Die meeste van u wat lank reeds lidmate van die Kerk is, sal onthou dat mnr. Herbert Armstrong ons in die 1950’s en 1960’s geleer het dat ware Christenskap ’n totale leefwyse is. Dit is nie net ’n geloof in Jesus as Persoon nie. Dit is ook opregte en bewuste navolging van Jesus se opdrag: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). In beginsel – hoewel nie altyd letterlik nie – moet ons selfs die Ou Testamentiese instruksies wat in die “insettinge” van God gegee word, navolg omdat ons weet dat die hele Nuwe Testament, die hele Bybel, die “intellek van God” onthul, soos deur Christus se persoonlike leringe duidelik gemaak word.

Die Ou Testament gee instruksies oor onderwerpe soos dat ’n mens gereeld moet was, oor die bedekking van menslike afval onder die grond sodat dit nie siektes versprei nie, oor die aanbring van ’n reling rondom die plat dak van ’n huis sodat mense nie sal afval nie, om nie dierlike vet te eet nie en om slegs die diere te eet wat die Bybel as “rein” aangedui het. Dit alles – en baie meer – is deel van ’n leefwyse wat erken dat “God die beste weet”, selfs in die kleinste besonderhede van die lewe. Deur hierdie hele leefwyse noukeurig na te volg, “verdien” ons beslis nie verlossing nie, maar dit toon dat ons werklik probeer om te leef “van elke woord van God”. Namate ons groei in insig en in ons nederige toegewing tot God se Woord, help dit ons verseker om te kwalifiseer vir groter verantwoordelikhede in die komende Koninkryk van God. God kan sien dat ons ywerig Sy leefwyse in ons lewens toepas en dat ons gevolglik veel meer gewillig en ervare sal wees in die toepassing van hierdie leefwyse in die vyf of tien stede waaroor ons moontlik in beheer sal wees in Christus se toekomstige wêreldregering (Lukas 19:19; Openbaring 2:26-27).

God se geïnspireerde Woord dui aan dat ons “vreeslik wonderbaar is” (Psalm 139:14). Dit onderrig ons: “verheerlik God dan in julle liggaam” (1 Korintiërs 6:20). As ons dus werklik hierdie en ander duidelike skrifture glo, behoort ons te aanvaar dat elke deel van ons liggaam met ’n doel daargestel is. Ons behoort te aanvaar dat elke orgaan in ons liggaam vir ’n goeie rede daar is en behoort nie sonder ’n baie goeie rede verwyder te word nie!

Daarby moet ons onsself vergewis van die feit dat die heel beste dokters en mediese navorsers nou besef dat baie van die operasies en prosedures wat dokters tradisioneel uitgevoer het, dikwels heeltemal onnodig en soms selfs gevaarlik is! Byvoorbeeld, in ’n onlangse artikel in die New York Times vertel Lisa Sanders, MD, van haar eie skynbare ontnugtering met die bykans vererende benadering wat miljoene mense teenoor medikasie inneem. Dr. Sanders beskryf dat die dekaan heel aan die begin van haar opleiding in die mediese skool gesê het: “Die helfte van wat ons u hier leer is verkeerd, ongelukkig weet ons nie watter helfte nie!” (nadruk ons eie).

Dr. Sanders beskryf voorts hoe drastiese veranderings soms elke vyf of tien jaar gemaak word in die behandeling van sekere toestande. Die dokters self sê aan ons dat hulle geneeskunde “beoefen”.

Beteken dit dat ons dokters geheel en al moet vermy? Natuurlik nie! As u deur ’n vragmotor getref word, beter u na ’n hospitaal gaan en dadelik ’n opgeleide geneesheer sien! Mediese dokters, tandartse, osteopate, chiropraktisyns en ander beroepsgesondheidswerkers lewer dikwels ’n onskatbare diens aan hul medemens. Hulle is dikwels diep opregte en toegewyde mense wat die “beste doen wat hulle kan” met hul huidige kennis en die middele tot hul beskikking. Dit behoort opreg waardeer te word!

Aan die ander kant, as u hul geskrifte lees, sal u waarskuwing na waarskuwing vind oor die gevare van die gebruik van te veel medikasie en oor agtelosigheid en selfs wanpraktyke in sekere hospitale. Dit behoort ons dus te help om dit baie sorgvuldig te oorweeg alvorens ons enige mediese prosedure ondergaan. Dit behoort ons ook aan te moedig om gesteld te wees daarop dat ons alles in ons vermoë doen om siektes en beserings aan ons liggame te voorkom. Ek is ingeteken op ’n paar gesondheidsnuusbriewe wat deur top medici geskryf is. Hierdie nuusbriewe waarsku almal, in beginsel, dat ons die ou spreekwoord moet onthou: “Daar is ’n oorsaak vir elke gevolg!” Hierdie gesondheidsorg deskundiges, baie van hulle dokters, moedig almal hul lesers aan om die gesondheidswette noukeuriger na te volg en dus in die eerste plek nie siek te word nie! Hulle beskryf bloot vanuit hul professionele perspektief die beginsel dat ons God in ons liggame moet verheerlik. Dit is ’n baie belangrike deel van die “leefwyse” van ’n ware Christen.

God sê vir ons: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spreuke 22:6). Ons belydende Christennasies het in die verlede miljoene eerbiedige en gehoorsame jongmense gehad, maar etlike dekades gelede het die “kindersielkundiges” die lig gesien. Hulle is in geheel opgelei deur Godverwerpende, wêreldse, humanistiese professore wat hoegenaamd geen aandag gegee het aan die leringe van die Bybel nie. Toe kom dr. Benjamin Spock en ander soos hy, wat ons ’n totaal ander benadering tot onderrig, opleiding en dissipline van ons kinders gegee het. Soos baie mense opgemerk het, het dit gelei tot ’n hele geslag van selfsugtige, ongedissiplineerde en onregeerbare kinders wat grootgeword het met “Spock”-merke oral oor!

Binne ’n dekade of so nadat die Amerikaners en Britte begin het om hierdie “geleerde dwase” toe te laat om ons te vertel hoe om ons kinders groot te maak, het die statistieke vir jeugoortredings begin om die hoogte in te skiet. Jongmense het begin om hulle te wend tot onwettige dwelms en ander sosiale euwels het begin toeneem. Soos hulle sê: “Die res is geskiedenis”.

Op die gebied van die huwelik en gesin, sê God se Woord baie duidelik: “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook die Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees. Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. So behoort die mans hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief” (Efesiërs 5:22-28).

Toe kom “feminisme” en die moderne “kies en keur” benadering tot die Bybel egter op die toneel – iets wat selfs deur baie belydende Christene aangeneem is. Die leiers van hierdie bewegings verwerp die Bybel egter geheel en al as ’n waaragtige gesag, óf hervertolk selfs die helder en duidelike teksverse om hulself te pas. As gevolg van die heeltemal verkeerde benadering tot die huwelik en gesin wat die hedendaagse sogenaamde deskundiges inneem, verbrokkel huwelike in ons Westerse, belydende Christennasies met toenemende gereeldheid en miljoene jongmense besluit om bloot “saam te woon” sonder die voordele van die huwelik!

Baie van u – soos ek ook – het gelees van die afskuwelike gevolg van mense wat nie God se leringe aangaande die huwelik en huislike lewe volg nie. Die ware prentjie van die lewe vir die miljoene ongelukkig getroude paartjies – en die wat net saamwoon – is werklik baie hartseer. Deesdae word jongmense nie geleer hoe om ’n standvastige en gelukkige tuiste te skep nie. Hulle is nie geleer om hulself totaal te verbind tot mekaar voor God ten einde ’n tuiste en gesin te bou “tot die dood ons skei” nie. Hulle is nie geleer om te gee en gee en mekaar voortdurend in die huweliksverhouding te vergewe nie. Sodoende word hulle geheel en al ongelukkig en leef lewens van ongekende pyn en smart. Hulle kinders – by die miljoene – word verward, ontwrig en wrokkig omdat hul ouers skei. In selfbejammering en woede wend baie van hierdie kinders hulle tot dwelms, misdaad en soms selfs tot geweld in hul frustrasie. Dit is deeglik aangeteken dat kinders uit gebroke huise ’n baie hoër selfmoordsyfer toon. Hulle probeer bloot die probleem “oplos” deur hulself om die lewe te bring.

“Die loon van die sonde is die dood”, sê u Bybel (Romeine 6:23). Selfs fisiese dood is dikwels die gevolg vir diegene wat God se wette van gesondheid, die huwelik of kinderopvoeding verbreek.

Daar is ’n oorsaak vir elke gevolg. Hoewel ons in ’n verwarde en toenemend Godverwerpende samelewing leef, moet ons as die Kerk van God terugkeer na die regte leefwyse wat deur die vroeë Christene onderrig en beoefen is.

In die laat 1940’s en vir baie jare daarna het mnr. Herbert W. Armstrong probeer om hierdie leefwyse te herwin en dit deelagtig te maak aan God se mense – veral aan die studente van Ambassador Kollege. Trouens, hy het die leuse vir Ambassador Kollege gestel as: “Herwin Egte Waardes”. Deur baie studie, gebed en God se leiding, het hy probeer om die vroeë Ambassador Kollege-studente te leer hoe om fatsoenlik uit te gaan en ’n ware Christelike hofmakery aan te voer, hoe om ’n mens se maat in die huwelik lief te hê en te dien en hoe om ’n kind leiding te gee “oor hoe hy moet leef” (Spreuke 22:6, NV).

Uit die aard van die saak was ons hoegenaamd nie “perfek” nie. Ons het almal geleer met die tyd, maar tot die mate waartoe ons hierdie leefwyse gevolg het, was ons huwelike geseënd, was ons gesonder en was ons gesinne in geheel in ’n beter toestand as die meeste gesinne in die samelewing om ons. Selfs die bure het dikwels opmerkings gemaak oor hoe die Ambassador studente ’n innerlike vreugde “uitstraal” en ongewone vriendelikheid en hoflikheid geopenbaar het.

Trouens, in die vroeë jare van Ambassador Kollege, het nie ’n enkele egskeiding plaasgevind nie! Toe dit die eerste keer gebeur, was baie van ons geskok omdat ons nog nooit so iets in ons midde ervaar het nie. Wat ook beduidend is, is dat, tot die beste van my wete, selfs na jarelange ondersoeke en kontrolering, ek nie bewus is van een enkele verkragting wat deur ’n student van Ambassador Kollege gepleeg is nie – hoewel duisende jongmense die Kollege deur die jare bygewoon het.

Ons is ook geleer: “Put jou genot uit jou werk!” Ons is voortdurend aangemoedig om lewens van produktiwiteit en kundigheid te leef. Ons is dikwels herinner aan Prediker 9:10: “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie”.

Mnr. Armstrong het ons gereeld vermaan om hoë standaarde te stel en te streef na ware kwaliteit in dit wat ons lees, die musiek waarna ons luister, die kos wat ons eet en die manier waarop ons mekaar behandel. Ons is geleer dat God altyd iets “reg” doen en dat ons moet streef na die regte soort kultuur en kwaliteit op elke gebied van ons lewens.

Dus wil ek graag elkeen van u as lesers – jonk en oud – aanmoedig om weer te dink oor die “lewenswyse” van ’n ware Christen. Soos mnr. Armstrong, sal ons nie in staat wees om elke fase en faset van hierdie weg in die Lewende Kerk van God perfek te herstel nie, maar ons kan probeer. Ons kan wesenlike vordering maak mits ons ywerig streef om God te eer op al hierdie gebiede – mits ons nou begin, vandag nog!

Wanneer ons Here en Verlosser, Jesus Christus, terugkeer na hierdie aarde, sal ons met vreugde “die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete” (Handelinge 3:21), ervaar. Die volheid van hierdie leefwyse sal die hele wêreld onder Christus se heerskappy deursypel. As “baanbrekers” – as deelnemers aan die eerste opstanding met die wonderlike geleentheid om hierdie “wyse” te onderrig – moet ons egter nou hierdie wyse in ons lewens leer en toepas. Mag God elkeen van ons lei en inspireer om juis dit te doen.