Belangrike denominasies van die “Christendom” is vasgevang in die greep van twisgierigheid – sommige selfs tot op die punt van ontbinding. Hulle word geteister met protes en regsgedinge deur voorstanders van onwelvoeglike, onbybelse lewenstyle en gedrag. Sulke godsdienstige organisasies is bewus van die Bybel se duidelike leerstellings teen sulke sondes, maar hulle wil nie die voorstanders wat erkenning en aanvaarding vereis as lede vervreem nie.
Ongelukkig sien ons dat toegeeflikheid, verdeeldheid, ontbinding en groot skeurings al sedert die vroeë eeue, ná die stigting van Jesus Christus se Kerk, plaasgevind het. Daardie Kerk is egter op ’n rots gebou (Matthéüs 16:18). Christus het op die gevare gewys wat sal plaasvind indien ’n persoon ’n huis op sand sou bou. Hy wys daarop dat dit nie die storms wat noodwendig sou kom sou weerstaan nie (Matthéüs 7:26-27).
’n Studie van die praktyke van die vroeë Kerk van God – wat twaalf keer op daardie naam in die Nuwe Testament genoem word – toon dat daar binne 200 jaar ná Jesus Christus se leeftyd reeds heidense praktyke aangeneem is deur baie mense wat bely het dat hulle Christus volg, maar nie by Sy leerstellings gehou het nie. Neem in ag dat die heidense geloof van die “onsterflikheid van die siel” nie enigsins in die Bybel gerugsteun word nie. Slegs God is onsterflik (1 Timótheüs 6:15-16; vergelyk Jesaja 57:15). Die ewige lewe in Christus is die beloning van die wat gered is (Romeine 6:23) en diegene wat verlossing verwerp, sal in die poel van vuur sterf (Openbaring 20:14-15).
Die “wegraping” is nog ’n gewilde lering. Baie mense beweer dat God skielik sommige mense sal wegneem, wat hulle bure verstom sal laat en wonder wat gebeur het. Jesus het tog gesê dit is eers na die Verdrukking en die hemelse tekens dat “die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matthéüs 24:30). Sy uitverkorenes sal dan uit die vier windstreke versamel word. Paulus gee meer besonderhede hieroor in 1 Thessalonicense 4:13-18.
Die Christene van vroeër het Christus se instruksies gevolg deur Sy Gebooie te onderhou (Johannes 14:15; 15:10). Byna van die begin af, het baie mense van Christus se ware leerstellings afgewyk – sien Wallace Smith se artikel elders in hierdie uitgawe. Deesdae onderrig die meeste kerke dat die Tien Gebooie afgeskaf of “aan die kruis vasgespyker” is. Die meeste denominasies ignoreer die vierde Gebod heeltemal: “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig” (Exodus 20:8-11).
Christus het die Pasga onderhou en vir Sy dissipels gesê: “Doen dit ... tot my gedagtenis” (1 Korinthiërs 11:25). Die meeste Christene vier deesdae verkieslik die Paasfees, wat vernoem is na ’n heidense godheid en wemel van simbole van vrugbaarheid soos konyne en gekleurde eiers. Christus en die Apostels het die sewe jaarlikse Heilige Dae onderhou wat God se verlossingsplan vir die mensdom uitbeeld (Levítikus 23), terwyl die hoofstroom Christendom Valentynsdag, Halloween en Kersfees asook Paasfees vier – wat almal hulle oorsprong in afgodery en die heidendom het.
Ons behoort dus nie verbaas te wees wanneer ons sien dat “Christelike” denominasies gebruike aanvaar wat deur Bybelse voorskrifte verbied word nie. Hierdie verwikkelings is die onvermydelike gevolg van die bewering dat hulle Christus volg, maar voortbou op die wisselvalligheid van menslike redenasie.
Die Rots van ware Christendom
Jesus het hierdie situasie verwag toe Hy gesê het: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer nie … ? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk” (Matthéüs 7:21-23)!
Die Kerk wat Jesus Christus op die Rots gebou het, bestaan vandag nog. Hulle is aktief besig om die Evangelie van die Koninkryk van God te verkondig, ’n kudde van gemeentes regoor die wêreld te voed en die Eségiël 33-waarskuwing van die eindtydse rampe wat nog sal kom, te gee.
Indien u meer oor hierdie Kerk wil weet, lees mnr. Gerald Weston se insiggewende artikel elders in hierdie uitgawe. Indien u selfs nog meer oor ware Christendom wil leer, kan u Satan se Vervalste Christendom sowel as Hervestig die oorspronklike Christenskap lees, wat aanlyn beskikbaar is by wvm.co.za of u kan u eie gratis gedrukte eksemplare aanvra by die streekkantoor naaste aan u. Die lys verskyn op bladsy 2 van hierdie tydskrif. Al hierdie literatuur en nog meer is gratis beskikbaar.


