’n Antieke profesie bied in hierdie – moderne – tyd hoop vir miljoene mense wat gesterf het as gevolg van siekte, konflik en ander menslike tragedies.

In die lente van 1915 het Luitenant-Kolonel John McCrae die gewondes verpleeg na die Tweede Slag van Ieperen [Ypres] in België. Die was die eerste geveg waarin gifgas as oorlogswapen gebruik is. McCrae, ’n gevestigde geneesheer, was self blootgestel aan die gas en die chloor en het sy asma baie vererger. Die 1st Canadian Division het daarin geslaag om ’n gedeelte van die loopgraaf in die Ieperen-strook te verower – ’n gebied aan die buitewyke van Ieperen wat van groot strategiese belang was vir die Westelike front. Hierdie afdeling het geskiedenis gemaak en was die eerste voormalige koloniale mag wat ’n Europese moondheid in Europa verslaan het. Ek onthou toe ek as jong tiener die velde van Ieperen besoek en geluister het hoe ons Kanadese toergids verduidelik wat die nalatenskap van die Kanadese magte en hulle gewaagde heldedade in die haglike dooiepunt van loopgraaf oorlogvoering was.

Die gewondes word gered en gesneuweldes word vereer

John McCrae wat in 1872 in Guelph, Ontario gebore is, was ’n skrywer, digter, chirurg en professor in geneeskunde en ’n kunstenaar. Hy het voorheen – tydens die Boereoorlog – in die Kanadese gewapende magte gedien en was in sy vroeë veertigerjare toe Brittanje aan die begin van die Eerste Wêreldoorlog, oorlog teen Duitsland verklaar het. Hy het onvoorwaardelik aangesluit en terwyl hy ’n mediese beampte by Ieperen was, het hy die tragiese bloedbad van oorlog aanskou, wat gelei het tot die papawerbedekte velde wat met graf-merkers besaai is. Na die dood van ’n jong vriend het hy die bekende Engelse gedig “In Flanders fields” geskryf (In die Velde van Vlaandere). [Die tema van die gedig is dat dié wat bly leef, sal voortgaan met die geveg teen die vyand anders het die ander soldate tevergeefs gesneuwel.]

In Flanders fields the poppies blow
Between the crosses, row on row,
That mark our place; and in the sky
The larks, still bravely singing, fly
Scarce heard amid the guns below.

We are the Dead. Short days ago
We lived, felt dawn, saw sunset glow,
Loved and were loved, and now we lie
In Flanders fields.

Take up our quarrel with the foe:
To you from failing hands we throw
The torch; be yours to hold it high.
If ye break faith with us who die
We shall not sleep, though poppies grow
In Flanders fields.

Bykans 6,000 Kanadese het hulle lewens verloor tydens hierdie veldslag buite Ieperen en baie van hulle het ’n pynlike dood gesterf nadat hulle die chloorgas ingeasem het. Tog is dit net ’n metaforiese traandruppel in die see van trane van die Eerste Wêreldoorlog se sterfgevalle omdat 9.7 miljoen militêre personeel na raming hulle lewens verloor het, benewens die 21 miljoen gewondes en 10 miljoen burgerlike sterfgevalle (“World War 1 casualties”, Reperes, 2011). Die Eerste Wêreldoorlog was ’n waterskeidingsoomblik in die mensdom se onstuimige geskiedenis van oorlogvoering en as gevolg van McCrae se gedig, het die rooi papawer die simbool van herinnering geword aan almal wat in die veldslag gesterf het. Wat daarop gevolg het, het egter baie ernstiger en wydverspreide gevolge gehad.

Die Spaanse Griep

Op 23 Januarie 1918 het luitenant-kolonel McCrae longontsteking en meningitis opgedoen nadat hy vir meer as drie jaar gedurende die oorlogstyd, die beseerdes en sterwendes medies versorg het. Dae later het die Spaanse griep-pandemie uitgebreek. Gedurende die volgende twee jaar het byna 50 miljoen mense gesterf as gevolg van daardie dodelike uitbraak. Daar is bronne wat beweer dat hierdie syfer ’n drastiese onderskatting is (“Updating the accounts: global mortality of the 1918-1920 ‘Spanish’ influenza pandemic,National Center for Biotechnology Information, 2002). Teen 1920 was die totale sterftesyfer van die Eerste Wêreldoorlog en daaropvolgende griep ongeveer 8% van die destydse wêreldbevolking (gebaseer op die hoogste geskatte sterfgevalle vir die Eerste Wêreldoorlog en die Spaanse griep – onderskeidelik 40 miljoen en 100 miljoen gevalle – en ’n geskatte wêreldbevolking van 1,8 miljard).

In Kanada, ’n land met ’n bevolking van ongeveer 8 miljoen ten tye van die uitbreek van die oorlog, is bykans 61,000 mense in die gevegte dood en 50,000 het na raming gesterf as gevolg van griep (“The Cost of Canada’s War”, WarMuseum.ca; “1918 Spanish Flu in Canada,” The Canadian Encyclopedia, 19 Maart 2020). Die oorgrote meerderheid van hierdie slagoffers was jong, gesonde manne van wie baie die belangrikste broodwinners vir hulle gesinne was. Die gesamentlike gevolge van die virus en die oorlog sal nooit werklik bepaal kan word nie.

Gelukkig het die gebeure van die een-en-twintigste eeu, met inbegrip van die COVID-19-pandemie nog nie tot die massa sterfgevalle van die vroeë twintigste eeu gelei nie. Ons toekoms hou egter dieselfde somber realiteite van pyn, hartseer, dood en opoffering in. Die Bybel en spesifiék die boek Openbaring, voorspel verwoestende konflikte en verterende siektes. Sulke lyding is die hartseer resultaat van die mensdom se individuele en gesamentlike besluit om sélf te kies hoe ons wil leef en om ons eie reëls te maak wat betref sosiale beperkings en openbare orde.

Die vallei van dorre bene

Ons moet erken dat ons nie oor die versiendheid beskik om aan al die gevolge van ons optrede te dink wanneer ons, selfs met die beste bedoelings, afdwaal van die Handboek wat deur ons Skepper aan ons gegee is nie. Soos die geskiedenis homself herhaal, sal dit ook wees met die siektes en konflikte van die twintigste eeu. Tog vind ons ’n profesie in die boek Eségiël wat die lig van hoop laat skyn aan die einde van die spreekwoordelike tonnel.

DIE hand van die Here was op my, en Hy het my uitgebring deur die Gees van die Here en my neergesit in die laagte; en dit was vol bene. En Hy het my by hulle laat verbygaan na alle kante toe; en kyk, daar het ’n groot menigte oor die laagte gelê, en kyk, hulle was baie dor. Toe sê Hy vir my: “Mensekind, kan hierdie bene lewendig word? En ek antwoord: Here Here, U weet dit” (Eségiël 37:1-3).

Die profesie wat net hierop volg, sien uit na ’n tyd wanneer alle slagoffers van die mensdom se rampspoedige selfregering uit die grond sal opstaan en weer sal leef – ook daardie manne vanuit die papawerbedekte velde rondom Ieperen. Dan, soos ons lees in Eségiël 37:6, sê God: “Ek sal senings op julle lê en vlees oor julle laat opkom en ’n vel oor julle trek en gees in julle gee, sodat julle lewendig kan word.”

Wat is die glorieryke resultaat van hierdie profesie? “En Ek sal my Gees in julle gee, dat julle lewendig kan word; en Ek sal julle vestig in jul land; en julle sal weet dat Ek, die Here, dit gespreek en gedoen het” (vers 14). Alle mense sal hulle Skepper ken en uiteindelik ’n kans kry om volgens Sy lewenswyse te leef en nie meer die slagoffers van sonde en die lyding wat dit meebring, te wees nie.

Indien u ’n bietjie goeie nuus wil hoor, het u dit nou! Die lyding van die huidige tydperk sal binnekort tot ’n einde kom en vervang word met lewe – oorvloedige lewe tot in alle ewigheid!