Meer mense bely die Christelike geloof as enige ander geloof. Meer as twee miljard van die mense wat vandag lewe, sê hulle glo dat Jesus Christus na hierdie aarde gekom het as die Seun van God om gekruisig te word vir die sondes van die wêreld, dat Hy begrawe was, uit die dood opgewek is en na die hemel opgevaar het. Die Bybel bied Jesus se wonderwerke en Sy opstanding uit die dood aan as bewys van Sy goddelikheid. Die Skrif toon aan dat hierdie gebeure deur baie getuies gestaaf was en dat dit kragtige redes was vir die verspreiding van die Christelike geloof.
Sommige hedendaagse skrywers en geleerdes suggereer egter nou dat hierdie grondliggende leerstellings van die Christendom slegs mites en fabels is. Skeptici maak die bewerings dat Jesus nie goddelik was nie, dat Hy getrou het en ’n kind gehad het – dat Hy nie uit die dood opgestaan het nie, maar dat Hy in die geheim in ’n familiegraf in Jerusalem saam met Sy vrou en seun begrawe is. Terwyl sommige spekuleer dat hierdie nuwe “insig” oor Jesus Christus “onder die mees betekenisvolle in die geskiedenis kan wees” (Charlotte Observer, 4 Maart 2007), is dít wat ons vandag aanskou, eenvoudig net meer profesieë wat gestalte aanneem.
Vorm ’n denkbeeld van die verlede
Waar kom hierdie “nuwe” idees vandaan? Wat is hulle oorsprong? ’n Nader beskouing is onthullend. Dr. James Tabor, die skrywer van The Jesus Dynasty maak daarop aanspraak dat sy onlangs gepubliseerde boek “die storie van Jesus in ’n algehele nuwe lig stel. Dit is geskiedenis, nie fiksie nie” (bl. 4). Hy maak egter die stelling: “Geskiedenis is nie slegs die versameling van feite nie. Dit behels ook ’n poging om die verlede te herwin en ’n denkbeeld daarvan te vorm” (bl. 305). Kritici merk op dat Tabor se boek – en die dokumentêre televisieprogram The Lost Tomb of Jesus waartoe hy ’n bydrae gemaak het – “heelwat spekulasie” bevat. In die slot van sy boek skryf Tabor: “Daar is baie wat ons nooit sal kan weet nie ... Met betrekking tot sekere areas is ons daaraan oorgelaat om te raai en te spekuleer ... [wat] moontlik kon gebeur het ...” (bl. 308). Dit is beslis nie geskiedenis nie; dit is veronderstellings wat net sowel fiksie mag wees. Net so verskaf Michael Baigent, in The Jesus Papers, geen bestendige getuienis – en verseker geen bewyse – vir sy bewering dat Jesus nie in die kruisiging gesterf het nie.
Hedendaagse geleerdes gebruik dikwels idees wat teenstrydig is met die Bybel se weergawe omdat hulle nie glo dat die Bybel ’n akkurate weergawe van die geskiedenis bevat nie. Hulle dissekteer die Skrif se weergawe en sit dit dan weer bymekaar op ’n manier wat hulle dink meer korrek behoort te wees. Tabor en ander hedendaagse geleerdes baseer hulle idees aangaande die Evangelies op die sogenaamde “Q-dokument” of Evangelie van Q – ’n hipotetiese versameling van dinge wat Jesus sou gesê het, soos wat ’n 19de eeuse Duitse geleerde hom dit voorgestel het. Soos een teologiese ensiklopedie aanteken: “Aangesien Q na bewering dinge bevat wat Jesus sou gesê het en nie werke of wonderwerke nie, word dit gebruik as basis om die wederopstanding te ontken” asook die godheid van Christus (Baker Encyclopedia of Christian Apologetics, bl. 618-621).Niemand het egter nog ooit hierdie teoretiese Q-dokument gesien nie, en een vorige voorstander daarvan sê nou: “Hierdie is die goed waaruit feëverhale bestaan” (ibid.). Die idee van ’n Q-dokument “is gebaseer op ’n hervormer se siening van die geskiedenis, wat die Nuwe-Testament se geskiedenis in Handelinge verwerp”. Indien die Q-hipotese korrek is ... moet die boek van Handelinge heeltemal vals wees. Daar is egter geen ander boek in die Nuwe Testament wat meer bekragtig is vir sy historiese akkuraatheid as juis Handelinge nie (ibid.). Deur ’n Q-dokument wat niemand nog ooit gesien het nie, sonder bewys aan te neem as basis vir die Evangelies, kan hedendaagse geleerdes hulself vryhede veroorloof om die lewe van Jesus te rekonstrueer soos wat hulle hul verbeel dit behoort te wees. Dit is dus geen wonder dat hierdie “nuwe” perspektiewe op die lewe van Jesus so dramaties verskil van die werklike gebeure soos in die Bybel geboekstaaf nie.
Sommige geleerdes verwys na apokriewe geskrifte – nooit deur die Kerk aanvaar nie – as bewys dat Jesus getroud was en kinders gehad het. Een so ’n suggestie dat Jesus ’n romantiese verhouding gehad het, kom van die Gnostiese Evangelie van Filippus – ’n bron wat deur die vroeëre Kerk se leiers as vals en as ’n dwaalleer beskou was – nogtans aanvaar hedendaagse geleerdes dít, en ander soortgelyke geskrifte, as geldige geskiedenis. Dan Brown, skrywer van die Da Vinci Code, maak gebruik van hierdie bronne sowel as van ander heidense en okkultiese werke – nogtans herken geleerdes wat ook hierdie selfde werke gebruik, Dan Brown se novelle as suiwer fiksie!
Die Bybelse weergawe
’n Studie van die Evangelies toon gou aan hoe die Bybel verskil van die spekulatiewe uitsprake van hedendaagse liberale geleerdes. Die Bybel stel dit duidelik dat ’n “maagd sal swanger word en ’n seun baar en hom Immánuel noem” – wat beteken “God met ons” (Jesaja 7:14). Jesus se vyande het met Hom gespot omdat Hy geen fisiese vader gehad het nie (Johannes 8:41). Hedendaagse geleerdes, wat uitgaan van die veronderstelling dat wonderwerke nie kan gebeur nie, verwerp die Bybel se weergawe van Jesus se bonatuurlike verwekking en maagdelike geboorte. Die Bybel stel dit duidelik dat Jesus se liggaam nie daar was toe Sy dissipels op die derde dag die grafkelder binne gegaan het nie, en dat die doeke waarin die liggaam toegedraai was, agtergelaat was (Markus 16:6; Lukas 24:3-7; Johannes 20:1-7). Sommige hedendaagse geleerdes, wat nie in staat is om ’n wonderbaarlike uitleg te aanvaar nie, suggereer dus dat Jesus se liggaam uit die graf gehaal en in die geheim op ’n ander plek begrawe was. Hulle doen dit in weerwil van die feit dat die Bybel verduidelik dat Romeinse soldate betaal was om daardie einste leuen te versprei om sodoende die feit van die opstanding te ontken(Mattheus 28:11-15).
Die Skrif verduidelik dat Jesus na Sy opstanding, by baie geleenthede lewend verskyn het – selfs gelyktydig aan ’n groep van meer as 500 toeskouers (Johannes 20:19-20, 26; 21:1-7; 1 Korinthiërs 15:6-8). Jesus se opstanding op die derde dag was die belangrikste teken dat Hy die beloofde Messias was. Hedendaagse liberale geleerdes, met hulle anti-bonatuurlike vooroordeel, ontken egter dat ’n dooie liggaam weer lewendig kan word en uit ’n graf kan loop, dus funksioneer hulle op die veronderstelling dat Jesus se liggaam elders begrawe moes wees. Dink daaraan: Indien Jesus se liggaam wel iewers naby die plek van kruisiging in ’n familiegraf begrawe was, soos sommige kritici nou beweer, sou die godsdienstige en wêreldlike gesag seer sekerlik daarin kon slaag om die liggaam te vind en aan die publiek te wys om die nuwe Christelike beweging dood te druk!
Die Bybel verduidelik dat Jesus gepreek het oor ’n toekomstige koninkryk van God (Markus 1:14-15), wat Hy sê “nie van hierdie wêreld [is] nie” (Johannes 18:36). Christus het gekom om vir hierdie wêreld se sondes te sterf, soos Sy dissipels dit ook ingesien het (1 Johannes 2:2). Sommige revisionistiese geleerdes (hulle wat die Bybel “hersien”) spekuleer egter dat die Evangelies verkeerd is en dat Jesus ’n vrou en kinders gehad het met wie Hy van plan was om ’n dinastie te begin. Hierdie geleerdes sê dat Hy geglo het dat Hy nie deur kruisiging sou sterf nie, maar dat “God sou ingryp en hom van sy vyande sou red op die laaste oomblik” (The Jesus Dynasty, bl. 310). Dit is vermaaklike spekulasie, maar weerspreek heeltemal wat die Bybel openbaar – en ondermyn die einste boodskap van die Evangelies.
Eindtydse spotters voorspel
Die toenemende aantal geleerdes en skrywers wat opspraak verwek deur openlik fundamentele leerstellings van die Bybel te bevraagteken, behoort vir studente van die Skrif geen verrassing te wees nie. Lank gelede het God voorspel dat “daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel” (2 Petrus 3:3). InThe Expositor’s Bible Commentary verwys hierdie sinsnede na “vals leraars ... wat bybelse waarhede ontken” (volume 12, bl. 284). Die Bybel sê dat “in die laaste dae” mense “wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het,” (2 Timotheüs 3:5) sal ontken dat “die hele Skrif ... deur God geïnspireer [is]” (2 Timotheüs 3:1-16 N.V.). Hulle stem saam met Dan Brown se sinsnede: “Die Bybel is die produk van mense. Nie van God nie” (The Da Vinci Code, bl. 250). Die apostel Paulus het na die einde van hierdie tydvak gekyk en voorspel dat “daar ... ’n tyd [sal] wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Timotheüs 4:3-4). Dit is waar ons vandag is! Hedendaagse skrywers en geleerdes verdraai die Skrif, ontken die inspirasie van die Bybel, verwerp fundamentele Christelike leerstellings en skep in hulle verbeeldingsvlugte heeltemal ander sienswyses oor die lewe van Jesus Christus. Profesieë neem inderdaad gestalte aan!