Vraag: Ek is jare gelede gedoop. Ek het dus aanvanklik aangeneem dat dit nie op my betrekking het toe u tydskrif en beeldsending van doop praat nie. Nou, nadat ek u literatuur gelees het, begin ek wonder of ek behoorlik gedoop was. Hoe kan ek weet?

Antwoord: Christus het Sy dissipels beveel om diegene wat God geroep het tot bekering en doop, te doop. “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mattheüs 28:19-20).

Wat vereis God van ’n doop sodat dit geldig kan wees in Sy oë? Christus ken sekerlik die vereistes, aangesien dit Hy was wat die vereistes van doop tot redding ingestel het. “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word” (Markus 16:15-16).

Wat moet ’n mens glo? ’n Mens moet die evangelie wat Christus verkondig het, glo. Wat was daardie evangelie? “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15).

Jesus Christus, die Seun van God, het die goeie nuus gebring dat die Koninkryk van God uiteindelik beheer oor al die regerings van die wêreld sal oorneem, en ’n tyd van vrede administreer tussen voorheen vegtende nasies.

Van wat moet ’n mens hom bekeer? Van sonde. Wat is sonde? “Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God” (1 Johannes 3:4, NV). Het u tydens u vorige doop Jesus se opdrag gehoorsaam deur u te bekeer van ongehoorsaamheid aan die Tien Gebooie (Mattheüs 19:17-19)?

Deur hierdie punte in gedagte te hou en uself te vra: Toe ek gedoop was, het ek my bekeer van my sondes? Indien u geweet het wat sonde is, maar u nogtans nie voorgeneem het om, met die hulp van u Verlosser, daarvan te distansieer nie, dan het u nie berou tot bekering ervaar nie. Indien u nie eens geweet het wat sonde is nie – moontlik het u gedink dat, as ’n Christen, u net kan doen wat u wil sonder dat dit as sonde gereken sou word – dan het u u sekerlik nie bekeer van u sondes nie.

Een teken van ’n ongeldige doop is dat dit nie die Bybel se voorskrif gevolg het nie. Let op dat die Skrif baie duidelik beveel dat die doop in water uitgevoer moet word, deur algehele onderdompeling (Mattheüs 3:1-16; Johannes 3:23; Handelinge 8:38-39). ’n Blote besprinkeling voldoen nie aan die Bybelse simboliek van afwassing van die sondes van die verlede nie (Handelinge 22:16).

Dan ook nog, indien u op ’n baie jong ouderdom gedoop was – moontlik selfs as ’n baba – kon u nie verstaan het wat dit beteken om u te bekeer nie. Indien u nie eens die een was wat u doop as ’n baba of kind aangevra het nie, dan is dit ’n seker teken dat u doop nie u ware bekering aangedui het nie.  

Moontlik voel u dat u wel bekeer het toe u voorheen gedoop was.  Indien wel, vra uself nog ’n vraag: Het u die evangelie geglo? Die meeste mense wat hulself deesdae “Christene” noem, het slegs ’n vae en foutiewe idee van wat die evangelie is. Party van hulle glo dat dit ’n boodskap oor Jesus is, terwyl andere weer glo dat dit ’n boodskap is oor welvaart en selfversekering. Baie min mense verstaan die waarheid – dat die evangelie wat Jesus verkondig het, die evangelie is van die Koninkryk van God, die boodskap van ’n toekomstige Koninkryk wat op hande is, om regeer te word deur Jesus Christus Self, en waaronder die hele mensdom die vreugdes en seëninge sal ervaar om volgens God se manier te lewe.  

Party mense haas hulle om gedoop te word omdat hulle dink dat dit die sosiaal-aanvaarbare ding is om te doen. Hulle vriende is almal gedoop en hulle voel uitgesluit as hulle nie ook gedoop is nie. Die gevolg is dat hulle vra om gedoop te word, lank voordat hulle “die koste bereken het” van hierdie ewige verbintenis (Lukas 14:28). Omdat doop so ’n gewigtige besluit is, behoort u op u hoede te wees vir diegene wat u in die doop wil in haas, sonder om u die tyd te gun om daaroor te bid, dit te bestudeer en daaroor te vas, terwyl u God se wil in u lewe soek. Om meer oor die doop te leer en u te help oorweeg of u dit nodig het, skryf asseblief aan ons of bel die Streekkantoor naaste aan u en vra ’n gratis kopie aan van ons insiggewende boekie: Behoort u Gedoop te word?