Een van die grootste uitdagings wat Christene vandag in die gesig staar, is om gefokus te bly en koers te hou in ’n wêreld vol beproewings, versoekings, afleidings en misleidings. Veral wanneer ons tussen opregte mense met goeie bedoelings woon en werk, is dit maklik om te vergeet dat die god van hierdie wêreld opsetlik gevaarlike lokvalle stel, om dié wat onbedag is, te mislei en vernietig (2 Korintiërs 2:11; 4:4; Efesiërs 6:11-13; 1 Petrus 5:8-9). Tog is die Bybel vol waarskuwings teen wat sal volg as ons ons fokus verloor én dit gee instruksies om ons op koers te hou @ mits ons oë het om te sien en ore om te hoor!

Waarskuwings en advies

Daar is ’n ou gesegde dat diegene wat nie uit die lesse van die verlede leer nie, gedoem is om die foute van die verlede te herhaal. Die Bybel noem vele voorbeelde van hierdie fundamentele waarheid. Adam en Eva is uit die Tuin van Eden verdryf omdat hul fokus van God se opdragte afgelei was. Hulle het na Satan en sy listige, verwronge halwe waarhede en hul eie menslike redenasies geluister (Genesis 3). Die antieke volk van Israel het in gevangenskap gegaan omdat hulle misleide leiers gevolg en op heidense vorms van aanbidding gefokus het, eerder as om God se gebooie te volg (1 Konings 12:25-33; 14:15-16). Dawid het in die moeilikheid beland en Salomo se opvolger het die Huis van Israel, bestaande uit tien stamme, verloor omdat hulle op die fisiese skepping (die skoner geslag) gefokus het, pleks daarvan om hul Skepper en Sy instruksies te gehoorsaam (2 Samuel 11; 12; 1 Konings 11:1-11). Hierdie voorbeelde is aangeteken tot die vermaning van Christene wat aan die einde van die tyd leef (1 Korintiërs 10:11).

Een van die belangrikste maniere waarop Satan ons van koers af trek, is deur hom op ons intellek en ons eie redenasievermoë te beroep. Wanneer ons fokus van die Woord van God af wegbeweeg, neig ons na gedagtes wat vir ons redelik voorkom en wat dít wat ons wil doen, regverdig. Tog waarsku die Bybel herhaaldelik “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spreuke 14:12; 16:25). Tensy ons op God se opdragte gefokus bly en aan Sy waarskuwings, dat menslike redenasies ons weg kan lei (Jeremia 17:9), gehoor gee, sal ons onsself mislei en ernstige gevolge dra. Ons word egter vertel dat wanneer die oog reg is (in slegs een rigting op een hoofdoel gefokus is), die hele liggaam verlig is (Mattheus 6:22-23). Om in die regte rigting koers te hou en op die regte doelwitte te fokus, kan ons help om groot foute te voorkom!

Die gelykenis van die saaier is in besonder van toepassing op die onderwerp van koershou (Mattheus 13:18-23). In dié gelykenis beskryf Jesus vier kategorieë mense. Die eerste hoor die Waarheid en word dan onmiddellik deur Satan afgelei, hulle vind nooit die regte koers nie. Die tweede ontvang die Waarheid met entoesiasme, maar omdat hulle nie die tyd neem om noukeurig te bewys wat hulle glo nie, word hulle van koers af gewaai en struikel “as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord” (Mattheus 13:21). Sulke beproewings kan teenstellings in leerstellings, kerksplete, spottery, die aantrekkingskrag van gewilde misleidende leiers of vreemde idees én fabels wees. Die derde raak besig met die sorge van die wêreld (die eie ek, gesin, werk en gesondheid), die gejaag na geld, materiële besittings en die aantrekkingskrag van wêreldse plesier (aanvaarding, prestige, stokperdjies, vermaak, pret) wat hul fokus van die Waarheid van God aftrek. Slegs een van die vier groepe bly op die regte doelwit gefokus; die res verloor hul koers en slaan ander rigtings in. In die lig van hierdie ernstige waarskuwings moet ons sewe noodsaaklike sleutels oorweeg, wat ons sal help om die regte fokus te behou.

Die Woord van God

Ons moderne, snelpas wêreld is deurtrek met verwarring oor God, die Bybel, die waarheid, die ware Kerk en die doel van die lewe. Die heidense heerser Pilatus het die spot gedryf met die idee van waarheid (Johannes 18:38). Ons hoor vandag nog dieselfde skeptiese kommentaar. Tog sê Jesus dat kennis van die waarheid ons kan vrymaak van die verwarring van hierdie wêreld (Johannes 8:32). Die Bybel voer aan dat God se Woord, Sy wette en Sy gebooie waarheid is (Psalm 119:142, 151, 160). Die Bybel bevat die absolute waarheid (Johannes 17:17). Daarom is dit so belangrik om die Bybel te bestudeer, sodat ons weet wat God in Sy woord onthul (2 Timotheus 2:15). Ons moet idees noukeurig evalueer voordat ons dit aanvaar, bewys wat reg is en vasklou aan dit wat ons bewys het, anders sal ons ons fokus en ons koers verloor (1 Thessalonicense 5:21).

Ons leer slegs uit die Bybel die waarheid oor God en Sy plan vir verlossing, die regte wyse waarop ons kan aanbid, die regte leerstellings om te onderrig en te glo, die ware doel van die lewe, die regte lewenswyse, die regte doelwitte om op te fokus en wat ons in hierdie wêreld moet vermy, wat ons slegs in die moeilikheid sal bring. Daarom is dit belangrik om te weet wat die Bybel werklik sê. Die Bybel verskaf ’n standaard waarteen alles gemeet kan word. Ongelukkig dra menslike opinies (ons eie of iemand anders s’n) vandag méér gewig as die waarheid wat God in die Bybel onthul het. Ons kan nie bekostig om onkundig te wees oor die ware bron van waarheid nie of toelaat dat ander belange inmeng met gereelde studie van die Woord van God nie. Indien ons dit doen, sal ons ons fokus verloor en van koers af dwaal.

Ware God en Opregte Jesus

Die God van die Bybel is ’n God van genade en geregtigheid (Psalm 101:1), wat mensewesens geskep het met die doel om hulle te leer om te kies tussen die regte weg wat God onthul en die verkeerde, misleidende weë wat Satan voorstaan (Deuteronomium 30:11-20). In Sy wet onthul die God van die Bybel wonderlike dinge aan Sy uitverkore mense, sodat hulle voorbeelde vir die wêreld en ’n seën vir die mensdom kan wees (Deuteronomium 4:1-14; Psalm 119:18; Hosea 8:12). Die ware God beloof seëninge vir gehoorsaamheid aan Sy wette en straf vir ongehoorsaamheid (Levitikus 26; Deuteronomiom 28). Hy waarsku ons spesifiek om nie tot Sy Woord toe te voeg of daarvan weg te laat nie (met verwysing na godsdiensidees en praktyke @ sien Deuteronomium 4:2; Openbaring 22:18-19) en om nie idees van heidense godsdienste te leen nie (Deuteronomium 12:29-32). Die God van die Bybel verander nie (Maleagi 3:6; Hebreërs 13:8), tog word hierdie God eintlik deur baie verwerp wat daarop aanspraak maak dat hulle aan Hom glo. Pleks van die Bybelse God, het baie mense ’n god geskep waarmee hulle gemaklik is @ ’n minder dreigende, veel minder veeleisende, toegeeflike ouer wat nie vereis dat reëls nagekom word nie en wat nie ’n bepaalde vorm van regering toepas nie. Hierdie mensgemaakte en denkbeeldige god is tevrede met mense wat hom aanbid soos hulle verkies, selfs al sluit hul aanbidding gebruike in van heidense oorsprong. Net soos die antieke Israeliete, het baie wat hulself vandag “Christen” noem, die ware God vergeet en verdraaide weë aangeneem (Jeremia 3:21; 2 Timotheus 3:5). Indien ons gefokus wil bly in hierdie deurmekaar wêreld, moet ons onthou wat die Bybel onthul oor die ware God.

Die werklike Jesus waarsku dat baie in Sy naam sal kom (daarop aanspraak maak dat hulle Christene is) en baie sal mislei (Mattheus 24:5). Paulus waarsku teen leraars wat ’n “ander Jesus” verkondig wat geen ooreenkoms toon met die Bybelse Verlosser nie (2 Korintiërs 11:3-4). Die beeld van Christus met die meisieagtige gesig en lang hare wat vandag deur miljoene aanbid word, is in skrille kontras met die Bybel se duidelike vermaning vir mans om nie lang hare te dra nie (1 Korintiërs 11:14). Die beeld van ’n “sagte en verwyfde” Jesus strook nie met die jong skrynwerker wat tafels omgegooi, diere en tollenaars uit die tempel gejaag het, die priesters en misleide gelowiges vertel het dat hulle geveins en “kinders van die duiwel” was, omdat hulle teenstrydig met God se wette geleer en opgetree het nie (Mattheus 21:12-13; 23:13-17; Johannes 8:42-44). Die Bybelse Jesus het die Sabbat (Lukas 4:16) en die Heilige Dae (Johannes 7) onderhou, net soos die Apostels wat Hy opgelei het (Handelinge 17:2; 18:4, 21; 1 Korintiërs 5:8). Hy onderrig duidelik: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheus 19:17). Vir die Christus van die Bybel was die wette van God nie ’n las of uitgediende oorblyfsel van ’n ou verbond nie! Die Bybel sê dat Jesus Christus nie verander nie (Hebreërs 13:8) en soos Sy Vader, is Hy begaan oor genade (Titus 3:4-5) en geregtigheid (Jesaja 9:6-7). Hy kom terug na hierdie aarde om Sy koninkryk te vestig, die heiliges te beloon en diegene wat die aarde bederf het, te vernietig (Openbaring 11:17-18). Die wederkoms van die opregte Jesus sal die wêreld skok! Die Bybelse Jesus is in skrille kontras met die Jesus wat vandag in die meeste kerke aanbid word! Opregte Christene kan nie bekostig om hul fokus te verloor deur die “ander” Jesus te aanvaar wat al vir eeue aan ’n onbedagte wêreld afgesmeer is nie.

Die ware Evangelie

Die ware evangelieboodskap wat deur Jesus Christus verkondig was, sal baie belydende Christene wat hul fokus verloor het, verbaas. Die wêreld neem oor die algemeen aan dat Jesus met ’n aangename boodskap van liefde, genade en verlossing gekom het vir almal wat hul hart vir die Here gee en glo dat Jesus die Seun van God is. Tog onthul die Bybel dat selfs die duiwels hierdie dinge glo (sien Markus 5:1-8; Jakobus 2:19), maar Jesus gee Sy dissipels opdrag om die ware evangelie te verkondig en die werklikheid van die komende koninkryk van God te beklemtoon (Mattheus 9:35; 10:6-7). Dít was die evangelie wat Christus voor Sy kruisiging verkondig het. Jesus beklemtoon dat as iemand in God se koninkryk wil wees, hy hom moet bekeer van sonde en die gebooie van God moet onderhou (Markus 1:15; Johannes 14:15).

Na Sy opstanding, voeg Jesus ’n bykomende dimensie by tot die evangelie. Hy vertel die dissipels dat hulle getuies vir die wêreld moet wees; dat Sy lyding, dood en opstanding nodig was vir die vergifnis van sondes (Lukas 24:44-49). Tog gaan Jesus voort om op die koninkryk van God te fokus, soos die dissipels gedoen het (Handelinge 1:3, 6). Die Kerk, in die tyd van die Apostels, het beide van die komende koninkryk van God en die dinge aangaande Jesus Christus verstaan en daaroor onderrig (Handelinge 8:12; 28:23, 31). Ongelukkig het die “algemene Christen”-wêreld, die spoor van die evangelie van die koninkryk byster geraak en verkeerdelik slegs op die lewe en persoon van Jesus Christus gefokus. Baie kerke het die helfte van die evangelieboodskap gemis, omdat hulle misleide leiers volg wat hul fokus verloor het. Baie belydende Christene vandag besef nie dat hulle ’n “ander evangelie” voorgehou word, waarteen Paulus herhaaldelik in sy sendbriewe gewaarsku het (2 Korintiërs 11:1-4; Galasiërs 1:6-9). Dít word duidelik wanneer ons die Evangelies lees en oplet na die ware evangelie wat Jesus verkondig het (Markus 1:14-15; Lukas 4:43; 8:1).

Die ware Kerk

Baie mense dink vandag aan die kerk as ’n gebou. Vir andere is die kerk vaagweg ’n groep mense wat in God en Jesus glo. Miljoene mense behoort na bewering aan hierdie “mistieke liggaam” van Christus. Wanneer ons egter fokus op wat die Bybel oor die Kerk onthul, vind ons presies die teenoorgestelde. Jesus sê dat die Gemeente wat Hy stig, sal bly voortbestaan as ’n werklike entiteit (Mattheus 16:18). Hy sê dat dit ’n klein, uitgespreide en vervolgde groep mense sal wees (Lukas 12:32; Johannes 15:20; 16:32). Jesus sê dat ware Christene nie “van die wêreld” is nie (Johannes 17:16), maar hulle word beveel om uit die wêreld te kom en apart te wees (2 Korintiërs 6:17). Christus sê ook: “Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen” (Lukas 6:26). Jesus waarsku daarteen om aanvaarding en lof te soek van die heersende godsdiens gesagsorde. Vir baie wat vandag hul fokus verloor het, is die soeke na aanvaarding in die algemene Christendom egter ’n hoof doelwit, selfs al het baie van die algemene oortuigings hul ontstaan in heidense godsdiensgebruike wat in die Bybel veroordeel word (Deuteronomium 12:29-32; Mattheus 15:8-9).

Die ware Kerk wat deur Jesus Christus en die Apostels gestig is, kan herken word indien ons fokus op wat die Bybel onthul. Die Kerk het ’n Bybelse naam @ dit word elf keer in die Nuwe Testament die “Gemeente van God” of “Gemeentes van God” genoem. Die ware Kerk word nie deur “’n verskeidenheid leerstellings” gekenmerk nie, maar bestaan uit lede wat “verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening” (1 Korintiërs 1:10). Die Bybelse Kerk van God het ’n hiërargiese struktuur, deur leiers wat aangestel word gebaseer op kwalifikasies en die vrugte van bekering in hul lewens; hulle word nie verkies deur stemwerwing nie (Efesiërs 4:11; Titus 1:5). Die Kerk wat Jesus gestig het, onderhou die Sabbat en die Heilige Dae, volgens Sy voorbeeld (Lukas 4:16; Handelinge 13:14, 44). Net soos Jerobeam egter die aanbiddingsdae in antieke Israel verander en die volk laat afdwaal het, het teoloë God se Sabbatte (Levitikus 23) verwerp en Sondagaanbidding en Kersfees- en Paasvierings aangeneem wat hul oorsprong in heidense antieke tye het (Esegiël 20:28-32). Gevolglik het God se verkose mense hul fokus en hul nasionale identiteit verloor (sien Deuteronomium 32:16; Jesaja 62:2). Die Bybel onthul dat God se rebelse volk ook Sy beskerming en hul vryheid sal verloor, omdat hulle hul fokus verloor het. Dit sal ’n dure les wees.

Die Kerk se sending

Daar is vandag baie verskillende idees oor die sending van die Kerk. Dit is nie verbasend nie. ’n Ander evangelie lei tot ’n ander sending. Die ware evangelie voorsien die Kerk van God met ’n kragtige visie en sin van hul sending. Baie opregte mense neem aan dat die sending van die kerk behels om in klein groepies te ontmoet en oor Jesus te praat. Dit sluit ook in om die goeie nuus te versprei dat “God u liefhet … Jesus het vir u gesterf … wees net vir Jesus lief en u gaan hemel toe”. Tog gee Jesus sy dissipels opdrag om “liewer na die verlore skape van die huis van Israel” te gaan en om die evangelie van die komende koninkryk van God aan die hele wêreld te verkondig, om te genees, die dode op te wek en duiwels uit te dryf (Mattheus 10:1-8; Markus 16:14-20). Hulle moes die Israelitiese nasies en die wêreld waarsku om hulle te bekeer van hul sondes voor die aanbreek van die Groot Verdrukking wat die wederkoms van Jesus Christus sal voorafgaan (Mattheus 24; Markus 13; Lukas 21). Die dissipels het die wêreld letterlik “aan die brand gepreek” met hul boodskap, ten spyte daarvan dat hulle deur die godsdiens gesagsorde in beide die Joodse en die heidense gemeenskappe vervolg was (Handelinge 17:6). Hulle het nie net oor die baba Jesus gepreek wat vir almal lief was nie. Hulle het nie die Kerk uitgebeeld as ’n soort geestelike hospitaal vir verlore siele nie. Hulle het gepreek oor die werklike koms van die koninkryk en die wederkoms van ’n magtige Christus wat die volke sal skud en die regering van God op hierdie aarde sal hervestig (Openbaring 11:15-19). Edward Gibbon, ’n geskiedkundige, het aangeteken dat hierdie aandagvestigende boodskap oor die komende koninkryk van God, die “heersende sentiment van die ortodokse gelowiges” gedurende die vroeë eeue van die Kerk was, maar dat dit geleidelik teruggeskuif is na die gebied van dwaalleer (The Decline and Fall of the Roman Empire, hfst. 15). Namate lidmate van die vroeë Kerk hul fokus op die ware evangelie verloor het, het hulle hul ware sin vir hul sending verloor en die oorgrote meerderheid van belydende Christene het afgedwaal van beide die Christensending en die Christenwaarheid! Ongelukkig gebeur dit vandag met diegene wat na misleide leiers luister. Gebeur dit met u?

Ons persoonlike doelwit

Baie opregte belydende Christene glo dat hul persoonlike rol slegs is om God en hul naaste lief te hê en om frases soos “prys die Here” te uiter wat sag op die oor is. Indien ons egter fokus op wat die Bybel onthul, vind ons baie interessante advies. Jesus sê: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheus 6:33). Ons word vertel dat ons “moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Petrus 3:18) en om die verstand van Christus te ontwikkel (Filippense 2:5-11). Dit beteken dat ons moet leer om in die letter en in die gees volgens die gebooie van God te leef, soos wat Christus gedoen het (Johannes 14:15). Ons word vertel dat God Sy Gees aan diegene gee wat Hom gehoorsaam (Handelinge 5:32) en dat God wil hê dat ons die vrugte van daardie Gees moet dra (Johannes 15:1-8; Galasiërs 5:22-26). Individue wat die versoekings van die menslike natuur oorwin en geestelik groei, sal die geleentheid gegun word om saam met Christus op Aarde te regeer en om die mensdom, die weg na ware vrede, vreugde en geluk te leer (Openbaring 5:10; Jesaja 30:20-21), wat behels dat hulle sal leer om volgens die wette van God te leef (Jesaja 2:2-4). Die ware doel van die menslike lewe is om voor te berei om in die koninkryk van God te wees, waar vandag se ware Christene saam met Jesus Christus sal werk om die verloop van geskiedenis te verander. Die idee van hemel toe gaan, op wolke te ry en harp te speel is pure wensdenkery deur diegene wat hul fokus verloor het. Indien ons ons fokus verloor, sal ons ons beloning kwyt wees (Openbaring 3:10-13)!

 

God se Plan

Baie mense neem aan dat God ywerig besig is om almal nou te probeer red. Hierdie idee bly bestaan omdat die “algemene Christen”-wêreld die plan van God uit die oog verloor het. Die werklike plan van God word in die Bybelse Heilige Dae uitgebeeld (Levitikus 23). Die Pasga herinner ons dat Jesus gely en gesterf het sodat ons sondes vergewe kan word. Die Dae van Ongesuurde Brode herinner ons dat ons sondige gedagtes en optredes moet uitskakel en moet begin om soos Jesus Christus te dink en op te tree. Pinkster onthul dat God Sy Gees gegee het aan diegene wat hulle bekeer en Sy instruksies volg, bemagtig deur Sy Gees om sonde te oorwin (Lukas 24:49; Handelinge 1:8; 2:38; 5:32). Die Bybel verduidelik dat slegs diegene wat deur God geroep word, die geleentheid sal hê om op hierdie tydstip die waarheid te verstaan (Johannes 6:44-45) en dat hierdie hoeveelheid min sal wees (1 Korintiërs 1:26-27). Die waarheid van God is ’n verborgenheid vir diegene wat nie nou geroep is nie (Mattheus 13:10-17; 1 Korintiërs 2:6-16). Sulke individue, die meeste van die mensdom, is egter nie verlore nie! Die Heilige Dae, later in die jaar, onthul dat Christus sal terugkeer (die Fees van Trompetgeskal), Satan van sy mag sal onthef (Versoendag @ Openbaring 20:1-2), die koninkryk van God op hierdie aarde sal vestig (met die herrese heiliges @ Openbaring 20:4-6) en begin om diegene wat op daardie stadium leef, te heronderrig (Loofhuttefees). Diegene wat deur die eeue heen gesterf het sonder om die Waarheid van God te hoor of verstaan, sal in ’n tweede opstanding opstaan en hulle kans op verlossing kry (Die Laaste Oordeel @ Openbaring 20:5, 11-12). Dit is ’n bemoedigende boodskap. Tog het die meeste belydende Christene en volgelinge van ander godsdienste nog nooit hierdie goeie nuus gehoor nie, omdat godsdiensleiers van hierdie wêreld hul fokus verloor en geen kennis van die plan van God het nie (Romeine 1:18-25).

Die uitdaging wat ware Christene vandag in die gesig staar, is om op die regte prioriteite gefokus te bly: die ware God, die opregte Jesus, die Woord van God en die ware Evangelie. Ware Christene moet kennis en karakter ontwikkel wat God kan gebruik om die sending van Sy Kerk te bereik en om Sy groot plan tot volvoering te bring. Die Bybel onthul dat slegs ’n paar van diegene wat nou geroep word, gekies sal word om ’n beloning te ontvang (Mattheus 20:16). Hulle sal gekies word omdat hulle getrou bly aan die waarheid wat aan hulle gegee is om te verstaan (Openbaring 17:14), en hulle sal groei en die vrugte voortbring wat God in hul lewens verlang (Johannes 15:1-8). Hulle moet ook deur beproewings en vervolging volhard (Mattheus 24:13) en die wedloop voltooi (2 Timotheus 4:1-8). Die ongelooflike beloning wat God aan diegene beloof wat Hy roep om heiliges te word, sal slegs aan diegene gegee word wat gefokus bly! Sal u daarby ingesluit wees?