Vraag: Die meeste belydende Christene glo dat diegene wat gered word, na die hemel sal gaan wanneer hulle sterf. Hulle het egter weinig of geen idee oor wat hulle in die hemel sal doen nie. Wat leer die Bybel ons is die beloning van diegene wat gered is?

Antwoord: Die geloof in “hemel toe gaan” by afsterwe word nie net gehuldig deur die meeste belydende Christene nie. Mense van baie godsdienste oor die hele wêreld klou vas aan ’n oortuiging van ’n soort van die hiernamaals – ’n soort “beloning” of salige hiernamaals na die dood.

So verbasend as wat dit mag klink, het nóg Jesus, nóg die Apostels ons geleer dat die regverdiges hemel toe sal gaan wanneer hulle sterf! Die “beloning” wat Jesus aan Sy getroue volgelinge belowe het (Openbaring 22:12) is nie die hemel nie; in der waarheid behels die onmiddellike fokus daarvan heerskappy oor die aarde, saam met Hom. Lees die erkenning van hierdie sekulêre ensiklopedie:

“Die oorheersende standpunt in die vroeëre kerk blyk te gewees het dat tot en met die wederkoms van die Here op die wolke van die hemel om die dooies op te wek, diegene wat gesterf het, aan die slaap is, en dat hulle skielik wakker gemaak sal word om nuwe liggame gegee te word, waarna hulle saam met Hom vir ’n duisend jaar lank op die aarde sal regeer” (“Heaven”, The New International Encyclopedia, 1ste uitgawe).

Die vroeëre Kerk van God, wat Jesus Christus gestig het, het nie die konsep van “hemel toe gaan” as ons ewige bestemming verkondig nie. Hierdie idee het nie algemene aanvaarding verkry tot lank nadat die Apostels gesterf het nie. Inteendeel, Jesus het uitdruklik aan Sy dissipels gesê: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is” (Johannes 3:13). Die apostel Petrus sê aangaande die gehoorsame Koning Dawid, ’n man na God se hart (Handelinge 13:22), “dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe ... Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie” (Handelinge 2:29, 34).

Selfs regverdige Koning Dawid het nie na die hemel gegaan toe hy gesterf het nie! Hy is nog steeds dood, net soos al die ander regverdige manne en vroue van God wat gesterf het. Hulle wag op die opstanding uit die dood, wanneer hulle geestelike liggame sal ontvang, wat nooit sal sterf nie (1 Korinthiërs 15:50-53; 1 Thessalonicense 4:16-17).

Die ewige lewe is die gawe van God (Romeine 6:23), wat Gees-verwekte Christene sal ontvang wanneer hulle opgewek of verander word. Wat is dan die “beloning” wat Jesus saam met Hom sal bring?

Christus het gesê dat Hy al die oorwinnaars sal beloon met Sy wederkoms – almal wat gegroei het in die geestelike karakter van God. Sommige sal meer oorwin en groei as ander, en Jesus het gesê dat Hy “elkeen [sal] vergeld volgens sy dade” (Mattheüs 16:27; vergelyk Openbaring 22:12).

God se heiliges sal nie in die hemel vir ewig op harpe speel nie. Hulle bestemming is oneindig meer glansryk en opwindend! Die Bybel onthul dat die “loon van die wat gered is” heerskappy oor die aarde sal wees, saam met Jesus Christus, nadat Hy terugkeer het (Openbaring 2:26; 3:21; 5:10). Jesus Christus en die herrese Christene sal vir ’n duisend jaar lank heers (Openbaring 20:4-6). Hulle sal God se lewenswyse aan die nasies leer wat blywende vrede, voorspoed en vreugde aan die hele mensdom sal bring. Dit beteken nie dat die opgewekte heiliges nooit die hemel, waar God die Vader woon, mag besoek nie; die punt is dat hulle ’n werk sal hê om te doen – daardie werk sal daarop gefokus wees om God die Vader se wil hier op die aarde te doen, onder die regering van Jesus Christus!

Die Skrif vertel ons dat die oppervlakte van die aarde deur vuur gesuiwer sal word nadat God se groot Meesterplan van verlossing vir die mensdom voltooi is (2 Petrus 3:10-12). ’n Nuwe aarde en nuwe hemele sal tevoorskyn kom (2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1). Die glorieryke nuwe hoofstad van die aarde – die “Nuwe Jerusalem”, wat sal sprankel van kosbare stene en met strate van deursigtige suiwer goud (Openbaring 21:18-21) sal neerdaal uit die hemel (Openbaring 21:2, 10; 3:12). God die Vader sal dan kom en op die aarde woon in persoon, en die Nuwe Jerusalem die plek van Sy verheerlikte troon maak (Openbaring 21:3, 22-23; 22:3-5), vanwaar Hy en Sy onsterflike heiliges oor die ganse heelal sal regeer!

Vir meer inligting oor hierdie wonderlike plan wat God in gedagte het vir Sy getroue heiliges, skryf gerus vir u gratis eksemplaar van ons boekie, U uiteindelike lotsbestemming. Die verrassende en asemrowende waarheid is dat die “hemel” na die aarde sal kom – die ware hoofkwartier van waar die Gesin van God vir ewig oor die heelal sal heers!