Al die verslae en foto’s wat ons van maanlandingstuie, Mars sweeftuie, Jupiter wenteltuie, verre ruimte projektiele en alle ander robotagtige ondersoekers van ons hoekie van die heelal ontvang het, het dieselfde boodskap oorgedra: Dit is ’n warboel daar buite. Al die planete en mane wat ons tot dusver met ons ruimte- en sweeftuie ondersoek het, blyk redelik onherbergsaam te wees. Elke planeet behalwe een: Hierdie pragtige wêreld wat ons Aarde noem.

Laat ons die tyd afstaan om die kosmiese tuiste te waardeer wat ons genadige Skepper vir ons tot stand gebring het.

Dit is maklik om ons planeet en sy geskiktheid as vanselfsprekend te aanvaar – op stuk van sake is dit al wat die meeste van ons tog ken! ’n Kort toer deur ons sonnestelsel en die ander planete wat in hulle wentelbane om die son wentel kan ons help om dit ten volle te waardeer as gevolg van die kontras wat dit ons bied.

’n Toer van ons onherbergsame bure

Die klein planeet wat ons Merkurius noem is die naaste aan die son en dit bied geen tuiste aan die mensdom nie. Omdat dit feitlik geen atmosfeer het nie kan mens nie op Merkurius asemhaal nie. Selfs al sou mens kon, sou u nie lank daar wou bly nie: Aan die sonkant is die temperatuur so hoog soos 800° F [427° C], terwyl dit aan die kant weg van die son so laag as minus 280° F [138° C] is!

Verder van die son af, maar steeds nader as die aarde, is die planeet Venus. Dit word deur wolke omhul en is min of meer dieselfde grootte as die aarde. U mag dalk vlugtig dink dat Venus soos die aarde kan wees maar u sal verkeerd wees! Die planeet word omhul deur ’n drukkende digte atmosfeer van koolsuurgas. Die lugdruk op die oppervlak is sterk genoeg om ’n kernduikboot inmekaar te druk. Met ’n oppervlak-temperatuur wat selfs warmer is as dié van Merkurius – meer as 850° F [454° C] – sou die mens geen welkome ervaring in hierdie somber, verdoemende landskap beleef nie.

Die planeet Mars beloof meer verwelkomende temperature – indien u ’n ongebonde idee van “welkom” het! Op sy ewenaar kan die temperatuur van Mars redelik draaglik gedurende die dag wees – tot so 70° F [21° C] – maar u sal meer as ’n kombers in die nag nodig hê wanneer dit tot 100° F [38° C] onder vriespunt daal. Terwyl u dan besig is om te verkluim, moenie eers daaraan dink om asem te haal nie, aangesien die atmosfeer 100 keer dunner is as op die Aarde. Soos al die foto’s aandui wat ons van ons swerftuie op Mars ontvang, is dit ’n dooie planeet en geen tuiste vir die mens nie. Hierdie planeet wat die mensdom hoop om eendag te koloniseer, is ’n onherbergsame plek.

Asof dit nie erg genoeg is nie, bied die planete verder weg van Mars, nog minder geleentheid vir ’n vakansie! Dit is almal “gasreuse” – ontsaglike groot planete wat meestal uit warrelende wolke van giftige gas bestaan wat in dik, versmorende komberse dit heeltemal onherbergsaam vir menslike oorlewing maak. Die majestieuse Saturnus en sy verstommende ringe mag dalk ’n merkwaardige skouspel in ’n teleskoop wees, maar dit sal nie so wonderlik wees om daar te woon nie!

Ja, in ons sonnestelsel lyk dit asof daar geen ander herbergsame plek vir die mensdom is om te lewe nie, behalwe een: Ons pragtige Aarde.

’n Seldsame kosmiese juweel

Dit is inderdaad n pragtige plek! Ons blou en groen planeet wat wemel van lewe, staan bo al die ander bekende plekke in die heelal uit as ’n volmaakte tuiste vir die mensdom. Dit is sekerlik slegs as gevolg van baie fyn ingestelde toestande wat op ’n God dui wat ons liefhet en vir ons sorg.

In hulle boek Rare Earth: Why Complex Life Is Uncommon in the Universe, beklemtoon die geoloog en paleontoloog Peter Ward en die astrobioloog Donald Brownlee die geweldig baie faktore wat die aarde so ’n ongelooflike sonderlinge plek in die heelal maak. Byvoorbeeld, ons afstand van die son af is net presies reg om vloeibare water te maak wat so noodsaaklik is vir lewe op die oppervlak. In kombinasie met ons spesiale afstand vanaf die son, die persentasie-samestelling van seewater en landoppervlakte wat help om temperature in bedwang te hou, weerhou dit die uiterste skommelinge wat ongunstig vir lewe is. Daar word geglo dat die teenwoordigheid van een groot maan help om die kanteling van ons planeet te stabiliseer sodat ons gebalanseerde seisoene en klimaat beleef.

So ’n kort lys is maar net die begin! Ons planeet is nie net in ’n “Gouelokkies”-sone rondom die son nie – dit lê ook in ’n seldsame “Gouelokkies”-sone in ons uitgestrekte sterrestelsel. Die Aarde bestaan in ’n relatief veilige deel van die ruimte, met geen lewensvernietigende “magnetar” sterre of ander kosmiese hindernisse in die nabyheid wat alle lewe in ’n oogwink kan uitwis nie. Die Aarde beskik ook oor ’n oorvloed chemikalieë wat voordelig vir lewe is – nie net water en suurstof nie, maar verskeie metale en ander stowwe. Ons is geseënd met ’n kosmiese “stofsuier” in ons sonnestelsel: Die reuse planeet Jupiter, met sy enorme aantrekkingskrag wat ons streek “skoonmaak” van die afval wat die Aarde kon tref en dit verwoes. Talle faktore is deur wetenskaplikes soos Ward en Brownlee saamgestel wat die Aarde se unieke bestaan ideaal geskik maak vir lewe – ’n uiters seldsame gebeurtenis in die heelal. Op skynbaar eindelose maniere wil dit tog voorkom asof ons planeet ontwerp is met vorms van lewe soos ons s’n in gedagte.

Die fokuspunt van God se plan vir die heelal!

Geen wonder nie, want die aarde is ontwerp met ons in gedagte! Deur Goddelike inspirasie beskryf die profeet Jesaja die God wat ons wêreld geskep het. Die God “wat die aarde geformeer en dit gemaak het – Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word” (Jesaja 45:18).

Die mensdom is die toppunt van God se skepping en die fokus van Sy plan is om ’n goddelike Gesin te skep om alles te beërf! (Sien ons artikel “Maak gereed om die aarde te beërf!” elders in hierdie uitgawe.) Dit sal altyd ’n belangrike rol in God se plan speel, selfs wanneer die verheerlikte Gesin van God regoor die heelal versprei is. God se Woord beloof dat, ná Sy reddingsplan voltooi is en die skepping gesuiwer en gereinig is van sonde, God “nuwe hemele en ’n nuwe aarde [sal vestig] waarin geregtigheid woon” (2 Petrus 3:10-13).

Die beroemde wetenskaplike Carl Sagan het een keer oor ’n foto nagedink wat deur die ruimtetuig Voyager 1 geneem is toe dit ongeveer 3,7 miljard myl [5,9 miljard km] van die Aarde af was. Die foto was deel van ’n enkele mosaïek van ses foto’s van die agt planete van die sonnestelsel – ’n unieke en merkwaardige “Gesinsfoto” van ons plaaslike versameling van wêrelde, waarin elke planeet as ’n piepklein puntjie van dowwe lig in die duisternis van die ruimte verskyn. Terwyl hy kommentaar gelewer het op die eensame “bleek, blou kolletjie” wat die aarde daar in die uitgestrektheid van donkerte verteenwoordig, het Sagan geskryf: “Ons aanstellerige houdings, verwaande selfbelangrikheid, die wanvoorstelling dat ons een of ander bevoorregte posisie in die heelal het, word deur hierdie puntjie van bleek lig betwis. Ons planeet is ’n eensame spikkeltjie in die groot omvattende kosmiese donkerte. In ons verganklikheid – in al hierdie uitgestrektheid – is daar geen aanduiding dat daar van elders af hulp sal kom om ons van onsself te red nie” (Pale Blue Dot, bl. 7).

Hierdie is ’n beskeie gedagte, maar in beginsel ook gebrekkig. Wanneer ons aan die Grote God dink wat daardie bleek, blou kolletjie geskape het – hierdie uitsonderlike en pragtige oase wat deur die Skepperhand geskep is en wat groot planne vir sy inwoners het – dan is daar meer as ’n “aanduiding van hulp”. Daar is die versekering van ’n God wat ons liefhet.

Waarlikwaar, daar is geen plek soos ons tuiste nie.