Ontdek sewe lewensbelangrike sleutels hoe om u Bybelstudie te verryk en die waarhede van hierdie dikwels geheimsinnige boek te ontsluit.

’n Mens sou dalk dink dat al hoe meer mense hulle tot die Bybel sou wend vir wysheid en bemoediging in moeilike tye. U sou egter verkeerd wees. ’n Verslag van April 2022 deur die American Bible Society het bevind dat ongeveer 26 miljoen Amerikaners gedurende 2021 meestal of heeltemal opgehou het om die Bybel te lees.

“Wat ons ontdek het, was ontstellend, ontmoedigend en ontwrigtend”, het die hoofnavorser van die verslag John Plake, gesê. “COVID-19” is die probleem waaroor ’n mens nie wil praat nie. (“Report: 26 Million Americans stopped Reading the Bible Regularly During COVID-19,” ChristianityToday.com, 20 April 2022). Die verslag het bevind dat net 10 persent van Amerikaners die Bybel gelees het gedurende 2021 en dit is 14 persent minder as in 2020. Daar is verder gevind dat ongeveer 39 persent van die Amerikaners “Bybelgebruikers” was – 50 persent minder as in 2021.

Navorsers kon nie die afname verklaar nie, maar hulle het vermoed dat die afname in kerkbywoning ’n groot faktor was wat veroorsaak het dat mense dit moeilik gevind het om self die Bybel te bestudeer en opgegee het omdat hulle niemand gehad het om dit aan hulle te verduidelik nie.

Daar is egter sleutels beskikbaar vir persoonlike Bybelstudie om die waarhede wat in hierdie, dikwels geheimsinnige Boek, versteek is te kan ontsluit. Lees verder om sewe belangrike sleutels vir Bybelstudie te ontdek.

Waarom die Bybel?

Die Bybel is elke jaar die wêreld se top verkoper. Die kanse is goed dat u een op u koffietafel het – of dalk iewers in ’n kas weggebêre het. Dit lyk of die Bybel orals is. Verstaan enigiemand regtig hierdie Boek? Kan u dit verstaan? Hoeveel mense lees selfs die Bybel? Indien u dit nie lees nie mis u die opwindendste, geesverrykende inligting en kennis wat die wêreld ooit van geweet het.

In die middel van die 1450’s het die Duitse drukker Johannes Gutenberg die eerste gedrukte Bybel aan die mensdom gegee. ’n Studie deur die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap het in 2021 beraam dat iewers tussen vyf en sewe miljard Bybels sedertdien gedruk is. In ons digitale era is miljarde Bybels nou op mense se slimfone en rekenaars afgelaai. Vanaf 2021 is ’n gewilde Bybeltoepassing deur YouVersion meer as 500 miljoen keer afgelaai en gebruikers het al na meer as 64 miljard individuele hoofstukke van die Bybel geluister en dit gelees.

Meningspeilings het getoon dat ongeveer ’n derde van die Amerikaanse volwasse bevolking glo dat die Bybel die ware Woord van God is en elke woord behoort letterlik opgeneem te word. Hierdie persentasie is effens laer as wat dit etlike dekades gelede was. Die meeste van daardie Amerikaners wat nie glo dat die Bybel letterlik waar is nie, glo dat dit die geïnspireerde Woord van God is maar dat nie alles wat dit bevat letterlik opgeneem behoort te word nie.

Ongeveer een uit elke vier Amerikaners glo dat die Bybel ’n antieke boek is van “fabels, legendes, geskiedenis en morele voorskrifte wat deur die mens opgeteken is” (“Record Few Americans Believe Bible Is Literal Word of God,” News.Gallup.com, 15 Mei 2017). Daardie een-uit-vier is geestelik verblind. Die Bybel is God se handleiding vir alle mense. Soos die apostel Paulus aan die jong evangelis Timótheüs geskryf het: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Timótheüs 3:16-17). Onthou dat toe Paulus dit geskryf het, die enigste “Skrif” wat beskikbaar was, behalwe ’n paar briewe, die Ou Testament was. Ja, die hele Skrif – Ou Testament en Nuwe Testament – is waardevol en lewensbelangrik.

Die Bybel was eens die kern van die Westerse beskawing. Dit was selfs in openbare skole onderrig. Onlangs het verwêreldliking, evolusie en materialisme die opvoedkundige instellings oorrompel en van God, die Bybel en die Tien Gebooie ontslae geraak. Morele en etiese standaarde het sedertdien in alle sektore van die samelewing afgeneem. Dit is nie toevallig nie. Die Bybel openbaar ’n onsigbare geestelike Wet wat groot tendense en agteruitgang in die Westerse wêreld verduidelik: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Galásiërs 6:7). Die Westerse wêreld saai sonde en dit sal rampspoedige gevolge maai. Paulus skryf só: “Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai” (vers 8). Ongelukkig het die Westerse wêreld korrupsie gemaai. Dit is dus nodig om wêreldnuus in die lig van Bybelse profesie te beskou. Die profeet Hosea stel dit so: “Want hulle saai wind, maar hulle sal storm maai” (Hoséa 8:7).

Vir diegene wat dit kan verstaan, is die Bybel ’n skatkis van waardevolle skatte. Hoe kan ons die skatte insamel wat in hierdie Boek vervat is? Wanneer daar van ware kennis gepraat word, dui die Bybel aan dat “as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die Here verstaan en die kennis van God vind (want die Here gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand ...”) (Spreuke 2:4-6). In hierdie artikel sal ons kortliks sewe fundamentele sleutels vir suksesvolle Bybelstudie hersien.

Sleutel 1: Die Bybel is altyd van toepassing

Sommige mense glo dat aangesien die mees onlangse boeke van die Bybel byna twee millennia gelede geskryf is, dit nie vandag op ons van toepassing kan wees nie. Daardie mening is verkeerd. Nie alleen is die Bybel vandag op ons van toepassing nie, maar die profesieë daarin openbaar ook die mensdom se toekoms en ons ongelooflike eindbestemming. Die goeie nuus is dat die mensdom homself nie heeltemal sal vernietig nie – Jesus Christus sal op die gevaarlikste tydstip in die mens se geskiedenis terugkeer om ons van onsself te red. Die Evangelie van die Koninkryk van God is áltyd van toepassing. Jesus sê dat: “... hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matthéüs 24:14).

Ons sien uit na die einde van hierdie “teenswoordige bose wêreld” (Galásiërs 1:4) en die begin van ’n nuwe era naamlik die wêreld van môre! Aan die begin van die eeu het ’n Gallup-peiling aan die lig gebring dat “vyf-en-sestig persent van die Amerikaners geglo het dat die Bybel ‘ál of die meeste van die basiese vrae van die lewe beantwoord’”. Ja, die Bybel ís altyd van toepassing. Dit beantwoord wel die mees basiese vrae van die lewe.

Sleutel 2: Die Bybel is ’n volledige Boek

Baie mense kan die Bybel nie werklik verstaan nie, omdat hulle die eerste 39 boeke ignoreer, wat die Ou Testament genoem word. Laat ons verstaan: Wanneer Jesus die Skrif aangehaal het, het Hy die Hebreeuse Geskrifte, oftewel die Ou Testament, aangehaal. In Sy geweldige geestelike stryd met Satan die duiwel, haal Jesus Deuteronómium 8:3 aan en sê: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). Daardie diep gewortelde waarheid is die grondslag vir enigiemand se geluk en ewige lewe.

Let op: Soos in Sy stelling hierbo, waar Jesus ons die twee groot Gebooie leer, haal Hy dit aan uit die Ou Testament. Die eerste groot Gebod – om God lief te hê met ons hele hart, siel en krag – is in Deuteronómium 6:5 geskryf. Jesus se tweede groot Gebod, wat vir ons sê om ons naaste lief te hê soos onsself, kom uit Levítikus 19:18. Hierdie Ou Testamentiese verse wat deur Jesus aangehaal is, was en is steeds Gebooie van God.

Terwyl hy aan Timótheüs skryf, praat Paulus van die opregte geloof wat in Timótheüs se ouma Loïs en moeder Eunice was. Hulle het Timótheüs die Skrif geleer van kleintyd af. Wat was daardie Skrifte? Die eerste 39 boeke van die Bybel. Die Nuwe Testament was toe nog nie geskryf nie. U kan daarvan lees in 2 Timótheüs 3:15: “... en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.” Timótheüs was in staat om verlossing te verstaan deur middel van die Ou Testament en deur sy aanvaarding van Jesus Christus as sy Verlosser.

Die Bybel is ’n volledige Boek. Dit begin met die boek Génesis en eindig met die boek Openbaring. Trouens, God waarsku: “... elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is” (Openbaring 22:18-19). Pasop vir enigiemand wat verkondig dat een of ander nuwe dokument “deel van” óf ’n vervanging vir die Bybel is. Ons kan nie God se Waarheid of Sy Plan verstaan nie, tensy ons die hele Bybel as die Woord van God bestudeer. Ons moet die Ou Testament asook die Nuwe Testament lees om die Bybel te kan verstaan.

Sleutel 3: Die Bybel interpreteer die Bybel

Meer as 25 persent van die Bybel is profesie – baie van daardie profesie is in simboliese taal geskryf, waarmee die boeke Daniël en Openbaring gevul is. Hoe kan ons dit verstaan?

Kyk na een voorbeeld in die eerste hoofstuk van Openbaring. “En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en ’n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag” (Openbaring 1:16). Hoe behoort ons hierdie beskrywing van die verheerlikte Messías, die Seun van die mens, te verstaan wat tussen sewe kandelaars staan en sewe sterre vashou? Wat simboliseer hierdie beelde? Ons hoef nie te raai nie; die Bybel self verduidelik die betekenis net vier verse verder: “... die verborgenheid van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en die sewe goue kandelaars: die sewe sterre is die engele van die sewe gemeentes, en die sewe kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes” (Openbaring 1:20). Sterre is engele en lampe is kerke in Bybelse simboliek.

Profetiese literatuur gebruik die woord berg as ’n simbool van ’n koninkryk, ryk of regering. Kyk na ’n gedeelte in Jeremia, waar God besig is om Sy straf oor die groot ryk van Babilon te verklaar. “Maar Ek sal voor julle oë aan Babel en aan al die inwoners van Chaldéa vergelde al hulle kwaad wat hulle in Sion gedoen het, spreek die Here. Kyk, Ek het dit teen jou, o berg wat verwoes, spreek die Here; jy wat die hele aarde verwoes. En Ek sal my hand teen jou uitstrek en jou van die rotse afrol en sal jou maak ’n afgebrande berg” (Jeremia 51:24-25).

Hier gebruik God die simbool van ’n berg vir ’n koninkryk of ’n ryk. Koning Nebukadnésar van Babilon het ’n droom gehad, wat Daniël aan hom verduidelik het. Die koning het van ’n groot beeld gedroom en gesien hoe ’n klip die voete van hierdie beeld verpletter. Die beeld het die koninkryk van Babilon voorgestel wat deur die Persiese Ryk, die Grieks-Masedoniese Ryk en uiteindelik die Romeinse Ryk opgevolg is. “Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyn gestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ’n groot rots geword wat die hele aarde gevul het” (Daniël 2:35).

Daniël het verduidelik dat koning Nebukadnésar die hoof van goud was wat deur die beeld voorgestel is (vers 38). Wat was egter hierdie klip wat ’n groot berg geword het en die aarde gevul het? Die Bybel interpreteer die Bybel: “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (verse 44-45).

Watter berg of koninkryk sal oor die hele aarde regeer? Soos soveel profesieë verduidelik, sal daardie Koninkryk die Koninkryk van God wees wat deur die Koning van die konings, die Messías, Jesus Self, regeer sal word! Hy sal die laaste herlewing van die eindtydse Romeinse Ryk vernietig. Uiteindelik sal vrede oor die hele aarde heers onder die Regering en gesin van God.

Indien ’n simboliese woord nie duidelik is nie, soek elders in die Bybel vir die betekenis daarvan. Dit bring ons by ons volgende sleutel.

Sleutel 4: Bestudeer al die Skrifture oor ’n onderwerp

Die Bybel weerspreek homself nie: “... die Skrif [sal] nie gebreek kan word nie” (Johannes 10:35). Persone wat onderrig wat versuim om al die skrifture oor ’n onderwerp te bestudeer, leer dikwels valse leringe wat gelowiges mislei. Neem as voorbeeld die twispunt wat soms as “Wet of Genade” gekenmerk word. Laat God se genade Christene toe om ’n lewe van heersende sonde te lei en opsetlik ongehoorsaam aan hulle Verlosser te wees? Natuurlik nie! Jesus sê: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Matthéüs 19:17). Nadat Hy daardie stelling gemaak het, gaan Jesus voort om verskeie van die Tien Gebooie op te noem. Ons sien dus dat God se wonderlike genade ons nie toestemming gee om Sy morele Wet te oortree nie.

Nog ’n Skrif wat algemeen verkeerd gebruik word, is Efésiërs 2:15. Ons lees dat Jesus Christus “... deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan” werklik tot niet gemaak het. Sommige mense dink dit beteken dat morele Wette en die Tien Gebooie nie op Christene van toepassing is nie. In ooreenstemming met wat Jesus egter elders in die Skrif onderrig, verwys hierdie vers na ordinansies (Grieks: dogma), met ander woorde mensgemaakte wette wat verdeeldheid tussen Jode en heidene veroorsaak het. Dit herinner ons daaraan dat Christene, verenig as geestelike Israel, onder Jesus se verheerliking van God se Wet leef, in plaas van om onder die fisiese reëls wat fisiese Israel van die heidene geskei het.

Neem hierdie eenvoudige opmerking in ag aangaande Efésiërs 2:15 uit Matthéüs 5:17 en Romeine 3:31 wat onderrig dat God se morele standaard wat in die Ou Testamentiese Wet uitgedruk word, nie verander word deur die koms van Christus nie. Christus het inderdaad, een of ander dogma – mensgemaakte ordinansies – afgeskaf, maar die Tien Gebooie is steeds ten volle van toepassing en in werking.

Onverskillige gebruik van die Skrif kan lei tot valse gevolgtrekkings, soos die verkeerde idee dat Christus wel God se morele Wet afgeskaf het, in plaas van die waarheid dat Hy daardie Wet vervul en uitgebrei het. Wees versigtig dat predikante u nie verwar met “soetsappige” Bybelverse wat uit verband geruk word nie. Bestudeer al die skrifture oor ’n onderwerp.

Sleutel 5: Verstaan die konteks

Terwyl u al die skrifture oor ’n onderwerp bestudeer, gaan ’n entjie verder – lees al die Skrifture met betrekking tot ’n vers wat u bestudeer. Waarom? Sommige mense beweer byvoorbeeld verkeerdelik dat die Jerusalem-byeenkoms in Handelinge 15 heidene daarvan gevrywaar het om die Tien Gebooie te onderhou. U sal egter ’n ander idee kry – die ware feite – indien u sélf lees wat die apostel Jakobus se besluit was: “Daarom oordeel ek dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoeilik nie, maar aan hulle skrywe dat hulle hul moet onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed” (Handelinge 15:19-20).

Wanneer die Apostels hierdie vier verbodsbepalings spesifiseer, het dit die heidene op ander maniere gevrywaar om te sondig? Wanneer die gebod wat moord verbied oortree word of die een wat die aanbidding van enigiets of enigiemand behalwe die ware God verbied? Natuurlik nie! Die Apostels het op geen manier die morele Wet van God herroep nie. Dit is nodig dat ons dit in konteks lees om te kan verstaan. Wat was die belangrike kwessie? “EN sekere persone wat van Judea afgekom het, het die broeders geleer: As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie, kan julle nie gered word nie” (Handelinge 15:1).

Die kwessie was die besnydenis. Die konferensie het besluit dat heidene nie besny hoef te word om gered te word nie. Die apostel Paulus skryf later aan die heidense gelowiges: “Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God” (1 Korinthiërs 7:19). Maak seker dat u al die skrifte rondom die vers lees wat u bestudeer.

Sleutel 6: Beproef alle dinge

Ons hier by Die Wêreld van Môre werk regtig hard daaraan om u vertroue te verdien wat betref ons geloofwaardigheid en akkuraatheid in Bybelse onderrig. ’n Deel van daardie onderrig is egter dat u, geagte leser, aan uself moet bewys wat u in hierdie bladsye lees. Moenie dit wat u in hierdie tydskrif lees as vanselfsprekend aanvaar nie. Lees dit in u eie Bybel. “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21).

Let op die gesindheid van die inwoners van Beréa, wat deur die Skrif geprys word vir hulle positiewe, ondersoekende gesindheid met die bestudering van die Skrif: “En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (Handelinge 17:11).

Een manier om dit te toets of te bewys, is om die beginsels en voorskrifte van die Bybel na te kom. Jesus beklemtoon dat ons volgens die Bybel moet leef, volgens “elke woord van God”. Hy het gesê: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). U kan die beginsels in die Bybel bewys en toets deur die instruksies daarvan uit te voer. Dit is hoe u goeie insig kan verkry. Ons lees: “Die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid; almal wat dit beoefen, het ’n goeie verstand” (Psalm 111:10). Het u dalk al opvoedkundiges gehoor praat van “leer deur te doen”? Hierdie beginsel geld ook in u Christelike lewe.

Sleutel 7: Bid vir insig

Die Bybel beklemtoon dat ons ’n leerbare gesindheid nodig het. Dit vertel aan ons dat koning Dawid van Israel ’n man na God se hart was (Handelinge 13:22). Let op Dawid se leerbare gesindheid wanneer hy vir begrip bid: “Here, maak my u weë bekend; leer my u paaie. Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil. U verwag ek die hele dag” (Psalm 25:4-5).

Geagte Lesers, bid vir insig terwyl u u Bybel lees en bestudeer. Bid vir leiding. God seën diegene wat die Skrif respekteer en Sy Heilige Woord eer. Die Almagtige God sê: “Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die Here. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2).

Leef volgens dit wat u lees

Die Bybel is die belangrikste Boek in die wêreld. Indien u nagelaat het om die Bybel te lees, is dit nou die tyd om te verander. Lees dit daagliks. Indien u gesindheid reg is, sal u baie geseën word en u lewe sal verander. Doen soos Jesus sê: “Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe” (Johannes 6:63).

Sal ons nasies uiteindelik die boodskap kry dat ons nasionaal sowel as individueel tot bekering behoort te kom? Sal ons ons uiteindelik tot die God van die Bybel wend, gehoor gee aan Sy waarskuwing en Sy Gebooie gehoorsaam? Dit is nodig om die Bybel te bestudeer en daarvolgens te leef. Jesus herinner ons: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). Slegs gehoorsaamheid aan God en liefde vir die Skrif kan tot individuele asook nasionale voorspoed lei.

Die Bybel is nie net ’n Boek vir vandag nie, maar ook die Boek van die toekoms. Jesus sê: “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.” (Lukas 21:33). Dank God dat Hy Sy ontsagwekkende geestelike waarheid – die doel van die lewe – met ons gedeel het deur Sy Woord, die Bybel.