In ons gejaagde, deurmekaar en radelose lewens, versuim ons dikwels om tyd te vind – of om tyd te maak – om te besin oor wat werklik belangrik is.

Soms, by die begrafnis van ’n dierbare vriend of ’n geliefde, staan ons vir ’n oomblik stil en besef hoe vinnig die geskarrel van ons daaglikse lewens tot ’n einde kan kom. Dit kan wees dat ons stilweg dink en mediteer oor die ware lewensvrae: Waarom is ons hier? Wat is die ware doel van ons lewe? Hoe moet ons daardie groot doel vervul?

Die meeste van ons besef die behoefte om meer sekerheid te hê in ons verhouding met ons Skepper en dat ons werklik nader aan Hom moet leef. Die meeste mense voel oor die algemeen dat hulle daarvan sal hou om Sy wil te vervul. Hulle dink dus kortstondig daaraan ... totdat die telefoon lui, of die tyd aanbreek vir hul gunsteling televisieprogram, of ... Hulle stel dus weereens hul geleentheid uit om nader aan God te kom.

Kom ek deel ’n baie belangrike “sleutel” met u wat my gedurende my 54 jaar in Christus se bediening gehelp het. Ek het baie beproewings en “voor- en teenspoed” in my lewe ervaar. Ek was bitter teleurgesteld deur die optrede van party van my eie tienderjariges, sowel as dié van ander jongmense in die verlede. Ek is seergemaak deur die minagting of onbesonnenheid van ander mense wat ek liefgehad het. My eerste vrou van oor die 20 jaar het in my arms gesterf aan kanker. Ek het tientalle vriende en geliefdes sien wegdraai van God se Waarheid. Daar was dus baie “redes” om ontmoedig te kan wees.

Een gewoonte het my egter altyd gehelp om myself weer “reg te ruk”. Dit was trouens daardie selfde gewoonte wat my in die eerste plek gehelp het om werklik met God kennis te maak.

Daardie noodsaaklike “sleutel” is die gewoonte om gereeld tyd en energie opsy te sit om God opreg te soek.

Hoe?
Hoewel Koning Dawid van antieke Israel letterlik honderde beproewings, toetse en groot droefheid ervaar het, het hy homself altyd weer “reggeruk”. Ten spyte van sy menslike swakhede het hy “’n man na God se hart” geword (Handelinge 13:22). Die Skrif gee ons ’n blik op Dawid se verhouding met God: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het – wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom ’n weinig minder gemaak as ’n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon” (Psalm 8:4-6).

Dawid het tyd gemaak om te mediteer en te dink oor wat werklik belangrik is. Hy het dit dikwels buite in God se wonderlike skepping gedoen, terwyl hy opgekyk het na die maan en die sterre. Hy het nie ’n radio of televisiestel gehad wat in die agtergrond lawaai het, of ’n telefoon of ander goed gehad wat sy aandag afgetrek het terwyl hy besig was om na God te soek nie.

Dawid het letterlik tot God geroep toe hy in die wildernis van Judea weggekruip het omdat Koning Saul hom wou vernietig: “O God, U is my God, U soek ek; my siel dors na U, my vlees smag na U, in ’n dor en uitgedroogde land, sonder water. Só het ek U in die heiligdom aanskou, om u sterkte en u heerlikheid te sien. Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys. Só sal ek U prys my lewe lank, in u Naam my hande ophef. Soos met vet en vettigheid sal my siel versadig word, en my mond sal roem met jubelende lippe as ek aan U dink op my bed, in die nagwake oor U peins. Want U was ’n hulp vir my, en in die skaduwee van u vleuels sal ek jubel. My siel is aan U verkleef; u regterhand ondersteun my” (Psalm 63:2-9).

Hierdie pragtige gedeelte vertel ons baie van Dawid se benadering tot God. Hy het voortdurend in byna elke denkbare situasie na God “gesoek”. God was die middelpunt van Dawid se lewe, die Een wat Dawid waarlik aanbid en vereer het en met wie hy “geestelike deelgenoodskap” gehad het. God was werklik die middelpunt van Dawid se lewe! Ons is werklik na God se beeld geskape, en Hy wil hê dat ons moet leer – net soos Dawid – om met Hom te wandel, met Hom te praat en met Hom deelgenoodskap te hê (1 Johannes 1:3).

Maar onthou! Om werklik ná aan God te kom, moet ons Hom aanbid soos Hy sê ons dit moet doen! Jesus Christus leer ons: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet ingees en waarheid aanbid” (Johannes 4:24). Jesus Christus sê ook, “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Johannes 17:17).

Om dus die ware God te aanbid – die God wat die Bybel geïnspireer het – moet ons die Bybel ywerig bestudeer. Ons moet Christus “inneem” deur ons verstande en harte te deurdrenk met God se Woord – deur altyd met ’n oop gemoed te lees, te mediteer oor en God se wil eerlik te “soek” soos dit in Sy geïnspireerde Woord geopenbaar word. Dan sal ons leer hoe om met God te wandel, hoe om tot God te bid en hoe om met God “gemeenskap te hê”. Andersins, soos meeste van die miljarde verwarde mense in hierdie wêreld, sal ons God met ons menslike verbeelding – op die verkeerde manier – dien deur moontlik ’n vals godsdiens te volg of deur bloot toe te laat dat ons menslike verbeelding vir ons sê wat om te doen. Die Bybel vermaan ons egter streng om dit nie te doen nie! “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spreuke 14:12; 16:25).

Wat die regte leefwyse mag blyk te wees, kan regstreeks strydig wees met die wil van ons Skepper! Dus moet ons almal bereid wees om te studeer, te mediteer en alles te toets – deur al ons idees en filosofieë te vergelyk met dít wat God vir ons in Sy geïnspireerde Woord sê! Dan kan ons eerlik “ons harte uitstort” voor God in vurige en volgehoue gebed! Ons kan Hom dan in absolute geloof vra om ons lewenspad aan te dui, ons in Sy diens te lei en te gebruik  en ons Sy ewigdurende Koninkryk in te bring!

Hierdie begeerte moet voorrang geniet in ons gedagtes en in ons lewens, soos ons optrede weerspieël. Soos Jesus sê, “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheus 6:33).

Baie Ou-Testamentiese skrifte wys ons hoe God al die manne en vroue waarlik geseën het wat moeite gedoen het om Hom te “soek”. Let op: “Toe het die Gees van God op Asárja, die seun van Oded, gekom;en hy het uitgegaan om Asa te ontmoet en vir hom gesê: Luister na my, Asa en die hele Juda en Benjamin! Die Here is met julle as julle met Hom is, en as julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat” (2 Kronieke 15:1-2). Hoe het hulle daarop gereageer? “En hulle het die verbond aangegaan om die Here, die God van hulle vaders, met hul hele hart en met hul hele siel te soek” (vers 12).

Die Bybel beskryf hoe Ussia geseën was toe hy met God gewandel het. “En hy het God gedurig gesoek in die dae van Sagaría, wat onderrig gegee het in die vrees van God. En in die dae dat hy die Here gesoek het, het God hom voorspoedig gemaak” (2 Kronieke 26:5).

God se Woord help ons om te sien hoe en waarom hierdie regverdige konings geseën was. “En so het Jehiskía in die hele Juda gedoen: hy het gedoen wat goed en reg en trou was voor die aangesig van die Here sy God. En in elke werk wat hy begin het insake die diens van die huis van God en insake die wet en die gebod om sy God te soek, het hy met sy hele hart gehandel en voorspoed gehad” (2 Kronieke 31:20-21).

Die les is dat, indien ons eerlik die wil van die groot God wil doen wat ons geskape en ons lewe en asem gee, moet ons Hom ywerig “soek” met ons hele hart. Ons moet dit doen deur dringend tyd te maak om op God se wil te fokus deur dít wat Hy in die Bybel geopenbaar het, te bestudeer. Ons moet dan noukeurig mediteer oor wat die Bybel sê Sy wil werklik is – en dan vurig bid tot ons Vader in die hemel vir krag en insig om Sy wil te verstaan en dit te doen. Dan, helaas moet ons handel volgens Sy wil, en “met God wandel” – soos Abraham, Dawid, Jesus en baie ander gedoen het wie se voorbeelde God vir ons in Sy geïnspireerde Woord gelaat het.

Dan sal God ons ongetwyfeld hoor en antwoord as ons op Sy wil reageer, soos Hy vir diegene voor ons gedoen het. Onthou, “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8).

Soos God Sy mense beloof het toe hulle in Babilon in gevangenskap was: “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee. Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart” (Jeremia 29:11-13).