My oorlede skoonpa het in 1940 as agtjarige seuntjie, in verbystering beleef hoe die Slag van Brittanje oor die suide van Engeland gewoed het. Brittanje se oorlewing het afgehang van hierdie luggeveg en dapper vlieëniers het gesukkel om die inval [vanuit Duitsland] te voorkom. Die moedige pogings van die vlieëniers – net ’n paar manne – het in hulle grootste oomblik uiteindelik die verloop van die Tweede Wêreldoorlog vir baie mense laat draai. Beplanning en voorbereiding was die sleutel tot sukses, maar die geskiedenis vertel ons ook van ’n – wat deesdae verwaarloos word – krag wat selfs op nasionale vlak werk om die oënskynlik onmoontlike oorwinning te behaal. Wanneer ons die beslissende gebeure van 1940 in die lig van God se Woord oordink, watter lesse kan ons vandag leer en toepas?

Die naderende Duitse leër se blitzkrieg-besetting van Frankryk, België, Holland en Luxemburg vroeg in die somer van 1940, het beteken dat Brittanje volgende aan die beurt was. ’n See-aanslag oor die Engelse kanaal het onafwendbaar gelyk. Brittanje was op die punt om die laaste verdedigingslinie te word teen wat premier Winston Churchill “die bedreiging van tirannie” genoem het. Die Duitse opperbevel het besluit dat heerskappy in die lug noodsaaklik vir hulle oorwinning was en in Augustus 1940 het hulle verwag om dit te wen deur die Koninklike Lugmag (RAF) in ’n kwessie van 14 tot 28 dae te vernietig.

“Hy sal ons op hierdie eiland moet breek”

Die Slag van Brittanje, wat van 10 Julie tot 31 Oktober 1940 daardie jaar geveg is, is deels uitsonderlik omdat die naam daarvan kom van ’n toespraak wat Churchill gelewer het voordat die konflik selfs nog begin het. Op 18 Junie 1940 het Churchill verklaar.

Wat Generaal Weygand die Slag van Frankryk genoem het, is verby. Ek verwag dat die Slag van Brittanje nou sal begin. Die voortbestaan van die Christelike beskawing hang van hierdie geveg af ... Hitler weet dat hy ons op hierdie eiland sal moet breek of die oorlog verloor. Indien ons teen hom kan opstaan, kan die hele Europa vry wees ... Laat ons ons dus staal vir ons pligte en onsself so handhaaf dat, indien die Britse Ryk en sy Statebond nog duisend jaar sou voortduur, mense nog steeds sal sê: “Hierdie was hulle grootste oomblik”.

Churchill se effektiewe gebruik van die Engelse taal het die hele nasie gemotiveer om bo die situasie uit te styg. “Die land het op sy eie manier gereageer op die uitsonderlike opofferings wat die vlieëniers gemaak het: Grondpersoneel het vliegtuie regdeur die dag en nag gediens, terwyl burgerlikes bygedra het tot Spitfire-fondse – vrywillige skenkings wat in 1940 ongeveer £1 miljoen per maand beloop het om meer vliegtuie te bou” (Simon Schama, A History of Britain, volume 3, bl. 522, 2002).

Die beplanning en versiendheid onder die RAF-leierskap het dit moontlik gemaak dat daar deeglike voorbereidings getref kon word onder Air Chief Marshal Sir Hugh Dowding, Nuut-ontwikkelde radartorings wat by opsporingstasies langs die oos- en suidkus van Engeland in posisie geplaas is, het die opsporing van vliegtuie vergemaklik en kon waarskuwings gee teen naderende vliegtuie, selfs nog voordat hulle die Kanaal oorgesteek het. Lede van die Royal Observer Corps by die kus het daarna die getalle en ander besonderhede visueel bevestig. Hierdie inligting is direk aan die Vegters-bevel Hoofkwartier (Fighter Command Headquarters) oorgedra om die reaksie van verskillende groepe vegvliegtuie te koördineer. Hierdie “Dowding-stelsel” het verseker dat meer as 75 persent van die vegvliegtuie wat inderhaas opgestyg het, hulle aangewese teikens in die lug opgespoor het.

Teen laat Augustus 1940 is bewys dat dagligaanvalle minder effektief is as wat verwag was. ’n Belangrike Duitse taktiese besluit was geneem om vliegvelde te ignoreer en eerder op die bombardering van Londen te fokus. Dus het ’n paar honderd RAF-vegvlieëniers effektief bygedra tot die uitstel en latere kansellasie van die Duitse inval. Churchill het op 20 Augustus in die Laerhuis met die beroemde woorde afgesluit: “Nog nooit op die gebied van menslike konflik is so baie dank verskuldig deur so baie mense aan so min mense nie”. Sommige mense het hierdie aanhaling gebruik om ’n mitologie rondom die geveg te ontwikkel, naamlik dat ’n swak voorbereide, dapper klein lugmag teen ’n oormag beter georganiseerde vyand geveg het, maar die skrywer James Holland betwis hierdie persepsies:

Brittanje was baie beter voorberei as wat voorgestel word in die legende en die Slag van Brittanje is gewen omdat Brittanje gereed en voorbereid was om so ’n stryd aan te durf. Hulle het die wêreld se eerste en enigste ten volle gekoördineerde lugverdedigingstelsel gehad, vliegtuigproduksie wat Duitsland in ’n verhouding van 2:1 oortref het en het die middele gehad om ’n uitgerekte oorlog te veg (“It’s Time to Shatter the Myths of the Battle of Britain,” London Daily Telegraph, 15 September 2015).

Nadat 56 Duitse vliegtuie op 15 September 1940 neergeskiet is, het dit geblyk die keerpunt in die konflik te wees. Aan albei kante was die verliese gedurende die geveg van drie-en-’n-half maande verbysterend, met ’n geraamde totaal van ongeveer 1,000 RAF-vegvliegtuie en 2,000 Luftwaffe-vliegtuie wat neergeskiet is.

Benewens al hierdie voorbereiding en opleiding, het ’n belangrike pleidooi egter die verskil gemaak en  die uiteindelike sukses van die hele veldtog verseël.

’n Versoek vir ingryping

Min mense weet egter vandag van Sir Hugh Dowding se belangrike stelling: “Ek sê met absolute oortuiging dat ek die ingryping van God kan waarneem, nie net in die slag self nie, maar ook in die gebeure wat daartoe gelei het ...” By ’n ander geleentheid het Dowding opgemerk: “Aan die einde van die stryd het mens die gevoel gehad dat daar ’n spesiale Goddelike ingryping was om die verloop van die reeks gebeure te verander wat andersins sou plaasvind. Ek sien dat hierdie ingryping nie op die laaste nippertjie gebeur het nie ... dit was alles deel van die magtige plan” (W.B. Grant, We Have a Guardian, bl. 13).

Waarom die ingryping? Koning George VI het ’n nasionale dag van gebed op 8 September aangevra, op die hoogtepunt van die luggeveg. Die mense het die koning se versoek om voorbidding vir verlossing heelhartig gesteun en rye mense het buite kerke regoor die land gestaan. Die Britte is ongetwyfeld aangemoedig deur die uitslag van ’n vroeëre dag van gebed op 26 Mei, toe meer as 338,000 terugvallende soldate ’n gewisse vernietiging by Dunkirk vrygespring het.

Die meeste Britte is deesdae deel van ons “na-Christelike” wêreld en betwyfel selfs dat God bestaan, laat staan nog dat Hy aan die stuur van wêreldsake is. Dat die Britse bevolking van 80 jaar gelede gesamentlik om Goddelike leiding gevra het en hulle afhanklikheid aan God se oppergesag erken het, lyk vir die meeste mense vandag vreemd en agterlik. Tog, as ’n leser van die Wêreld van Môre-tydskrif, is u miskien een van die min mense wat hierdie denkwyse as onontbeerlik in ons lewens erken.

Bybelprofesie voorspel ’n skrikwekkende toekoms vir nasies wat hulle van God af gedistansieer het (Deuteronómium 8:11-20; Levítikus 26:15-17, 19, 33, 37-38). Moses het die Israeliete gewaarsku om Hom nie te vergeet of op te hou om Sy Gebooie te onderhou nie, sodat Hy nie Sy aangesig teen hulle draai en toelaat dat hulle vyande hulle verslaan nie. God is besig om Sy doel hier op aarde uit te werk en Sy hand lei werklik die lot van nasies (Daniël 4:17, 25, 32).

’n Kommerwekkende toekoms wag op vandag se generasie, tensy ons as volk bereid is om tot inkeer te kom en ons tot God te wend. Terwyl Hy met koning Salomo gepraat het, het die Ewige God dit baie duidelik gemaak hoe ons ’n regte verhouding met Hom kan herstel: “... en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees” (2 Kronieke 7:14).

Ons kan bid dat ons nasies wakker sal skrik, maar selfs al sou hulle dit nie doen nie, kan u persoonlik uself verootmoedig, u bekeer en nader aan God leef en seëninge daarvoor ontvang. Indien u sélf na daardie ingryping verlang, lees ons boekie Twaalf Sleutels tot Verhoorde Gebed by wvm.co.za of bestel u eie gratis eksemplaar.