dekades propageer akademiese handboeke dat teleologie (leer van die doelmatigheid in die Skepping) buite die vakgebied van die wetenskap val en dat die wetenskap niks oor die saak te sê het nie. Dit het egter nie verhoed dat uitgesproke lede van die wetenskaplike samelewing grootse uitsprake maak nie. Vandag neem baie mense aan dat indien die wetenskap nie antwoorde kan verskaf oor die doel van die lewe nie, niks as sekerheid oor die onderwerp aanvaar kan word nie. Dit, soos ons sal sien, is ’n vals aanname wat bydra tot wydverspreide onkunde oor die doel van die lewe. Maar waarom is daar soveel verskillende en uiteenlopende idees oor die betekenis van die menslike bestaan? 
Waarom faal so baie om die betekenis te snap oor die ware doel van die lewe?

Onkunde voorspel

Die Bybel, ’n boek waaraan ons moderne wêreld huiwerig is om te glo, onthul waarom so baie mense geen idee het oor die ware doel van die lewe nie. Die apostel Johannes skryf onder inspirasie oor ’n magtige geesteswese “wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei [mislei]” (Op. 12:9). Wanneer ons vanuit ’n globale perspektief kyk na die uiteenlopende idees oor die doel van die lewe, is hierdie fundamentele Bybelse sleutel al wat sin maak. Soos ons die ware doel van die lewe ontdek wat God in die Bybel onthul, word dit selfs nog duideliker hoe deeglik hierdie wêreld mislei is.

Die Bybel gee nie net die oorsaak van ons misleiding nie, maar dit word ook in ’n reeks profesieë voorspel! Satan se kwaadwillige aktiwiteite het kort na die skepping van Adam en Eva begin. Die duiwel het ons eerste ouers daartoe mislei om God se opdrag te ignoreer en vir hulself die bron van ware kennis te soek (sien Gen. 3:13, 22-24). As gevolg van hulle ongehoorsaamheid is hulle van die Bron afgesny wat die ware doel van die lewe onthul. Later het Jerobeam, die dwase koning van Israel, sy eie godsdiens ingestel en God se Heilige Dae verwerp (wat God se plan vir die mensdom voorstel – vir meer inligting, bestel gerus ons gratis boekie: Die Heilige Dae – God se Meesterplan). Hierdeur het Jerobeam sy mense ontneem van die enigste Bron van kennis oor die doel van die lewe.

Toe Jesus Christus na hierdie aarde gekom het, het Hy herhaaldelik gewaarsku dat valse leraars sou verskyn wat daarop sou aanspraak maak dat hulle Christene is en baie mense sou mislei (sien Matt. 7:15-20; 24:5, 11, 24). Die apostel Paulus het soortgelyke voorspellings gemaak en gewaarsku dat valse leraars na vore sou kom, selfs vanuit kerkgeledere, om mense te mislei en dat baie hulle fabels en misleidende leringe sou glo (sien Hand. 20:28-31; 1 Tim. 4:1-3; 2 Tim. 4:1-5). 

Jesus het vir Sy gekose dissipels gesê dat Hy vir hulle ’n spesiale begrip gee van die “verborgenhede van die koninkryk van die hemele” wat “nie gegee” is aan die res van die mensdom nie (Matt. 13:11). Christus sê vir Sy dissipels: “baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie” (vers 17). Die ware doel van die menslike lewe, soos ons sal sien, het te doen met hierdie eerskomende koninkryk wat ’n misterie vir die meeste mense is.

Paulus se geskrifte herhaal Jesus se woorde. Paulus sê: “Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid, wat niemand van die heersers [leiers en onderwysers] van hierdie wêreld geken het nie ... maar God het dit [hierdie dinge] aan ons deur sy Gees geopenbaar” (1 Kor. 2:7-10). Paulus haal die profeet Jesaja aan: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Kor. 2:9). Die Bybel onthul duidelik dat selfs die mees wyse sterflinge nie in staat was om op hulle eie die ware doel van die lewe te ontdek nie. Daardie uiteindelike doel moet deur God self onthul word!

Paulus het die danige kundige Romeine berispe en aan hulle uitgewys dat God die waarheid aan mense beskikbaar gemaak het, maar “omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; [het hulle] dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword ... wat die waarheid van God verruil het vir die leuen” (Rom. 1:21-25). Dit is waarom so min bekend is oor die ware doel van die lewe. Wat God in Sy Woord onthul, is deur die mens geïgnoreer of misverstaan. As gevolg hiervan is die meeste mense op aarde mislei met fabels oor die doel van die mens se bestaan – of om te glo dat dit onmoontlik is om te weet waarom ons bestaan. Werklike antwoorde bestaan egter en kan gevind word!

’n Geheimenis onthul

Die Bybel maak dit duidelik waarom u gebore is! Hierdie basiese tema strek van die begin tot die einde – van Genesis tot Openbaring. Die Bybel maak ook duidelik dat die mens geskape is (manlik en vroulik) na die beeld van God en gebied is om vrugbaar te wees, te vermeerder, die aarde te vul, dit te onderwerp en daaroor te heers (Gen. 1:26-31). Ons leer uit die Bybel dat ons nie blote diere is nie – ons voorsate was nie aapagtige oermense nie. Inteendeel, God self is die gemeenskaplike “voorvader” van alle mense. God het mans en vroue geskape met ’n doel: om te trou, gesinne te verwek om te leer om saam te werk en om oor ons gesinne en die aarde te regeer as heersers oor God se skepping (Gen. 2:15-25). 
Dit is ’n baie groot verantwoordelikheid wat veel te make het met ons uiteindelike doel. 

Job, wat volgens ou tradisie ’n koning in Edom was, (sien Halley’s Bible Handbook) het geweet dat daar ’n grootse doel is met die menslike lewe. Hy het ’n weldeurdagte vraag gestel en beantwoord: “As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe? Dan sou ek hoop al die dae van my stryd totdat my aflossing kom; U sou roep, en ek sou U antwoord, na die maaksel van u hande sou U verlang” (Job. 14:10-15). Job het geweet dat hy in die graf sou slaap totdat God hom weer opwek vir sy uiteindelike doel. Die profeet Daniël onthul dat aan die einde van hierdie dae “sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie ... dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste” (Dan. 2:44-45; 7:27).

Jesus beklemtoon hierdie selfde tema in die Nuwe Testament. Hy doen ’n beroep op Sy dissipels om “eers die koninkryk van God en sy geregtigheid” te soek in plaas van om uitsluitlik op fisiese dinge te fokus (Matt. 6:33). Hy sê vir Sy gekose apostels dat hulle bestem is om “op twaalf trone [te] sit en die twaalf stamme van Israel [te] oordeel” (Matt. 19:28). Paulus onthul dat, wanneer ons Christene word en Jesus se onderwysing volg, ons “kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus” (Rom. 8:16-17). Paulus sê dat kinders grootgemaak word om soos hulle ouers te wees, dus sal Christene uiteindelik deel in wat Jesus Christus sal beërwe. Paulus onthul dat die fisiese Jesus onsterflikheid beërwe het met Sy opstanding uit die dood (1 Tim. 6:15-16) en “die eersteling geword [het] van die wat ontslaap” (1 Kor. 15:20-25). Diegene wat God se onderwysing volg, sal die ewige lewe beërwe met die Wederkoms om Sy koninkryk op aarde te vestig (1 Kor. 15:50-54). Dit is deel van die “misterie” van die lewensdoel wat die wêreld nie ten volle verstaan nie (vers 51).

In sy brief aan die Hebreërs verduidelik Paulus meer omtrent die doel van die menslike lewe. Hy skryf dat God “die toekomstige wêreld ... nie onderwerp [het aan die engele] nie” maar dat Hy die mensdom geskape en die mens “’n weinig minder as die engele gemaak” en “hom oor die werke van u hande aangestel” het. “Alle dinge het U onder sy voete gestel” (Heb. 2:5-8). Die mens se uiteindelike doel sal in die toekoms vervul word (vers 9). Johannes vat dit alles saam in die boek Openbaring wanneer hy sê dat God “ons konings en priesters vir onse God [gaan] maak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:10; sien ook 1: 5-6). Hy toon dat diegene wat geroep is om heiliges te word (Christene) “priesters van God en van Christus [sal] wees en ... saam met Hom as konings [sal] regeer duisend jaar lank” (Op. 20:4-6). Dit is die toekoms waarna Daniël se profesieë verwys! 

God onthul in die Bybel dat Hy die mens na Sy beeld geskape het om deel van Sy Goddelike familie te word en uiteindelik op hierdie aarde saam met Jesus Christus te regeer. Dit is die uiteindelike en ongelooflike doel vir die menslike lewe. Wanneer ons die bespiegelinge van filosowe en die groot verskeidenheid mensgemaakte godsdienste oorweeg, verbleek dit in onbeduidendheid wanneer dit vergelyk word met die waarheid. Slegs wanneer ons die ware doel van die menslike lewe verstaan, word die omvang van Satan se groot misleiding duidelik. Die wêreld is mislei oor die ware doel van die lewe.

Die weg

Hoe kan ons hierdie ongelooflike hiernamaals bekom? Wat moet ons doen om te kwalifiseer vir die Koninkryk van God? Baie belydende Christene glo dat ons niks moet doen nie – net aanvaar dat Jesus vir ons gesterf het, glo dat Hy die Seun van God is en die ewige lewe dan onmiddellik aan ons gegee sal word! Die Bybel onthul egter iets heeltemal anders. Die Skrif sê dat God slegs ’n paar mense in hierdie tyd roep om die uiteindelike doel van die lewe te verstaan (Joh. 6:44, 65, 66; Matt.13:10-17). Die res van die mensdom sal in die toekoms hierdie geleentheid gegun word gedurende die duisendjarige regering van Christus en die heiliges op hierdie aarde en gedurende die oordeelstydperk aan die einde van die Millennium (Op. 20:5, 11, 15). Diegene wat in hierdie tydperk geroep word, moet hulle bekeer (Hand. 2:38) en begin om die onderwysing van Jesus Christus te volg en om te leef volgens elke woord van God (Matt. 4:4). Dit sluit in om te leef volgens die Tien Gebooie – letterlik sowel as in die geestelike bedoeling (Matt. 19:16-22). Salomo het tot dieselfde gevolgtrekking gekom (Pred. 12:13). Abraham is om dieselfde rede beloon (Gen. 26:5). Die Skrif dui baie duidelik aan dat God se metodiek en doel nie verander nie (Mal. 3:6). 

Wanneer ’n persoon hom bekeer, laat doop en begin om God se gebooie te gehoorsaam, dan gee Hy aan daardie persoon die Heilige Gees – ’n geestelike krag wat geestelike groei en begrip en karakter moontlik maak (Hand. 5:32; 1 Kor. 2:10-16). God doen nie outomaties alles vir ons nie – ons het ook ’n rol om te speel in die proses (2 Tim. 1:6-7; 2 Pet. 3:18). Diegene wat nou geroep word om God se Plan en doel te begryp, wat leer om God se wette toe te pas, sal leraars word in die Koninkryk van God (Jes. 30:20-21). As burgerlike en godsdienstige leiers (konings en priesters), sal hulle saam met Jesus Christus regeer en sal hulle “die wederoprigting van alle dinge” teweeg bring (Hand. 3:19-21). Dit sal gebeur wanneer God se wette vanaf Jerusalem uitgaan deur ’n wêreldregering wat met Christus se Wederkoms ingestel sal word (Jes. 2:2-4; 9:6-7; Op. 11:15-19). Dit is waarom ons geskape is – om te kwalifiseer om ’n lid van die Godfamilie te word en deel te hê in hierdie eerskomende Koninkryk van God wat vir ewig die loop van die menslike geskiedenis sal verander. Dit is die werklike doel vir die menslike bestaan wat duidelik in die Bybel uitgespel word. Dit is die evangelie. Dit is waarom u gebore is. En dit is wat verskans is deur die filosofiese spekulasies en godsdienstige fabels wat Satan gebruik om die wêreld te mislei.