Wat gaan gebeur met ’n wêreld wat die spot dryf met God? Het u diepe respek vir u Skepper?


Baie mense was vroeër hierdie jaar geskok toe die Comedy Central Cable televisie-netwerk hul lys van nuwe programme wat ontwikkel word aangekondig het. Tesame met die tipiese mengsel van smerige, vulgêre en komiese spektakelstukke, het die netwerk ’n taamlike ongewone projek in ’n 6 Mei persvrystelling beskryf:

JC. ’n Halfuurlange animasie vertoning oor JC (Jesus Christus) wat probeer ontsnap uit sy vader se enorme skaduwee om sy lewe as ’n gewone mens te leef in die stad New York. Baie het verander in die laaste 2,000 jaar en hy is die allerlaaste vis uit die water. Intussen wil sy almagtige maar ongevoelige vader verkieslik videospeletjies speel as om na JC se vertelling van sy lewe in die stad te luister. JC is ’n speelse verwysing na godsdiens en die samelewing, met ’n sprankel stommiteit”.

Hou in gedagte dat hierdie nuwe program ontwikkel word deur dieselfde netwerk wat geweier het om ’n episode van die reeks South Park uit te saai omdat dit na bewering Mohammed, wat deur die Moslems geëer word as profeet, belaster. Of JC ooit werklik geproduseer gaan word of nie, die blote gedagte dat so ’n onnosele, arrogante en lasterlike uitbeelding van die Seun van God ernstige oorweging geniet het, behoort aan ons ’n idee te gee van hoe ver op die afdraande pad ons reeds gevorder het! ’n Paar dekades gelede sou niemand ooit eens van so ’n idee gedroom het nie. Destyds het ’n paar mense ten minste nog diepe respek vir God gehad.

Klink dit of ek “outyds” is?
Miskien is ek, want dit is sekerlik nie “in die mode” om deesdae van die “vrees” van God te praat nie. Eerlikwaar, die blote geagte aan ’n “ware” God – ’n God met algehele mag wat gewillig en in staat is om in te gryp in menslike sake – is bykans uitgewis uit die denke van die meeste moderne mense. Of hulle nou daarvan hou of nie, die wareGod van die Bybel is egter nou, meer as ooit tevore, besig om in te gryp in menslike sake en Hy sal miljoene skeptiese en rebelse mense tot in hul fondamente skud!

Dit is waar u, geagte leser, inkom.
Ons by die Wêreld van Môre wil nie hê dat u oningelig moet wees aangaande al die ateïstiese en valse godsdienstige ontwikkelings wat om u aangaan nie. Ons wil nie hê dat dieselfde lot u moet tref as wat binnekort voorlê vir so baie mense wat nie gewillig is om die ware God van die Bybel opreg te aanbid en te gehoorsaam nie. Ja, deesdae het ons invloedryke “kundiges” soos Richard Dawkins en kritici soos Christopher Hitchens wat oor The God Delution [Die God Bedrog] en soortgelyke onderwerpe skryf. Op hul arrogante, hoogdrawende hiper-intellektuele manier kraak hulle sekerlik die werklike begrip van ’n ware God af. Hulle ydelheid en arrogansie is verregaande. Die belangrikste vraag om te vra is egter: “Is hulle reg?”

Intellektuele arrogansie?

Bykans 2,000 jaar gelede, toe die apostel Paulus te kampe gehad het met die intelligentsia van die Griekse en Romeinse wêreld, was hy geïnspireer om oor hul benadering te skryf. Hy stel dit so: “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid diewaarheid onderdruk” (Romeine 1:18). Net soos hul moderne eweknieë, het daardie geleerdes probeer om die omvangryke bewyse te ontken, te ignoreer en te onderdruk,wat daarop dui dat daar ’n skepping was en dat die Skepper in der waarheid in menslike sake ingegryp het in ontsagwekkende profetiese verwikkelinge wat oor en oor in die Bybel geboekstaaf is. Eerlikwaar, as hulle slegs een-tiende van hul geestelike energie sou gebruik het om die bestaan van God te probeer bewys, van Sy skepping en van Syingryping in profetiese gebeure, sou hulle gevind het dat dit so duidelik soos daglig is dat daar ’n ware God is – en dat Hy diep gerespekteer en gevrees behoort te word! Hulle het egter die ander pad gevolg. Soos Paulus geskryf het: “Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword” (vers 22). Paulus beskryf ook die “skandelike hartstogte” waarin miljoene mans en vrouens verval het, namate hulle meer en meer betrokke geraak het in verderflike gebruike en “skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang” (vers 27). Ons kan moontlik aan VIGS dink, asook al die ander geslagsiektes, krankhede en verbrokkelde lewens wat die gevolge is van voorhuwelikse seks, owerspel en so baie ander perverse gedrag van sulke individue.

Enige objektiewe waarnemer kan die skrikwekkende “vrugte” sien wat volg op ’n lewe in opstand teen God se weg. God het aan ons Sy weg bekend gemaak, maar hardkoppige, rebelse menslike wesens volhard om aan hul Skepper ongehoorsaam te wees – Hy wat hulle meer lief het as wat hulle hul dit kan indink! Nogtans, indien ons sou stilstaan en eerlik die groot, ondeurgrondelike liefde en persoonlike besorgdheid wat God die Vader vir elkeen van ons het, bedink, sou ons nederig en diep dankbaar wees. As ons eers tot die kennis van God gekom het en Sy doel met ons verstaan, behoort ons baie bevrees te wees om voort te gaan om sonde te pleeg, omdat ons weet dat die Oordeelsdag sal kom. Ons behoort te bang te wees om ons Redder, Jesus Christus teleur te stel, Hy wat ’n baie pynlike dood gesterf het vir ons sodat ons gered kan word. “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word” (Johannes 3:16-17).

Wat is vrees?

Mense verstaan dikwels verkeerd wat die Bybel bedoel met “vrees”. Soos ons gesien het, God het ons so lief gehad dat Hy Jesus Christus na die aarde laat kom het om te sterf vir al daardie mense wat nog steeds sondaars was. Hy probeer nie om mense te “vergruis” en hul te laat “bewe” vir Sy plesier nie. Hy begeer opreg dat almal gered sal word. Diegene wat in opstand is teen God, behoort sekerlik Sy wraak te vrees, maar diegene wat probeer om aan Hom gehoorsaam te wees, behoort verstom te wees deur Sy liefde en dit behoort ’n persoon tot diepe ontsag te stem.

Jesus Christus het Self uiting gegee aan “goddelike vrees” toe Hy Sy Vader aangeroep het (Hebreërs 5:7). Ons kan dus nie sê, soos sommige mense so verkeerdelik doen, dat “vrees” ’n onvolwasse emosie is wat Christene “sal ontgroei” nadat hul geloof volwassenheid bereik het nie. Ons behoort liewer te verstaan dat goddelike vrees ’n diepe insig is van God se ontsagwekkende mag – en die wete dat Hy daardie mag gebruik in volmaakte liefde.

Dus, het u, persoonlik, ’n behoorlike vrees vir die ware God van die Bybel – die Skepper en Heerser van die ganse heelal – wat aan u lewe en asem skenk? Dink asseblief daaroor na – vir u eie beswil. In Spreuke 9:10 lees ons: “Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here, en kennis van die Heilige is verstand”.

Dit is uiters noodsaaklik dat ons verstaan daar is werklik ’n Skepper wat aan ons lewe en asem skenk, wat ’n verhewe doel hier op aarde uitwerk. Daardie kennis help ons om die regte besluite te neem en regte keuses te maak vir ons toekoms – vir nou, sowel as vir ewig. Daardie soort “vrees” is dus die beginpunt van werklike wysheid. Soos ons gesien het, beteken dit nie dat u in ’n negatiewe en vreesagtige sin “bang is vir God” nie. Dit beteken eenvoudig dat u die werklikheid aanvaar. Dit beteken dat u tot die punt gekom het waar u gewillig is om uself te verootmoedig en u Skepper te erken – dat u in werklikheid gewillig is om te doen wat Hy sê.

Die “wysste man op aarde”, Koning Salomo, het die hele boek Prediker in hierdie woorde opgesom: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense” (Prediker 12:13).

God het mense vir ’n doel geskape. Dit is ons Skepper se voorneme dat ons moet leer om die regte soort respek en selfs ontsag vir Hom te hê, ten einde daardie doel te verwesentlik en geskik te wees om die ewige lewe in die werklike Gesin van God te ontvang. God is nie besig om “rebelle” te maak nie. Hy wil eenvoudig net mense hê wat vir Hom lief sal wees, Hom sal eer en Hom gehoorsaam sal wees, sodat hulle die regte lewenswyse kan aanleer en toepas en in staat sal wees om vir altyd in eensgesindheid met mekaar klaar te kom in Sy toekomstige Koninkryk. Dit is so eenvoudig soos dit. Deur die offer van Sy Seun, Jesus Christus, het Hy volkome vergifnis van ons sondes en foute en opstandigheid van die verlede moontlik gemaak. Sodra ons eers bekeerd is – onthou bekering beteken verandering – behoort ons te begin om ’n diepe respek of “vrees” vir God te hê, sodat ons waarlik sal leef volgens die weg wat Hy in die Bybel openbaar.

God vereis respek

Aangesien ons gevul is met menslike natuur is ons as mense geneig tot eiesinnigheid, sarkasme en selfs opstand teen ons Skepper – net soos baie tieners van nature teen hul eie ouers in opstand kom. God wil derhalwe hê dat ons die regte soort vrees moet hê, sodat ons gewillig sal wees om ag te slaan op wat Hy aan ons sê om te doen. Dit is nie vir God ’n verleentheid om hierdie gesonde soort vrees en agting van ons te vereis nie. Dit is ’n baie ernstige saak! Jesus Christus het dit duidelik gestel: “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel” (Mattheüs 10:28).

Ja, u lees dit reg – die Bybel stel dit op baie verskillende plekke en maniere dat God diegene sal vernietig wat nie aan Hom onderworpe wil wees en nie gewillig is om tedoenwat Hy sê nie. Andersins, as die ewige lewe aan hulle geskenk sou word sonder dat hulle eerstens ’n opregte berou tot bekering gehad het, sou hulle hulself en almal om hulle se lewens vir alle ewigheid absoluut misrabel maak. Daar sou voortdurende opstand en uittarting van God se gesag wees, soos Lucifer as voorbeeld dien toe hy teen God gedraai en Satan geword het (verwys Jesaja 14; Esegiël 28; en lees ook ons artikel, “Wie is die Duiwel?” elders in hierdie uitgawe).

Die ware Jesus Christus van die Bybel het mense herhaaldelik reguit gewaarsku dat menslike verwaandheid en rebellie smart en dood meebring. Hy beskryf hoe die godsdienstige leiers van Sy tyd tekort geskiet het en Jesus waarsku: “Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande” (Mattheüs 8:12). Hy het ook daarop gewys: “... die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos” (Johannes 3:19).

Ja, daar sal geween en tande gekners word tydens Christus se wederkoms. Baie belydende godsdienstige mense – selfs godsdienstige leiers – sal vind dat hul eie heidense gebruike hul nie sal toelaat om in God se toekomstige Koninkryk te wees, op gesag van Jesus se eie woorde nie: “En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van Myjulle wat die ongeregtigheid [of wetteloosheidwerk!” (Mattheüs 7:23).

Wetteloosheid? Ja! Deesdae het die meeste belydende Christene direk of indirek ’n “geen wet” benadering. Dit lyk nie of hulle kan aanvaar dat Christus ons geleer het van beide genade en gehoorsaamheid aan God se Wet nie (Mattheüs 5:17-19). Hulle het ’n algehele en totale heidense paradigma aangeneem van waaroor Christelikheid alles gaan. Omdat hulle nie die ware “vrees” vir God het nie, sal die meeste van hulle nie luister nie, selfs al word hulle die Waarheid vertel. Want, net soos die antieke heidene gedoen het, word die Waarheid oor God, en die doel van die menslike bestaan, nog steeds deur die meeste “geleerde” mense ontken en selfs onderdruk. Hulle gebrek aan die vrees vir die ware God lei tot ’n soort van geestelike en intellektuele verwaandheid wat hulle nie toelaat om hulself te verootmoedig en die ware God van die Bybel te soek nie, selfs terwyl Hy nou meer as ooit tevore in menslike sake ingryp.

God se geïnspireerde Woord beskryf duidelik die geestelik lui en selftevrede individue wat – alhoewel hulle godsdienstig is in sekere opsigte – God nie van harte soek nie, nog minder gehoorsaam hulle Hom heelhartig of probeer hulle om Sy Werk te doen. Jesus sê hieroor: “En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande” (Mattheüs 25:30). Nee, Jesus het nie altyd “mooi dinge gesê” wanneer Hy oor die lot van bose mense gepraat het nie! Hy het egter die toekomstige Poel van Vuur beskryf. Hy het beskryf hoe daar “geween en gekners van tande” sal wees – mense wat heeltemal verlam sal wees deur die verkeerde soort van vrees en verskrikking, omdat hulle in hulle hoogmoed nie gewillig was om hul Skepper na regte te vrees – om Hom lief te hê, Hom te dien en aan Hom gehoorsaam te wees nie.

Die laaste dae

Die apostel Paulus was geïnspireer om te skryf oor die bykans algehele gebrek aan diepe respek vir diegene in gesag, en teenoor God Self, wat heersend sal wees in die laaste dae. Hy het geskryf: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie” (2 Timotheüs 3:1-3). Ons sien sekerlik vandag dat die meeste mans en vrouens heeltemal behep is met die “eie ek”. In ontelbare televisie- en radio-advertensies word aan hulle gesê: “U verdien dit, koop dit dus!” Hulle word geleer om die self te vertroetel, te bederf en die self feitlik te “aanbid”. Dus – sonder ’n ware vrees en ontsag vir God en bandelose minagting teenoor alle God-aangestelde outoriteit – is hulle “grootpraters”, “lasteraars”, “ongehoorsaam aan ouers” en hulle is sekerlik “sonder liefde vir die goeie”. Baie van hulle kan dit nie eens verdra om nederig oor die ware God, oor Bybelse godsdiens en oor gehoorsaamheid aan die Skepper van hemel en aarde, te praat nie. Sodanige gesindhede lei tot die soort van verwronge denke wat ’n spotprentkomedie kan uitdink om die spot te dryf met die ware Seun van God en Sy Vader in die Hemel!

Bybelse profesieë onthul dat, binne die volgende paar jaar, die groeiende verwaandheid van honderde miljoene mense hulself sal manifesteer in een van die merkwaardigste gebeurlikhede in die hele menslike geskiedenis, ’n gebeurlikheid wat beskryf word in Openbaring17:12-14. Hier vind ons ’n beskrywing van die finale tien konings van die toekomstige herleefde Romeinse Ryk, wat binnekort hul mag en gesag sal oorgee aan die toekomstige “Dier” of super-diktator wat regdeur Openbaring beskryf word. Dan, ná die 3½-jaar verdrukking wat in Openbaring beskryf word, sal die leërmagte van hierdie ontelbare miljoene mense letterlik “oorlog voer” teen die ware Seun van God! Kan u enigsins die algehele gebrek aan respek begin verstaan wat hierdie honderde miljoene mense en hul leërmagte sal moet hê ten einde teen God te veg wanneer Hy Sy Seun terugstuur na hierdie aarde? Dit behoort aan ons iets te vertel van die algehele misleiding van hierdie wêreld onder Satan die duiwel, soos Johannes geïnspireer was om te beskryf: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei [mislei], hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9).

Geagte leser, ek skryf aan u as ’n dienaar van die lewende God. Ons nader definitief die einde van ’n 6,000-jarige tydperk waartydens God Sy “hande tuis gehou” het en die mensdom toegelaat het om hul eie gang te gaan, voordat Hy kragtig sal ingryp. Baie van u begin besef dat hierdie Werk in werklikheid hoofsaaklik die Werk is wat Jesus Christus gebruik om die weg voor te berei vir Sy wederkoms. Ons dring oor en oor by u aan om te bewys wat ons sê – uit u eie Bybel. Ons moedig u aan om wêreldgebeure dop te hou, sodat u met u eie oë die hele reeks van eindtydse profetiese gebeure kan sien, wat ons alreeds vir dekades lank beskryf en wat nou besig is om gestalte aan te neem! U weet dat dit lyk of feitlik alles verkeerd loop in Amerika en in die grootste deel van die Westerse wêreld. U weet dat mense begin wonder oor die werklike redes agter so baie wêreldgebeure. In hierdie publikasie en in die Tomorrow’s World se beeldsending en op die www.wvm.co.za webtuiste, probeer ons u help om die ware antwoorde te verstaan.

Ons gee verseker aan u die antwoorde uit u Bybel. Het u al die regte soort van goddelike vrees, sodat u gemotiveerd sal wees om God ywerig te soek en, uit u eie Bybel, aan uself te bewys dat wat ons skryf, sê en publiseer, die waarheid is? Ek bid dat u sal leer om die regte soort diepe ontsag en eerbied vir u Skepper te hê, sodat u vir Hom lief kan wees – en daardie liefde en ontsag kan toon deur daarna te streef om Sy Gebooie te bewaar (1 Johannes 5:2-3). Bewys God se Waarheid aan uself – en tree daarvolgens op, terwyl u die geleentheid het!