Sedert die ontwikkeling van kernwapens teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog, leef die wêreld in die dreigende skadu van kernuitwissing. Die uitbreek van internasionale terrorisme en die opvlamming van vyandighede in die Midde-Ooste het hierdie bedreiging weereens laat ontbrand. Saam met hierdie vrese is daar kommer oor epidemiese siektes soos MIV-VIGS, cholera, middelweerstandige tuberkulose en Kongokoors, wat vinnig oor die wêreld kan versprei. Terselftertyd sien ons rekorddroogtes, brande, hongersnode en meer en meer uiterste weerstoestande – oorstromings, orkane, tornado’s, aardbewings en getygolwe – wat baie mense met wêreldwye klimaatveranderings assosieer. Is daar enige betekenis verbonde aan hierdie gelyktydiglopende en rampspoedige gebeurtenisse?

Baie mense wat “in die Bybel glo,” eien ’n verband tussen vandag se nuus en die antieke “eindtydse” profesieё wat in die Bybel aangeteken is. Andere weer, bewus van sovele selfverklaarde profete se mislukte profesieё en vooruitskattings oor die einde van die wêreld, is skepties omtrent die belangrikheid van die Bybel se eindtydse profesieё.

Teoloë en akademici bevraagteken en bespot dikwels die akkuraatheid en egtheid van die Bybel, wat slegs sodanige skeptisisme verder aanblaas. Daarby sê baie mense deesdae dat hulle in God glo, maar hul weet glad nie wat die Bybel werklik sê nie! Dit is dus geensins verbasend dat baie mense verward is oor wat voorlê nie.

Bybelse onkunde oorheers!

Studies toon aan dat baie belydende Christene nie die eerste vyf boeke van die Bybel kan identifiseer nie, nie enige van die Tien Gebooie kan onthou nie en nie die vier Evangelies of Jesus se twaalf dissipels kan opnoem nie (Religious Literacy, Prothero, bll. 1, 5, 30). Die Verenigde State, een van die mees openlik-godsdienstige nasies in die wêreld, is ook al ’n “volk van bybelse ongeletterdheid” genoem. Met soveel bybelse onkunde is dit geen wonder dat baie mense vandag nie die belangrikheid van wêreldgebeure wat strook met Bybelprofesieё oor die eindtye, kan insien nie.

Die probleem word vererger deur studente en predikante wat die Bybel verkeerd vertolk en wanaanwend, of wat die outoriteit daarvan met hulle intellektuele spekulasies ondermyn. Selfs die meeste kerkgangers vind dat hulle predikante gewoonlik op Sondagoggende preke lewer oor “nie-omstrede” onderwerpe soos liefde, vergifnis, geloof en vreugde – en selde indien ooit melding maak van die Bybel se vele profetiese boeke, omdat die meeste predikante eenvoudig nie profesieё verstaan nie (End Times, Walvoord, bl. v).

Tog is 25 tot 30 persent van die Bybel profesie. Ongeveer 50 persent van al die Bybel se profesieë is al letterlik vervul – soos die geskiedenis kan bewys (ibid., bl. 7). ’n Verdere 50 persent – waarvan baie verband hou met die “laaste dae” of “eindtye” – moet nog vervul word. Daardie eindtye begin toenemend ooreenstem met die tye waarin ons vandag leef!

Met so ’n groot deel van die Bybel wat aan profesie gewy word, waarom is dit dat die meeste mense die talle eindtydse profesieë nie verstaan nie? Waarom faal teoloë daarin om ’n verband te vind tussen antieke Bybelprofesieë en wêreldgebeure wat vandag nuus maak? Waarom is dit dat predikante en godsdienstige leraars belangrike besonderhede van Bybelprofesieё ignoreer of wegredeneer? Waarom is mense onbewus daarvan dat die Bybel onthul waarheen wêreldgebeure lei in die jare wat vlak voor ons lê? Die Bybel, asook die geskiedenis, verskaf belangrike antwoorde wat u behoort te verstaan – omdat u toekoms op die spel is!

Apostels, eksentrieke persone en skeptici

Kommer oor “die einde van die wêreld” is diep in die wortels van die westerse beskawing gesetel (sien A Brief History of the end of the World, Pearson, bl. 1). Jesus se dissipels het twee duisend jaar gelede aan Hom gevra, “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van U koms en van die voleinding van die wêreld?” (Mattheüs 24:3). Jesus het nie die vraag afgewys of gesê dat Hy enige oomblik onverwags sal terugkeer nie. Hy het ’n lys van spesifieke gebeure opgenoem wat Sy dissipels sou laat verstaan wanneer Sy koms naby is (sien Mattheüs 24; Markus 13; Lukas 21). Die apostel Paulus het spesifieke eindtydgebeure beskryf wat sal plaasvind kort voor Jesus se Wederkoms (sien 2 Thessalonicense 2; 1 Timoteus 4:1-3; 2 Timoteus 3; 4). Die apostel Johannes is geïnspireer om die boek Openbaring te skryf, wat ’n werklike oorsig gee van die eindtydgebeure wat voortbou op die boek van Daniël en die geskrifte van ander Ou-Testamentiese profete.

Daar is van die boek Openbaring gesê: “Die laaste boek van die Christelike Bybel het waarskynlik meer invloed op geskiedenis en menslike gedrag oor die algemeen uitgeoefen as enige ander enkele stuk wat geskryf is ... dit het miljoene mense oor die afgelope twee duisend jaar heen onderskeidelik verskrik en geïnspireer” (Pearson, bl. 19). Kort nadat Johannes Openbaring voltooi het, het selfaangestelde godsdienstige leraars begin om hierdie interessante en uiterlik geheimsinnige boek te verdraai en verkeerd aan te wend. In die tweede eeu na Christus, het ’n kwaksalwer genaamd Montanus wat daarop aanspraak gemaak het dat hy ’n reïnkarnasie van die Heilige Gees is, saam met twee profetesse in Klein-Asië hul verskyning gemaak. Hulle sou in beswymings verval, ekstatiese dinge uiter en verkondig dat die einde van die wêreld naby was. Montanus het, deur Openbaring 21 te verdraai, mense aangepor om hulle wonings te verlaat en in ’n sekere dorpie bymekaar te kom om die koms van die Nuwe Jerusalem af te wag. Toe Montanus se voorspellings nie vervul was nie, is nuwe datums gestel soos wat die beweging oor Noord-Afrika na Rome en Gaul [Frankryk] versprei het (Pearson, bll. 75-79). Montanus was slegs maar een van die eerstes van vele misleide individue wat Bybelprofesieё oor die eindtye verkeerd gelees en vertolk het.

Deur die eeue heen het godsdienstige bewegings wat die einde van die wêreld aangekondig het, geweld teen andere wat nie hul sienings gedeel het nie, uitbasuin. Baie misleide godsdiensleiers het hulle volgelinge aangespoor om ongelowiges te “elimineer” om die aarde voor te berei vir die Koninkryk van God (Pearson, bll. 122-133). Tydens die Middeleeue het pouse in Rome die Kruistogte geloods deur haat te predik teenoor Moslems, Jode en diegene wat van die Roomse Kerk verskil het, in ’n poging om die Heilige Land terug te wen, “Christen”-eenheid te herstel en om hulle idee van God se Koninkryk op aarde teweeg te bring. Dit is interessant dat selfverklaarde profete en “messiasse” wat selibaatheid of streng seksuele onthouding van hulle volgelinge vereis het, dikwels self baie vroue geneem het soos wat hulle voorberei het op die einde van die wêreld en die toekomstige Koninkryk van God. Deur die eeue heen is dosyne einde-van-die-wêreld datums gestel en weer gestel: 500 n.C., 666, 800, 1000, 1666, 1668, 1694, 1700, 1757, 1761, 1836 (gestel deur John Wesley), 1844, 1975 en 2000 – almal veronderstel om op Bybelprofesieë gebaseer te wees. Al hierdie datums het egter gekom en gegaan en die wêreld staan nog steeds.

Spekulasie oor die einde van die wêreld is nie beperk tot “Christelike” bronne nie. Die Maja-kalender voorspel dat die wêreld op 22 Desember 2012 met die dood van die son sal vergaan (Pearson, bl. 285). Heidense Noorse legendes wat in die tiende eeu geskryf is, bevat duidelike beskrywings van hoe die wêreld sal eindig. Apokaliptiese Joodse groepe berei vandag voor vir die herinstelling van offerandes en tempelaanbidding in Jerusalem om die terugkeer van die Messias te verhaas. Moslemekstremiste is bereid om ’n Oos-Wes konfrontasie te bevorder om die terugkeer van die Mahdi te verhaas wat, so glo hulle, ’n wêreldwye kalifaat sal vestig waarin almal tot die Moslemgeloof bekeer sal word of “uitgewis” sal word (Pearson, bll. 80-85). In vandag se milieu, beskou sommige mense die Bybel se eindtydse profesieë as gevaarlikskrikwekkend, bedrieglik en doelbewus uitlokkend (sien A History of the end of the World, Kirsch, bll. 1, 99, 103, 249).

Suiwering van die Bybelse teks

In ’n poging om die letterlike vertolking van Bybelse profesieё teen te werk, het vroeëre kerkleiers eienaardige strategieë uitgedink, wat vandag nog steeds met ons is. Teoloë soos Augustinus (354-430 n.C) het die gedagte bevorder dat “goeie Christene nie die fout moet maak” om Bybelprofesieë letterlik te lees nie, maar dit eerder moet verstaan as “’n sinnebeeld [allegorie] en nie ’n duidelike beskrywing van wat presies sal gebeur wanneer die wêreld tot ’n einde kom” nie (Kirsch, bl. 116). Godsdiensleiers onder die invloed van Griekse filosofie het Bybelprofesieё gesien as simbole van die stryd tussen goed en kwaad en nie as beskrywings van regte gebeurlikhede nie. Profesieë oor Jesus Christus se milleniale regering op die aarde saam met die heiliges (sien Openbaring 20:4-6), moet beskou word as simbolies en nie as ’n toekomstige realiteit nie. In Augustinus se sinnebeeldige teologie, bestaan die koninkryk van God hier en nou as die Katolieke Kerk – nie as ’n toekomstige regering wat Jesus Christus by Sy Wederkoms sal vestig nie – alhoewel Augustinus se siening duidelik die Bybel weerspreek (sien Openbaring 5:10; 11:15-18; Daniël 7:27)!

Hierdie sinnebeeldige of allegoriese metode om Bybelprofesieё te vertolk, kom uit Alexandrië, ’n stad in Noord-Afrika, in die tweede eeu na Christus. Dit staan in skrille kontras teenoor die letterlike siening van profesieё wat die Kerk van die begin af aanvaar het (Walvoord, bl. 9). Jesus se profesieё oor die toekomstige vernietiging van die tempel isletterlik vervul in 70 n.C. – ongeveer 40 jaar nadat Hy dit gesê het – dus het vroeëre Christene geen rede gehad om aan te neem dat Sy ander profesieë oor daaropvolgende gebeure, Sy Wederkoms inkluis, en die einde van hierdie era, bloot sinnebeeldig sou wees en nie verband sou hou met letterlike gebeurtenisse nie (sien Mattheüs 24:1-31). Onthou dat Jesus Sy dissipels aangesê het om op die uitkyk te wees vir die gebeure wat Hy beskryf het, sodat hulle voorbereid sou wees op Sy Wederkoms (Mattheüs 24:32-44).

Nogtans, van die vierde eeu af en daarna, het die Rooms-Katolieke Kerk Augustinus se sinnebeeldige sienings van profesie aangeneem en aktief bevorder. Geleidelik is die opwindende letterlike boodskap wat die eerste Christene gemotiveer het, verwerp – eers as ’n sinnebeeld en daarna as ’n dwaalleer – deur teoloë in die Roomse kerk (sien The Decline and Fall of the Roman Empire, Gibbon, hoofstuk 15). Die Roomse kerk het as sy dogma die idee aanvaar dat die kerk die koninkryk van God was, wat allegories in die Bybel beskryf word. Hierdie sinnebeeldige siening is deur baie Protestantse hervormers aanvaar en gaan vandag nog voort in baie Protestantse kerke, sowel as in die Roomse kerk. Dit is dus nie verrassend dat baie min mense vandag ’n werklike begrip het van die Bybelse besonderhede van die letterlike eindtydse profesieë van die toekomstige Koninkryk van God nie.

Een manier waarop vroeëre teoloë die duidelike letterlike boodskap van Bybelprofesieё ondermyn het, was om twyfel te saai oor die akkuraatheid en egtheid van die belangrikste profetiese boeke. Vroeëre kritici het aangevoer dat die boek Daniël nie deur Daniël self in 600 v.C. geskryf is nie, maar in die tweede eeu v.C. deur ’n bedrieër wat slegs geskiedenis aangeteken het – nie profesie nie – nadat die gebeure reeds plaasgevind het! Vandag se liberale studente voer soortgelyke argumente aan, hoewel hulle argumente nie by nadere ondersoek water hou nie. Jesus self sê dat die boek van Daniël se profesieë geskryf is deur “die profeet Daniël” (Mattheüs 24:15; Markus 13:14). Kopieë van die boek van Daniël is ook gevind onder die Dooie See Rolle, wat dateer uit die tweede eeu v.C., ’n bewys dat die boek lank tevore reeds geskryf was (Walvoord, bl. 105).

Nog ’n bewys is dat ’n geleerde wat ’n kleitablet in die Britse Museum bestudeer het, onlangs ’n ontdekking gemaak het wat “dramatiese bewys lewer van die akkuraatheid van die Ou Testament” (The Times, 11 Julie 2007). Die naam van koning Nebukadneser se hoofeunug is op ’n kleitablet gevind wat dateer uit 595 v.C. – wat ooreenstem met ’n naam wat in Jeremia 39:1-3 aangeteken is. ’n Latere skrywer sou dit waarskynlik nie geweet het of so ’n geringe besonderheid van eeue tevore aangeteken het nie.

Aangesien eksentrieke, selfaangestelde profete soos Montanus dit ’n gunstelingteks gemaak het vir einde-van-die-wêreld voorspellings, het sommige vroeëre teoloë gepoog om die egtheid van Openbaring in twyfel te trek deur te sê dat die apostel Johannes nie werklik hierdie lastige boek geskryf het nie. Gevolglik het Openbaring ’n “betwiste” boek geword wat sommige mense gedink het nie in die Bybel hoort nie (Kirsch, bl. 107). Jerome (340-420 n.C.), wat die Bybel in Latyn vertaal het, was gefrustreerd deur die “geheimsinnighede” in Openbaring. Martin Luther het Openbaring nóg “apostolies nóg as profeties” beskou. Ander kritici het die boek “gevaarlik” en sub-Christelik verklaar, ontsteld deur die oënskynlik bisarre verbeedingrykheid daarvan en die uitbeelding van ’n gewelddadige en wraaksugtige Jesus gewapen met ’n tweesnydende swaard (sien Openbaring 19:11-15), en die gebrek aan Jesus se sagmoedige leerstellings oor “liefde vir jou naaste” (Kirsch, bll. 101-103). Om hierdie en ander redes, het goedbedoelde maar misleide teoloë gepoog om die boek Openbaring “veilig te maak vir menslike gebruik” deur te beklemtoon dat dit nie gelees moet word as ’n boek wat handel oorwerklike gebeure nie, maar slegs as ’n allegorie – as die simboliese stryd tussen goed en kwaad (ibid. bl. 118).

Terug na die werklikheid!

Die Bybel self maak dit egter duidelik dat die profesieё daarin bedoel is om verstaan te word deur God se ware dienaars. Die apostel Johannes was geïnspireer om te skryf, “Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan Sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur ... Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby” (Openbaring 1:1-3). God het in antieke tye aan die profeet Amos gesê, “Want die Here Here doen niks tensy Hy Sy raadsbesluit aan Sy knegte, die profete, geopenbaar het nie” (Amos 3:7). God het ook aan Daniël gesê om ’n koning se droom te verduidelik deur te sê “daar is ’n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnésar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur ... Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar” (Daniёl 2:28, 45). Die apostel Petrus sê duidelik van die ware Kerk dat “... ons ... die profetiese woord [het] wat baie vas is” (2 Petrus 1:19). God het aan Sy Kerk (wat ’n dosyn kere in die Nuwe-Testament die “kerk van God” genoem word – sien 1 Korinthiërs 1:2; 10:32; 11:22; 15:9; Galasiërs 1:13) ’n unieke begrip gegee van profesie sodat dit die wêreld kan waarsku oor die werklike betekenis van eindtydgebeure en oor wat voorlê!

Bybelstudente erken dat vervulde profesieё een van die mees dramatiese bewyse van die Bybel se goddelike inspirasie is en dat God “in profesie Sy opperplan vir die geskiedenis onthul het, ’n plan wat oor duisende jare heen ontvou” (Walvoord, bl. vii). Om die waarheid te sê, bevat geen ander veronderstelde “heilige boek” naastenby die hoeveelheid en gehalte van profesieë wat regdeur die Bybel gevind word nie. Voorspelde “eindtyd” gebeure is bedoel om as wegwysers te dien wat die naderende einde van hierdie huidige era aandui, asook die Wederkoms van Jesus Christus om die Koninkryk van God op hierdie aarde te vestig. Maar wat is daardie tekens?

Eindtydse profesieë

Jesus het aan Sy dissipels gesê dat een inleidende teken van die einde van hierdie era ’n vloedgolf valse leraars sal wees, wat almal daarop aanspraak sal maak dat hulle Hom verteenwoordig. Hy het ook gewaarsku teen wydverspreide godsdienstige verwarring, toenemende oorloё en geweld, verskriklike siekte-epidemies en ander siektes en rampe, met inbegrip van ongekende weerversteurings – soos droogtes, oorstromings, hongersnode en aardbewings (Mattheüs 24:3-10). Christus het voorspel dat daardie gebeure sou begin plaasvind op ’n tydstip dat die mensdom alle lewe op aarde sal kan uitwis (Mattheüs 24:21-22) – wat vir die eerste keer ’n werklike moontlikheid geword het na die Tweede Wêreldoorlog met die ontwikkeling van atoom- en waterstofbomme.

Die Bybel toon dat, namate hierdie tekens verskyn, geweld in die Midde-Ooste sal begin toeneem. Eindtydse profesieë wys ook daarop dat Jerusalem die middelpunt van die wêreld se aandag sal word. “En in dié dag maak Ek Jerusalem tot ’n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seermaak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word” (Sagaria 12:1-3). Jesus sê ook: “En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is ... en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies [heidene]” vir drie-en-’n-halwe jaar (Lukas 21:20-24; Openbaring 11:1-2). Ook dat die helfte van sy mense in ballingskap geneem sal word (Sagaria 14:1-2). Hierdie gebeure sal plaasvind op ’n tyd wat die “voortdurende offer Hom [God] ontneem” word (Daniël 8:11). Hoe kan dit weggeneem word as dit nog nie eens weer ingestel is nie? Dit is interressant om daarop te let dat verskeie Ortodokse Joodse groepe hulle voorberei om diere-offers wat deur die Joodse rituele wetgewing voorgeskryf word, weer in te stel.

Eindtydse profesieë onthul ook dat, terwyl die bogenoemde gebeure afspeel, belangrike ontwikkelings in Europa sal plaasvind. Die Bybel verduidelik dat ’n konfederasie van tien nasies of groepe van nasies wat historiese bande met die ou Romeinse Ryk het, in Europa sal opstaan net voor die Wederkoms van Jesus Christus (Daniël 2:40-43). Hierdie tien nasies sal hulle soewereiniteit oorgee aan ’n sterk politieke leier genaamd “die dier” (Openbaring 17:12-13). Hierdie geslepe politieke leier sal met ’n prominente godsdiensleier saamwerk – die vals profeet (sien Openbaring 13) – wat die leier sal wees van ’n kerk met ’n wêreldwye invloed, met ’n lang geskiedenis van betrokkenheid in Europese politiek en ’n geskiedenis van brutale vervolging van diegene wat in die Bybel glo (Openbaring 17:1-6). Die vals profeet sal die wêreld met wonderwerke mislei (2 Thessalonicense 2:1-12). Hy sal ekumeniese aktiwiteite bevorder in ’n poging om die gefragmenteerde “Christelike” kerke weer onder sy gesag te versamel (sien Jesaja 47:1-8). Bybelprofesieë toon dat hierdie konfederasie in Europa (gelei deur Duitsland – Assirië – sien Jesaja 10:5-19) ’n militante wending sal neem en wanneer dit aangehits word deur ’n vyand vanuit die suide (hoogswaarskynlik ’n Moslemkonfederasie), sal dit die Midde-Ooste binneval en die Heilige Land beset (Daniël 11:36-45). Die Bybel dui egter aan dat hierdie opkomende Europese mag van korte duur sal wees en deur Jesus Christus verslaan sal word met Sy Wederkoms (Daniël 2:41-45).

Ons behoort ernstig gestemd te wees wanneer ons besef dat ons in ’n tyd leef waarin daardie eindtydse profesieë begin gestalte aanneem! Oor die afgelope 50 jaar het pogings om Europa te verenig voortdurend vordering gemaak, met die aanmoediging en seën van pouse en druk van ’n al hoe invloedryker Duitsland. Terselftertyd het ons die opkoms van Islamitiese fundamentalisme gesien wat dreig om Europa van binne en buite te oorweldig. Onlangse nuusberigte vanuit die Midde-Ooste stel voor dat, as gevolg van toenemende geweld in die streek, Israel die Europese Unie mag vra om troepe te stuur om saam met die Verenigde Volke se personeel te help om die streek te stabiliseer (Associated Press, 13 Junie 2007). Dit alles gebeur terwyl ons ergerwordende weerverwante en ander rampe regoor die wêreld sien plaasvind – wat God onthul het sal gebeur net voor die einde van hierdie era en die Wederkoms van Jesus Christus.

Koerante is deesdae vol berigte van gebeure wat lank gelede in die Bybel voorspel is. Nogtans begryp nuuskommentators – en die meeste godsdiensleiers – eenvoudig nie die profetiese belangrikheid van daardie gebeure nie. Vandag bevraagteken kritici selfs God se bestaan en die inspirasie van die Bybel. Nogtans is profesieё een van die belangrikste bewyse dat die Bybel die geïnspireerde woord van ’n almagtige God is wat in wêreldgebeure ingryp. U behoort dit aan uself te bewys en die wêreldgebeure wat Bybelprofesieё onthul wat sal plaasvind net voor Jesus Christus se Wederkoms, “dop te hou”. U kan Bybelprofesieё verstaan sodat u nie verras behoort te wees deur die stortvloed van gebeure wat die einde van hierdie era sal aandui nie!