Ons weet almal dat geloof noodsaaklik is vir verlossing, maar hoop is ook. Watter beslissende rol speel hoop vir ’n Christen wat streef om die ewige lewe te bekom?


God se Woord sê “sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag” (Hebreërs 11:6), maar dit is ook duidelik dat ’n Christen moet hoop handhaaf as hy verwag om God se Koninkryk binne te gaan. “Want ons is gered in hoop” (Romeine 8:24). Wat is die kosbare Christen hoop?

Daar is tans oor die ses biljoen mense op aarde, maar waarom het die oorgrote meerderheid van daardie biljoene mense geen realistiese hoop op ’n toekomslewe nie? Waarom is so baie mense in absolute onkunde oor die mens se enigste hoop om onsterflikheid te bekom?

Bykans ses duisend jaar gelede verduidelik God aan die eerste mens hoe hy en sy nasate die ewige lewe kan bekom - mits hulle net hul Skepper sal gehoorsaam en dít doen wat Hom welgevallig is. Hulle kon óf deel hê aan die “boom van die kennis van (beide) goed en kwaad” en onder die verskriklike gevolge van sonde lei: hartseer, sielskwelling, armoede, onmin, geweld en oorlog, óf hulle kon hul Skepper gehoorsaam en in vrede, geluk en ewige heerlikheid lewe (Genesis 2:15-17).

Dit is betreurenswaardig dat Adam en sy vrou Eva God se gebooie en Sy lewenswyse verwerp het en die slegte pad gekies het wat ’n mengsel van beide “goed en kwaad” is. Gevolglik belet God hulle toegang tot die weg wat hulle in staat sou stel om vir ewig te leef. “Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie! Toe stuur die HERE God hom weg uit die tuin van Eden” (Genesis 3:22-23). Op daardie tydstip belet God hulle van die “hoop op die ewige lewe”.

’n Wêreld sonder hoop

Gedurende die afgelope 6,000 jaar het die mens sy eie gang gegaan, sy eie ding gedoen en vasbeslote geweier om God en Sy goedgunstige weë te volg (Romeine 3:10-18). Wat was die tragiese gevolge van hierdie weiering? Dit is ’n berg van moeilikhede en ellende; emosionele en fisiese swaarkry, siekte en kwale, menslike verknorsing en kranksinnigheid, misdaad en geweld, ontydige dood, massamoord en wêreldoorloë (sien Romeine 1:21-32; 6:23; Esegiël 18:4)! Min van die biljoene der biljoene manne en vroue wat geleef het, het ooit werklike geluk en vreugde of vrede en voorspoed geken. Die meeste van daardie biljoene het min, indien enige, werklike hoop op ’n “goeie lewe” gehad, hetsy in hierdie wêreld of in die een wat kom. Die oorgrote meerderheid was van God afgesny, sonder ware kennis van hul Skepper en sonder werklike hoop in God.

Die apostel Paulus verduidelik hierdie hopeloosheid aan die Efesiërs: “Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was ... dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou ... is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God” (Efesiërs 2:11-13, 19).

Die apostel Paulus verheug hom in die kennis van die ware God, wat duidelik openbaar hoe mense deel van Sy Familie kan word: “Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus, van wie elke [heilige] geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang ... sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God” (3:14-19). Die eens benewelde verstande van die Efesiërs was nie meer afgesny van toegang tot hul Skepper nie, maar kon deel hê in die “hoop van die evangelie” (Kolossense 1:23) - ewige lidmaatskap tot die Godfamilie - as Sy dierbare “seuns en dogters” (2 Korintiërs 6:18).

Die meeste van die tallose biljoene mense wat geleef en gesterf het, het nooit hul Skepper geken nie, gevolglik het baie van hulle in volslae hopeloosheid geleef terwyl hulle geglo het dat hulle na die dood vergetelheid in die gesig sou staar! Selfs diegene wat geglo het in ’n hiernamaals, het dikwels die heidenwêreld se bygelowige bedrog geglo, soos nirvana, limbo, vagevuur of die een of ander aardse paradys, of hulle glo dat hulle die ewigheid saam met God in die Hemel sal deurbring. Sommige Amerikaanse Indiaanse stamme glo dat hulle na die dood, na die “gelukkige jagveld” gaan en daarom maak hulle seker dat hulle met hul wapens, krale en ander persoonlike besittings begrawe word. Die antieke Egiptenare het hul afgestorwenes gebalsem, omdat hulle geglo het dat die “siele” van die dooies na die onderwêreld sou oorgaan waar hulle die materiële dinge sou geniet waarmee hulle in hul grafkelders omring is.

Geloof en hoop

Geloof en hoop werk saam tot ons verlossing. Geloof in God se beloftes, tesame met gehoorsaamheid, lei tot opregte hoop (Jakobus 2:17-26).

God se mense glo nie in mensgemaakte “tevergeefse hoop” - ’n fiktiewe “paradys” êrens in die hemele nie. Wat is dus die hoop van die Christen? Die apostel Paulus onthul duidelik dat hoop, tesame met geloof en liefde, een van die drie belangrikste instrumente van ’n Christen is (1 Korintiërs 13:13) wat hom in staat sal stel om tot die einde toe vas te byt en daardeur elke struikelblok wat Satan, die wêreld of die “menslike natuur” voor hom plaas, te oorwin.

Ons word verseker dat God “nie kan lieg nie” (Titus 1:2) en “geen ding sal by God onmoontlik wees nie” (Lukas 1:37). Verder verklaar Christus dat “die Skrif nie gebreek kan word nie” (Johannes 10:35). Daarom, indien ons werklik God se Woord ken, kan ons die vaste sekerheid hê dat wat ons ookal in geloof “in [Christus se] Naam” vra (Johannes 14:14), God ons sekerlik sal gee: “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil [soos in die Bybel onthul]” (1 Johannes 5:14).

Kom ons kyk na ’n paar van God se beloftes wat nie verbreek kan word nie. Jesus sê: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge [soos voedsel, klere en behuising] sal vir julle bygevoeg word” (Mattheus 6:33). Paulus verklaar: “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus” (Filippense 4:19). God beloof ook: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie ...” (Hebreërs 13:5-6). Verder sê Dawid: “Die Engel van die HERE trek ’n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit” (Psalm 34:8). Psalm 91 gee verskeie kere die versekering van God se redding en beskerming waarop Sy mense kan aanspraak maak.

Een groot belofte, wat Christene baie bemoedigend kan vind, kom in 1 Korintiërs 10:13 voor: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra”. Die Woord van God verseker ons van God se absolute trou: “omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ’n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (Filippense 1:6).

’n Ware Christen hoop nie net dat God in al sy behoeftes sal voorsien, hom van noodlottige ongelukke sal beskerm, hom al sy sondes sal vergewe of nie sal toelaat om meer versoek te word as wat hy kan hanteer nie. Die ware Christen het eerder die absolute geloof dat God getrou is om Sy beloftes na te kom! Hy weet met absolute sekerheid - hy geniet die volle versekering dat - omdat God nie kan lieg nie en Sy Woord nooit verbreek kan word nie, Hy hom nie in die steek sal laat nie en elkeen van Sy beloftes sal hou! Daar is honderde beloftes in God se Woord waarop Sy kinders kan aanspraak maak, mits ons God en Sy Woord glo. Ons moet egter altyd onthou om daardie dinge volgens Sy geopenbaarde wil te vra en dit is ewe belangrik dat ons gehoorsame kinders moet wees as ons verwag dat God ons moet hoor en ons gee wat ons ookal vra: “en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom” (1 Johannes 3:22).

Wat is die hoop van die Christen?

Hoe verskil geloof en hoop van mekaar? Geloof is “’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Hebreërs 11:1) Deur ’n paar sleutel teksverse te ondersoek, sien ons duidelik hoe geloof en hoop verskillend is - hoewel hulle mekaar komplementeer, tog is elk absoluut noodsaaklik vir ons fisiese en geestelike oorlewing. Hoop, in samewerking met geloof, stel ons in staat om geduldig al ons beproewings te verduur en om al ons moeilikhede te oorwin, sodat ons vol vertroue die Koninkryk van God kan verkry!

Die apostel Paulus vertel ons dat: “die skepping wag met reikhalsende verlange [d.i. hoop] op die openbaarmaking van die kinders van God” (Romeine 8:19). Vine’s Expository Dictionary of New Testament Words sê dat hoop (elpis in Grieks) ’n “gunstige en voortdurende afwagting” is (bl. 232). Abraham, die vader van die gelowiges, stel vir ons ’n uitstekende voorbeeld deur al sy hoop en drome op God te vestig: “Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke” (Romeine 4:18).

Paulus sê dat gelowiges “roem in die hoop op die heerlikheid van God” (Romeine 5:2), dit is, hulle verheug in die verwagting om onsterflik gemaak te word. Verder sê hy: “Maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam nie” (verse 3-5). Hy sê ook dat diegene wat die “eerstelinge van die Gees” het, “sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam. Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog? Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding” (Romeine 8:23-25). Christene moet hulle altyd “verbly … in die hoop, … geduldig [wees] in die verdrukking …” (Romeine 12:12). Paulus sê dat ons slegs deur “lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê ... En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees” (Romeine 15:4, 13).

Die apostel Paulus bid vurig “dat die God van onse Here Jesus Christus ... aan julle die Gees van wysheid ... mag gee ... sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping ... is” (Efesiërs 1:17-18). Later in hierdie sendbrief vertel Paulus die Efesiërs: “Dit is een liggaam [d.i. die ware Kerk] en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping” (4:4); hy herinner ook die Kolossense aan die “hoop wat vir julle weggelê is in die hemele” (Kolossense 1:5) en vermaan hulle om versigtig te wees om “julle nie [te] laat afbring van die hoop van die evangelie nie” (vers 23), wat die “hoop van die ewige lewe” is (Titus 1:2). Paulus verwys dikwels na die “hoop en die opstanding” (Handelinge 23:1, 6), en vertel die Jode dat “daar ’n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges” (24:13-15).

“Die hoop van die ewige lewe”!

Dieselfde apostel verseker Christene dat “die hoop op die saligheid” soos ’n “helm” is in hul geestelike wapenrusting (1 Thessalonicense 5:8), maar hierdie “saligheid” is iets wat geen ware Christen ooit as vanselfsprekend moet aanvaar nie. Selfs al is dit God se gratis geskenk (deur Sy “genade” volgens Efesiërs 3:8-9), onthul Paulus se skrywes nietemin dat dit vir gelowiges moontlik is om te kort te skiet aan daardie prys van onsterflikheid (Hebreërs 6:1-6; 10:21-31). Paulus skryf ook aan die Hebreërs dat hulle “net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar [moet] vashou” (Hebreërs 3:6) en vermaan hulle om “dieselfde ywer [te] mag toon om te kom tot die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe” (6:11). Dan herinner hy hulle dat hulle moet vasbyt, sodat hulle kan vashou “aan die hoop wat voorlê; en ons het dit as ’n anker van die siel wat veilig en vas is” (verse 17-19).

Paulus herinner Titus, sy medeleraar, aan die Christen se “hoop van die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het” (Titus 1:1-2); en hy herinner Titus ook dat “ons, geregverdig deur sy [Christus se] genade, erfgename ... word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe” (3:7).

Verder verwittig Paulus die Jode wat op die Sanhedrin gedien het van sy onwrikbare oortuiging van ’n hiernamaals: “Maar dit erken ek voor u dat ek ... die God van my vaders dien ... en ’n hoop op God het ... dat daar ’n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges” (Handelinge 24:13-15).

Petrus en Johannes se getuienis

Die apostel Petrus besef ook die belang van “hoop”: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ... ons die wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop ... sodat ons ’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons” (1 Petrus 1:3-4). Hy vermaan Christene om seker te maak dat hul “geloof en hoop op God [is]” (vers 21). Hy vermaan die gelowiges ook om: “altyd bereid [te wees] om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is” (3:15).

Christus se geliefde apostel Johannes het ook besef dat die Christen se vurige hoop op verkryging van die opstanding ’n “suiweringseffek” op die verstand van elke gelowige het: “Kyk wat ’n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! ... En elkeen wat hierdie hoop [op verheerliking] op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Johannes 3:1-3).

Die Ou Testamentiese profete en heiliges lê groot hoop op God aan die dag: “Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die HERE sy God, wat hemel en aarde gemaak het” (Psalm 146:5-6). Koning Salomo sê van hoop, dat die “verwagting [d.i. hoop] van die regverdiges is vreugde, maar die hoop van die goddelose vergaan” (Spreuke 10:28). Salomo verduidelik ook: “’n Uitgestelde hoop maak die hart siek; maar ’n wens wat uitkom, is ’n lewensboom” (13:12). Hy voeg by dat die “regverdige vind ’n toevlug [d.i. hoop] by sy dood” (14:32).

Regverdige Job vra: “As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe? Dan sou ek hoop al die dae van my stryd totdat my aflossing kom [by die opstanding]” (Job 14:14). Die profeet Jeremia sê: “Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is. Want hy sal wees soos ’n boom wat by die water geplant is” (Jeremia 17:7-8). Hy sê ook: “Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE” (Klaagliedere 3:26).

Is ons verlossing verseker?

Voordat ons die bogenoemde vraag oor die sekerheid van ons verlossing kan antwoord, moet ons die volgende vrae oorweeg: Sê God dat dit Sy wil is dat alle mense ’n geleentheid op verlossing gegun word? Ja! (verg. 2 Petrus 3:9)! Sal almal “gered” word? Nee! Sal sommige “verlore” gaan en die “tweede dood” ervaar? Ja (verg. Hebreërs 6:1-6; Openbaring 20:12-15)! Indien enigiemand daarop aandring om teen God te rebelleer, sál Hy sodanige rebel toelaat om die dood te kies!

Waarom sal ’n liefdevolle God die bose vernietig? God sal aan alle mense die ewige lewe bied, maar Hy sal nie verlossing op enigiemand afdwing nie (Johannes 3:16; Romeine 10:13). Indien enige persoon gewillig is om hom te bekeer en God se lewenswyse te aanvaar, en hom daardeur totaal wegkeer van boosheid, sal hy gered word. Indien enigeen egter teen God en Sy weë draai - God se uitgestrekte hand van redding weier en daardeur opsetlik sondig - sal hy die uiteindelike prys vir rebellie en boosheid betaal - die ewige dood (Hebreërs 10:23-29)! Hoe kan ’n liefdevolle God toelaat dat enigeen vir altyd in ’n ewigbrandende vuur brand, in lyding vir alle ewigheid? Hy kan nie en Hy sal nie (Genesis 2:17; Esegiël 18:4, 20; Romeine 6:23)! Die goddelose sal doodeenvoudig uitgewis word en dit sal wees asof hulle nooit was nie (Maleagi 4:1; Daniël 12:2; Mattheus 10:28)! ’n Christen moet nooit vergeet nie: Dit is God se begeerte dat almal gered word (1 Timotheus 2:4)! Hy dwing egter niemand om Sy weg te kies nie. Elke persoon moet vir homself kies of hy God wil gehoorsaam en Sy weg wil volg, en of hy die pad van die goddelose wil volg en uiteindelik vernietiging wil beleef (Deuteronomium 30:15-20)!

Kan enigeen geloof hê - absolute sekerheid - dat hy nie sal “wegval” nie? Ja - maar slegs indien hy God gehoorsaam en gewillig is om die voorwaardes na te kom wat Hy in die Bybel voorskryf. Let daarop dat hierdie “indien” aandui dat dit moontlik is vir ’n persoon om hom weg te keer van God en Sy weg. Twyfel of onsekerheid oor ons verlossing ontstaan altyd uit die swakhede van die menslike wil om hom onwrikbaar aan God se wil te onderwerp. Elke mens het die mag om te kies om gehoorsaam of ongehoorsaam te wees aan God, maar ’n persoon kan kies om God te gehoorsaam, en dan later weg draai. Wat dan? Tensy so ’n goddelose mens hom bekeer, sal hy nie God se koninkryk binnegaan nie (verg. Esegiël 14:14; Openbaring 22:14-19)! Alle onbekeerde persone sal deur God verwerp word! Sodanige opsetlike sondaars sal vernietig word deur ’n liefdevolle, genadige Skepper - wie se groot liefde nie kan toelaat dat hulle vir ewig in volslae ellende leef nie (Psalm 145:8-9, 20)!

Ons kan absolute geloof, versekering en sekerheid hê dat die Grote God nie net almagtig is nie, maar ook alwys en volmaak in karakter - daarom sal Hy altyd doen wat Hy in Sy Woord beloof, maar wat is ons aandeel? Ons het die heerlike “hoop op die opstanding”, maar nie die absolute versekering daarvan nie - tensy ons “volhard tot die einde toe” volgens Christus se eie woorde (Mattheus 24:13). Slegs diegene wat boosheid in hierdie lewe “oorwin” sal dit maak tot in God se Koninkryk (Openbaring 2:7, 11, 17, 26, 3:5, 12, 21)! Selfs die apostel Paulus openbaar dat hy dit “nog nie gemaak het” nie. Hy besef baie goed dat hy kon wegval as hy nie waaksaam is nie. Paulus wou “Hom [Christus] ... ken en die krag van sy opstanding ... of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp [die ewige lewe] ... Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie [die ewige lewe], Maar ... jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus” (Filippense 3:10-14). Ja, ons kan geloof hê dat ons God se Koninkryk sal binnegaan - mits ons gewillig is om die wil van ons Skepper te gehoorsaam!

Onthou dat geloof en hoop baie nou verwant is. Hulle komplementeer mekaar, maar is nie identies nie. Om geloof te hê is om sekerheid oor iets te hê, terwyl hoop ons opregte verwagting beklemtoon. Ons hoop om die Koninkryk te verkry dryf in ons die gehoorsaamheid wat, saam met geloof, ons help strewe daarna om “sy gebooie [te] bewaar en [te] doen wat welgevallig is voor Hom” (1 Johannes 3:22)!

Mag al God se dierbare kinders ’n sterk, blywende hoop volhou - die hoop op die opstanding! Mag almal die vaste vertroue hê dat God hul gehoorsaamheid sal beloon met die ewige lewe in Sy Koninkryk. Almal wat met ywer “streef” daarna (Lukas 13:24) om Sy Koninkryk in te gaan, en wat tot die heel einde toe “getrou” bly, sal dit maak (Openbaring 17:14). Mag ons genadige Hemelse Vader ons die einste geloof van Christus verleen, wat ons in staat sal stel om ons vurige hoop om onsterflikheid te bekom, ’n werklikheid sal maak - op die oomblik wat ons ons langverwagte “kroon van die lewe” bekom (Jakobus 1:12)!