VRAAG: Jesus sê in die Evangelie van Mattheüs dat die oordeelsdag “meer draaglik” sal wees vir die mense van Sodom en Gomorra en Tirus en Sidon, as vir diegene wat Jesus se boodskap gedurende Sy bediening op aarde gehoor en dit verwerp het. Hoe kan dit wees? Indien al hierdie mense geoordeel en veroordeel is, hoe kan sommige mense baie beter as ander op die oordeelsdag vaar? 

ANTWOORD: God het daardie stede vernietig en van hulle ’n voorbeeld en ’n waarskuwing gemaak “vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees” (2 Petrus 2:6). Die meeste mense besef egter nie vandag hoe dit in God se Plan vir die mensdom inpas nie. Wanneer Jesus sê dat die oordeelsdag “meer draaglik” sal wees vir Sodom en Gomorra en vir Tirus en Sidon (Mattheüs 10:15; 11:22, 24), openbaar Hy dat die inwoners van daardie stede nog nie hulle eerste geleentheid gehad het om Sy boodskap te verstaan nie.

Hoe kan ons dit verstaan? Ons moet verstaan dat, soos die Nuwe Testament verduidelik, daar drie verskillende “oordeelstye” vir die mensdom is. Die apostel Petrus beskryf die eerste oordeelstyd, waarmee die meeste mense vertroud is: “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?” (1 Petrus 4:17).

Dit is die “Kerktydperk”, die eerste periode van oordeel. Petrus noem die Kerk “die huis van God”, ware Christene wie se oë geopen is om Christus se boodskap te verstaan. Jesus hou Sy dissipels aanspreeklik vir hierdie kennis en verwag van hulle om geestelike vrugte te dra (Mattheüs 25:14-30; 2 Petrus 1:1-9; Johannes 15:1-10). Ware Christene word in hierdie leeftyd volgens hulle werke en gehoorsaamheid aan God se Woord geoordeel (1 Petrus 4:17; Openbaring 20:12; 22:12).

Die volgende oordeelstyd is die “Duisendjarige Vrederyk”. Bybelse profesie toon dat Jesus Christus binnekort sal terugkeer en Sy Koninkryk vir ’n duisend jaar op die aarde sal vestig, (Openbaring 20:2-6). Al die nasies sal dan na Jerusalem, die “wêreld se hoofkantoor” van Christus se regering optrek, om onderrig te word (Jesaja 2:1-4). Die hele wêreld sal dan aan die wonderlike waarheid en volmaakte weg van God blootgestel word, “want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9). Gedurende hierdie tyd, sal God Sy heilige en regverdige Wette deur die Heilige Gees in mense se harte skryf (Hebreërs 8:10-12). Net soos tydens die “Kerktydperk”, sal mense geoordeel word volgens hulle gehoorsaamheid aan God se Woord.

Die derde en finale oordeelstydperk kan die “Laaste Oordeelstyd” genoem word. Die boek Openbaring noem dit die Groot Wit Troon Oordeel (Openbaring 20:11-12). Gedurende daardie tydperk sal die miljarde mense wat geleef en gesterf het sonder om God se waarheid en Sy lewenswyse te ken, opgewek word tot ’n fisiese lewe (Esegiël 37:1-14). Vir die eerste keer sal hulle oë vir die waarheid geopen word en hulle sal hulle eerste geleentheid tot redding hê.

Die Griekse woord vir “boeke” in Openbaring 20:12 is biblion, wat aantoon dat hierdie “boeke”, die Bybel, toeganklik gemaak sal word vir die miljarde mense wat geleef en gesterf het voor die Millennium, sonder om die ware Evangelie van Jesus Christus te hoor.

Jesus Christus het verduidelik dat die manne van Ninevé en die koningin van die Suide in die toekoms opgewek sal word saam met die manne van Sy dag en dié mense van Jesus se dag wat Sy boodskap verwerp het, sal veroordeel word (Mattheüs 12:41-42). Dink aan die omvang van die tyd van oordeel wat Jesus beskryf! Miljarde mense deur die millennia van die mens se geskiedenis heen sal almal saam leef, om God se lewenswyse aan te leer en om dit te vergelyk met hoe hulle voorheen sonder God geleef het.

Miljoene mense glo vandag verkeerdelik dat God óf wispelturig is deur miljarde mense wat nog nooit die verkondiging van Sy boodskap gehoor het nie, na die verdoemenis te stuur; óf dat Hy onkonsekwent is deur redding te skenk aan sommige mense wat nie die verkondiging van Sy Evangelie gehoor het nie. Die waarheid is baie meer inspirerend. Om meer te leer van God se Plan vir die mensdom, vra asseblief ons gratis boekie aan: Is Hierdie die Enigste Dag van Redding?