Watter Heilige Dag belowe ware wêreldvrede? Die antwoord mag u verras!


Tydens die geleentheid van Jesus Christus se geboorte het ’n magtige engel woorde gespreek wat onder die beroemdste en bekendste in die Westerse wêreld is: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ’n welbehae!” (Lukas 2:14).

Tesame met die engel se woorde was daar ’n verblindende lig en die kragtige, welluidende stemme van ’n engelekoor. Hoe wonderbaarlik moes dit nie vir daardie skaapwagters gewees het om daarvan getuie te wees nie! So oorweldig en bevrees was hulle deur die krag van hierdie aankondiging dat die engel hulle moes gerusstel, deur te sê: “Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is” (Lukas 2:10-11).

Deesdae vereenselwig die meeste mense die engel se aankondiging met Kersfees. Miljoene mense benut die geleentheid om kaartjies met Kers- en Nuwejaarsgroete en goeie wense vir seëninge en voorspoed te stuur. Plakkate in winkels wat die klante “Vrede op Aarde” toewens, hang langs die “50% afslag” baniere namate die Kersinkopies na hoogste versnelling oorskakel. Selfs te midde van ’n verbruikers-gedrewe Kersfees, reik die hoop van “Vrede op Aarde!” tot diep in die menslike versugting na harmonie in ons wêreld.

Wat het Kersfees met dit alles te doen?

Hoe het die engel se boodskap dan verbind geraak met 25 Desember? Dit is interessant dat ons in die Encyclopaedia Brittanica se artikel getiteld “Christmas”, lees: “So laat as 245 het Origen die idee verwerp om Christus se verjaarsdag te vier ‘asof Hy ’n koning Farao is’” (14de uitgawe, Vol. 5, bl. 642). Selfs die Katolieke Ensiklopedie erken dat “Kersfees nie onder die vroegste feeste van die Kerk was nie” (“Christmas”, bl. 724, Vol. III, 1908). Indien Kersfees “nie onder die vroegste feeste van die Kerk” was nie, waarom vier so baie belydende Christene dit?

Dit is algemene kennis dat 25 Desember nie voor die vierde eeu n.C. amptelik deur die Rooms-Katolieke Kerk erken was as die goedgekeurde datum om Christus se geboorte te gedenk nie. Soos outeurs Albert en Shirley Menendez uitwys, het die 25 Desember tradisie nie ontstaan om Bybelse redes nie, maar as gevolg van ’n “politieke besluit as teenvoeter vir reeds bestaande gewilde ‘heidense’ (of ‘voor-Christelike’) feeste” (Christmas Songs Made in America, bl. 3). Die “Christelike” kerk het die Romeinse fees, Saturnalia, geabsorbeer en dit herdoop na “Kersfees”.

Watse soort fees was Saturnalia? “Tydens Saturnalia was die gewone gang van die lewe omgekeer. Dobbel was wettig verklaar, howe was gesluit, en niemand kon vir ’n misdaad veroordeel word nie. Slawe het hul getooi in hul meesters se klere en was deur hul meesters bedien. ’n Kammakoning was gekies om oor die feestelikhede te heers: Hy sou eeue later weer sy verskyning maak op Kersfees as die “Heer van Wanbestuur” (The Pageantry of Christmas, bl. 10). Tipiese norme van ordentlike gedrag en maatskaplike beperkings onderstebo gekeer? Dit klink nie na ’n vreedsame manier om die groot Wetgewende God te eer nie; dit klink eerder na goedkeuring van wanordelikheid. Saturnalia @ of te wel “Kersfees” @ het ’n viering geword van tydelike wegbreek van verantwoordelike, selfbeheersde gedrag.

Dit was vir honderde jare die aard en karakter van Kersfees. Skrywer Stephen Nissenbaum verduidelik dat in die 1700’s en 1800’s, Kersfees in Amerika nie gegaan het oor sneeubedekte “Norman Rockwell” tonele en asemrowende ritte deur die platteland op sleë wat deur perde getrek was nie! Meer as enigiets anders, het Kersfees in die vroeëre Amerika “oproerige wanorde, rasse-geweld en uitbundige gekskeerdery beteken ... [dit was ’n] luidrugtige, besope, dreigende tydperk in die oë van welvoeglike mense” (The Battle for Christmas, bl. 24). Dit was ’n ware nakomeling van sy ouer, die losbandige Romeinse fees van Saturnalia!

Kersfees misdaad?

Gedurende die laaste 150 jaar of so, is Kersfees grootliks getem en “gereinig” en het ’n groot deel van sy liederlike verlede verloor. Daar bestaan nou slegs spore van Kersfees se oproerige verlede, soos die jaarlikse gekostumeerde maskerparade wat oor Amerika gebeeldsend word vanuit Philadelphia, Pennsylvania.

Nogtans, alhoewel miljoene mense elke jaar “Kersvakansie” geniet as ’n tyd om met vriende en familie deur te bring, faal dit dikwels om die ideale van vrede en huislike rustigheid gestand te doen, wat dit veronderstel is om te wees. Vir baie mense het Kersfees ’n donker en selfs gevaarlike kant. In hul boek, Unplug the Christmas Machine, verduidelik skrywers Jo Robinson en Jean Coppock Staeheli dat ’n klompie jong mense by een werkswinkel vir kinders, gevra was om die belangrikheid van Kersfees-herinneringe te beskryf. Verrassend en tragies het ses uit die tien kinders Kersfees geassosieer met onaangename herinneringe van ouers wat drank misbruik (bl. 81).

Statistiek toon eintlik dat sekere misdrywe @ selfs gesinsvoorvalle @ jammerlik toeneem op hierdie veronderstelde dag van “welwillendheid”. In ’n studie wat gedoen is van 2002 tot 2006, het Australiese navorsers gevind dat daar ’n neiging is dat “tussen een kwart en een derde meer gesinsgeweld-verwante aanrandings op Kersdag aangemeld word as op enige ander daaglikse gemiddelde vir dieselfde tydperk” (“Does Crime Increase over Christmas and New Year?”, New South Wales Bureau of Crime Statistics and Research). Dieselfde navorsing het getoon dat nie-huishoudelike geweld-verwante aanrandings die week voor Kersfees ’n oplewing toon. Die verslag verduidelik dat dit “vermoedelik te wyte is aan die groot getal sosiale aktiwiteite en verhoogde alkohol-inname gedurende hierdie tyd”. Selfs gevalle van “kwaadwillige beskadiging van eiendom” neem toe gedurende die dae net voor Kersfees (ibid.). Dankie tog dat nie almal sodanige negatiewe ondervindings ervaar nie. Die vraag bly egter @ waarom faal Kersfees daarin om sy veronderstelde belofte gestand te doen?

Die Skrif beskryf God as die “God van vrede” (Romeine 16:20; Filippense 4:9; 1 Thessalonicense 5:23; Hebreërs 13:20). Jesus Christus het belowe om “vrede” te bewerkstellig te midde van die wêreld se gevare en vrese. Hy sê aan Sy dissipels: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie” (Johannes 14:27). Selfs wanneer ons gebuk gaan onder probleme en beproewings, wil God dat ons die diep, innerlike vrede sal ervaar wat voortspruit uit die inwoning van Sy Heilige Gees, deur volslae gehoorsaamheid aan Hom (Handelinge 5:32). Hy wil hê dat ons vrede moet hê “wat alle verstand te bowe gaan” (Filippense 4:7).

God wil nie net hê dat Christene diep, innerlike vrede moet ervaar nie, Hy wil hê dat vrede na die hele mensdom moet uitbrei! Hoe sal dit gebeur? Kersfees het nie die antwoord nie. Nogtans, “God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges” (1 Korinthiërs 14:33). Waar kan ons dus soek om God se eintlike plan vir vrede te vind? Ons kan dit in God se Woord vind @ veral in Sy openbaring van Sy Heilige Dae, wat Sy plan van redding vir die hele mensdom uitbeeld!

Wat sou Jesus onderhou?

Watter feeste het Jesus en Sy dissipels onderhou? Behoort ons hulle voorbeeld te volg? Behoort u die Bybel se feestye vandag nog te onderhou? Wat mag hierdie Heilige Dae ons leer oor God se oorhoofse plan vir die mens? Wat sê hulle ook aan ons aangaande die toekomstige heerskappy van Christus @ aangaande vrede op aarde en in die mense ’n welbehae?

Die meeste belydende Christene word geleer dat hulle nie die Heilige Dae wat Jesus en Sy dissipels onderhou het, hoef te onderhou nie. U is moontlik geleer dat hierdie dae “Joods” is of dat daarmee  “weggedoen” is. Wat sê u Bybel werklik? Ware volgelinge van Jesus Christus behoort Sy voetstappe na te volg (1 Petrus 2:21) en “behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Johannes 2:6). Om dit te doen, behoort ons uit te vind hoe Hy geleef en watter Heilige Dae Hy onderhou het toe Hy die aarde bewandel het.

Die Skrif toon duidelik dat Jesus die sewende-dag Sabbat as ’n lewenswyse onderhou het (Lukas 4:16). Van Sy jeug af het Hy die sewe jaarlikse Heilige Dae, insluitende die Pasga en die Dae van Ongesuurde Brood onderhou (Lukas 2:40-43). Later lees ons dat Christus, gedurende Sy bediening, na Jerusalem opgegaan het om die Huttefees te onderhou (Johannes 7:2, 10).

Is die Heilige Dae slegs ’n historiese seldsaamheid @ onbekende detail van Jesus se lewe wat nie meer van toepassing is nie? Nee! In der waarheid beeld die Heilige Dae die volle omvang van God se plan van redding vir die mensdom uit! Vir ’n volledige verduideliking moet u asseblief ons gratis boekie, Die Heilige Dae @ God se meesterplan, aanvra. Deur die Heilige Dae te onderhou, doen ons nie slegs ’n deel van wat Jesus gedoen het nie, dit stel ons ook in staat om te verstaan wat Hy verkondig het, en waarom!

Die jaarlikse siklus van God se Bybelse Heilige Dae begin met die Pasga, wat in die eerste maand van God se Heilige kalender val en ooreenstem met Maart of April van die Romeinse kalender (Eksodus 12:2). Die Pasga is ’n jaarlikse herinnering aan Christus se offer om vir ons sondes te betaal. Christene van die eerste eeu het die Pasga as ’n plegtige geleentheid onderhou (1 Korinthiërs 11:23-26), net soos getroue Christene tot vandag doen.

Gedurende die sewe Dae van Ongesuurde Brood, ook in die lente [in die noordelike halfrond] verwyder Christene fisies suurdeeg en rysmiddels uit hul huise en dra sodoende die boodskap oor dat hulle sonde uit hul lewens verwyder. Paulus leer ons hierdie basiese waarheid in 1 Korinthiërs 5:7-8. Die eerste en laaste dae is “groot dae” en word onderhou deur op te hou met werk en saam met God se mense te aanbid.

Hierna volg Pinksterdag, wat die dissipels besig was om te onderhou toe God Sy Heilige Gees oor die Kerk uitgestort het (Handelinge 2:1-4). Hierdie dag word ook die Fees van die Oes of Eerste Vrugte genoem. Dit verteenwoordig die klein oes van diegene wat God nou uit die wêreld uit roep (1 Korinthiërs 1:26-28). Die meeste belydende Christene besef nie dat God vandag slegs met ’n klein groepie eerstelinge werk nie (Openbaring 14:1-5) deur hulle voor te berei vir ’n spesiale rol in die toekoms @ om onder Christus in Sy Koninkryk op aarde te heers (Lukas 19:17, 19). Op elke Pinkster weerhou ware Christene hul daarvan om gewone werk te doen en kom bymekaar om saam te aanbid.

Die Fees van Basuine is die volgende Heilige Dag in die jaarlikse kalender en val aan die begin van die sewende maand van God se jaar (September of Oktober van die Romeinse kalender). Hierdie Heilige Dag verteenwoordig ’n gebeurtenis wat nog in die toekoms lê @ Jesus Christus se triomfantlike wederkoms na hierdie aarde! Die dag word geassosieer met die “blaas van trompette” of ramshorings @ ’n antieke instrument om mans vir oorlog op te roep @ om te simboliseer dat Christus sal terugkeer gedurende ’n tyd van wydverspreide geweld en oorlog. Die trompetgeluid is ’n waarskuwing om gereed te maak vir die onheil wat voorlê (Mattheüs 24:31). God se Kerk moet ’n “wag” wees (Esegiël 33:7) deur “met die basuin te blaas” om die wêreld te waarsku @ insluitende die moderne afstammelinge van antieke Israel @ aangaande God se dreigende oordeel. Hierdie Heilige Dag is ook ’n dag van weerhouding van werk en om saam te kom vir aanbidding (Levitikus 23:24-25).

Net tien dae later volg die Versoendag, ’n plegtige onderhouding wat die binding van Satan die duiwel vir ’n duisend jaar uitbeeld (Openbaring 20:1-2). Behalwe dat hulle byeenkom om te aanbid, vas God se mense op hierdie dag (Levitikus 23:27).

Die Huttefees: Die ware fees van vrede!

Die volgende Heilige Dag, die Huttefees, volg net vyf dae na die Versoendag (Levitikus 23:33-35). Toe die kinders van Israel in die woestyn geswerf het, het God in hulle midde gewoon in ’n “tabernakel” of ’n tent @ ’n verskuifbare of tydelike woonplek. Die Huttefees beeld die naderende toekomstige millennium van Jesus Christus se heerskappy op die planeet Aarde uit, wanneer fisiese mense vir ’n duisend jaar lank onder die weldadige en regverdige heerskappy van die Koninkryk van God sal leef. Anders as die afgelope 6,000 jaar van menslike wanregering, sal hierdie ’n tyd wees wanneer alle foute reggestel sal word en die onderdruktes nie langer onderdruk sal word nie!

Lees ’n paar van die profesieë wat betrekking het op die duisendjarige Vrederyk wat deur die Huttefees uitgebeeld word: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom” (Jesaja 2:2). Dit is ’n verwysing na Jesus Christus wat ’n koninkryk sal vestig wat voortrefliker sal wees as alle ander koninkryke wat nog ooit op die aarde was (Daniël 2:44). Wat sal die gevolg wees van die regverdige heerskappy van hierdie Koning van die konings? “En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:4).

Jesus Christus sal vanuit Jerusalem regeer. Hy sal diegene wat geleer het om geskille op te los met ’n mes, geweer of spies teregwys en weer oplei. Hy sal hulle ’n nuwe en ander manier leer. Oorlog sal iets van die verlede wees. “Vrede op Aarde” sal nie langer ’n leë slagspreuk wees nie. Dit sal ’n werklikheid wees! Die Huttefees beeld dit uit!

Jesus Christus se regering sal sorg vir almal wat verdruk word en swaar kry: “... maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel; maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:4, 9). Herrese Christene uit ons huidige tydperk, die “eerste vrugte”, sal onder Jesus Christus regeer en Sy regering toepas (Judas 14-15; 1 Korinthiërs 6:2). Hierdie verheerlikte eerste vrugte sal vir ’n duisend jaar (Openbaring 5:10, 20:46) hier op aarde oor stede regeer (Lukas 19:17, 19). Hulle sal ’n aandeel daarin hê om hierdie nuwe weg na vrede te onderrig. Soos Jesaja voorspel het: “Die Here gee julle wel brood van benoudheid en water van bedruktheid, maar jou leraars sal hulle nie langer verberg nie @ maar jou oë sal jou leraars sien; en jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:20-21).

Wanneer u dit werklik verstaan, is die Huttefees ’n insiggewende blik in die glorieryke toekoms van die mensdom! Dit belowe ’n tyd van verligting van die pyn en lyding van hierdie tydperk. Dit toon dat haat, geweld en oorlog tot ’n einde sal kom. Jesus Christus sal dit persoonlik uitroei wanneer Hy kom om te heers!

In die plek van die “Heer van Wanbestuur” wat verbind word met die misleidende tradisies van Kersfees, sal Jesus Christus regeer as die “Vredevors!” Ons lees: “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors” (Jesaja 9:5). Mag God daardie dag bespoedig!

God sal saam met die mensdom “woon”

Tydens antieke Israel se omswerwinge in die wildernis, het die Tabernakel hulle daaraan herinner dat God saam met hulle woon. Dit het ook verwys na die Messias wat na die aarde sou kom om vir die mensdom te lewe en te sterwe. Daar was egter nog meer! Dit het ook simbolies vooruit gewys na Christus se wederkoms! Wanneer Jesus Christus kom sal Hy tussen die mense “woon” @ leef @ en heers as Koning van die konings (Openbaring 17:14). Is die belofte van Christus se wederkoms vir u werklik? Is dit ’n werklikheid waaroor u opgewonde raak en waarvoor u wag (Lukas 21:28)? Wil u graag een van diegene wees wat Christus sal gebruik om die wêreld ’n beter manier te leer? Indien wel, onderhou die Fees @ dit sal u help om u dit voor te stel, te verstaan en u voor te berei!

Jesus en Sy dissipels het nooit Kersfees gevier nie. Hulle het egter wel die Huttefees onderhou. Bybelse profesieë praat niks daarvan dat die hele wêreld Kersfees sal vier nie. Dit gee egter wel aan ons ’n belofte dat alle nasies in die Koninkryk van God tesame die Huttefees sal onderhou. “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier” (Sagaria 14:16).

“Vrede op aarde, in die mense ’n welbehae” is nie ’n fantasie of ’n abstrakte idee nie. Dit is ’n werklikheid wat sal kom, so seker as wat Jesus Christus weer sal kom. God se Kerk onderhou elke jaar die Huttefees en kry so ’n klein voorsmakie van daardie naderende tyd wanneer die hele wêreld vrede sal ervaar “wat alle verstand te bowe gaan” (Filippense 4:7). Sal u die Fees onderhou?