V: Die meeste belydende Christene glo dat diegene wat gered word, hemel toe sal gaan wanneer hulle sterf, maar hulle het min of geen idee van wat hulle in die hemel sal doen nie. Wat onderrig die Bybel as die beloning van dié wat gered is?

A: Die oortuiging dat ’n mens “hemel” toe gaan wanneer hy sterf, word nie net deur belydende Christene geglo nie. Regoor die wêreld klou mense van baie godsdienste vas aan die geloof van een of ander lewe hiernamaals, ’n soort “beloning” of vreugdevolle lewe na die dood.

Verbasend genoeg het nóg Jesus, nóg die Apostels onderrig dat die regverdiges hemel toe gaan wanneer hulle sterf! Die “beloning” wat Jesus Sy getroue volgelinge beloof (Openbaring 22:12), is nie die “hemel” nie; dit behels onder andere heerskappy van die aarde saam met Christus. Let op die erkentenis van die volgende wêreldlike ensiklopedie:

“Die oorheersende opinie van die vroeë kerk blyk dat tot en met die wederkoms van die Here, op die wolke van die hemel, om die dooies op te wek, diegene wat dood was, geslaap het en dat hulle skielik opgewek sal word om hul nuwe liggame te ontvang, waarna hulle saam met Hom op die aarde sal regeer vir ’n duisend jaar lank” (“Heaven”, The New International Encyclopedia, 1ste Uitgawe).

Die vroeë Kerk van God wat Jesus Christus gestig het, het nie die konsep van “hemel toe gaan”, verkondig nie, ’n idee wat eers lank na die Apostels se dood aanvaar is. Jesus het Sy dissipels eerder eenvoudig vertel: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens” (Johannes 3:13). Die apostel Petrus sê dat die gehoorsame koning Dawid, ’n man so na God se hart (Handelinge 13:22) “gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe ... Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie” (Handelinge 2:29, 34).

Regverdige koning Dawid het nie hemel toe gegaan nie! Hy, soos alle regverdige manne en vroue van God wat gesterf het, is steeds dood. Hulle wag in hul grafte vir die opstanding, wanneer hulle geestesliggame sal ontvang wat nooit sal sterf nie (1 Korintiërs 15:50-53; 1 Thessalonicense 4:16-17).

Die ewige lewe is die gawe van God (Romeine 6:23), wat Geesverwekte Christene sal ontvang wanneer hulle opgewek of verander word, maar wat is die “beloning” wat Jesus met hom saam sal bring?

Christus sê dat Hy met Sy wederkoms alle oorwinnaars sal beloon, almal wat in die geestelike karakter van God toegeneem het. Sommige sal meer as ander oorwin en groei en Jesus sê dat Hy “elkeen vergeld volgens sy dade” (Mattheus 16:27; vergelyk Openbaring 22:12).

God se heiliges sal nie vir ewig in die hemel op harpe speel nie. Hul lotsbestemming is veel heerliker en opwindend! Die Bybel openbaar dat die “beloning van die wat gered word” heerskappy van die aarde saam met Jesus Christus, na Sy wederkoms is (Openbaring 2:26; 3:21; 5:10). Jesus Christus en die herrese Christene sal vir 1,000 jaar regeer (Openbaring 20:4-6). Hulle sal die nasies God se lewenswyse leer, wat blywende vrede, voorspoed en vreugde vir die ganse mensdom sal bring.

Die Bybel vertel ons dat die oppervlak van die aarde met vuur gesuiwer sal word, nadat God se groot Meestersplan vir verlossing van die mensdom voltooi is (2 Petrus 3:10-12). ’n Nuwe aarde en nuwe hemel sal na vore kom (2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1) en die glorieryke nuwe hoofstad van die aarde, die Nuwe Jerusalem, sprankelend met kosbare gesteentes en met strate van suiwer goud (Openbaring 21:18-21) sal uit die hemel neerdaal (Openbaring 21:2, 10; 3:12). God die Vader sal dan kom en persoonlik op die aarde woon en sal die Nuwe Jerusalem, die plek van Sy glorieryke troon maak (Openbaring 21:3, 22-23; 22:3-5), van waar Hy en Sy onsterflike heiliges verder die ganse heelal sal regeer!

Om meer te leer van hierdie wonderlike plan wat God vir Sy getroue heiliges in gedagte het, skryf asseblief aan ons vir u gratis eksemplaar van ons boekie getiteld: U uiteindelike lotsbestemming. Die verbasende en asemrowende waarheid is dat die “hemel” na die aarde sal kom, die einste hoofkwartier waarvan die God Familie die heelal vir ewig sal regeer!